Neem die profete as ’n voorbeeld—Amos
1. Waarom kan die voorbeeld van Amos vir ons ’n bron van aanmoediging wees?
1 Het jy al ooit onbekwaam gevoel om te preek omdat jy ’n nederige agtergrond het? Indien wel, kan die voorbeeld van Amos jou bemoedig. Hoewel hy ’n skaapboer en ’n seisoenarbeider was, het Jehovah hom die krag gegee om ’n belangrike boodskap te verkondig (Amos 1:1; 7:14, 15). Net so gebruik Jehovah in ons dag nederige mense (1 Kor. 1:27-29). Watter ander lesse kan ons by die profeet Amos leer wat ons in die bediening kan toepas?
2. Waarom kan ons standvastig bly ondanks teenstand in die bediening?
2 Bly standvastig ondanks teenstand: Toe Amasia, ’n kalfaanbiddende priester in die noordelike tienstammeryk van Israel, die profeet Amos se profesieë gehoor het, het hy as ’t ware geantwoord: ‘Gaan huis toe! Los ons uit! Ons het ons eie geloof!’ (Amos 7:12, 13). Toe Amasia koning Jerobeam versoek het om Amos se werk te verbied, het hy die profeet se woorde verdraai (Amos 7:7-11). Maar Amos was nie geïntimideer nie. Vandag probeer party geestelikes politieke steun verkry in hulle pogings om Jehovah se volk te vervolg. Maar Jehovah verseker ons dat geen wapen wat teen ons gesmee word, enige blywende sukses sal hê nie.—Jes. 54:17.
3. Watter tweevoudige boodskap maak ons vandag bekend?
3 Maak God se oordele en toekomstige seëninge bekend: Hoewel Amos die oordeel voorspel het wat teen die tienstammeryk van Israel voltrek sou word, het hy die Bybelboek wat sy naam dra, afgesluit met Jehovah se belofte van herstelling en oorvloedige seëninge (Amos 9:13-15). Ons praat ook van God se komende “dag van die oordeel”, maar dit is net ’n deel van die “goeie nuus van die koninkryk” wat ons moet bekend maak (2 Pet. 3:7; Matt. 24:14). Wanneer Jehovah die goddeloses by Armageddon vernietig, sal dit die weg baan vir ’n paradysaarde.—Ps. 37:34.
4. Watter versekering het ons dat ons Jehovah se wil kan doen?
4 Om die Koninkryksboodskap in ’n wêreld met baie teenstanders te verkondig, beproef beslis ons vasbeslotenheid om ons toewyding na te leef en Jehovah se wil te doen (Joh. 15:19). Nietemin is ons seker dat Jehovah sal aanhou om ons bekwaam te maak om sy wil te doen, net soos hy met Amos gedoen het.—2 Kor. 3:5.