Die Koninkrykspredikingswerk help om lewens te red!
1 Dit is die belangrikste werk wat tans in die wêreld gedoen word. Jehovah God, Jesus Christus en derduisende engele het hulle aandag hierop gevestig. Wat is dit, en waarom is dit noodsaaklik? Dit is die Koninkrykspredikingswerk, en dit help om lewens te red!—Rom. 1:16; 10:13, 14.
2 Party mense voel dalk dat ons ander meer kan help as ons betrokke raak by pogings om die wêreld om ons te verbeter. Baie bestee al hulle tyd en energie aan pogings om vrede tot stand te bring, siektes te genees of die ekonomie te verbeter. Maar wat sal mense die meeste help?
3 ’n Uiters belangrike werk: Dit is net die Koninkryksboodskap wat verduidelik wat die doel van die lewe en die oorsaak van menselyding is; dit verduidelik ook wat die enigste betroubare hoop vir die toekoms is. Die goeie nuus stel mense in staat om vriende van Jehovah te word en om sodoende “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, te ontvang (Fil. 4:7). Net die Koninkryksboodskap gee praktiese leiding wat mense nou help om lewensprobleme die hoof te bied en wat verduidelik hoe hulle behoue kan bly wanneer die goddelose wêreld in die toekoms vernietig gaan word (1 Joh. 2:17). Maak dit nie al ons inspanning in die Koninkrykspredikingswerk die moeite werd nie?
4 Ter toeligting: Wat sou die beste manier wees om die slapende mense in ’n dorpie te help wat in gevaar is omdat ’n nabygeleë damwal op die punt staan om te breek? Deur water agter die gekraakte damwal uit te skep? Deur die bedreigde dorpie mooi te maak? Nee! Die inwoners moet wakker gemaak word, teen die naderende ramp gewaarsku word en gehelp word om weg te kom! Diegene wat vandag geestelik aan die slaap is, is in baie groot gevaar (Luk. 21:34-36). Aangesien hierdie stelsel van dinge binnekort sal verbygaan, laat ons probeer om met die grootste dringendheid vir almal moontlik te getuig!—2 Tim. 4:2; 2 Pet. 3:11, 12.
5 Volhard daarin: Kom ons soek na maniere om selfs meer mense wat opreg is, met die goeie nuus te bereik—by hulle huise, op straat, oor die telefoon en informeel. Die werk wat Jehovah ons gegee het, is die belangrikste werk wat ons moontlik kan doen. As ons dit ywerig doen, sal ons ‘onsself red sowel as dié wat na ons luister’.—1 Tim. 4:16.