‘Laat God se wil geskied’
1. Wat is die tema van die program vir die spesiale byeenkomsdag vir die 2012-diensjaar, en waarom is dit gepas dat ons hierdie onderwerp ondersoek?
1 Ons is geskep omdat dit Jehovah se wil was (Op. 4:11). Dit sou dus onmoontlik wees om die doel van ons bestaan te verwesenlik sonder om te leer wat God se wil is en dit te doen. Dit is nie so maklik as wat dit dalk lyk nie, want ons moet stry teen die innerlike neiging om “die dinge [te doen] wat volgens die wil van die vlees en die gedagtes” is of om “die wil van die nasies” te doen (Ef. 2:3; 1 Pet. 4:3; 2 Pet. 2:10). Sonder God se hulp sou ons selfs gevaar loop om ‘lewend deur die Duiwel gevang te word om sy wil te doen’ (2 Tim. 2:26). Die program vir ons spesiale byeenkomsdag vir die 2012-diensjaar sal elkeen van ons help om op te tree in ooreenstemming met die derde van die drie vernaamste versoeke in die modelgebed, naamlik “laat u wil geskied”.—Matt. 6:9, 10.
2. Watter vrae sal gedurende die program beantwoord word?
2 Vrae wat beantwoord sal word: Terwyl jy na die program luister, moet jy op die uitkyk wees na die antwoorde op hierdie vrae: Wat is net so belangrik soos om God se Woord te hoor? Hoe kan ons voortgaan om te begryp wat God se wil vir ons is? Waarom moet ons bereid wees om alle soorte mense te probeer bereik? Hoe kan ons ’n ryk, bevredigende lewe vind? Jongmense, wat moet julle aan Jehovah bewys? Watter belonings ontvang ons wanneer ons God se wil doen? Waarom is dit dringend dat ons ander opbou en aanmoedig?
3. Hoe kan ons ten volle baat vind by hierdie geestelike voorsiening?
3 Maak seker dat jy daar is en aandagtig na die program luister. ’n Bethelverteenwoordiger of ’n reisende opsiener sal waarskynlik as besoekende spreker teenwoordig wees. Voor en ná die program kan jy gerus gesels met hom en sy vrou, as hy getroud is. Moenie ’n “vergeetagtige hoorder” word wanneer jy terugkeer huis toe nie, maar hersien die program as gesin en bespreek hoe julle meer in ooreenstemming met God se wil kan optree.—Jak. 1:25.
4. Waarom is dit belangrik dat ons die uitvoering van God se wil eerste in ons lewe stel?
4 Mense wat hulle eie begeertes najaag en weier om hulle aan Jehovah se wil te onderwerp, sal binnekort vernietig word (1 Joh. 2:17). Ons is dus dankbaar dat Jehovah hierdie tydige inligting voorberei het om ons te help om die uitvoering van God se wil eerste in ons lewe te stel!