Portuurdwang en jou voorreg om te getuig
1 Portuurdwang kan ’n kragtige invloed op ’n mens hê—ten goede of ten kwade. Medeknegte van Jehovah oefen ’n positiewe invloed uit wat ons tot voortreflike Christelike werke aanspoor (Heb. 10:24). Maar gesinslede wat nie Getuies is nie, werksmaats, skoolmaats, bure of ander kennisse kan druk op ons plaas om ’n weg te volg wat teenstrydig met Christelike beginsels is. Hulle praat dalk “minagtend van [ons] goeie gedrag in verband met Christus” (1 Pet. 3:16). Hoe kan ons vasbeslote bly om aan te hou preek ondanks negatiewe portuurdwang wat op ons uitgeoefen word?
2 Gesinslede: Soms is ’n man en vader wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, gekant teen die feit dat sy vrou en kinders aan die openbare bediening deelneem. Dit was die situasie met ’n huisgesin in Mexiko. ’n Man se vrou en sewe kinders het in die waarheid gekom. Aanvanklik het hy sy gesin teëgestaan omdat hy nie wou hê dat hulle aan die predikingswerk moes deelneem en Bybellektuur van huis tot huis moes aanbied nie. Hy het gevoel dat dit benede hulle waardigheid was. Sy vrou en kinders het egter by hulle besluit gebly om Jehovah te dien en gereeld aan die bediening deel te neem. Mettertyd het die man begin besef hoe voordelig dit is om God se reëling in verband met die predikingswerk te aanvaar, en hy het hom toe ook aan Jehovah toegewy. Hy het eers ná 15 jaar die waarheid aangeneem, maar sou hy dit ooit gedoen het as sy gesin nie volhard het in hulle voorreg om te getuig nie?—Luk. 1:74; 1 Kor. 7:16.
3 Werksmaats: Jou pogings om vir jou werksmaats te getuig, sal dalk nie deur almal verwelkom word nie. ’n Suster het vertel dat sy bespot is toe daar ’n bespreking in die kantoor oor die einde van die wêreld ontstaan het en sy voorgestel het dat hulle Matteus hoofstuk 24 lees. Maar ’n paar dae later het een van haar werksmaats haar vertel dat sy die hoofstuk gelees het en dat sy beïndruk was. ’n Publikasie is by haar gelaat en reëlings is getref om ’n Bybelstudie met haar en haar man te hou. Die eerste studie het tot twee-uur in die oggend geduur. Ná die derde studie het hulle vergaderinge begin bywoon en kort daarna het hulle opgehou rook en aan die bediening begin deelneem. Sou dit gebeur het as ons suster geen poging aangewend het om ander van haar hoop te vertel nie?
4 Skoolmaats: Dit is nie ongewoon vir jong Getuies om portuurdwang by die skool te ondervind en om bang te wees dat ander jongmense hulle sal verkleineer omdat hulle aan die predikingswerk deelneem nie. Een tienderjarige Christen in die Verenigde State het gesê: “Ek was bang om vir ander jongmense te getuig omdat hulle my dalk sou spot.” Daarom het sy geleenthede laat verbygaan om vir haar portuurs by die skool en in die gebied te getuig. Waar kan jy die krag vandaan kry om portuurdwang te weerstaan? Vertrou op Jehovah en soek sy goedkeuring (Spr. 29:25). Wees trots op jou vermoë om die Woord van God in jou bediening te gebruik (2 Tim. 2:15). Die jong persoon wat so pas aangehaal is, het tot Jehovah begin bid en hom gevra om haar te help om die begeerte te ontwikkel om met haar skoolmaats te praat. Sy het informeel by die skool begin getuig, goeie resultate gehad, en kort voor lank het sy met almal gepraat wat sy ken. Sy het tot die slotsom gekom: “Hierdie jongmense het ’n hoop vir die toekoms nodig, en hulle wil daardie hoop hê, en Jehovah gebruik ons om hulle te help.”
5 Bure: Ons het moontlik bure of ander kennisse wat geïrriteerd raak met ons as gevolg van wie ons is of waarvoor ons staan. As jy bang is vir wat hulle dink, moet jy jou afvra: ‘Ken hulle die waarheid wat tot die ewige lewe lei? Wat kan ek doen om hulle harte te bereik?’ ’n Kringopsiener het gesê dat dit goeie resultate oplewer as ’n mens vir jou bure in kleiner dosisse getuig. Smeek Jehovah vir die nodige krag en wysheid om na opregtes van hart te bly soek.—Fil. 4:13.
6 Teenstanders is bly as ons voor negatiewe portuurdwang swig, maar sal dit in hulle belang wees—of in ons s’n? Jesus is deur mense in sy eie gemeenskap teëgestaan. Hy het selfs venynige aanmerkings deur sy halfbroers verduur. Maar hy het geweet dat hy hulle slegs kon help deur God se wil vir hom getrou uit te voer. Jesus het dus “sulke teëspraak deur sondaars teen hulle eie belange verduur” (Heb. 12:2, 3). Ons moet dieselfde doen. Wees vasbeslote om jou voorreg om die Koninkryksboodskap te verkondig ten volle te benut. Deur dit te doen, “sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister”.—1 Tim. 4:16.