Betoon liefde vir God en jou naaste
1 Toe iemand gevra het: “Meester, wat is die groot gebod in die Wet?” het Jesus geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Matt. 22:36-39.
2 Jesus se innige liefde vir God kon duidelik gesien word in die manier waarop hy sy lewe gelei het. Hy het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Joh. 4:34). Sy opregte liefde vir sy naaste het hom beweeg om die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk met ywer te verkondig. Hy het ook genesings gedoen. En watter voortreflike blyk van liefde was dit tog toe hy sy lewe as ’n losprys ten behoewe van die mensdom gegee het! Hoe kan ons Jesus navolg wat die betoning van liefde vir God en ons naaste betref?
HOE OM LIEFDE TE BETOON
3’n Belangrike manier waarop ons dit kan doen, is deur ander van die goeie nuus van die Koninkryk te vertel. Mense moet ’n grondslag vir hoop en informasie kry om hulle te help om hierdie swaar tye die hoof te bied (2 Tim. 3:1). Ons geloof in God se Koninkryk behoort ons te beweeg om daaroor te praat met ’n dringende begeerte om almal ’n geleentheid te bied om die waarheid te hoor. Dit strek God tot eer wanneer ons die waarheid oor sy Koninkryk en sy voorneme met die aarde verkondig. Het ons so ’n liefde vir God en ons naaste? Het ons ’n volle deelname aan die werk om die Koninkryk te verkondig? Benut ons geleenthede om informeel vir familielede, bure en ander te getuig? Ons almal moet sulke opregte blyke van ons liefde vir God en ons naaste lewer.
4 Sommige meen dalk dat net diegene wat bekwaam en geleerd is werklik kwalifiseer om so ’n belangrike boodskap oor te dra. Maar dit is eerder ons vertroue in Jehovah wat belangrik is (Luk. 11:13; 1 Kor. 1:26, 29, 31). Liefde vir God en ons naaste sal ons in staat stel om negatiewe gevoelens te oorkom en om ware vreugde in die bediening te ervaar. Wanneer ons besef dat ons mense help wat beskryf word as ‘moeg en uitgeput, soos skape wat geen herder het nie’, is ons nie meer oormatig besorg oor onsself nie.—Matt. 9:35, 36.
HOE OM IN FEBRUARIE ’N DEELNAME TE HÊ
5 Gedurende Februarie het ons ’n goeie geleentheid om ons liefde vir God en ons naaste te betoon deur sommige van die Genootskap se ouer publikasies teen ’n bydrae van R1,00 elk aan te bied. Hierdie ouer publikasies bevat ’n verskeidenheid onderwerpe, waarvan sommige ongetwyfeld by verskeie persone in ons gebied byval sal vind. Hierdie publikasies het reeds bewys hoe waardevol hulle is om talle mense te help om op die goeie nuus te reageer. As ons dus nog enige van hierdie boeke in voorraad het, word ons aangemoedig om ’n doelbewuste poging aan te wend om hulle in die hande van belangstellendes te kry wat op die weg na die lewe gehelp kan word.
6 Gemeentes wat nie ouer boeke in voorraad het nie, sal enige ander sakformaatboek aanbied. Spesiale pogings moet aangewend word om al die ouer boeke wat plaaslik in voorraad is te gebruik.
7 Maak seker dat julle goeie huis-tot-huisverslae hou. Namate ons ons gebied al hoe gereelder dek, word dit belangriker. Probeer om die persoon se naam te kry wanneer belangstelling gevind word. Maak aantekeninge van alle lektuur wat versprei is, asook belangstelling wat getoon is toe die lektuuraanbod nie aanvaar is nie. Skryf neer waaroor julle gepraat het, waarin die persoon belanggestel het en wanneer hy heel waarskynlik tuis sal wees. Hou ook ’n noukeurige verslag van adresse waar niemand tuis was nie. Goeie organisasie in hierdie opsig sal daartoe bydra dat julle meer produktief in die bediening is.
8 Die nakoming van die twee grootste gebooie is vandag vir Christene net so belangrik as wat dit in die eerste eeu was. Mag ons daarna strewe om ons liefde vir God en ons naaste te betoon deur Jehovah se Koninkryk by elke geleentheid gedurende Februarie te verkondig!