Skenk aandag aan die Profetiese woord
1 ‘Die profetiese woord is vir ons vaster gemaak’ (2 Pet. 1:19, NW). Waarom het Petrus dit gesê? Die profesieë oor die Koninkryk in die Hebreeuse Geskrifte sowel as dié van Jesus Christus self is bevestig, of “vaster gemaak”, deur wat Petrus en twee ander dissipels ongeveer 32 jaar vroeër tydens die verheerliking gesien en gehoor het. Hierdie dramatiese gesig het hulle weer eens die versekering gegee dat Jesus Christus beslis in Koninkryksmag sou kom met stralende heerlikheid en met die volle ondersteuning van sy Vader. Christene in die eerste eeu het ‘goed gedoen deur aandag aan daardie profetiese woord te skenk soos aan ’n lamp wat skyn’ in die sin dat hulle harte andersins donker sou wees. As hulle op die verligtende profetiese woord ag sou slaan, sou hulle wakker en verlig bly tot die dagbreek van ’n nuwe dag, wanneer die “dagster”, Christus, in Koninkryksheerlikheid sou opstaan.—2 Pet. 1:16-19, NW; Matt. 17:1-9.
2 Ons was nie daar om die glorieryke verheerliking saam met Petrus te sien nie. Tog het die Christene in hierdie geslag wat op die profetiese woord ag geslaan het die groot voorreg gesmaak om nie ’n voorskou van Christus se Koninkryk te sien nie, maar oorweldigende bewyse dat die verheerlikte Koning werklik regeer! Met elke jaar wat sedert 1914 verbygaan, word die profetiese woord vaster gemaak namate ons die vervulling sien van die verskeie dele van die treffende “teken” wat Jesus aangaande sy koninklike “teenwoordigheid” gegee het. ’n Belangrike deel van die teken is dat die aankondiging van sy regering, of Koninkryk, in al die nasies gemaak sal word voor die Koning ’n einde aan hierdie stelsel van dinge gaan maak. Onder Christus se leiding word die Koninkrykspredikingswerk nou in 231 lande gedoen op ’n skaal waarvan niemand ooit sou kon droom nie (Matt. 24:3-14, NW). Daarbenewens versamel die gekroonde Koning, namate die tyd vir “die groot verdrukking” nader kom, “’n groot menigte” “uit alle nasies” wat geloof beoefen in die “bloed van die Lam” waardeur hulle vrygekoop is.—Openb. 7:9, 10,14.
3 Is daar steeds rede om aandag te skenk aan die profetiese woord, aangesien die “dagster” verskyn het, dit wil sê Christus in Koninkryksmag gekom het? Ja! Die verheerlikte Jesus Christus het die apostel Johannes ’n reeks gesigte gegee wat die boek Openbaring uitmaak. Hoewel dit die vroeë Christene aangemoedig en onderrig het, is dit van besondere waarde vir diegene wat in “die dag van die Here” lewe, waarin ons ons nou bevind (Openb. 1:10). Dit is waarom die gemeentes van Jehovah se volk nou ’n verdere studie van die Openbaring-boek maak.
4 “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Openb. 1:3). As ons gelukkig wil wees, moet ons die sin, ja, die ware begrip, van hierdie profetiese gesigte verkry. Wat vereis dit? Herhaling is nodig om die betekenis van die verslag van Openbaring in ons hart te laat posvat. Die apostel Petrus, ’n lid van die eerste-eeuse bestuursliggaam, het die waarde daarvan besef om fundamentele waarhede te herhaal om sy broers geestelik “op te wek” (2 Pet. 1:12, 13). Die hedendaagse “getroue en verstandige dienskneg” help ons eweneens om ons waardering lewendig te hou deur ons aandag herhaaldelik op die profetiese woord te vestig.—Matt. 24:45-47.
5 Hoe om aandag te skenk: Watter tipe aandag verdien die profetiese woord in Openbaring? Die apostel Paulus herinner ons daaraan dat God nie deur engele of profete met Christene gespreek het soos hy met sy voor-Christelike knegte gekommunikeer het nie. Jehovah het eerder met ons gekommunikeer deur sy mees geliefde Seun, wat hy as “erfgenaam van alles” aangestel het (Hebr. 1:1,2). “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebr. 2:1). Ja, ons moet ag gee op God se Woord en veral op die profetiese woord wat deur Jesus Christus kom. Hoe kan ons spesiale aandag aan ons studie van Openbaring skenk?
