Bied die Goeie Nuus Aan—Met ’n gewillige gees
1 Het jy al opgemerk dat party mense nooit hulle ywer vir die waarheid verloor nie? Selfs na dekades van getroue diens is hulle steeds gewillig om die goeie nuus met ander te deel. Ons moet almal daarna streef om dieselfde positiewe gesindheid aan te kweek. (1 Tim. 6:18; vergelyk Hebreërs 3:14.) Deur die goeie nuus by elke gepaste geleentheid aan te bied, toon ons ’n gewillige gees.
2 Gedurende Oktober sal ons intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! aanbied. Ons wil ’n gewillige gees toon deur die intekening nie net van huis tot huis aan te bied nie maar by elke moontlike geleentheid.
BY ELKE GELEENTHEID
3 Ons kom almal op verskillende maniere met mense in aanraking. Trouens, ons daaglikse lewe, of ons nou aangename bure is of in die tou in die kruidenierswinkel staan, vereis dat ons handelinge met mense het wat nie Jehovah se Getuies is nie. Dit kan vir ons wonderlike geleenthede bied om die goeie nuus met ander te deel. Soms is ons dalk huiwerig om mense te nader omdat ons nie weet wat om te sê of hoe om die gesprek aan te knoop nie. Voorbereiding en beplanning is nodig om alledaagse gebeure in geleenthede te omskep om die goeie nuus met ander te deel.
4 Ons het byvoorbeeld ’n afspraak met die dokter en weet dat ons in die wagkamer sal moet wag. Ons kan die jongste tydskrifte saam met ons neem en gereed wees om ’n artikel te bespreek wat die belangstelling sal prikkel van iemand wat ons teëkom. In so ’n situasie kan ons begin praat oor hoe goed dit sal wees as daar nie meer siekte is nie, en dan die hoop van die Koninkryk inlei deur ’n spesifieke gedagte uit Die Wagtoring of Ontwaak! te deel. Afhangend van die omstandighede en die belangstelling, kan ons ’n intekening aanbied. As ons gewillig is om ons Bybelse hoop te deel, sal ons nie geleenthede laat verbygaan om ander te help om die waarheid te leer nie.
5 Ons jong broers en susters kan die inisiatief aan die dag lê deur vir skoolmaats en onderwysers te getuig. Party het al vry periodes goed benut. Omdat hulle Die Wagtoring en Ontwaak! op hulle skoolbank laat lê, het ander leerlinge party van hulle genader. Onderwysers het ook al die lektuur opgemerk en belangstelling getoon (Pred. 11:6). Dink gerus gedurende Oktober aan maniere waarop jy ’n intekening by jou onderwysers en skoolmaats kan aanbied.
6 Die van ons wat sekulêre werk doen, het die geleentheid om vir kollegas te getuig. Een broer wat baie intekeninge by kollegas gekry het, het ’n eenvoudige, direkte benadering gebruik. Hy het bloot vir sy kollegas gevra of hulle goeie leesstof geniet. As hulle bevestigend geantwoord het, het hy die intekening aangebied. ’n Ander broer het gesien hoe ’n kollega bid voordat hy middagete nuttig. Hy het van die geleentheid gebruik gemaak om vir hom te getuig en die man het die waarheid weldra aanvaar. Later het hierdie man in een van die Genootskap se takkantore gedien. Party broers en susters neem lektuur saam om in hulle etenstye te lees. Hulle gesels met kollegas oor wat hulle lees en gebruik sodoende die tyd om belangstelling in die waarheid te kweek. Sodoende kon hulle intekeninge verkry. Die sleutel is weer eens om ’n gewillige gees te behou en voorbereid te wees om te getuig.
7 Kan jy aan ander geleenthede dink om die intekening aan te bied? Wend gerus ’n spesiale poging in Oktober aan om met ander te praat en hou die intekeningaanbod in gedagte.