STUDIEARTIKEL 19
LIED 6 Die hemele maak God se heerlikheid bekend
Volg die getroue engele na
“Loof Jehovah, al sy engele.” – PS. 103:20.
FOKUS
Lesse wat ons kan leer uit die voorbeeld van die getroue engele.
1-2. (a) Hoe verskil ons van die engele? (b) Wat het ons in gemeen met die engele?
TOE Jehovah jou na die waarheid getrek het, het hy jou genooi om deel te word van ’n liefdevolle familie van aanbidders, wat broers en susters van regoor die wêreld en ook miljoene getroue engele insluit (Dan. 7:9, 10). Wanneer ons aan die engele dink, dink ons dalk aan hoe baie hulle van ons verskil. Byvoorbeeld, die engele bestaan al baie langer as wat ons lewe (Job 38:4, 7). Hulle is baie kragtiger as wat ons is. En hulle is baie heiliger en regverdiger as ons omdat ons onvolmaak is. – Luk. 9:26.
2 Maar ten spyte van hierdie verskille het ons baie in gemeen met die engele. Byvoorbeeld, soos die engele kan ons Jehovah se goeie eienskappe openbaar. Net soos die engele het ons vrye wil. Ons het, soos die engele, persoonlike name en unieke persoonlikhede, sowel as verskillende verantwoordelikhede. En net soos die engele het ons ’n behoefte daaraan om ons Skepper te aanbid. – 1 Pet. 1:12.
3. Wat kan ons by die getroue engele leer?
3 Aangesien ons baie in gemeen het met die engele kan hulle goeie voorbeeld ons aanmoedig en ons help. Om die waarheid te sê, ons kan baie goeie lesse by hulle leer. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ons die nederigheid van die getroue engele kan navolg, sowel as hulle liefde vir mense, hulle volharding en die moeite wat hulle doen om die gemeente skoon te hou.
DIE ENGELE IS NEDERIG
4. (a) Hoe wys die engele dat hulle nederig is? (b) Hoekom is die engele nederig? (Psalm 89:7)
4 Die getroue engele is nederig. Al het hulle baie ondervinding en al is hulle baie kragtig en wys, is hulle gehoorsaam aan Jehovah se instruksies (Ps. 103:20). Wanneer hulle hulle toewysings uitvoer, spog hulle nooit oor wat hulle doen of oor hulle bomenslike kragte nie. Hulle doen God se wil gewilliglik, selfs al ken ander nooit hulle name nie (Gen. 32:24, 29; 2 Kon. 19:35).a Hulle weier om enige eer te aanvaar wat aan Jehovah behoort. Hoekom is die engele so nederig? Omdat hulle lief is vir Jehovah en diep respek vir hom het. – Lees Psalm 89:7.
5. Hoe het een engel gewys dat hy nederig is toe hy die apostel Johannes reggehelp het? (Sien ook prent.)
5 Kyk na een geleentheid wat wys dat die engele nederig is. In omtrent 96 HJ het ’n engel wie se naam ons nie ken nie, ’n indrukwekkende visioen vir die apostel Johannes gewys (Op. 1:1). Hoe het Johannes op die visioen gereageer? Hy het die engel probeer aanbid. Maar daardie lojale geesskepsel het hom vinnig gestop en gesê: “Pasop! Moet dit nie doen nie! Ek is maar net ’n medeslaaf van jou en van jou broers . . . Aanbid God!” (Op. 19:10). Wat ’n nederige reaksie! Die engel wou nie verheerlik of bewonder word nie. Hy het Johannes se aandag onmiddellik op Jehovah God gevestig. Terselfdertyd het die engel nie op Johannes neergekyk nie. Al het hierdie engel Jehovah baie langer gedien en al was hy baie kragtiger as Johannes, het hy nederig na die apostel verwys as sy medeslaaf. En al moes die engel Johannes reghelp, het hy hom nie geskel of die bejaarde apostel lelik behandel nie. Die engel het eerder liefdevol met hom gepraat. Hy het heel moontlik besef dat Johannes verstom was deur wat hy gesien het.
Die engel het gewys dat hy nederig is toe hy met Johannes gepraat het en hom reggehelp het (Sien paragraaf 5)
6. Hoe kan ons die engele se nederigheid navolg?
6 Hoe kan ons die engele se nederigheid navolg? Ons kan ook ons toewysings uitvoer sonder om te spog of om eer te probeer soek vir wat ons doen (1 Kor. 4:7). En ons moenie voel dat ons beter as ander is as ons Jehovah al langer as hulle dien of as ons sekere voorregte het nie. Om die waarheid te sê, hoe meer verantwoordelikhede ons het, hoe meer moet ons onsself as minderes beskou (Luk. 9:48). Soos die engele, wil ons ander dien. Ons wil nie onsself bevorder nie.
