Seëninge wat ons ontvang as ons waardering vir Jehovah se liefde toon—Deel 2
1 In verlede maand se deel oor hierdie onderwerp, het ons vier maniere bespreek waarop ons waardering vir Jehovah se liefde in die bediening getoon kan word (1 Joh. 4:9-11). Hier volg nog vyf maniere waarop ons dit kan doen. Wanneer ons soveel as moontlik doen om ander geestelik te help, word ons geseën.
2 Informele getuieniswerk: Dit is ’n doeltreffende manier om mense te vind wat honger en dors na regverdigheid en om nuttige lektuur by hulle te laat. Dit is goed om ‘die geleë tyd uit te koop’ en by elke geleentheid en vir elkeen wat ons ontmoet, te getuig (Ef. 5:16). Ons moet dalk moed bymekaarskraap om op hierdie manier te getuig, maar as ons God se liefde waardeer en besef wat mense nodig het, sal ons by elke geleentheid getuig.—2 Tim. 1:7, 8.
3 ’n Sendeling is ryklik geseën omdat hy ’n gesprek met ’n medepassasier in ’n huurmotor aangeknoop het. Die man het belangstelling getoon. Herbesoeke is gedoen, en ’n Bybelstudie is begin. Daardie man het in die waarheid gekom en sulke goeie vordering gemaak dat hy ’n gemeentelike ouer man geword het!
4 Deur middel van briewe: Dalk kan ons nie van huis tot huis gaan nie weens die een of ander fisiese kwaal of weens ongure weer. Ons kan briewe skryf en sodoende ’n kort getuienis gee vir mense wat ons ken, diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het of diegene in die gebied wat nie tuis was nie. Ons kan een van ons tydige traktate insluit wat ’n opbouende Bybelse boodskap bevat en die persoon aanmoedig om daarop te reageer as hy enige vrae het. Gebruik jou adres of die Koninkryksaal s’n as die afsendersadres; moet asseblief nie die takkantoor s’n gebruik nie.
5 Telefoongetuieniswerk: Dit is ’n goeie manier om mense te bereik met wie ons nie in die huis-tot-huis-werk in aanraking kan kom nie. As ons dit oordeelkundig, vriendelik, taktvol en op ’n bekwame wyse doen, kan ons ’n baie goeie reaksie kry. Ons Koninkryksbediening vir Februarie 2001, bladsye 5-6, gee praktiese wenke oor hoe ons die beste resultate kan kry.
6 ’n Suster wat telefoongetuieniswerk gedoen het, het ’n vrou gevra of sy al gewonder het wat die toekoms vir haar en haar gesin inhou. Die vrou het ja geantwoord. Sy het erken dat sy haar in haar huis afgesonder het omdat sy so wanhopig voel. Die suster se opregte besorgdheid het die vrou geraak, en sy het ingestem om haar by ’n nabygeleë mark te ontmoet. Dit het daartoe gelei dat die vrou die aanbod van ’n Bybelstudie geredelik aanvaar het!
7 Verwelkom vreemdelinge: As ons ons naaste liefhet, sal ons oplet as enige vreemdelinge ons vergaderinge bywoon en hulle welkom laat voel (Rom. 15:7). Laat hom sien dat hy tussen mense is wat opreg in sy geestelike welsyn belangstel. Ons opregte besorgdheid en ons aanbod om persoonlik die Bybel met hom te studeer, kan hom beweeg om ons hulp te aanvaar.
8 Ons goeie gedrag: Ons versier die waarheid deur ons goeie gedrag (Tit. 2:10). Wanneer mense in die wêreld goeie dinge oor ons as Jehovah se Getuies sê, verheerlik hulle ons God (1 Pet. 2:12). Ook dit kan ander help om op die weg van die lewe te kom.
9 Hersien gerus hierdie vyf maniere waarop ons waardering kan toon vir Jehovah se groot liefde vir ons, en pas dit dan toe (1 Joh. 4:16). As jy dit doen, sal jy baie seëninge ontvang.