Gebruik die Woord van die waarheid met vaardigheid
1 Ons vaardigheid in die gebruik van God se Woord kan ’n invloed hê op die manier waarop mense op die goeie nuus reageer. Paulus het ons dus aangespoor om bedrewe te wees in die bediening en gesê: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”—2 Tim. 2:15.
2 Ons moet leer om die Bybel goed te gebruik. Dit is noodsaaklik om tyd opsy te sit vir persoonlike studie en die bywoning van Christelike vergaderinge. Maar ons moet die dinge wat ons leer, toepas deur die Bybel gereeld in die bediening te gebruik. Dit vereis voortdurende inspanning terwyl ons God om hulp en leiding vra.—1 Joh. 3:22.
3 Vestig die aandag op God se Woord: Dit is belangrik dat mense besef dat ons boodskap nie sy oorsprong by ons het nie, maar by God se geskrewe Woord (Joh. 7:18). Wanneer ons vir iemand wys wat God oor ’n onderwerp in die Bybel sê, kan dit ’n groot indruk op hom maak. Die Bybel se kragtige boodskap trek mense aan wat opreg van hart is. Wanneer ons die Skrif meer gebruik, word ons bekwamer en sal ons ander meer van God se Woord kan leer, wat hulle tot voordeel sal strek.
4 Die meeste mense ken nie die Bybel nie. Wanneer ons dit gebruik, moet ons meer doen as om net tekste te lees. Goeie voorbereiding is nodig om vas te stel hoe ’n teks ingelei moet word. Vrae of ’n probleem wat jy opper, kan gebruik word om belangstelling te wek. Ons moet ook aandag skenk aan wat ons sê nadat ons die teks gelees het. Die persoon snap dalk nie die punt nadat dit net een keer gelees is nie. Deur sleutelwoorde weer te beklemtoon en te verduidelik, sal die gedagtes ingang vind.—Sien Skoolhandleiding, studies 24 en 25.
5 Die aanbod: Gedurende November gaan ons die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? aanbied. Hoe kan ons mense met hierdie aanbod nader? Nadat ons onsself voorgestel het, kan ons miskien sê: “Vandag soek baie mense leiding by verskillende individue of in boeke. Wat dink jy is die beste bron van praktiese leiding? [Laat huisbewoner antwoord.] Kyk wat sê die Bybel oor die ware bron van wysheid. [Lees Spreuke 2:6, 7.] Menslike wysheid skiet ver te kort, en dit lei tot teenspoed en wanhoop. God se wysheid was egter nog altyd betroubaar en voordelig. [Lees Jesaja 48:17, 18.] Ons moet ons dus tot God wend, wat die nodige leiding voorsien om ons probleme te bowe te kom.” Dan kan ons na hoofstuk 12 in die God se woord-boek blaai en hulle aandag op paragraaf 2 vestig. Daarna kan ’n toepaslike punt uit die hoofstuk beklemtoon word.
6 Nadat jy Spreuke 2:6, 7 gebruik het om die verhewenheid van God se wysheid te beklemtoon, kan jy aan die huisbewoner verduidelik waarom jy die Bybel respekteer en dit as iets kosbaars beskou. Wys hom daarop dat die leringe daarin hom tot voordeel sal strek en dat dit ’n vaste hoop vir die toekoms inhou. So ’n bespreking kan jou die geleentheid bied om die aandag te vestig op die Bybel se wyse raad oor sommige daaglikse probleme, en dit kan tot ’n Bybelstudie lei.
7 Jesus het altyd na die Skrif verwys om regskapenes te help en sy teenstanders te weerlê. Dit was Paulus se gebruik om die dinge wat hy geleer het deur ‘verwysings te verklaar en te bewys’ (Hand. 17:2, 3, NW). Ons selfvertroue en vreugde in die bediening sal toeneem namate ons ’n ywerige poging aanwend om nog vaardiger te raak in ons gebruik van die Woord van die waarheid.