Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w22 Oktober bl. 24-28
  • Hou jou Christelike hoop sterk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou jou Christelike hoop sterk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ONS HOOP IS SOOS ’N ANKER
  • ONS HOOP IS SOOS ’N HELM
  • HOU JOU HOOP STERK
  • WEES BLY OOR DIE HOOP
  • Waar kan jy ware hoop vind?
    Ontwaak!—2004
  • Hoop—noodsaaklike beskerming in ’n wêreld vol vertwyfeling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoop op Jehovah, en wees moedig
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Geniet ’n hoop sonder teleurstelling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
w22 Oktober bl. 24-28

STUDIEARTIKEL 44

Hou jou Christelike hoop sterk

“Hoop op Jehovah.” – PS. 27:14.

LIED 144 Hou jou oë op die prys!

IN HIERDIE ARTIKELa

1. Watter hoop het Jehovah ons gegee?

JEHOVAH het ons die wonderlike hoop gegee om vir ewig te lewe. Party hoop om vir ewig in die hemel as onsterflike geesskepsele te lewe (1 Kor. 15:50, 53). Maar die meeste mense hoop om vir ewig op die aarde te lewe in volmaakte gesondheid en geluk (Op. 21:3, 4). Of ons nou uitsien na die ewige lewe in die hemel of op die aarde, ons hoop is kosbaar vir ons.

2. Waarop is ons hoop gebaseer, en hoekom kan ons dit sê?

2 Die woord “hoop” soos dit in die Bybel gebruik word, kan gedefinieer word as “die verwagting dat goeie dinge sal gebeur”. Ons hoop vir die toekoms is seker omdat dit van Jehovah af kom (Rom. 15:13). Ons weet wat hy belowe het, en ons weet dat hy altyd sy woord hou (Num. 23:19). Ons is oortuig dat Jehovah die begeerte en die krag het om alles te doen wat hy gesê het hy sal doen. So ons hoop is nie gebaseer op ons verbeelding of wat ons wil hê moet gebeur nie; dit is gebaseer op bewyse en die realiteit.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Psalm 27:14)

3 Ons hemelse Vader is lief vir ons, en hy wil hê dat ons op hom moet vertrou. (Lees Psalm 27:14.) Wanneer ons hoop in Jehovah sterk is, sal ons moeilike tye kan verduur en die toekoms met moed en vreugde kan binnegaan. Kom ons bespreek hoe ons hoop ons beskerm. Ons sal eers sien hoe hoop soos ’n anker en soos ’n helm is. Dan sal ons bespreek hoe ons ons hoop kan versterk.

ONS HOOP IS SOOS ’N ANKER

4. Hoe is ons hoop soos ’n anker? (Hebreërs 6:19)

4 In sy brief aan die Hebreërs het die apostel Paulus ons hoop met ’n anker vergelyk. (Lees Hebreërs 6:19.) Paulus het gereeld op see gereis, so hy het geweet dat ankers gebruik word om te keer dat ’n skip wegdryf. Eenkeer was hy ’n passasier op ’n skip toe ’n groot storm opgekom het. Gedurende daardie storm het hy gesien hoe seemanne ankers in die water gooi om te keer dat die skip op gevaarlike rotse beland (Hand. 27:29, 39-41). Soos ’n anker ’n skip stabiliseer, stabiliseer ons hoop ons sodat ons nie van Jehovah af wegdryf wanneer ons deur moeilike tye gaan nie. Ons vaste hoop hou ons kalm wanneer ons probleme ondervind omdat ons oortuig is dat dinge beter sal word. Onthou Jesus het gewaarsku dat ons vervolg sou word (Joh. 15:20). So wanneer ons nadink oor wat Jehovah ons belowe het, help dit ons om aan te hou om hom te dien.

