Streef julle as ’n gesin geestelike doelwitte na?
1As ’n toegewyde volk is dit ons doel om Jehovah getrou te dien. Ons sien ook gretig daarna uit om die gawe van die ewige lewe te ontvang. Ons stel natuurlik nie net in ons eie getrouheid en redding belang nie. Ons wil ander help om hierdie doelwitte te bereik, veral ons gesinslede.—Joh. 1:41, 42; 1 Tim. 5:8.
2 Net soos ’n berg stap vir stap uitgeklim word, kan ons ook stap vir stap vooruitgang maak op ons Christelike weg. Met hierdie doel voor oë stel ons geestelike doelwitte vir onsself. Dit is natuurlik nie tot individue beperk nie. Gesinne kan ook doelwitte stel met betrekking tot vergaderinge, velddiens en gesinstudie. Kan daar verbeteringe aangebring word? Kan sekere gesinslede gehelp word om die doel van voltydse diens te bereik? ’n Gesinsbespreking kan help om die doelwitte te bereik wat ons gestel het. Wanneer dit bereik word, kan ons ander teokratiese doelwitte stel. Sodoende kan daar stap vir stap geestelike vooruitgang gemaak word.
VERGADERINGE
3 Party gesinne moet dit dalk as doelwit stel om betyds by die vergaderinge te wees. Dit kan waarlik ’n uitdaging wees vir groot gesinne, persone met moeilike werktye, of waar daar vervoerprobleme is. Samewerking en goeie organisasie is noodsaaklik om hierdie doelwit te bereik.
4 ’n Ander praktiese doelwit wat die gesin kan bespreek, is deelname by vergaderinge. Party gesinslede verkies dit dalk om ’n kort antwoord te lees. Dit dui egter op geestelike vooruitgang en is lonend as jy kort, spesifieke kommentare in jou eie woorde kan lewer. Gesinslede kan mekaar help met die voorbereiding van hulle antwoorde. Hulle kan mekaar ook help om vooruitgang te maak in die Teokratiese Bedieningskool. Dit kan beteken dat ons na jonger gesinslede moet luister terwyl hulle hulle toewysings oefen, hulle dan wys hoe om ’n skets te gebruik, hulle reghelp met hulle uitspraak, ensovoorts. Die doelwit om ’n goeie onderrigter of ’n uitstekende voorleser te word, is ywerige inspanning werd.—1 Tim. 4:13.
VELDDIENS
5 Party gesinne moet nog na gereeldheid in die velddiens streef. Neem julle hele gesin op die eerste Sondag van elke maand aan die velddiens deel? Dit gee die gesin ’n goeie begin vir die maand. Kan die hele gesin probeer om gedurende die kampanje een keer per maand in ontoegekende gebied te werk? Wat van die doelwit om gesinslede te help om die jongste ‘Onderwerp vir gesprekke’ of ’n nuwe tydskrifaanbieding te leer? Daar is ook die doelwit om ’n tuisbybelstudie te begin en te hou. En vir party kan die doelwit wees om ’n reeds gevestigde studie meer gereeld te hou.
GESINSTUDIE
6 Vir party gesinne kan dit waarlik ’n uitdaging wees om getrou by die rooster vir hulle gesinstudie te bly. Dit sal soms dalk nodig wees om die studietyd te verander. Dit moet egter ’n uitsondering wees, ’n Gereelde gesinstudie is ’n doelwit wat die moeite werd is om na te streef. ’n Ander uitstekende doelwit is om die weeklikse Skrifgedeelte gereeld te lees, en dit miskien selfs ’n deel van die gesinstudie te maak. Vir die meeste persone neem dit slegs 20 tot 25 minute om die materiaal te lees wat vir die week toegewys is. Dit kan jou kennis van die Skrif verbreed en maak die hersiening van die Bybelglanspunte elke week interessanter.
7 Daar is baie ander doelwitte wat individue en gesinne vir hulself kan stel. Byvoorbeeld: Wat van ’n poging om vanjaar as ’n gesin hulppionierdiens te doen? Kan die gesin daarbenewens met goeie organisasie en samewerking ten minste een lid as ’n gewone pionier ondersteun? Daar is ook die doelwit om ’n bedieningskneg of ’n ouere man te word. Jong broers kan Betheldiens as doelwit stel. Hierdie doelwitte is bereikbaar, maar hulle verg ywer en harde werk. Terwyl ons daarna streef om ons persoonlike en gesinsdoelwitte te bereik, sal die gehalte van ons diens en ons geestelike gawes aan Jehovah verbeter tot eer en verheerliking van hom.—Ps. 96:7, 8.r