‘Hou aan om dit te doen’—Die Gedenkmaal sal op 5 April gehou word
1. Waarom is die Gedenkmaal belangrik?
1 “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Luk. 22:19). Met hierdie woorde het Jesus sy volgelinge beveel om sy offerdood te herdenk. Weens alles wat die losprys moontlik maak, is geen ander dag vir Christene so belangrik of so kosbaar as die jaarlikse Gedenkmaal nie. Hoe kan ons ons dankbaarheid teenoor Jehovah toon terwyl hierdie jaar se herdenking op 5 April nader kom?—Kol. 3:15.
2. Hoe kan ons ons waardering vir die Gedenkmaal toon deur studie en bepeinsing?
2 Berei voor: Ons berei gewoonlik voor vir die dinge wat vir ons belangrik is. Ons kan ons hart vir die Gedenkmaal voorberei deur die gebeure gedurende Jesus se laaste dae op aarde as ’n gesin te bespreek en daaroor te peins (Esra 7:10). ’n Gedeeltelike lys van die tekste wat hieroor handel, kan op die kalender en in Ondersoek die Skrif elke dag gevind word, en ’n vollediger lys sowel as ooreenstemmende hoofstukke van die Grootste mens-boek verskyn op bladsye 23-24 van Die Wagtoring van 1 Februarie 2011.
3. Hoe kan ons ons waardering vir die Gedenkmaal toon deur meer in die bediening te doen?
3 Getuig: Ons kan ook ons waardering toon deur soveel moontlik in die bediening te doen (Luk. 6:45). Ons spesiale Tydskrifdag sal op Saterdag 10 Maart wees, en ons sal op Saterdag 17 Maart begin met ’n wêreldwye kampanje om ander na die Gedenkmaal te nooi. Kan jy jou rooster aanpas om meer tyd in die bediening deur te bring, dalk as ’n hulppionier? Bespreek dit gerus as ’n gesin gedurende julle volgende aand vir Gesinsaanbidding.
4. Hoe kan ons daarby baat vind as ons die Gedenkmaal bywoon?
4 Hoe vind ons tog daarby baat om elke jaar die Gedenkmaal by te woon! Ons vreugde en ons liefde vir Jehovah neem toe wanneer ons peins oor die vrygewigheid wat hy getoon het deur sy enigverwekte Seun as ’n losprys te voorsien (Joh. 3:16; 1 Joh. 4:9, 10). Dit spoor ons aan om nie langer vir onsself te lewe nie (2 Kor. 5:14, 15). Dit versterk ook ons begeerte om Jehovah in die openbaar te loof (Ps. 102:19-21). Ja, as dankbare knegte van Jehovah sien ons gretig uit na die geleentheid wat ons by die Gedenkmaal op 5 April sal hê “om die dood van die Here te verkondig”.—1 Kor. 11:26.