Ware aanbidding brei in Oos-Europa uit
1 Eerste-eeuse Christene was ywerige Koninkryksverkondigers. Hulle was verheug toe die gemeentes ‘van dag tot dag in getal toegeneem het’ (Hand. 16:5). Hulle moedige predikingswerk het ware aanbidding na Asië, Afrika en Europa geneem, en dit het ’n ryk oes van gelowiges opgelewer.
2 In hierdie tyd van die einde brei ware aanbidding steeds uit, veral in die lande van Oos-Europa. In lande waar ons tot in die vroeë negentigerjare regeringsbeperkings gehad het, sien ons nou uitsonderlike groei. Die 1999 Yearbook toon dat twee van hierdie lande, Rusland en die Oekraïne, elk gerapporteer het dat meer as 100 000 verkondigers aan die openbare bediening deelgeneem het. In die 15 gebiede van die voormalige Sowjetunie het meer as 220 000 mense hulle sedert 1991 aan Jehovah toegewy en laat doop! Hierdie vinnige groei het dit nodig gemaak om talle nuwe Koninkryksale en Byeenkomssale te bou, asook ’n aantal takkantoorfasiliteite te vergroot.
3 ’n Deel van die Genootskap-Koninkryksaalfonds word nou gebruik om lenings aan gemeentes te voorsien in lande waar daar ’n baie dringende behoefte aan meer Koninkryksale bestaan, maar waar daar beperkte geldmiddele en ernstige ekonomiese probleme is. Tussen Maart 1996 en Oktober 1998 het die Genootskap 359 aansoeke vir Koninkryksaallenings goedgekeur van takkantore wat oor 11 Oos-Europese lande toesig hou. Fondse wat bygedra word, word gebruik om grond en materiale vir die bou van nuwe Koninkryksale te koop en om gemeentes te help om bestaande fasiliteite te verbou. Hierdie foto’s gee ons ’n idee van hoe bydraes tot die Genootskap-Koninkryksaalfonds in die Verenigde State en in ander lande ons broers in Oos-Europa bevoordeel het.
4 Gedurende 1998 het Bulgarye ’n vermeerdering van 12 persent gehad, en die broers was verheug toe hulle eerste Koninkryksaal in April van daardie jaar toegewy is. Kroasië het ’n vermeerdering van 4 persent gehad, en die broers is tans besig om nog Koninkryksale ter bevordering van ware aanbidding te bou. In Hongarye word ongeveer 80 Koninkryksale deur 144 gemeentes gebruik. Dit beteken dat 61 persent van die 235 gemeentes in daardie land hulle eie plek van aanbidding het. In Masedonië het die Koninkryksaalbouprogram twee nuwe sale voltooi, en nog word beplan. In die (noordelike) somer van 1999 is ’n dubbele Koninkryksaal in die hoofstad Skopje voltooi. Hierdie saal kan in ten minste ses gemeentes se behoeftes voorsien.
5 Verlede jaar is daar in Rusland elke week gemiddeld meer as 260 mense gedoop! Die Russiese takkantoor het die voorbeeld van ander lande gevolg en het nou 12 Streekboukomitees in hulle uitgestrekte gebied gevorm om toekomstige Koninkryksaalbouprojekte te ondersteun. In die noordelike deel van St. Petersburg is hulle besig met die land se eerste Byeenkomssaal, wat sitplek vir 1 600 mense sal bied. Die fasiliteit sal ook vyf Koninkryksale insluit, met 200 sitplekke elk. Om in die geestelike behoeftes van ons broers en talle belangstellendes in die Oekraïne te voorsien, is 84 Koninkryksale voltooi en is 80 in aanbou.
6 Verbly hierdie vermeerdering in Oos-Europa nie ons harte nie? Ongeag waar ons woon, die uitbreiding van ware aanbidding herinner ons daaraan dat God nie partydig is nie en dat sy geduld vir “’n groot skare” redding sal beteken (Op. 7:9; 2 Pet. 3:9). Wat ’n voorreg het ons tog om ’n klein deel te kan bydra tot die geestelike groei van ander, selfs diegene in verafgeleë lande! Spreuke 28:27 verseker ons: “Wie aan die arme gee, sal nie gebrek ly nie.” Ons bereidwilligheid om hierdie boukoste te help dek, het “’n gelykmaking” van materiële dinge tot gevolg sodat almal die geluk kan smaak om te gee, asook die vreugde om te sien hoe ware aanbidding wêreldwyd uitbrei.—2 Kor. 8:14, 15; Hand. 20:35.
[Prent op bladsy 3]
Săcele, Roemenië
[Prent op bladsy 3]
Maardu, Estland
[Prent op bladsy 3]
Sevnica, Slowenië
[Prent op bladsy 3]
Tiszavasvári, Hongarye
[Prent op bladsy 4]
Jūrmala, Letland
[Prent op bladsy 4]
Tallinn, Estland
[Prent op bladsy 4, 5]
Taurage, Litaue
[Prent op bladsy 4, 5]
Belgrado, Joego-Slawië
[Prent op bladsy 5]
Prievidza, Slowakye
[Prent op bladsy 5]
Mátészalka, Hongarye
[Prent op bladsy 6]
Vranov nad Topl’ou, Slowakye
[Prent op bladsy 6]
Ruma, Joego-Slawië
[Prent op bladsy 6]
Tornakalns, Letland