Beoefen godvrugtige toegewydheid soos Jesus
1 Die Bybel se uitdrukking “godvrugtige toegewydheid” het betrekking op ons diep verering van Jehovah God en ons lojale diens aan hom. Ons Heer Jesus Christus was die belangrikste voorbeeld van iemand wat godvrugtige toegewydheid beoefen het.
2 Jesus het hom, deur sy lewenswyse hier op aarde, onderskei as die mens wat volmaakte godvrugtige toegewydheid beoefen het. Dit sal dus goed wees as ons ’n paar dinge aangaande sy lewe bespreek, veral met betrekking tot sy rol as die belangrikste woordvoerder vir Jehovah God.
WEES YWERIG EN MOEDIG
3 Jesus het wat Jesaja 61:2 as die “jaar van die welbehae van die HERE” beskryf met ywer verkondig. Ons moet Jesus se voorbeeld navolg en ywerig deelneem aan hierdie lewensreddende werk gedurende die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge. Ons moet ook soos Jesus moedig wees. Waarom? Omdat die Koninkryksboodskap wat ons verkondig vir sommige mense kragtig en onaangenaam is, veral wanneer ons oor die dag van Jehovah se wraak praat.
4 Ons het Jehovah se gees en leiding nodig om ons te help om met vrymoedigheid te praat en godvrugtige toegewydheid aan die dag te lê. Jesus het in Lukas 4:18 gesê: “Die Gees van die Here is op my.” Met Jehovah se gees en seën kan ons ook godvrugtige toegewydheid beoefen en vir Jehovah welgevallig wees. Om iets te beoefen, beteken om ’n gewoonte daarvan te maak. Dit beteken dat iets ons daaglikse lewenswyse geword het. Godvrugtige toegewydheid moet ’n lewenswyse vir God se knegte wees. Die apostel Paulus het gesê: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”—1 Kor. 10:31.
GODVRUGTIGE TOEGEWYDHEID, ONS LEWENSWYSE
5 Ons moenie die feit uit die oog verloor dat dit altyd belangrik is om Christus na te volg deur geleenthede te gebruik om die goeie nuus aan ander te verkondig nie. Daar word voorgestel dat ons, wanneer ons dit gedurende Junie doen, die boek Die mensdom se soeke na God onder mense se aandag moet bring.
6 In ons bediening sal party mense sê dat hulle lede van die een of ander vername godsdiensgroep is. Ons kan hierdie feit vriendelik erken en miskien sê: “Dit is interessant om mense van verskillende godsdienste te ontmoet. Die mensdom se soeke na God het baie verskillende rigtings ingeneem. [As dit in hierdie stadium gepas is, kan daar na Handelinge 17:26, 27 verwys word.] Stem jy nie saam dat mense gewoonlik eerder die godsdiens van hulle ouers volg as om self na God te soek nie? Hulle het met ander woorde hulle godsdiens by geboorte ontvang. Hierdie punt word in die eerste hoofstuk van hierdie boek Die mensdom se soeke na God gestel. [Wys bladsy 8, paragraaf 12.] Dit is insiggewend en nuttig om meer oor ander godsdienste te leer. Hierdie boek verduidelik die oorsprong, gebruike en leerstellings van die vernaamste godsdienste van die wêreld.”
7 Ons lewenswyse vereis nie net dat ons Jehovah se dag van wraak en die jaar van die welbehae moet verkondig nie, maar ook dat ons godvrugtige toegewydheid in ons persoonlike en gesinslewe openbaar. Ons moet Jesus navolg en ander deur ons voorbeeld leer wat godvrugtige toegewydheid werklik is. Deur Christus se voorbeeld van godvrugtige toegewydheid na te volg, streef ons altyd daarna om die regte beweegrede te hê in alles wat ons doen, Jehovah te loof en sy lojale knegte te wees. Mag die feit dat ons godvrugtige toegewydheid beoefen ander help in hulle soeke na God en opregtes van hart na kennis van die ware God, Jehovah, lei.