Ons bediening—’n Weerspieëling van ons liefde vir God
1. Wat het liefde vir God Jesus beweeg om te doen?
1 Liefde het Jesus beweeg om sy bediening uit te voer. Elke aspek van Jesus se bediening is ’n onbetwisbare bewys van sy liefde vir Jehovah. Jesus het gesê: “Sodat die wêreld kan weet dat ek die Vader liefhet, doen ek net soos die Vader my die gebod gegee het om te doen” (Joh. 14:31). As voetstapnavolgers van Jesus het ons ook die voorreg om ons innige liefde vir God in ons bediening te weerspieël.—Matt. 22:37; Ef. 5:1, 2.
2. Hoe word ons bediening geraak deur ons liefde vir Jehovah?
2 “Laat u naam geheilig word”: Wanneer ons ywerig gebruik maak van elke geleentheid om met ander oor Jehovah en sy Koninkryksreëling te praat, toon ons ons liefde vir God en dra ons in werklikheid by tot die heiliging van sy naam (Ps. 83:18; Eseg. 36:23; Matt. 6:9). Soos in die geval van Jesus se bediening, is ons bediening ’n blywende weerspieëling van ons opregte begeerte dat Jehovah se naam geheilig word en dat sy wil geskied.—Matt. 26:39.
3. Hoe help ons liefde vir Jehovah ons om struikelblokke te oorkom?
3 Liefde beweeg ons om struikelblokke te oorkom: Liefde vir Jehovah oorkom alle hindernisse (1 Kor. 13:4, 7). Jesus het voor ’n aantal omstandighede in die lewe te staan gekom wat hom kon verhinder het om sy bediening uit te voer. Maar wanneer hy struikelblokke teëgekom het, het sy hartgrondige liefde en sy begeerte om Jehovah se wil te doen, hom in staat gestel om te volhard (Mark. 3:21; 1 Pet. 2:18-23). Ons kom ook voor baie uitdagings te staan, wat ons liefde vir God ons kan help om te oorkom. As ons die voorbeeld wat Christus gelaat het, noukeurig volg, kan ons ons bediening met vrymoedigheid vervul sonder om afgeskrik te word. Hoewel gesinsteenstand, verswakkende gesondheid, bejaardheid of mense se onverskilligheid oor die algemeen ’n uitwerking op ons kan hê, weerhou dit ons nie daarvan om ons liefde vir Jehovah te toon deur ons bediening na die beste van ons vermoë uit te voer nie.
4. Watter voorreg bied ons liefde vir Jehovah ons?
4 Liefde is kragtig, en ons het die voorreg om ons heelhartige liefde vir God in ons bediening te kan weerspieël (1 Kor. 13:13). Mag ons “liefde steeds oorvloediger . . . word” terwyl die tyd wanneer Jehovah se naam vir eens en altyd geheilig sal word, vinnig nader kom.—Fil. 1:9; Matt. 22:36-38.