Die Teokratiese Bedieningskool vir 2015 help ons om beter onderrigters te wees
1 Die psalmis Dawid het geskryf: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah, my Rots en my Verlosser” (Ps. 19:14). Ons wil ook hê dat ons woorde vir Jehovah aangenaam moet wees omdat ons ons voorreg koester om in die gemeente en in die bediening die waarheid te praat. Die Teokratiese Bedieningskool is een van die maniere waarop Jehovah ons vir die bediening oplei. Hierdie opleiding vind elke week wêreldwyd in die meer as 111 000 gemeentes plaas. Dit het broers en susters oor die hele wêreld en van alle agtergronde al gehelp om bekwame bedienaars van die goeie nuus te word wat met oorredingskrag, takt en vrymoedigheid kan onderrig.—Hand. 19:8; Kol. 4:6.
2 Die skoolrooster vir 2015 sal onderwerpe insluit wat bespreek word in ’n Inleiding tot God se Woord en die “Glossary of Bible Terms” wat gevind kan word in die New World Translation asook materiaal uit Insight on the Scriptures, Deel 1. Aanpassings is ook gemaak aan die tydsbepaling van die Bybelglanspunte en Toewysing nr. 1. Hierdie veranderinge sowel as instruksies oor hoe dele op die skool behartig moet word, word in die volgende paragrawe bespreek.
3 Bybelglanspunte: Die broer wat hierdie deel behartig, sal twee minute kry om een interessante en praktiese skriftuurlike punt uit die weeklikse Bybelleesgedeelte te bespreek. Goeie voorbereiding sal hom help om ’n opbouende punt binne die toegewese tyd met die gemeente te bespreek. Daarna sal die gemeente soos gewoonlik ses minute hê om kommentare van 30 sekondes of minder te lewer oor interessante punte wat hulle in die weeklikse Bybelleesgedeelte gevind het. Dit verg wel goeie voorbereiding en selfdissipline om in 30 sekondes ’n betekenisvolle kommentaar te lewer, maar dit is goeie opleiding vir ons. Dit gee ander ook ’n kans om kommentaar te lewer oor wat hulle tydens hulle persoonlike navorsing geleer het.
4 Toewysing nr. 1: Die toegewese tyd vir die Bybelvoorlesing is verminder na drie minute of minder en sal minder materiaal dek. Diegene wat ’n leestoewysing ontvang, moet dit ’n hele paar keer oefen deur dit hardop te lees en noukeurig te let op die regte uitspraak en op vlotheid sodat die gedagtes duidelik oorgedra kan word. Al Jehovah se knegte moet daarna streef om goed te lees, aangesien dit ’n belangrike rol in ons aanbidding speel. Hoe verheug is ons tog dat so baie van ons kinders goed kan lees! Ouers moet geprys word vir hulle liefdevolle pogings om hulle kinders te help om goed te kan lees.
5 Toewysing nr. 2: Dit sal ’n deel van vyf minute wees wat aan ’n suster toegewys word. Die toegewese tema moet gebruik word. Wanneer die toewysing op materiaal uit die New World Translation of ’n Inleiding tot God se Woord gebaseer is, moet dit toegepas word op ’n aspek van velddiens wat realisties en prakties is vir die plaaslike gebied. Wanneer die toewysing op ’n Bybelkarakter uit die Insight on the Scriptures, Deel 1, of op eie navorsing gebaseer is, moet die student die inligting oor die karakter bestudeer, gepaste tekste kies en toon wat uit die voorbeeld van die Bybelkarakter geleer kan word. Bykomende tekste wat verband hou met die tema, kan ingesluit word. Die skoolopsiener sal ’n assistent toewys.
6 Toewysing nr. 3: Dit sal ’n deel van vyf minute wees wat aan ’n broer of ’n suster toegewys word. Wanneer ’n suster hierdie deel behartig, moet dit aangebied word soos onder Toewysing nr. 2 uiteengesit is. Wanneer ’n broer hierdie deel behartig, moet die materiaal wat op die Insight-boek of op eie navorsing gebaseer is, as ’n toespraak aangebied word met die gehoor in gedagte. Die student moet die toegewese tema ontwikkel, gepaste tekste kies en toon wat uit die voorbeeld van die Bybelkarakter geleer kan word.
7 ’n Nuwe kenmerk van Toewysing nr. 3 vir broers: Wanneer die toewysing op die materiaal in die New World Translation of ’n Inleiding tot God se Woord gebaseer is, moet dit as ’n demonstrasie van ’n gesinstudie of van velddiens aangebied word. Gewoonlik sal die skoolopsiener ’n assistent en die agtergrond toewys. Die assistent moet ’n lid van die student se gesin of ’n broer in die gemeente wees. Bykomende tekste wat die aandag vestig op Bybelbeginsels wat met die tema verband hou, kan ingesluit word. Van tyd tot tyd kan hierdie deel aan ’n ouer man toegewys word. Ouer manne kan hulle eie assistent en agtergrond kies. Dit sal ongetwyfeld vir die gemeente aanmoedigend wees om te sien hoe ’n ouer man die onderrigkuns met ’n gesinslid of ’n ander broer demonstreer.
Maak vooruitgang deur raad te aanvaar en toe te pas
8 Raad: Ná elke studentetoespraak moet die skoolopsiener twee minute gebruik om die student te prys en opbouende raad te gee wat gebaseer is op Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool. Wanneer die skoolopsiener ’n student se deel op die skool inlei, moet hy nie sê aan watter spraakhoedanigheid die student werk nie. Ná elke toespraak moet die skoolopsiener die student opreg prys, sê aan watter spraakhoedanigheid hy of sy werk en dan sê waarom die student goed gevaar het of liefdevol verduidelik waarom dit vir die student voordelig sal wees om verder aan hierdie spesifieke spraakhoedanigheid aandag te skenk.
9 Die student se raadgewingsvorm kan op bladsye 79 tot 81 in sy persoonlike eksemplaar van die Bedieningskool-boek gevind word. Nadat ’n student sy toespraak gehou het, moet die skoolopsiener die gepaste aantekeninge in die student se boek maak en die student privaat vra of hy die oefening vir die toegewese raadgewingspunt gedoen het. Die bespreking waarin die student geprys word en bykomende opbouende wenke gegee word, kan ná die vergadering of op ’n ander tyd plaasvind. Die persoonlike aandag wat elke student op die skool ontvang, moet as ’n geleentheid beskou word om hom te help om geestelike vooruitgang te maak.—1 Tim. 4:15.
10 As ’n student die tydgrens oorskry, moet die skoolopsiener of ’n assistent ’n teken gee, soos om ’n klokkie te lui of teen iets te tik om op onopvallende wyse aan te dui dat die student se tyd verstreke is. Wanneer die student die teken hoor, moet hy sy sin voltooi en die verhoog verlaat.—Sien die Bedieningskool-boek, bl. 282, par. 4.
11 Almal wat aan die vereistes voldoen, word aangespoor om by die Teokratiese Bedieningskool aan te sluit. (Sien die Bedieningskool-boek, bl. 282, par. 6.) Die opleiding wat hierdie skool voorsien, het Jehovah se volk in staat gestel om die goeie nuus van die Koninkryk met oortuiging, waardigheid en liefde te verkondig en aan ander te leer. Jehovah is ongetwyfeld bly om geloof te word deur diegene wat soveel by teokratiese opleiding baat vind!—Ps. 148:12, 13; Jes. 50:4.