Help almal wat reeds belangstelling getoon het
1 Ons geloof en ons liefde vir ander sal ons gedurende Maart beweeg om almal te help wat reeds belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het en hulle na die Gedenkmaal uit te nooi. Sulke mense moet na Jehovah se voorsiening vir redding, waarvan Christus se losprysoffer die kern is, gelei word.—Hebr. 9:28.
2 Dit is goed om ’n lys op te stel van diegene wat jy na die Gedenkmaal wil uitnooi. Sluit almal in wat nou en dan vergaderinge bywoon, sowel as diegene wat voorheen gestudeer of andersins belangstelling getoon het. Moenie van ongelowige huweliksmaats en ander gesinslede vergeet nie. Nadat jy jou lys opgestel het, moet jy ’n spesiale poging aanwend om elkeen te besoek. Jy kan die ouere manne se hulp vra voordat jy sekere besoeke doen.
3 Wat kan jy gedurende die besoek sê?
Nadat jy vriendelik gegroet het, kan jy iets sê soos:
◼ “Jy het in die verlede belangstelling in geestelike dinge getoon, en ek het gedink jy sal hierdie uitnodiging na ’n spesiale geleentheid waardeer. [Gee die gedrukte Gedenkmaaluitnodiging vir die huisbewoner.] Die herdenking van Christus se dood is die enigste geleentheid wat die Here Jesus Christus sy volgelinge beveel het om te herdenk. Ons sien daarna uit om by hierdie geleentheid te hersien wat Christus deur sy dood teweeggebring het en hoe ons deur middel daarvan die ewige lewe kan verkry. Verlede jaar het meer as 11 miljoen hierdie spesiale vergadering bygewoon. Ek sal bly wees as jy dit vanjaar saam met my kan bywoon.” Moenie vergeet om neer te skryf wanneer en waar jou gemeente die Gedenkmaal gaan vier nie. Bied ook aan om vervoer te voorsien indien dit nodig is.
4 Wanneer nuwelinge die Gedenkmaal bywoon, moet ons hulle tuis laat voel. Help hulle om plaaslike verkondigers te leer ken en stel hulle voor aan enige belangstellendes wat dalk naby hulle woon. Die wete dat ’n aantal mense in hulle eie buurt in die waarheid belangstel, sal hulle aanmoedig. Nooi hulle om gedurende die Gedenkmaalviering by jou gesin te sit indien dit moontlik is.
5 Om bloot die Gedenkmaal by te woon, sal hulle natuurlik nie van redding verseker nie. Maar vir baie wat jy uitnooi, kan dit hulle eerste stap wees om geloof te beoefen in Jesus se vergote bloed. Op pad terug van die vergadering af kan jy die besoeker vra of hy die volgende Sondag die Openbare vergadering en Wagtoring-studie wil bywoon. Wees hartlik en tegemoetkomend. Laat hom verstaan dat jy bereid is om te help net waar jy kan. Hoe gouer hy gereeld met ons begin assosieer, hoe vinniger sal hy geestelik vooruitgang maak. Watter vreugde en tevredenheid sal ons tog hê as ons “die groot verdrukking” oorlewe saam met baie ander wat ons kon help!—Openb. 7:9, 14.