‘Volg Sy Voetstappe Noukeurig’
1. Hoe kan ons suksesvolle bedienaars word?
1 Jesus is nie in die rabbynse skole opgelei nie, en tog was hy die grootste Bedienaar in die geskiedenis. Gelukkig is ’n geskrewe verslag van Jesus se bediening vir ons bewaar. Om suksesvol in die bediening te wees, moet ons “sy voetstappe noukeurig . . . volg”.—1 Pet. 2:21.
2. Wat sal ons help om Christelike liefde vir mense aan te kweek?
2 Toon liefde vir mense: Jesus is gemotiveer deur liefdevolle besorgdheid oor mense (Mark. 6:30-34). Daar is baie in ons gebied wat “pyn ly” en ’n groot behoefte het om die waarheid te leer (Rom. 8:22). As ons nadink oor hulle droewige situasie en Jehovah se liefdevolle belangstelling in hulle, sal dit ons motiveer om vol te hou in die predikingswerk (2 Pet. 3:9). Wat meer is, mense sal geredeliker op ons boodskap reageer as hulle sien dat ons werklik vir hulle omgee.
3. By watter geleenthede het Jesus vir ander getuig?
3 Praat by elke geleentheid: Jesus het elke geleentheid aangegryp om die goeie nuus aan ander mee te deel (Matt. 4:23; 9:9; Joh. 4:7-10). Ons wil ook voorbereid wees om oor die waarheid te praat terwyl ons met ons daaglikse roetine besig is. Party hou ’n Bybel en lektuur byderhand sodat hulle kan getuig by die werk, by die skool, wanneer hulle reis, inkopies doen, ensovoorts.
4. Hoe kan ons die Koninkryk die tema van ons predikingswerk maak?
4 Vestig die aandag op die Koninkryk: Die goeie nuus van die Koninkryk was die tema van Jesus se predikingswerk (Luk. 4:43). Hoewel ons dalk nie in ons aanbieding dadelik of direk na die Koninkryk verwys nie, moet ons in gedagte hou dat ons die huisbewoner moet help om te sien waarom dit nodig is. Selfs wanneer ons slegte wêreldtoestande noem wat toon dat ons in die laaste dae lewe, moet ons hoofsaaklik die “goeie nuus van goeie dinge bekend maak”.—Rom. 10:15.
5. Watter rol moet die Bybel speel as ons wil hê dat ons bediening doeltreffend moet wees?
5 Steun op God se Woord: Gedurende Jesus se hele bediening het hy op die Skrif gesteun. Wat hy ander geleer het, was nooit uit homself nie (Joh. 7:16, 18). Hy het hom met God se Woord gevoed en dit op homself toegepas toe Satan hom aangeval het (Matt. 4:1-4). As ons ander doeltreffend wil leer, moet ons die Bybel elke dag lees en dit in ons eie lewe toepas (Rom. 2:21). Wanneer ons vrae in die bediening beantwoord, moet ons sê wat die skriftuurlike grondslag vir ons antwoord is en direk uit die Bybel lees wanneer dit ook al moontlik is. Ons wil hê dat die huisbewoner moet sien dat ons nie persoonlike opinies uitspreek nie, maar by God se gedagtes bly.
6. Wat het Jesus gedoen om die harte van sy toehoorders te bereik?
6 Bereik die hart in jou onderrigting: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie” (Joh. 7:46). Dit is wat die beamptes oor Jesus gesê het toe die hoofpriesters en Fariseërs gevra het waarom hulle Jesus nie gearresteer het nie. Jesus het nie net feite oorgedra nie, maar het op so ’n manier onderrig dat hy die harte bereik het van dié wat hy geleer het (Luk. 24:32). Hy het lewensgetroue illustrasies gebruik om sy woorde te laat lewe (Matt. 13:34). Jesus het nie sy toehoorders oorweldig met te veel inligting nie (Joh. 16:12). Hy het die aandag gevestig op Jehovah, nie op homself nie. Ons kan, soos Jesus, slegs goeie onderrigters word as ons ‘voortdurend let op ons onderrigting’.—1 Tim. 4:16.
7. Waarom het Jesus in die bediening volhard?
7 Volhard ondanks onverskilligheid en teenstand: Hoewel Jesus kragtige werke verrig het, het baie mense nie na hom geluister nie (Luk. 10:13). Selfs lede van Jesus se eie familie het gedink dat hy “van sy verstand af geraak” het (Mark. 3:21). Jesus het nietemin volhard. Hy het ’n positiewe gesindheid behou omdat hy ten volle oortuig was dat hy die waarheid het wat die mensdom kon vrymaak (Joh. 8:32). Ons is ook vasbeslote om, met Jehovah se hulp, nie moed op te gee nie.—2 Kor. 4:1.
8, 9. Hoe kan ons, soos Jesus, opofferings ter wille van die goeie nuus maak?
8 Maak die nodige opofferings om soveel moontlik te doen: Jesus het materiële geriewe opgeoffer ter wille van die bediening (Matt. 8:20). Hy het onvermoeid gepreek, soms tot laat in die dag (Mark. 6:35, 36). Jesus het geweet dat sy tyd beperk was om die werk te volbring. Aangesien ‘die oorblywende tyd kort is’, moet ons in navolging van Jesus ook persoonlike opofferings maak wat ons tyd, energie en middele betref.—1 Kor. 7:29-31.
9 Eerste-eeuse Christene was suksesvolle bedienaars omdat hulle by Jesus geleer het (Hand. 4:13). Ons kan ook ons bediening ten volle uitvoer as ons die grootste Bedienaar in die geskiedenis navolg.—2 Tim. 4:5.