5. Hoe het hoop Jesus gehelp toe hy die dood in die gesig gestaar het?

5 Kyk hoe hoop Jesus gehelp het om getrou te bly, selfs toe hy geweet het dat hy ’n pynlike dood sou sterf. Op Pinksterdag 33 HJ het die apostel Petrus ’n profesie uit die boek Psalm aangehaal waar dit Jesus se kalmte en vertroue beskryf het: “Ek sal bly hoop, want u sal my nie in die Graf los nie, en u sal ook nie toelaat dat u lojale kneg ontbind nie . . . U sal my groot vreugde gee in u teenwoordigheid” (Hand. 2:25-28; Ps. 16:8-11). Alhoewel Jesus geweet het dat hy sou sterf, het hy die vaste hoop gehad dat God hom sou opwek en dat hy die vreugde sou hê om weer saam met sy Vader in die hemel te wees. – Heb. 12:2, 3.

6. Wat het een broer oor hoop gesê?

6 Ons Christelike hoop het baie van ons broers en susters gehelp om te volhard. Kyk na die voorbeeld van Leonard Chinn, ’n getroue broer wat in Engeland gebly het. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hy in die tronk gegooi omdat hy geweier het om by die weermag aan te sluit. Hy was vir twee maande alleen opgesluit, en daarna was hy geforseer om baie harde fisiese werk te doen. Hy het later geskryf: “My ondervinding het my gehelp om te besef hoe baie ons hoop nodig het om te volhard. Ons het die voorbeeld van Jesus, die apostels en die profete, en ons het die kosbare beloftes in die Bybel. Al hierdie dinge gee ons groot hoop vir die toekoms en versterk ons om te volhard.” Hoop was vir Leonard ’n anker, en dit kan vir ons ook ’n anker wees.

7. Hoe versterk moeilike tye ons hoop? (Romeine 5:3-5; Jakobus 1:12)

7 Ons hoop word sterker wanneer ons moeilike tye deurgemaak het en gesien het dat ons Jehovah se goedkeuring het. (Lees Romeine 5:3-5; Jakobus 1:12.) So ons hoop is nou sterker as toe ons die goeie nuus eers aanvaar het. Satan wil hê dat moeilike tye ons moet oorweldig, maar met Jehovah se hulp kan ons daardie moeilike tye suksesvol verduur.

ONS HOOP IS SOOS ’N HELM

8. Hoe is hoop soos ’n helm? (1 Tessalonisense 5:8)

8 Die Bybel vergelyk ons hoop ook met ’n helm. (Lees 1 Tessalonisense 5:8.) ’n Soldaat dra ’n helm om sy kop teen sy vyande se houe te beskerm. In ons geestelike oorlog moet ons ook ons verstand teen Satan se aanvalle beskerm. Hy bombardeer ons met versoekings en idees wat ontwerp is om ons denke op ’n slegte manier te beïnvloed. Net soos ’n helm ’n soldaat se kop beskerm, beskerm ons hoop ons denke sodat ons getrou aan Jehovah kan bly.

9. Wat gebeur met mense as hulle nie hoop het nie?

9 Ons hoop om vir ewig te lewe, sal ons help om met wysheid en goeie insig op te tree. Maar as ons hoop verswak en ons op ’n vleeslike manier begin dink, kan ons van ons hoop om vir ewig te lewe, begin vergeet. Kyk na wat met party Christene in eertydse Korinte gebeur het. Hulle het geloof verloor in ’n belangrike belofte van God – die hoop van die opstanding (1 Kor. 15:12). Paulus het geskryf dat dié wat nie die hoop op die opstanding het nie, net vir vandag lewe (1 Kor. 15:32). Baie mense wat nie hoop in God se beloftes het nie, lewe vandag net vir die oomblik, en hulle doen enige iets wat hulle kan om hulle lewe nou so gelukkig as moontlik te maak. Maar ons sit ons vertroue in die toekoms wat God belowe het. Ons hoop is ’n figuurlike helm wat ons denke beskerm en ons help om nie ’n selfsugtige leefstyl te kies, wat ons verhouding met Jehovah kan beskadig nie. – 1 Kor. 15:33, 34.

