Gereelde vergaderingbywoning—Noodsaaklik om standvastig te bly
1 Die apostel Paulus het ons aangespoor om “gesond in die geloof” te bly (Tit. 1:9,13). By gemeentelike vergaderinge bespreek ons heilsame gedagtes en word ons geleer hoe ons ten volle in geestelike wapenrusting geklee kan bly sodat ons kan “vasstaan teen die sette van die Duiwel”.—Ef. 6:11; Fil. 4:8.
2 Vergaderinge voorsien wat ons nodig het: As ons wil vasstaan, is dit noodsaaklik dat ons gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon (1 Kor. 16:13). By vergaderinge word gebede gedoen om God te dank en te loof, asook om versoeke tot hom te rig ten behoewe van die gemeente en hulle behoeftes (Fil. 4:6,7). Wanneer ons Koninkryksliedere saamsing, hef dit ons gees op en stel dit ons in staat om uiting te gee aan ons gedagtes en gevoelens terwyl ons Jehovah aanbid (Ef. 5:19,20). Ons omgang by die Koninkryksaal voor en ná die vergaderinge bemoedig ons, bou ons op en verkwik ons.—1 Tess. 5:11.
3 Verlede April het die spesiale toespraak, “Die einde van valse godsdiens is naby”, kragtig by liefhebbers van waarheid ingeskerp hoe dringend dit is om onmiddellik stappe te doen om uit Babilon die Grote te gaan (Op. 18:4). Hoe bemoedigend was dit tog om gedurende Junie en Julie drie Wagtoring-studieartikels te bestudeer oor die flitse van lig wat die pad van die regverdiges verlig het! (Spr. 4:18). Dink net wat ons sou gemis het as ons nie daardie vergaderinge bygewoon het nie.
4 Georganiseer om ons bediening te vervul wys op bladsy 72 dat die Teokratiese Bedieningskool ’n voorsiening vir die voortgesette opleiding van die hele gemeente is. Tans help een deel van die program ons om beter vertroud te raak met die hedendaagse geskiedenis van die organisasie deur van die Verkondigers-boek gebruik te maak. Ons kan nie bekostig dat hierdie onderrigting vir ons verlore gaan nie.
5 Ons Diensvergadering rus ons toe om bekwamer in die bediening te wees. Dit is toegelig deur die vergadering waartydens ons instruksies ontvang het oor hoe ons aan die wye verspreiding van Koninkryksnuus Nr. 34 kon deelneem. Jehovah het hierdie werk ryklik geseën, soos uit die uitsonderlike resultate oor die hele wêreld gesien kan word. (Vergelyk 2 Korintiërs 9:6,7.) Diegene wat die vergaderinge gereeld bywoon, is aangemoedig, en hulle het daartoe bygedra dat die kampanje goed ondersteun is.
6 By die Gemeentelike Boekstudie word ons gevoel van dringendheid verskerp deur die dinge wat ons in God se Woord met behulp van die Openbaring-boek leer. Aangesien dinge vinnig op die wêreldtoneel verander, moet ons die vervulling van die dieper profesieë van Openbaring verstaan.
7 Gee voorkeur aan gereelde vergaderingbywoning: In baie lande waar ons broers beproewinge verduur, besef hulle steeds hoe noodsaaklik dit vir hulle is om elke week te vergader. In Burundi, Rwanda, Liberië en Bosnië en Herzegowina is daar byvoorbeeld soveel nuwelinge by die vergaderinge dat die bywoningsyfer twee of selfs drie keer groter as die aantal verkondigers is. Op hierdie manier help Jehovah die broers om in een gees vas te staan.—Fil. 1:27; Heb. 10:23-25.
8 Enigeen wat dalk gereelde vergaderingbywoning verwaarloos het, moet nou stappe doen om hierdie neiging reg te stel (Pred. 4:9-12). Om standvastig te bly, het ons die omgang met ryp persone nodig, wat deur gereelde vergaderingbywoning voorsien word.—Rom. 1:11.