Wees heelhartig in die veldbediening
Deel 4—Georganiseer om ons bediening doeltreffend te vervul
1 ’n Heelhartige openbare bediening vereis goeie persoonlike organisasie. Jesus het ’n uitstekende voorbeeld gestel vir ons hedendaagse bedrywighede in die bediening (Luk. 10:1, 2; Hand. 1:8). Ons kan ook leer uit die manier waarop sy eerste-eeuse dissipels hulle bediening vervul het (Hand. 5:42; 2 Tim. 4:5). Maar hoe kan jy jou lewe beter organiseer en vandag soortgelyke goeie resultate geniet?
2 Ruim tyd in vir velddiens: Ons bediening is nie ’n terloopse of toevallige aspek van ons lewe nie. Die hoeveelheid tyd wat ons daaraan wy om ons bediening te vervul, kan nie aan die toeval oorgelaat word nie. As ons ons bediening doeltreffend wil organiseer, moet ons tyd vir die onderskeie aspekte daarvan opsysit (Ef. 5:15, 16). Baie verkondigers vind dat dit nuttig is om ’n doelwit te stel van hoeveel uur hulle elke maand aan die bediening gaan bestee. Dit vereis gewoonlik dat hulle hulle sake so reël dat hulle elke week velddiens kan doen. Christenouers moet hulle kinders help om tyd in te ruim om gereeld aan verskillende aspekte van die veldbediening deel te neem.—Deut. 6:7; Spr. 22:6.
3 Stel spesifieke doelwitte: Realistiese doelwitte sal jou iets gee wat jy kan nastreef. Wanneer jy jou doelwit bereik, sal jy die vreugde ervaar dat jy iets verwesenlik het (Spr. 13:12). Die apostel Paulus het gemaan: “Maar wat ons reeds bereik het—laat ons volgens dieselfde reël wandel” (Filip. 3:16). Soos dit met al die aspekte van jou geestelike vooruitgang die geval moet wees, moet jou velddiensbedrywigheid van ’n ordelike roetine getuig.
4 Het jy byvoorbeeld genoeg traktate en strooibiljette? Het jy genoeg van die jongste tydskrifte by jou en is hulle in ’n goeie toestand? Maak jy goed gebruik van huis-tot-huisverslae, en gebruik jy een vir die belangstelling wat jy vind en nog een vir diegene wat nie tuis is nie?
5 Staan tyd daaraan af om die jongste Onderwerp vir gesprekke te hersien voordat jy aan die bediening deelneem. Kies gesprekspunte uit die publikasie wat aangebied word, en berei voor om dit doeltreffend te gebruik sodat jy belangstelling kan wek. Wees ook daarop voorberei om die velddienshandboek Redenering uit die Skrif te gebruik. Jy kan selfs tussen besoeke gou na sommige van die voorstelle in die boek kyk. As jy hierdie praktiese wenke toepas, sal dit jou bekwamer in jou bediening maak.
6 Dit is ’n groot voorreg om gedurende hierdie laaste dae ’n volle aandeel aan “die heilige werk van die goeie nuus” te hê (Rom. 15:16, NW). Ons moet daarna strewe om ons bediening te vervul deur die bes moontlike getuienis, “die vrug van die lippe”, te gee. (Hebr. 13:15; vergelyk Hosea 14:3.) Om dit te doen, moet ons tyd inruim om gereeld velddiens te doen en redelike doelwitte stel wat ons in staat sal stel om ons bediening tot lof van Jehovah te vervul.