Wat beweeg ons om te getuig?
1. Wat is die verband tussen liefde en ons bediening?
1 Om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, is die sinvolste werk wat ons vandag kan doen. Trouens, deur middel van hierdie werk toon ons gehoorsaamheid aan die twee grootste gebooie, naamlik om Jehovah lief te hê en om ons naaste lief te hê (Mark. 12:29-31). Liefde is ’n sterk motiverende krag wat ons kan aanspoor om ywerige bedienaars te wees.—1 Joh. 5:3.
2. Hoe toon ons predikingswerk liefde vir Jehovah?
2 Liefde vir Jehovah: Liefde vir ons dierbaarste Vriend, Jehovah, beweeg ons om vir hom op te kom. Hy word al omtrent 6 000 jaar lank deur Satan belaster (2 Kor. 4:3, 4). Mense glo dus dat God sondaars in ’n brandende hel pynig, dat hy ’n geheimsinnige Drie-eenheid is en dat hy nie in mense belangstel nie. Baie het selfs tot die slotsom gekom dat hy nie bestaan nie. Hoe graag wil ons tog hê dat mense die waarheid omtrent ons hemelse Vader moet weet! Ons ywerige pogings om God se getuies te wees, verskaf hom groot vreugde en frustreer Satan.—Spr. 27:11; Heb. 13:15, 16.
3. In watter opsig toon ons liefde vir ons naaste deur ons bediening?
3 Liefde vir ons naaste: Elke keer wanneer ons vir iemand getuig, betoon ons liefde aan hom. Dit is dringend dat mense van die goeie nuus hoor gedurende hierdie kritieke tye. Baie mense is soos die Nineviete van Jona se dag “wat glad nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand [geken het] nie” (Jona 4:11). Ons bediening leer mense hoe om ’n gelukkige, suksesvolle lewe te lei (Jes. 48:17-19). Dit gee hulle hoop (Rom. 15:4). As hulle luister en optree in ooreenstemming met wat hulle leer, “sal [hulle] gered word”.—Rom. 10:13, 14.
4. Wat sal Jehovah nooit vergeet nie?
4 Goeie kinders toon nie hulle liefde vir hulle ouers net op vasgestelde tye nie. Hulle probeer hulle ouers te alle tye liefhê. Net so sal innige liefde vir God en vir ons naaste ons beweeg om op die uitkyk te wees na geleenthede om te alle tye ’n getuienis te lewer, nie net gedurende tye wat vir getuieniswerk opsygesit is nie. Ons sal sonder ophou getuig (Hand. 5:42). Jehovah sal sulke liefde nooit vergeet nie.—Heb. 6:10.