Reinheid strek God tot eer
1 Die Mosaïese Wet het streng vereistes bevat om reinheid te verseker. Dit het Israel onderskei as ’n volk van wie daar vereis is dat hulle hulle liggaamlik en geestelik rein hou (Lev. 11:35, 36; 15:1-11; Jes. 52:11). Hierdie rein toestand het God tot eer gestrek en tot die nasie se gesondheid bygedra.
2 Vandag is reinheid eweneens ’n vername kenmerk van Jehovah se volk. Maar hoewel dit Jehovah se volk as ’n groep identifiseer, kan ons ons afvra of dit van elkeen van ons as persoon waar is. Die mate waarin ons oor netheid en persoonlike reinheid besorg is, weerspieël hoeveel ons Jehovah se vereistes waardeer.
3 Wat van die voorkoms van ons huis? Doen dit afbreuk aan die Koninkryksboodskap wat ons verkondig? Is dit moontlik dat sommige mense ons opregtheid kan bevraagteken as ons sê dat die aarde in ’n paradys omskep gaan word, terwyl ons eie huis verwaarloos is en die tuin met ongesnyde gras of onkruid toegegroei is? Kan daar gesê word dat ons die ‘rein gewoontes aangeleer het wat by die Nuwe Wêreld onder God se Koninkryk sal pas’ as ons huis die indruk van onordelikheid skep of as daar onaangename reuke vanweë onhigiëniese gewoontes is?—omAF bl. 130-1.
4 Wat van die motor wat ons vir velddiens gebruik? Is dit binne en buite redelik skoon sodat die voorkoms daarvan nie afbreuk aan ons werk doen nie? Wat van ons klere, velddienstas en persoonsversorging? Is dit netjies en ordentlik sodat dit nie rede tot aanstoot gee nie? Dit is billik dat ons onsself en ons klere skoon hou deur gereeld te bad en ons klere te was en te stryk.—wAF89 6/1 bl. 16-19.
5 Sê nou ’n broer het agterlosig geword sodat sy persoonlike higiëne of woonplek ’n rede tot aanstoot vir die gemeente geword het? Dalk het hy vanweë sy ouderdom of swak gesondheid net ’n bietjie liefdevolle bystand nodig. Indien wel, sal dit goedhartig van ons wees om hom te help. Iemand het moontlik die probleem sonder dat hy eers daarvan bewus is; vriendelike hulp kan hom aanspoor om die situasie reg te stel. Persone wat in hierdie verband deurgaans ’n slegte voorbeeld stel, sal nie vir spesiale voorregte in die gemeente kwalifiseer nie. Ouere manne moet natuurlik daarteen waak dat hulle hulle eie persoonlike standaarde of voorkeure aan ander voorskryf.
6 Belangstellendes word uitgenooi om geestelike feeste by ons Koninkryksaal te geniet. Ons is gewoonlik gretig om hulle uit te nooi omdat die saal so aantreklik en netjies is. Maar dit verg werk om dit so te hou. Kyk om jou in die saal. Is die stoele, vloere en mure skoon? Word die toilette gereeld geskrop? Wanneer ons daaraan gewoond raak om na ’n vuil tapyt te kyk of na mure waarvan die verf afdop, kan ons dit gou as aanvaarbaar beskou. Maar dit kan ’n ongunstige indruk laat op vreemdelinge wat die saal vir die eerste keer besoek. Ons moet ons bes doen om ons saal aangenaam en aantreklik te hou deur ons deel te doen wanneer dit tyd vir skoonmaak of herstelwerk word. As julle Koninkryksaal ’n tuin het, moet dit ook gereeld aandag ontvang. Het dit ’n netjiese en aantreklike voorkoms? Word die grasperk gereeld gesny?
7 Ons kan God sonder ’n woord deur ons persoonlike voorkoms en die netheid van ons huis, motor en Koninkryksaal verheerlik. Ons goeie voorbeeld sal geen oorsaak van struikeling wees nie, maar sal daarvan getuig dat ons aanbidding rein en onberispelik is.—1 Kor. 10:31, 32; Jak. 1:27.