7. Hoe kan ons wys dat ons nederig is wanneer ons iemand moet reghelp of moet raad gee?
7 Ons kan ook wys dat ons nederig is as ons iemand anders – ’n broer of suster of ons kind – moet reghelp of moet raad gee. Wanneer ons iemand raad gee, moet ons dalk soms ferm wees. Maar soos die engel wat Johannes liefdevol reggehelp het, kan ons ferm wees sonder om die persoon mismoedig te laat voel. As ons nie dink dat ons beter as ander is nie, sal ons die Bybelse raad op ’n respekvolle en liefdevolle manier gee. – Kol. 4:6.
DIE ENGELE IS LIEF VIR MENSE
8. (a) Hoe wys die engele dat hulle lief is vir mense volgens Lukas 15:10? (b) Watter rol speel die engele in die predikingswerk? (Sien ook voorblad.)
8 Die engele ignoreer nie wat met mense gebeur nie, en hulle dink nie dat ons onbelangrik is nie. Hulle is eerder lief vir mense. Hulle is bly wanneer ’n sondaar berou toon – dit wil sê wanneer ’n verlore skaap na Jehovah terugkeer of wanneer iemand veranderinge maak en die waarheid aanvaar. (Lees Lukas 15:10.) Die engele is ook baie betrokke by die Koninkrykspredikingswerk (Op. 14:6). Al preek hulle nie direk vir mense nie, sal hulle ’n verkondiger dalk help om iemand te vind wat omtrent Jehovah wil leer. Ons kan natuurlik nie met sekerheid sê dat die engele by enige spesifieke geval betrokke was nie. Jehovah kan ook ander middele gebruik – soos sy heilige gees – om mense te help of om sy knegte na hierdie mense te lei (Hand. 16:6, 7). Maar hy gebruik sy engele om ons te help wanneer ons preek. So wanneer ons die goeie nuus verkondig, kan ons seker wees dat die engele daar sal wees om ons te ondersteun. – Sien die venster “Hulle gebede is beantwoord.”b
’n Paartjie is so pas klaar met openbare getuieniswerk. Op pad huis toe sien die suster ’n vrou wat ontsteld lyk. Die suster besef dat die engele ons kan help om dié te vind wat dalk na geestelike hulp soek. Sy voel gemotiveerd om met die vrou te praat en om haar te vertroos. (Sien paragraaf 8)
9. Hoe kan ons die engele se liefde vir mense navolg?
9 Hoe kan ons die engele se liefde vir mense navolg? Wanneer ons ’n aankondiging hoor dat iemand herstel is, kan ons soos die engele bly wees. Ons kan uit ons pad uit gaan om die broer terug te verwelkom en hom van ons liefde te verseker (Luk. 15:4-7; 2 Kor. 2:6-8). Ons kan die engele ook navolg deur ons bes in die predikingswerk te doen (Pred. 11:6). En net soos die engele ons ondersteun wanneer ons die goeie nuus verkondig, kan ons na maniere soek om ons broers en susters in hulle bediening te ondersteun. Byvoorbeeld, kan ons planne maak om met ’n minder ervare verkondiger te werk? Kan ons ouer of sieklike broers en susters ondersteun sodat hulle ’n aandeel aan die bediening kan hê?
10. Wat kan ons uit Sara se ondervinding leer?
10 Sê nou ons omstandighede beperk wat ons kan doen? Ons kan nog steeds maniere vind om saam met die engele in die predikingswerk te werk. Kyk na die ondervinding van Sara,c ’n suster in Indië. Nadat sy al omtrent 20 jaar lank pionier het, het sy siek geword en was sy permanent bedlêend. Dit is te verstane dat sy erg depressief was. Maar met die liefdevolle ondersteuning van haar geestelike familie en gereelde Bybellees het Sara geleidelik weer positief begin voel. Sy moes haar bediening natuurlik by haar nuwe omstandighede aanpas. En omdat sy nie eens regop kon sit om briewe te skryf nie, was haar bediening beperk tot telefoongetuieniswerk. Sy het toe haar herbesoeke gebel, en hulle het haar van ander vertel wat dalk belangstel. Wat was die gevolg? Binne maande het Sara 70 Bybelstudies gehad – baie meer as wat sy kon hanteer! Daarom het sy party aan ander in die gemeente oorgegee. Baie van die studente woon nou ons vergaderinge by. Die engele is seker so bly om saam met broers en susters soos Sara te werk wat hulle bes in die predikingswerk doen!
DIE ENGELE WYS DAT HULLE VOLHARD
11. Hoe wys die engele dat hulle volhard?
11 Die getroue engele is uitstekende voorbeelde van volharding. Hulle verduur al duisende jare lank ongeregtigheid en goddeloosheid. Hulle het gesien hoe Satan en baie ander geesskepsele wat voorheen saam met hulle gedien het, teen Jehovah rebelleer (Gen. 3:1; 6:1, 2; Jud. 6). Die Bybel vertel ons van een getroue engel wat direk teëgestaan is deur ’n kragtige demoon (Dan. 10:13). En regdeur die mensegeskiedenis het die engele gesien hoe net ’n klein hoeveelheid mense ware aanbidding beoefen. Ten spyte van al hierdie dinge, hou hierdie lojale engele aan om Jehovah met vreugde en ywer te dien. Hulle weet dat God alle ongeregtigheid op die regte tyd sal verwyder.
12. Wat kan ons help om te volhard?
12 Hoe kan ons die engele se volharding navolg? Soos die engele sien ons dalk ongeregtigheid of word ons dalk teëgestaan. Maar nes hulle is ons oortuig dat God alle goddeloosheid op die regte tyd sal verwyder. So net soos die getroue engele ‘hou ons nie op om te doen wat goed is nie’ (Gal. 6:9). En God belowe om ons te help om te volhard (1 Kor. 10:13). Ons kan Jehovah vir sy gees vra, wat ons help om geduldig en vreugdevol te wees (Gal. 5:22; Kol. 1:11). Sê nou jy word teëgestaan? Vertrou ten volle op Jehovah, en moenie bang wees nie. Jehovah sal jou altyd ondersteun en versterk. – Heb. 13:6.
DIE ENGELE HELP OM DIE GEMEENTE SKOON TE HOU
13. Watter spesiale toewysing het engele gedurende die laaste dae? (Matteus 13:47-49)
13 Gedurende die laaste dae het Jehovah vir die engele ’n spesiale toewysing gegee. (Lees Matteus 13:47-49.) Miljoene mense van regoor die wêreld stel belang in die goeie nuus. Party van hierdie mense neem stappe om ware Christene te word, terwyl ander dit nie doen nie. Die engele het die werk gekry om “die goddeloses van die regverdiges [te] skei”. Dit beteken dat dit hulle werk is om te help om die gemeente skoon te hou. Dit beteken nie dat almal wat vir die een of ander rede ophou om met ons te assosieer, nooit kan terugkom nie, en dit beteken ook nie dat daar nooit probleme in die gemeente sal wees nie. Maar ons kan seker wees dat die engele hard werk om ons gemeentes skoon te hou.
14-15. Hoe kan ons die engele navolg en wys dat ons die gemeente geestelik en sedelik wil skoon hou? (Sien ook prente.)
14 Hoe kan ons die engele navolg en wys dat ons die gemeente wil skoon hou? Deur ons deel te doen om ons gemeente sedelik en geestelik skoon te hou. Om dit reg te kry, probeer ons ons hart beskerm deur goeie vriende te kies en deur enige invloed te verwerp wat ons vriendskap met Jehovah kan beskadig (Ps. 101:3). Ons kan ook ons broers en susters help om getrou aan Jehovah te bly. Byvoorbeeld, wat moet ons doen as ons uitvind dat ’n broer of ’n suster ernstig gesondig het? Uit liefde vir hom of haar sal ons ons broer of suster aanmoedig om met die ouermanne te praat. As daardie persoon dit nie doen nie, sal ons die ouermanne daarvan vertel. Ons wil hê dat enige broer of suster wat geestelik swak is, so gou as moontlik gehelp moet word! – Jak. 5:14, 15.
15 Ongelukkig moet party wat ernstig sondig, uit die gemeente verwyder word. In sulke gevalle ‘hou ons op om te assosieer’ met hulle (1 Kor. 5:9-13).d Hierdie reëling help om die gemeente skoon te hou. En wanneer ons kies om nie te assosieer met dié wat verwyder is nie, is ons eintlik liefdevol teenoor hulle. Ons ferm standpunt kan hulle motiveer om tot hulle sinne te kom. As hulle dit doen, is ons saam met Jehovah en sy engele baie bly. – Luk. 15:7.
Wat moet ons doen as ons uitvind dat ’n broer of suster ernstig gesondig het? (Sien paragraaf 14)e
16. Op watter maniere sal jy probeer om die engele na te volg?
16 Dit is ’n groot voorreg om met ons oë van geloof in die geesteryk in te kyk en om saam met die engele te werk! Kom ons volg hulle goeie eienskappe na: hulle nederigheid, hulle liefde vir mense, hulle volharding en hulle begeerte om die gemeente sedelik en geestelik skoon te hou. As ons die getroue engele navolg, kan ons ook vir ewig deel wees van Jehovah se familie van aanbidders.
LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde
a Uit die honderde miljoene engele word net twee se name in die Bybel genoem – Migael en Gabriël. – Dan. 12:1; Luk. 1:19.
b Jy kan nog ondervindinge vind in die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies onder die hofie “Hemel” en die onderhofie “Engele”.
c Naam is verander.
d Die Jongste nuus van die Bestuursliggaam vir 2024 – Nr. 2 het verduidelik dat ʼn verkondiger sy Bybelopgeleide gewete kan gebruik om te besluit of hy ʼn persoon wat uit die gemeente verwyder is wat ʼn gemeentelike vergadering bywoon, sal groet en verwelkom of nie.
e BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster moedig haar vriendin aan om met die ouermanne te praat. ’n Ruk later praat die suster met die ouermanne oor die saak omdat haar vriendin dit nie gedoen het nie.