‘Laat die volk bymekaarkom’
1. Watter ooreenkomste is daar tussen streek- en internasionale byeenkomste en ’n belangrike byeenkoms van die Israeliete kort nadat hulle Egipte verlaat het?
1 Kort nadat die Israeliete Egipte verlaat het, het Jehovah Moses beveel om ‘die volk te laat bymekaarkom’ by die berg Sinai sodat hulle Sy woorde kon hoor, sodat hulle Hom kon vrees en hulle kinders in Sy weë kon leer (Deut. 4:10-13). Wat ’n gedenkwaardige en geloofversterkende geleentheid was dit ongetwyfeld! Gedurende die volgende paar maande sal Jehovah se volk by streek- en internasionale byeenkomste bymekaarkom om deur Jehovah onderrig te word. Wat moet ons doen om ten volle daarby baat te vind?
2. Wat moet ons doen om vir ons streekbyeenkoms ‘gereed te wees’?
2 ‘Wees gereed’: Jehovah het die Israeliete beveel om vir daardie geskiedkundige byeenkoms by die berg Sinai ‘gereed te wees’ (Eks. 19:10, 11). Net so word noukeurige beplanning vereis van almal wat die streekbyeenkoms gaan bywoon, nie net van dié wat ’n deel op die program sal behartig nie. Baie sal byvoorbeeld moet reël om verlof te neem. Dalk is jou situasie soortgelyk aan die situasie waarin Nehemia was. Hy wou verlof neem van sy werk as koning Artasasta se skinker sodat hy na Jerusalem kon gaan om te help met die herbouing van die mure, maar hy het geweet dat die koning moontlik nie sal instem nie. Nehemia het gebid en toe moedig en respekvol sy versoek aan die koning gerig. Die koning het hom toegelaat om te gaan en het selfs die bouprojek ondersteun! (Neh. 2:1-9). Jy sal nie net verlof moet reël nie, maar ook jou reisplanne en verblyf. Die ouer manne sal enigiemand wat hulp nodig het, met graagte help. Beplan om vroeg daar te wees vir elke sessie, en wees gereed om “meer as die gewone aandag [te] skenk” aan die dinge wat jy sal hoor.—Heb. 2:1.
3. Wat sal ons help om ons hart vir die program voor te berei?
3 Daar is nog ’n opsig waarin ons gereed moet wees. Ons moet ons hart voorberei sodat ons kan luister en kan leer (Esra 7:10). Die streekbyeenkomsprogram waarop al die toespraaktitels tesame met een of twee sleuteltekste verskyn, sal voor die tyd op die webwerf jw.org/af geplaas word. Dit voorsien uitstekende materiaal wat ons in die weke voor ons toegewese streekbyeenkoms tydens ons aand vir Gesinsaanbidding kan bespreek. Party verkondigers druk die program uit en gebruik dit om tydens die byeenkoms kort aantekeninge te maak.
4. Hoe kan ouers die streekbyeenkoms gebruik om hulle kinders te leer?
4 ‘Leer julle kinders’: Een van die oogmerke van die byeenkoms by die berg Sinai was dat Israelitiese ouers “hulle kinders [moes] leer” (Deut. 4:10). Die streekbyeenkoms gee ouers ’n uitstekende geleentheid om dit ook te doen. Kinders moet tydens die sessies by hulle ouers sit, en hulle ouers moet hulle help om aandag te skenk. Gesinne kan die program saam aan die einde van elke dag en later tydens hulle gesinsaanbidding bespreek.
5. Hoe sal ons daarby baat vind as ons die komende streekbyeenkoms bywoon?
5 Die belangrike byeenkoms by die berg Sinai het die Israeliete gehelp om waardering te hê vir hulle unieke voorreg om God se volk te wees (Deut. 4:7, 8). Ons komende streekbyeenkoms sal ons op soortgelyke wyse tot voordeel strek. Ons sal die onherbergsame wildernis van Satan se wêreld vir drie dae kan verlaat en geestelike verkwikking en opbouende assosiasie in ons geestelike paradys kan geniet (Jes. 35:7-9). Aangesien Jehovah se dag nader kom, laat ons vasbeslote wees om hierdie geleentheid by te woon om vir wedersydse aanmoediging bymekaar te kom!—Heb. 10:24, 25.