Kan ons ’n einde maak aan oorlog en gewelddadige konflik?
Mense veg vir baie redes. Party veg vir politieke, ekonomiese of maatskaplike verandering. Ander veg om beheer te kry oor grond en natuurlike hulpbronne. Baie konflikte word veroorsaak deur etniese of godsdiensverskille wat al lank ’n probleem is. Wat word gedoen om ’n einde te maak aan oorlog en om vrede te bring? Kan ons verwag dat hierdie poging suksesvol sal wees?
Drazen_/E+ via Getty Images
EKONOMIESE ONTWIKKELING
Doel: Om die gehalte van mense se lewens te verbeter. Dit kan help om ekonomiese ongelykheid te verwyder of te verminder, wat ’n hoofrede is hoekom konflik plaasvind.
Beperking: Die regering sal die manier waarop hulle hulle geld spandeer, moet verander. In 2022 is daar geskat dat 641,6 miljard rand wêreldwyd gespandeer is om vrede te maak en te bewaar. Maar dit is net ’n fraksie in vergelyking met die bedrag wat daardie jaar aan die weermag spandeer is.
“Ons spandeer baie meer geld en hulpbronne om dié te help wat deur konflik geraak word as om konflik te verhoed en vrede te maak.” – António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies.
Wat die Bybel sê: Die wêreld se regerings en instansies kan die armes help, maar hulle sal nooit armoede heeltemal kan wegneem nie. – Deuteronomium 15:11; Matteus 26:11.
DIPLOMASIE
Doel: Om verskille vreedsaam op te los of te voorkom deur oor die situasie te praat en deur saam te stem om dinge te doen wat tot albei kante se voordeel is.
Beperking: Een of meer partye is dalk nie bereid om te onderhandel, toe te gee of ’n ooreenkoms te bereik nie. En vredesooreenkomste word maklik verbreek.
“Diplomasie is nie altyd suksesvol nie. ’n Ooreenkoms waar daar onderhandel is om ’n einde aan oorlog te maak, kan dalk so onregverdig wees dat dit tot verdere konflik lei.” – Raymond F. Smith, American Diplomacy.
Wat die Bybel sê: Mense moet ‘vrede soek’ (Psalm 34:14). Maar baie mense vandag is “dislojaal, . . . nie bereid . . . om tot enigiets in te stem nie, . . . verraaiers” (2 Timoteus 3:1-4). Sulke eienskappe keer dat opregte politieke leiers konflikte kan oplos.
ONTWAPENING
Doel: Om wapens, veral kern-, chemiese en biologiese wapens te verminder of te verwyder.
Beperking: Nasies is dikwels nie bereid om te ontwapen nie omdat hulle bang is dat hulle mag of die vermoë om hulleself te verdedig, sal verloor. Selfs as nasies van al hulle wapens ontslae raak, kan hulle nie ontslae raak van die redes hoekom mense veg nie.
“Baie van die ontwapeningsooreenkomste en -beloftes wat aan die einde van die koue oorlog gemaak is, is nie nagekom nie. Dit sluit praktiese stappe in om gevare te verminder, internasionale spanning te verlig en ons almal uiteindelik nader te bring aan ’n veiliger wêreld.” – “Securing Our Common Future: An Agenda for Disarmament.”
Wat die Bybel sê: Mense moet hulle wapens agterlaat en “ploegskare maak van hulle swaarde” (Jesaja 2:4). Maar meer is nodig, want geweld begin in ’n mens se hart. – Matteus 15:19.
GESAMENTLIKE VEILIGHEID
Doel: Nasies stem ooreen om saam op te tree teen hulle vyande. In teorie sal ’n vyand nie ’n oorlog begin as dit beteken dat hy teen die gekombineerde magte van baie nasies moet veg nie.
Beperking: Die bedreiging om wraak te neem is nie ’n waarborg van vrede nie. Nasies kom nie altyd hulle ooreenkomste na nie, en hulle stem ook nie ooreen oor hoe en wanneer om teen hul vyande op te tree nie.
“Al het die Volkebond en die Verenigde Nasies hard gewerk om regerings te help om bondgenootskappe met mekaar te vorm, het hierdie bondgenootskappe nie oorlog verhoed nie.” – “Encyclopedia Britannica.”
Wat die Bybel sê: Dit is gewoonlik beter wanneer meer mense saamwerk (Prediker 4:12). Maar die wêreld se regerings en instansies kan nie blywende vrede en veiligheid bring nie. “Moenie op mense in ’n gesagsposisie vertrou nie, want hulle is ook maar mense en kan nie werklik red nie. As hulle sterf, gaan hulle terug na die grond toe en dan is al hulle planne in ’n oogwink daarmee heen.” – Psalm 146:3, 4, Die Lewende Bybel.
Al probeer nasies hard om blywende vrede te bereik, vind aaklige oorloë nog steeds plaas.