STUDIEARTIKEL 41
Ons dien die God wat “groot genade het”
“Jehovah is goed vir almal, en sy genade kan duidelik gesien word in al sy werke.” – PS. 145:9.
LIED 44 Gebed van die bedrukte
IN HIERDIE ARTIKELa
1. Hoe sal jy ’n genadige persoon beskryf?
WANNEER ons aan ’n genadige persoon dink, dink ons miskien aan iemand wat meegevoel het en wat vriendelik, liefdevol en vrygewig is. Ons sal dalk ook dink aan Jesus se illustrasie van die goeie Samaritaan. Daardie man van ’n ander nasie was genadig teenoor ’n Jood wat deur diewe aangeval was. Die Samaritaan het “baie jammer gevoel” vir die beseerde Jood, en hy het seker gemaak dat daar na hom omgesien word (Luk. 10:29-37). Hierdie illustrasie leer ons baie oor genade, een van ons God se pragtige eienskappe. God is elke dag genadig teenoor ons omdat hy ons liefhet.
2. Wat sluit genade nog in?
2 Iemand wat genadig is, sal ook straf terughou wanneer daar ’n goeie rede is om dit te doen. Dit is presies wat Jehovah met ons gedoen het. Die psalmis het gesê: “Hy het ons nie volgens ons sondes gestraf . . . nie” (Ps. 103:10). Maar soms sal Jehovah iemand wat gesondig het, streng dissiplineer.
3. Watter vrae sal ons bespreek?
3 In hierdie artikel sal ons drie vrae bespreek: Hoekom is Jehovah genadig? Is daar ’n verband tussen streng dissipline en genade? En wat kan ons help om genadig te wees? Kom ons kyk hoe God se Woord hierdie vrae beantwoord.
HOEKOM JEHOVAH GENADIG IS
4. Hoekom is Jehovah genadig?
4 Dit gee Jehovah groot vreugde om genadig te wees. Die apostel Paulus het geskryf dat God “groot genade het”. In hierdie konteks het Paulus gepraat van hoe genadig God was teenoor sy onvolmaakte gesalfde knegte deur vir hulle die hoop te gee om hemel toe te gaan (Ef. 2:4-7). Maar Jehovah se genade is nie net beperk tot sy gesalfde knegte nie. Die psalmis Dawid het geskryf: “Jehovah is goed vir almal, en sy genade kan duidelik gesien word in al sy werke” (Ps. 145:9). Omdat Jehovah lief is vir mense, betoon hy genade wanneer hy ook al ’n rede vind om dit te doen.
5. Hoe het Jesus oor Jehovah se genade geleer?
5 Jesus weet beter as enige iemand anders hoeveel vreugde dit Jehovah gee om genade te betoon. Hy was duisende jare lank saam met sy Vader in die hemel voordat hy aarde toe gekom het (Spr. 8:30,31). Jesus het baie keer gesien hoe genadig sy Vader teenoor sondige mense was (Ps. 78:37-42). Toe Jesus ander geleer het, het hy baie gepraat oor hierdie pragtige eienskap van sy Vader.
Die pa in Jesus se illustrasie het nie sy seun verneder nie. Hy het hom terugverwelkom (Sien paragraaf 6)c
6. Hoe het Jesus ons gehelp om sy Vader se genade te verstaan?
6 Soos ons in die vorige artikel gesien het, het Jesus ’n hartroerende illustrasie gebruik om vir ons te wys hoeveel vreugde dit Jehovah gee om genadig te wees. Die seun het die huis verlaat en het alles wat hy gehad het “uitgemors deur ’n losbandige lewe te lei” (Luk. 15:13, vtn.). Later het hy nederig berou getoon en terug huis toe gegaan. Hoe het sy pa gereageer? Jesus het gesê: “Terwyl [die seun] nog ’n hele ent weg was, het sy pa hom gesien en baie jammer vir hom gevoel, en hy het gehardloop en hom omhels en hom gesoen.” Die pa het nie sy seun verneder nie. Hy was eerder genadig teenoor die jong man en het hom vergewe en hom terugverwelkom. Die verlore seun het ernstig gesondig, maar omdat hy berouvol was, het sy pa hom vergewe. Die genadige pa in die illustrasie stel Jehovah voor. Deur middel van hierdie hartroerende illustrasie wys Jesus hoe graag sy Vader berouvolle sondaars wil vergewe. – Luk. 15:17-24.
7. Wat is die verband tussen Jehovah se wysheid en sy genade?
7 Jehovah se onvergelyklike wysheid motiveer hom om genadig te wees. Jehovah se wysheid het nie net met die verstand te doen nie, maar ook met die hart. Die Bybel sê dat “die wysheid van bo . . . vol genade en goeie vrugte” is (Jak. 3:17). Soos ’n liefdevolle ouer, weet Jehovah dat sy genade tot sy kinders se voordeel is (Ps. 103:13; Jes. 49:15). Sy genade gee hulle hoop, al is hulle onvolmaak. So Jehovah se onvergelyklike wysheid motiveer hom om genade te betoon wanneer hy ook al ’n rede vind om dit te doen. Maar Jehovah is nie soos ’n pa wat net alles toelaat nie. Omdat hy wys is, weet hy wanneer om sy kinders te dissiplineer.
8. Watter dissipline is soms nodig, en hoekom?
8 Sê nou een van God se knegte besluit om ’n onsedelike lewe te lei. Wat dan? Paulus is geïnspireer om te skryf: ‘Hou op om met hom te assosieer’ (1 Kor. 5:11). Onberouvolle sondaars word uit die gemeente gesit. Dit beskerm ons getroue broers en susters, en dit help Jehovah se volk om heilig te bly, net soos hy heilig is. Party sukkel om te sien hoe die uitsettingsreëling ’n bewys van God se genade is. Is dit ’n bewys van sy genade? Kom ons kyk.
KAN STRENG DISSIPLINE ’N BEWYS VAN GOD SE GENADE WEES?
Al word ’n siek skaap afgesonder, hou die herder aan om daarvoor te sorg (Sien paragraaf 9-11)
9-10. Met Hebreërs 12:5, 6 in gedagte, hoekom kan ons sê dat die uitsettingsreëling ’n bewys van God se genade is? Verduidelik.
9 Wanneer ons by ’n vergadering hoor dat iemand wat ons ken en vir wie ons lief is, nie meer een van Jehovah se Getuies is nie, voel ons baie hartseer. Ons sal dalk wonder of dit nodig was om die persoon uit te sit. Is die uitsettingsreëling regtig ’n bewys van God se genade? Ja, dit is. Om dissipline terug te hou van iemand wat dit nodig het, is nie wys, genadig of liefdevol nie (Spr. 13:24). Kan dit ’n onberouvolle sondaar help as hy uitgesit word? Ja, dit kan. Baie broers en susters wat ernstig gesondig het en nie berouvol was nie, het gesê dat dit hulle gehelp het om uitgesit te wees. Dit het hulle gehelp om te besef hoe erg hulle gesondig het, om berou te toon, om hulle gedrag te verander en om na Jehovah toe terug te keer. – Lees Hebreërs 12:5, 6.
10 Kom ons kyk na ’n voorbeeld. ’n Herder sien dat een van sy skape siek is. Hy weet dat hy die skaap moet afsonder as hy daardie siekte wil behandel. Maar skape hou daarvan om bymekaar te wees. En hulle raak baie onrustig as hulle weg van die res van die skape gehou word. Maar beteken dit dat die herder wreed is as hy die skaap weg van die res van die kudde af hou? Natuurlik nie. Hy weet dat die siekte sal versprei as hy die skaap nie van die res van die kudde af weghou nie. Deur die siek skaap af te sonder, beskerm hy die hele kudde. – Vergelyk Levitikus 13:3, 4.
11. (a) Hoekom kan iemand wat uitgesit is, met ’n siek skaap vergelyk word? (b) Watter voorsienings en hulp is beskikbaar vir dié wat uitgesit is?
11 Ons kan ’n Christen wat uitgesit is, met ’n siek skaap vergelyk. Hy is in ’n geestelike sin siek (Jak. 5:14). Net soos sekere fisiese siektes, kan geestelike siekte hoogs aansteeklik wees. So in party gevalle is dit nodig om die persoon wat geestelik siek is, weg van die res van die gemeente af te hou. Hierdie dissipline is ’n bewys van Jehovah se liefde vir die getroue knegte in sy kudde, en dit kan die sondaar help om te besef hoe erg sy sonde is en om berou te toon. Terwyl hy uitgesit is, kan hy vergaderinge bywoon, waar hy geestelik gevoed en opgebou kan word. Hy kan ook die publikasies lees en studeer en JW Broadcasting® kyk. En terwyl die ouermanne sy vordering dophou, sal hulle miskien van tyd tot tyd vir hom raad gee om hom te help om geestelik gesond te word sodat hy as een van Jehovah se Getuies herstel kan word.b
