Opwindende veranderinge vir Die Wagtoring!
1 Vroeër vanjaar is ’n opwindende aankondiging in gemeentes gemaak: Vanaf Januarie 2008 sal daar twee verskillende uitgawes van Die Wagtoring verskyn, een vir die publiek en die ander een vir ons Christenbroederskap! Dalk het jy gewonder: ‘Hoe sal die twee tydskrifte van mekaar verskil? Watter voordele hou twee aparte uitgawes in? Is daar enige nuwe kenmerke om na uit te sien?’
2 Die verskille: Die nommer van die eerste van die maand sal as die uitgawe vir die publiek bekend staan. Al die artikels in hierdie nommer sal met die publiek in gedagte voorberei word. Die nommer van die 15de van die maand sal as die studie-uitgawe bekend staan en sal nie in velddiens aangebied word nie. Dit sal al die studieartikels vir een maand bevat sowel as sekondêre artikels wat vir toegewyde Christene van besondere belang sal wees. Die Wagtoring vir die publiek sal nie net by Getuies byval vind nie, maar veral by nie-Getuies wat moontlik die Bybel aanvaar. Die Ontwaak!, aan die ander kant, sal nog steeds op ’n breër gehoor gemik wees, insluitende skeptici en dié wat ’n nie-Christelike godsdiens bely.
3 Die voordele: In die studie-uitgawe sal dit nie meer nodig wees om terme soos “pionier” te verduidelik op maniere wat nie-Getuies kan verstaan nie. Hierdie uitgawe kan ook pertinente inligting bevat wat spesifiek voorberei is vir Jehovah se Getuies en Bybelstudente wat geestelike vooruitgang maak. Wat van die uitgawe vir die publiek? Aangesien die onderwerpe en skryfstyl op die publiek gerig sal wees, behoort ’n nie-Getuie dit te geniet om die tydskrif van voor tot agter deur te lees. Natuurlik sal elke Getuie van Jehovah daarby baat vind om elke nommer te lees. Omdat ons elke maand net een Wagtoring saam met een Ontwaak! in die veldbediening sal aanbied, sal ons ’n hele maand hê om doeltreffende aanbiedings uit te werk.
4 Nuwe kenmerke: ’n Paar opwindende nuwe kenmerke word beplan vir Die Wagtoring vir die publiek. Een gereelde artikel sal basiese skriftuurlike leerstellings op ’n baie eenvoudige manier verduidelik. ’n Ander sal toon hoe die Bybel gesinne kan help. Bybelstudieprojekte sal vir jongmense uiteengesit word. In elke nommer sal daar ’n artikel wees wat die aandag vestig op spesifieke Skrifgedeeltes wat ons leer omtrent Jehovah as ’n persoon.
5 Ons bid dat Jehovah hierdie nuwe reëling in verband met Die Wagtoring sal seën. Mag hierdie tydskrif, tesame met die Ontwaak!, baie meer verdienstelikes met die goeie nuus bereik.—Matt. 10:11.