Maak Jehovah se heerlikheid bekend
1 Die psalmis het uitgeroep: “Sing tot Jehovah, alle bewoners van die aarde. . . . Maak onder die nasies sy heerlikheid bekend, onder al die volke sy wonderlike werke.” Wanneer ons peins oor wat Jehovah reeds vir ons gedoen het, nou vir ons doen en nog vir ons gaan doen, beweeg ons hart ons om sy heerlikheid bekend te maak!—Ps. 96:1, 3.
2 In ons bediening: Jehovah se Getuies het die voorreg om God se naam te dra en om dit oor die hele aarde in die openbaar te loof (Mal. 1:11). Watter teenstelling vorm dit tog met die Christendom se geestelikes, wat op vermetele wyse God se naam uit hulle Bybelvertalings verwyder! Die werk om God se naam bekend te maak, is dringend, aangesien mense daardie naam in geloof moet aanroep om gedurende die komende groot verdrukking gered te word (Rom. 10:13-15). Wat meer is, vrede in die ganse heelal, wat vrede onder die aarde se bewoners insluit, hang af van die heiliging van God se naam. Ja, al God se werke word met sy naam verbind.
3 “Jehovah is groot en baie lofwaardig.” Maar eers wanneer mense die waarheid omtrent hom ken, kan hulle “aan Jehovah die heerlikheid [toeskryf] wat sy naam toekom” (Ps. 96:4, 8). Party ontken egter dat God bestaan (Ps. 14:1). Ander sê smadend dat hy magteloos is, of hulle beweer dat hy nie in die mensdom se aangeleenthede belangstel nie. Wanneer ons opregtes van hart help om juiste kennis van ons Skepper, sy voornemens en sy liefdevolle persoonlikheid op te doen, verheerlik ons Jehovah.
4 Deur ons gedrag: Dit strek Jehovah tot eer as ons in ooreenstemming met sy regverdige standaarde lewe. Ons goeie gedrag gaan nie onopgemerk verby nie (1 Pet. 2:12). Ons skoon en netjiese voorkoms kan byvoorbeeld gunstige opmerkings van ander mense uitlok, wat ons die geleentheid gee om te praat oor die voordele wat dit inhou as ’n mens volgens die beginsels in God se Woord lewe (1 Tim. 2:9, 10). Hoe verheug is ons tog wanneer ander ‘ons goeie werke sien en heerlikheid gee aan ons Vader wat in die hemele is’!—Matt. 5:16.
5 Laat ons elke dag ons wonderlike God met woord en daad loof en sodoende gehoor gee aan die vreugdevolle uitroep: “Sing tot Jehovah, loof sy naam. Verkondig van dag tot dag die goeie nuus van redding deur hom.”—Ps. 96:2.