Verkondig die goeie nuus met Die Wagtoring
1 Die Wagtoring is waarlik uniek omdat dit goeie nuus bevat. Die meeste wêreldse publikasies bevat daarenteen slegte en ontmoedigende nuus. Hoe kan ons vir ander wys dat Die Wagtoring anders is, dat dit ’n boodskap bevat wat waarlik verkwikkend is?
2 Ons kan hulle aandag vestig op “Die doel van Die Wagtoring” op bladsy 2 van die tydskrif. Beklemtoon die feit dat dit die tydskrif se hoofdoel is om Jehovah as die Soewereine Heerser te verheerlik, verslag te lewer oor wêreldgebeure wat Bybelprofesieë vervul, diegene te troos wat verdruk word en geloof te versterk in God se voorsienings vir ons redding.
3 Dra ons kommentare oor Die Wagtoring sulke gedagtes op ’n oortuigende wyse oor? Wat ons sê, moet nie net ’n treffende frase wees om kortstondige belangstelling te prikkel nie; dit moet gewig dra wat vertroue inboesem en ’n begeerte wek om meer te leer.
4 Voorbereiding is nodig: Ons moet elke tydskrif noukeurig lees en verskeie aanbiedings ontleed met ons gebied in gedagte. Wanneer ons teksverwysings naslaan, verruim dit ons eie begrip. Dit verdiep ons waardering vir die waarheid en beweeg ons om met ander daaroor te praat. As die waarheid nie in ons hart is nie, sal ons min beweegrede hê om daaroor te praat.
5 Ons wil soveel mense moontlik aanmoedig om op Die Wagtoring in te teken. Hoewel ons ongetwyfeld die meeste van ons intekeninge van huis tot huis sal verkry, wil ons nie ons sakekennisse, bure en familielede vergeet nie. Het ons kinders ’n intekening? Het ons al daaraan gedink om ’n geskenkintekening aan iemand te stuur vir wie ons werklik omgee? Wat van diegene by wie ons gereeld herbesoeke doen of selfs ons Bybelstudente? As mense nie ’n jaarintekening kan bekostig nie, kan ons ’n halfjaarlikse intekening vir hulle aanbied. As iemand die intekeningaanbod van die hand wys, kan ons voorstel dat hy die twee tydskrifte neem.
6 Wanneer jy die artikels in die jongste nommer van Die Wagtoring lees, probeer aan vorige besprekings met huisbewoners dink waar hierdie onderwerpe belangstelling geprikkel het. Stel jou dit dan ten doel om met hierdie nommer na hulle terug te gaan vir ’n verdere bespreking.
7 Ons weet nie hoe lank en in watter mate die goeie nuus nog verkondig sal word nie. Ons kan egter verseker wees dat Die Wagtoring ’n belangrike rol sal speel in wat tot stand gebring gaan word. Ons moet met behulp van hierdie voorsiening die apostels navolg deur ywerig ‘onderrig te gee en die goeie nuus van die woord van Jehovah bekend te maak’.—Hand. 15:35, NW.