10. Hoe kan hoop ons beskerm teen valse redenasies?

10 Ons helm van hoop kan ons ook help om nie te dink dat ons Jehovah nooit tevrede kan stel nie. Byvoorbeeld, party redeneer dalk: ‘Ek sal nooit een van dié wees wat vir ewig lewe nie. Ek is net nie goed genoeg nie. Ek sal nooit kan doen wat God van my verwag nie.’ Onthou dat Job se valse vertrooster Elifas ’n soortgelyke redenasie met Job gebruik het. Elifas het gesê: “Hoe kan ’n blote mens rein wees?” Hy het verder oor God gesê: “God het nie eers vertroue in sy engele nie, en selfs die hemele is nie rein in sy oë nie” (Job 15:14, 15). Wat ’n spul leuens! Onthou wie agter sulke denke is – Satan. Hy weet dat jou hoop sal verswak as jy jouself toelaat om aan sulke dinge te bly dink. So verwerp eerder sulke leuens en fokus op Jehovah se beloftes. Moet nooit twyfel dat hy wil hê dat jy vir ewig moet lewe en dat hy jou sal help om daardie doelwit te bereik nie. – 1 Tim. 2:3, 4.

HOU JOU HOOP STERK

11. Hoekom moet ons geduldig wees terwyl ons wag vir ons hoop om vervul te word?

11 Dit is nie altyd maklik om ons hoop sterk te hou nie. Ons kan ongeduldig word terwyl ons op God wag. Maar Jehovah het nog altyd bestaan, en sy beskouing van tyd is anders as ons s’n (2 Pet. 3:8, 9). Hy sal op die beste moontlike manier doen wat hy belowe het, maar hy sal dalk nie optree wanneer ons dit verwag nie. Wat kan ons help om ons geloof sterk te hou terwyl ons geduldig op God wag om sy beloftes na te kom? – Jak. 5:7, 8. 

12. Hoe hou hoop verband met geloof, volgens Hebreërs 11:1, 6?

12 Ons sal ons hoop sterk hou as ons na aan Jehovah bly, die een wat ons hoop sal laat waar word. Om die waarheid te sê, die Bybel verbind hoop met geloof dat Jehovah bestaan en dat hy “die beloner [is] van dié wat hom ernstig soek”. (Lees Hebreërs 11:1, 6.) As ons regtig glo dat Jehovah bestaan, sal ons selfs meer vertroue hê dat hy alles sal doen wat hy belowe het. Kom ons kyk na praktiese maniere om ons verhouding met Jehovah te versterk wat ons sal help om ons hoop sterk te hou.

Gebed en bepeinsing sal ons hoop sterk hou (Sien paragraaf 13-15)b

13. Hoe kan ons nader aan God kom?

13 Bid tot Jehovah en lees sy Woord. Al kan ons Jehovah nie sien nie, kan ons nader aan hom kom. Ons kan met hom in gebed praat met die vertroue dat hy na ons luister (Jer. 29:11, 12). Ons kan na God luister deur sy Woord te lees en daaroor na te dink. Terwyl ons lees oor hoe Jehovah in die verlede gesorg het vir dié wat lojaal aan hom was, sal ons hoop al hoe sterker word. Alles in God se Woord was “geskryf sodat ons daaruit kan leer, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting uit die Skrif hoop kan hê”. – Rom. 15:4.

14. Hoekom moet ons nadink oor wat Jehovah vir ander gedoen het?

14 Dink na oor hoe Jehovah sy beloftes gehou het. Dink aan wat God vir Abraham en Sara gedoen het. Hulle het ’n ouderdom bereik waar hulle nie meer kinders kon kry nie. Maar God het hulle belowe dat hulle ’n kind sou hê (Gen. 18:10). Hoe het Abraham gereageer? Die Bybel sê hy het “geloof gehad dat hy die vader van baie nasies sou word” (Rom. 4:18). Al het Abraham nie geweet hoe God se belofte sou kon waar word nie, het hy die vertroue gehad dat Jehovah Sy belofte sou vervul. Daardie getroue man was nie teleurgestel nie (Rom. 4:19-21). Sulke verslae leer ons dat ons altyd op Jehovah kan vertrou om sy beloftes te vervul, maak nie saak hoe onmoontlik die situasie dalk vir ons lyk nie.