12. Wat is die liefdevolste en genadigste ding wat ouermanne vir ’n onberouvolle sondaar kan doen?
12 Dit is belangrik om in gedagte te hou dat net onberouvolle sondaars uitgesit word. Die ouermanne weet dat dit ’n ernstige saak is, en hulle neem dit nie ligtelik op nie. Hulle weet dat Jehovah “in die regte mate dissiplineer” (Jer. 30:11). Hulle is lief vir hulle broers, en hulle wil niks doen wat hulle broers se verhouding met Jehovah sal beskadig nie. Maar om die sondaar ’n tyd lank uit die gemeente te sit, is in party gevalle die liefdevolste en genadigste ding om te doen.
13. Hoekom moes ’n Christen in Korinte uitgesit word?
13 Kom ons kyk na wat die apostel Paulus in die eerste eeu gedoen het toe hy uitgevind het van ’n onberouvolle sondaar in die gemeente in Korinte. Daardie Christen het met sy pa se vrou saamgebly. Hoe skokkend! Paulus het geweet dat Jehovah in die verlede vir die Israeliete gesê het: “’n Man wat seksuele omgang met sy pa se vrou het, het skande oor sy pa gebring. Hulle moet albei vir seker doodgemaak word” (Lev. 20:11). Paulus kon natuurlik nie vir die gemeente sê dat die man doodgemaak moes word nie. Maar hy het vir die Korintiërs gesê dat die man uitgesit moes word. Daardie man se onsedelike gedrag het ’n slegte invloed op ander in die gemeente gehad. Party van hulle het nie eers gedink dat hy ’n ernstige sonde gepleeg het nie! – 1 Kor. 5:1, 2, 13.
14. Hoe het Paulus genade betoon aan die man in Korinte wat uitgesit was, en hoekom het hy dit gedoen? (2 Korintiërs 2:5-8, 11).
14 ’n Ruk later het Paulus gehoor dat daardie man groot veranderinge gemaak het. Hy was regtig berouvol! Al het die man skande oor die gemeente gebring, het Paulus vir die ouermanne gesê dat hy nie te hard op hom wou wees nie. Paulus het vir hulle gesê: “Julle moet hom nou vryelik vergewe en hom vertroos.” Kyk na die rede hoekom Paulus dit gesê het: “Sodat hy nie dalk so hartseer word dat dit hom oorweldig nie.” Paulus het jammer gevoel vir die berouvolle man. Hy wou nie hê dat die man so hartseer en so oorweldig moet voel dat hy heeltemal ophou om Jehovah se vergifnis te soek nie. – Lees 2 Korintiërs 2:5-8, 11.
15. Hoe kan die ouermanne genadig maar ferm wees?
15 Net soos Jehovah, betoon die ouermanne graag genade. Hulle is ferm wanneer dit nodig is, maar hulle is genadig wanneer dit ook al moontlik is. Dit is wat ware genade beteken. Is dit net die ouermanne wat genadig moet wees?
WAT KAN ONS ALMAL HELP OM GENADIG TE WEES?
16. Volgens Spreuke 21:13, hoe behandel Jehovah dié wat nie genadig is nie?
16 Alle Christene probeer om genadig te wees soos Jehovah. Hoekom? Een van die redes is dat Jehovah nie sal luister na mense wat nie genadig is teenoor ander nie. (Lees Spreuke 21:13.) Nie een van ons wil hê dat Jehovah moet weier om na ons gebede te luister nie, en daarom doen ons ons bes om nie genadeloos te wees nie. Ons wil nooit ’n broer of suster ignoreer wat deur ’n moeilike tyd gaan nie. Ons moet altyd bereid wees om te luister wanneer iemand “om hulp roep”. Ons wil ook die volgende beginsel in gedagte hou: “Wie nie genade betoon nie, sal sy oordeel sonder genade kry” (Jak. 2:13). As ons nederig is en besef hoeveel ons genade nodig het, sal ons meer geneig wees om genadig te wees. Ons wil veral genadig wees wanneer ’n berouvolle sondaar na die gemeente toe terugkeer.
17. Hoe het koning Dawid genade betoon?
17 Bybelvoorbeelde kan ons help om genadig, eerder as genadeloos, te wees. Dink aan die voorbeeld van koning Dawid. Hy het baie keer genade betoon. Alhoewel Saul Dawid wou doodmaak, was Dawid genadig teenoor God se gesalfde koning. Hy het nooit probeer om wraak te neem of om Saul seer te maak nie. – 1 Sam. 24:9-12, 18, 19.