6 Eerstens is dit baie belangrik om elke week by die Gemeentelike Boekstudie teenwoordig te wees. Dit sal weliswaar vir baie van ons die derde keer wees dat ons die Openbaring-boek bestudeer. Daarom sal sommige miskien ongeërg wees oor die bywoning van die boekstudie en dink dat hulle, al mis hulle ’n vergadering, reeds met die materiaal vertroud is. Maar met elke jaar wat verbygaan, word hierdie profetiese inligting toepasliker en tydiger as wat dit in 1989 was toe ons die Openbaring-boek die eerste keer bestudeer het. Ons almal moet let op die hedendaagse gebeure wat vinnig vooruitbeweeg ter vervulling van die profesieë van Openbaring. Dan kan ons voorbereid wees om in ooreenstemming met Jehovah se wil op te tree. Stel jou dit persoonlik ten doel om nie ’n enkele vergadering, indien enigsins moontlik, tydens hierdie belangrike bespreking van Openbaring te mis nie.
7 Tweedens, berei jou les goed voor. Slaan die teksverwysings na en kyk hoe hulle die verduideliking ondersteun van die verse in Openbaring wat bestudeer word. Sodoende sal jy nie net antwoorde op die vrae kry nie. Streef daarna om nie net kennis nie maar ook wysheid en insig te verkry (Spr. 4:7). Derdens moet ons ’n daadwerklike deelname hê deur te antwoord en tekste te lees. Stel jou dit ten doel om ten minste een keer en verkieslik ’n paar keer tydens elke studie te antwoord. Dit sal jou help om jou gedagtes by die les te bepaal.
8 Om des te meer ag te slaan op die profetiese woord sluit nie net voorbereiding, bywoning en deelname in nie. Dit beteken ook dat ons selfs ná die studie moet voortgaan om ‘hierdie dinge te bepeins en verdiep daarin te wees’ (1 Tim. 4:15, NW). As die profetiese woord soos ’n lig moet wees wat in ons hart skyn, moet ons toelaat dat dit ons innerlike persoon diep raak—ons gedagtes, begeertes, emosies, beweegredes en doelwitte (2 Pet. 1:19, NW). Ons moet ons dus afvra: ‘Wat beteken hierdie inligting vir my persoonlik? Wat het ek oor Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, geleer? Watter beginsels is by die materiaal betrokke? Begryp ek die sin van die studie in my hart? Hoe kan ek hierdie waarhede in my lewe toepas? In my gesinslewe? In die gemeente?’ Deur die dinge wat ons leer prakties toe te pas, kan ons, soos die psalmis, sê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Ps. 119:105; Job 29:3,4, NW.
9 Bly wakker gedurende kritieke tye: In 33G.J. het Jesus sy dissipels gewaarsku oor Jerusalem se komende vernietiging en die situasie wat die tyd sou kenmerk wanneer hulle na ’n veilige plek moes vlug (Luk. 19:41-44; 21:7-21). Toe het meer as 30 jaar verstryk. Dit kon vir party Judese Christene gelyk het asof min in die nabye toekoms sou verander. Hoe tydig was die vermaning van die geliefde apostel Petrus tog in sy tweede brief, wat ongeveer 64 G.J. geskryf is, om ‘aan die profetiese woord aandag te skenk’! (2 Pet. 1:19, NW). Kort daarna, in 66 G.J., is Jerusalem deur Romeinse leërs omsingel. Toe die Romeinse magte skielik sonder enige skynbare rede terugtrek, het Judese Christene wat wakker was Jesus se instruksies gevolg en gevlug. Toe, in 70 G.J., het die Romeinse leërs teruggekom en Jerusalem heeltemal vernietig. Hoe bly moes daardie Christene tog nie gewees het dat hulle goed aandag geskenk het aan Jesus se profetiese woorde nie!