15. Hoekom moet ons nadink oor wat God vir ons gedoen het?

15 Dink aan wat Jehovah vir jou gedoen het. Dink aan hoe jy alreeds persoonlik baat gevind het by die vervulling van die beloftes in God se Woord. Byvoorbeeld, Jesus het belowe dat sy Vader jou alles sal gee wat jy nodig het (Matt. 6:32, 33). Jesus het jou ook verseker dat Jehovah jou heilige gees sal gee wanneer jy daarvoor vra (Luk. 11:13). Jehovah het daardie beloftes nagekom. Jy kan heel moontlik aan ander beloftes dink wat hy ter wille van jou nagekom het. Byvoorbeeld, hy het belowe om jou te vergewe, jou te vertroos en jou geestelik te voed (Matt. 6:14; 24:45; 2 Kor. 1:3). Wanneer jy nadink oor wat God alreeds vir jou gedoen het, sal jy jou hoop versterk wanneer dit kom by wat hy vir jou in die toekoms sal doen.

WEES BLY OOR DIE HOOP

16. Hoekom is hoop so ’n kosbare geskenk?

16 Ons hoop om vir ewig te lewe is ’n kosbare geskenk van God. Ons sien uit na ’n wonderlike toekoms – een wat ons seker kan wees sal gebeur. Dit is soos ons anker – dit stabiliseer ons sodat ons in moeilike tye kan volhard, vervolging kan verduur en selfs die dood in die gesig kan staar. Dit is soos ons helm – dit beskerm ons denke sodat ons die dinge wat verkeerd is, kan verwerp en kan vashou aan wat reg is. Ons Bybelse hoop bring ons nader aan God, en dit wys hoe lief hy vir ons is. Dit help ons baie as ons ons hoop helder en sterk hou.

17. Hoekom help ons hoop ons om bly te wees?

17 Die apostel Paulus het die Romeine in sy brief aangemoedig: “Wees bly oor die hoop” (Rom. 12:12). Paulus kon bly wees omdat hy seker was dat hy die ewige lewe in die hemel sou kry as hy getrou bly. Ons kan ook bly wees oor ons hoop omdat ons seker is dat Jehovah sy beloftes sal nakom. Dit is soos die psalmis geskryf het: “Gelukkig is die een . . . wat sy hoop vestig op Jehovah sy God . . . die Een wat altyd getrou bly”. – Ps. 146:5, 6.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom kan ons seker wees dat ons hoop vervul sal word?

  • Op watter manier is ons hoop soos ’n anker en soos ’n helm?

  • Wat sal ons help om ons hoop sterk te hou?

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

a Jehovah het ons ’n wonderlike hoop vir die toekoms gegee. Daardie hoop moedig ons aan en help ons om verby die probleme wat ons nou het te kyk. Dit gee ons die krag om getrou te bly, maak nie saak watter uitdagings ons deurmaak nie. En dit kan ons beskerm teen verkeerde idees wat ’n slegte uitwerking op ons denke kan hê. Soos ons in hierdie artikel sal leer, is dit alles goeie redes om ons Christelike hoop sterk te hou.

b BESKRYWING VAN PRENT: Net soos ’n helm ’n soldaat se kop beskerm en ’n anker ’n skip stabiliseer, beskerm ons hoop ons denke en stabiliseer dit ons gedurende moeilike tye. ’n Suster bid vol vertroue tot Jehovah. ’n Broer dink na oor hoe God sy beloftes aan Abraham nagekom het. ’n Ander broer dink aan hoe geseënd hy is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel