Vertroos dié wat treur
1. Waarom het dié wat treur vertroosting nodig?
1 Dit is ’n traumatiese ondervinding om ’n geliefde aan die dood af te staan, veral vir dié wat nie die Koninkrykshoop het nie (1 Tess. 4:13). Baie wonder dikwels: ‘Waarom sterf mense? Waarheen gaan hulle? Sal ek ooit weer my geliefde sien?’ Hieronder is ’n paar wenke oor hoe ons diegene wat oor die dood van ’n familielid of vriend treur, kan vertroos wanneer ons hulle in die velddiens ontmoet.—Jes. 61:2.
2. Moet ons altyd ’n lang getuienis probeer gee as ’n huisbewoner vir ons sê dat hy bedroef is?
2 Van deur tot deur: ’n Huisbewoner sê dalk vir ons dat daar kort tevore iemand in sy familie dood is. Is hy baie emosioneel? Is daar talle bedroefde familielede in die huis? In sulke gevalle sal dit dalk beter wees om nie ’n lang getuienis te gee nie (Pred. 3:1, 7). Dalk kan ons ons simpatie uitspreek, hom ’n gepaste traktaat, tydskrif of brosjure gee en onsself verskoon. Dan kan ons op ’n meer geleë tyd teruggaan om hom verder uit die Bybel te vertroos.
3. Watter tekste kan ons vir ’n bedroefde huisbewoner wys as omstandighede dit toelaat?
3 By ’n ander geleentheid sien ons dalk dat ons tydens die eerste besoek meer kan sê. Hoewel dit nie die tyd is om verkeerde beskouings te weerlê nie, kan ons dalk vir hulle die Bybel se beloftes aangaande die opstanding lees (Joh. 5:28, 29). Of ons kan vir hulle vertel wat die Bybel sê omtrent die toestand van die dooies (Pred. 9:5, 10). ’n Bybelse verslag van ’n opstanding kan ook vertroosting bied (Joh. 11:39-44). Nog ’n opsie is om die hoop te bespreek wat die getroue man Job in Jehovah gestel het (Job 14:14, 15). Voordat ons vertrek, kan ons Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?, Wanneer ’n geliefde sterf of ’n ander gepaste brosjure of traktaat aanbied. Of ons kan die Leer Bybel-boek by hulle laat, die aandag op die inligting in hoofstuk 6 vestig en reël om met die volgende besoek die onderwerp verder te bespreek.
4. Watter ander geleenthede kan ons benut om vertroosting te bied?
4 By ander geleenthede: Sal ongelowiges by die Koninkryksaal teenwoordig wees as ’n begrafnis of gedenkdiens daar gehou word? Lektuur wat vertroosting bied, kan aan hulle beskikbaar gestel word. Party begrafnisondernemings het dit waardeer om gepaste lektuur byderhand te hê vir bedroefde familielede. Soms het ’n begrafniskennisgewing in die koerant die geleentheid geskep om ’n kort vertroostende brief aan bedroefde familielede te skryf. In een geval het ’n wewenaar en sy dogter, nadat hulle ’n brief ontvang het waarby ’n paar traktate ingesluit is, na die verkondiger se huis toe gegaan en gevra: “Is julle die mense wat hierdie brief aan my gestuur het? Wel, ek wil meer omtrent die Bybel weet!” Die man en sy dogter het tot ’n Bybelstudie ingestem en het gemeentelike vergaderinge begin bywoon.
5. Waarom moet ons op die uitkyk wees na geleenthede om bedroefdes te vertroos?
5 Prediker 7:2 sê: “Dit is beter om na die huis van rou te gaan as om na die huis van feesmaaltye te gaan.” Iemand wat treur, is gewoonlik meer geneig om na God se Woord te luister as iemand wat feesvier. Almal van ons moet op die uitkyk wees na gepaste geleenthede om diegene te vertroos wat bedroef is oor ’n geliefde wat gesterf het.