10 Waarna is ons as hedendaagse Christene op die uitkyk? In die gesigte van Openbaring het Jesus Christene wat nou lewe, gewaarsku aangaande baie gebeure wat tydens die Here se dag sou plaasvind. Gedurende die afgelope 80 jaar het ’n paar van hierdie dinge reeds plaasgevind: die geboorte van die Koninkryk; die oorlog in die hemel en die daaropvolgende nederlaag van Satan en sy demone, waarna hulle tot die omgewing van die aarde beperk is; die val van Babilon die Grote; en die verskyning van die skarlakenrooi wilde dier, die agtste wêreldmoondheid. Die vervulling van hierdie aspekte van die profetiese woord in Openbaring bevestig dat ons binnekort hierdie oorblywende dramatiese gebeure sal sien: die verseëling van die laaste lede van die 144 000, die voltooide insameling van die groot menigte, die vernietiging van Babilon die Grote, die oorlog van Armageddon, Satan wat in die afgrond gewerp word en die Duisendjarige Ryk van Christus. Hoe belangrik is dit tog dat ons op Jesus se waarskuwing ag slaan: “Kyk, Ek kom soos ’n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie”!—Openb. 16:15.
11 Bly ons wakker? Hoe ernstig neem ons die profetiese woord op? Of ons nou ons lewe 5 jaar gelede of 50 jaar gelede aan Jehovah toegewy het, Paulus se woorde aan die Romeinse Christene is net soveel op ons van toepassing: ‘Ons ken die tydsomstandighede, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag.’ Paulus spoor Christene dan aan om ‘die werke van die duisternis af te lê’ en om ‘welvoeglik te wandel’ (Rom. 13:11-13). Ons lewe in ’n wêreld wat op sedelike gebied in algehele duisternis verkeer. Wat slegs 30 of 40 jaar gelede as uiters aanstootlike gedrag beskou is, is vir baie wêreldlinge in hierdie laaste dekade van die 20ste eeu normaal. Wees op julle hoede, broers, dat julle nooit toelaat dat julle tot in die wêreld se duisternis wegdryf en sedelik lomerig raak nie. As julle toelaat dat julle permissief of verdraagsaam word teenoor hierdie wêreld se verlaagde denke en lewenswyse, sal julle die groot geskille wat ons in die gesig staar en wat binnekort vir goed besleg gaan word uit die oog verloor: die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die heiliging van sy naam. Geestelike lomerigheid sal ons redding, wat nou so naby is, in gevaar stel.
12 Laat die waardering in jou hart vir die profetiese woord toeneem: Die eertydse Hebreeuse profete het baie belanggestel in die vervulling van hulle geesgeïnspireerde uitinge oor die Messias. Hulle het ‘ywerig nagevors en ’n sorgvuldige ondersoek’ gedoen na die uitvoering van God se voorneme (1 Pet. 1:10, 11, NW). Namate jy op dieselfde wyse aandag skenk aan die profetiese woord in die boek Openbaring sal jou waardering vir geestelike dinge toeneem. Jou geestelike aptyt sal toeneem sodat jy beweeg sal word om in “die dieptes van God” te delf (1 Kor. 2:10). Namate jy jou hart met waardering en liefde vir die profetiese woord vul, sal dit vir niemand nodig wees om jou aan te spoor om die vergaderinge by te woon nie; jy sal gemotiveerd wees om dit gereeld by te woon en daaraan deel te neem (Luk. 6:45). En as die “woord in jou eie hart is”, sal jy beweeg word om ‘dit in die openbaar bekend te maak tot redding’.—Rom. 10:8-10, NW.
13 Hoe dieper ons die tyd van die einde ingaan, des te meer sal spotters ons uitlag omdat ons aanhou om geloof in God se profetiese verklarings te stel (2 Pet. 3:3,4). Nogtans sal ons op die profetiese woord ag slaan. Die lamp van God se Woord toon vir ons waar ons in die tydstroom is. Dit laat dit baie helder uitstaan dat ons in die laaste dae van hierdie donker wêreld leef. Die dagster het opgegaan! Christus is in Koninkryksmag! Ons sien reeds op die horison die dagbreek van ’n nuwe dag. Mag God se beloofde nuwe wêreld altyd vir ons net so werklik wees as wat die Koninkryk vir die drie apostels was wat bevoorreg was om ’n voorskou daarvan te sien in die wonderdadige gesig van Jesus se verheerliking!