Bied die Goeie Nuus Aan—Getuig informeel
1 Terwyl Jesus by Jakob se fontein naby Sigar gerus het, het hy ’n gesprek met ’n Samaritaanse vrou begin (Joh. 4:5-30). Hoewel hy moeg en dors van die reis was, het hy oor die waarheid getuig. Dit was ’n informele getuienis. Het dit goeie gevolge gehad? Seer seker! Dit het daartoe gelei dat baie Samaritane geloof in Jesus gestel het (Joh. 4:39-42). Wat ’n goeie getuienis en watter verbasende resultate het daardie een informele gesprek meegebring!
2 Baie vind vandag dat informele getuienis ’n uitstekende manier is om die goeie nuus te verkondig, en gevolglik het hulle verblydende ondervindinge geniet. Informele getuienis kan baie vrugbaar wees. Maar jy vra moontlik waar en wanneer ’n mens informeel kan getuig. Hoe kan dit gedoen word?
WAAR EN WANNEER
3 ’n Mens kan in feitlik enige omstandighede of op enige plek informeel getuig. Wat belangrik is, is om geleenthede te soek terwyl ons met ons daaglikse roetine besig is. Baie verkondigers getuig informeel wanneer hulle met openbare vervoer werk toe en terug reis of met vakansie gaan. Sommige benut etenspouses. Ander soek gepaste geleenthede terwyl hulle inkopies doen. Een egpaar het vir ’n slagter by ’n selfdienwinkel getuig, en toe hy belangstelling in die waarheid getoon het, het hulle gereël om daardie selfde aand die bespreking by sy huis voort te sit.
4 Verkondigers wat liggaamlik swak of siek is, het met welslae vir besoekers, mediese personeel en hospitaalwerkers getuig. (Kyk wAF80 1/1 bl. 24-26.) Party broers praat met mense wat hulle tuis kom besoek. Ander het goeie resultate gehad deur met mense te praat wat die warm weer op openbare plekke geniet. Museums, lugdiens- of busterminusse en ander openbare fasiliteite is ook uitstekende plekke vir informele getuienis.
HOE OM DIT TE DOEN
5 Een Gileadstudent, wat ’n bietjie senuagtig is oor informele getuienis, het gesê: “Ek het dikwels gevind dat gebed help wanneer dit vir my moeilik is om met mense te praat.” Soek dus geleenthede om met mense te praat, en vra Jehovah om die weg te open. Laat ywer vir Jehovah en die waarheid jou dan motiveer. Wees vriendelik en hartlik wanneer jy mense nader. Probeer oogkontak maak, en begin ’n gesprek oor iets wat van gemeenskaplike belang kan wees. Wees hoflik en vriendelik, selfs as die persoon nie belang stel nie.
6 Waar moontlik wil ons natuurlik lektuur by ’n belangstellende persoon laat. Dit beteken dat ons moet voorberei en tydskrifte, boekies of brosjures byderhand moet hê. Party verkondigers het gesprekke met welslae begin deur brosjures of tydskrifte op hulle lessenaar by die werk of op ’n tafel in hulle huis te laat. Dit kan die aandag van ’n werkmaat of besoeker trek en tot ’n interessante bespreking en vrugbare getuienis lei.
7 Soek geleenthede om informeel te getuig. Dra lektuur saam met jou en vra Jehovah om jou te help. Reël om alle belangstellendes weer te besoek. Sorg dat jy die tyd as velddiens rapporteer. Deur jou soos Jesus en die apostels in te span, sal Jehovah jou ook seën wanneer jy die goeie nuus deur middel van informele getuienis verkondig.