18-19. Noem twee gevalle waar Dawid nie genadig was nie.
18 Maar Dawid was nie altyd genadig nie. Byvoorbeeld, toe die onbeskofte Nabal lelik met Dawid gepraat het en geweier het om vir hom en sy manne kos te gee, het Dawid woedend geword en besluit om hom en al die manne in sy huishouding dood te maak. Maar gelukkig het Nabal se liefdevolle en geduldige vrou, Abigail, Dawid gekeer. – 1 Sam. 25:9-22, 32-35.
19 En eenkeer het die profeet Natan vir Dawid vertel van ’n ryk man wat sy arm buurman se geliefde skaap gesteel het. Dawid was woedend, en hy het gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, die man wat dit gedoen het, verdien om te sterf!” (2 Sam. 12:1-6). Dawid het die Wet van Moses geken. Hy het geweet dat dié wat ’n skaap gesteel het, vier skape as vergoeding moes terugbetaal (Eks. 22:1). Maar ’n doodsvonnis? Dit was wreed en genadeloos. Natan was eintlik besig om vir Dawid ’n storie te vertel om Dawid te help besef dat die sondes wat hy gepleeg het, baie erger was! En Jehovah was toe baie genadiger teenoor Dawid as wat Dawid teenoor die skaapdief in Natan se illustrasie sou gewees het! – 2 Sam. 12:7-13.
Koning Dawid was genadeloos teenoor die man in Natan se illustrasie (Sien paragraaf 19-20)d
20. Wat kan ons uit Dawid se voorbeeld leer?
20 Toe Dawid baie kwaad was, het hy gevoel dat Nabal en al sy manne die dood verdien. En later het Dawid gesê dat die ryk man in Natan se illustrasie die dood verdien. Maar Dawid was so ’n liefdevolle man. Hoekom was hy dan so genadeloos teenoor die dief? Dink aan die konteks. Op daardie stadium het Dawid ’n skuldige gewete gehad. Om genadeloos te wees en om ander te oordeel, is nie ’n teken van goeie geestelike gesondheid nie. Om die waarheid te sê, dit is ’n teken van swak geestelike gesondheid. Jesus het sy volgelinge ernstig gewaarsku: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie, want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word” (Matt. 7:1, 2). So laat ons ons bes doen om nie genadeloos te wees nie, maar om “groot genade” te hê, soos ons God.
21-22. Noem ’n paar praktiese maniere hoe ons genadig kan wees?
21 Genade is meer as net ’n gevoel. Genade is al beskryf as “meegevoel in aksie”. So ons almal kan na geleenthede soek om mense in ons familie, gemeente of gemeenskap te help wat hulp nodig het. Daar is beslis baie geleenthede om genadig te wees! Weet jy van iemand wat vertroosting nodig het? Kan ons praktiese hulp aanbied, soos byvoorbeeld om vir hom kos te neem of om hom met iets anders te help waarmee hy hulp nodig het? Weet jy van ’n Christen wat herstel is en wat ’n goeie vriend nodig het om hom aan te moedig? Kan ons ander vertroos deur vir hulle van die goeie nuus te vertel? Dit is een van die beste maniere om genadig teenoor ander te wees. – Job 29:12, 13; Rom. 10:14, 15; Jak. 1:27.
22 As ons op die uitkyk bly na geleenthede om genadig te wees, sal ons sien dat daar baie geleenthede is om dit te doen. En wanneer ons genadig is, dink net hoe bly ons ons hemelse Vader maak, die God wat “groot genade het”!
LIED 43 ’n Dankgebed
a Genade is een van Jehovah se pragtigste eienskappe, en dit is ’n eienskap wat ons almal moet aanleer. In hierdie artikel gaan ons bespreek hoekom Jehovah genadig is, hoekom ons kan sê dat sy dissipline ’n bewys van sy genade is en hoe ons genadig teenoor ander kan wees.
b Om te leer hoe dié wat herstel is, hulle verhouding met God kan herstel en hoe die ouermanne hulle kan help, sien die artikel in hierdie tydskrif met die titel “Hoe om jou vriendskap met Jehovah weer op te bou”.
c BESKRYWING VAN PRENT: Die pa staan op die dak en hy sien die verlore seun wat terug huis toe kom. Hy hardloop om hom te verwelkom.
d BESKRYWING VAN PRENT: Omdat koning Dawid se gewete hom pla, word hy woedend vir die ryk man in Natan se illustrasie en sê hy dat die man verdien om te sterf.