Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Mei bl. 20-25
  • Jehovah se naam – Wat dit vir Jesus beteken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se naam – Wat dit vir Jesus beteken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “EK HET U NAAM AAN HULLE BEKEND GEMAAK”
  • “U NAAM, DIE NAAM WAT U MY GEGEE HET”
  • “VADER, VERHEERLIK U NAAM”
  • “EK [GEE] MY LEWE”
  • “EK [HET] DIE WERK VOLTOOI . . . WAT U MY GEGEE HET OM TE DOEN”
  • Jehovah se naam – Wat dit vir ons moet beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • “Loof die naam van Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Wat leer die losprys ons?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • “Kies . . . self wie julle gaan dien”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Mei bl. 20-25

STUDIEARTIKEL 22

LIED 15 Loof God se Eersgeborene!

Jehovah se naam– Wat dit vir Jesus beteken

“Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak.” – JOH. 17:26.

FOKUS

Hoe Jesus Jehovah se naam bekend gemaak het en hoe hy daardie naam geheilig en geregverdig het.

1-2. (a) Wat het Jesus gedoen op die aand voordat hy doodgemaak is? (b) Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?

DIT was laat Donderdagaand 14 Nisan 33 HJ, en Jesus sou binnekort verraai, veroordeel, gevonnis, gemartel en doodgemaak word. Hy het so pas ’n spesiale maaltyd in ’n bo-kamer geëet met sy getroue apostels. Ná daardie maaltyd het Jesus vir sy apostels ’n paar laaste woorde van aanmoediging gegee. En kort voordat hulle almal daardie bo-kamer verlaat het, het Jesus gepouseer en ’n baie belangrike gebed gedoen. Die apostel Johannes het daardie gebed opgeteken; dit word gevind in Johannes hoofstuk 17.

2 Wat openbaar Jesus se gebed aan ons oor die dinge waaroor hy op daardie tyd bekommerd was? Hoe wys daardie gebed wat vir hom belangrik was gedurende sy hele bediening terwyl hy hier op die aarde was? Kom ons bespreek die antwoorde op hierdie vrae.

“EK HET U NAAM AAN HULLE BEKEND GEMAAK”

3. Wat het Jesus oor Jehovah se naam gesê, en wat het hy bedoel? (Johannes 17:​6, 26)

3 In sy gebed het Jesus gesê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak.” Om die waarheid te sê, hy het twee keer gesê dat hy Jehovah se naam aan sy dissipels bekend gemaak het. (Lees Johannes 17:​6, 26.) Wat het hy bedoel? Het hy ’n naam aan hulle geopenbaar wat hulle nie geken het nie? Jesus se dissipels was Jode, so hulle het reeds geweet dat God se naam Jehovah is. Daardie naam het duisende kere in die Hebreeuse Geskrifte verskyn. So Jesus het nie na die persoonlike naam van God verwys nie; hy het eerder verwys na wat daardie naam verteenwoordig het. Jesus het die Persoon agter Jehovah se naam, insluitende Sy doel met die aarde en vir die mens, Sy bedrywighede en Sy eienskappe, op ’n manier bekend gemaak wat niemand anders ooit sou kon doen nie.

4-5. (a) Hoe kan ons illustreer wat dit beteken om iemand se naam te leer ken? (b) Hoe het Jesus se dissipels Jehovah se naam leer ken?

4 Dink aan hierdie illustrasie: Daar is ’n ouerman in jou gemeente met die naam David, en hy is ook ’n dokter. Jy ken daardie broer al jare lank. Maar op ’n dag het jy ’n mediese noodgeval. Jy word na die hospitaal gejaag waar daardie broer werk, en hy gebruik sy mediese vaardighede om jou lewe te red. Het daardie broer se naam nou vir jou meer betekenis? Natuurlik! David is nie meer net die ouerman wat jy ken nie; hy is ook die dokter wat jou lewe gered het.

5 Net so het Jesus se dissipels Jehovah se naam reeds geken. Maar daardie naam het vir hulle meer begin beteken as gevolg van Jesus se bediening. Hoekom kan ons dit sê? Omdat Jesus sy Vader se persoonlikheid weerspieël het in alles wat hy gesê en gedoen het. So sy apostels het Jehovah beter leer “ken” deur te luister na die manier hoe Jesus mense geleer het en deur te kyk na die manier hoe hy mense behandel het. – Joh. 14:9; 17:3.

“U NAAM, DIE NAAM WAT U MY GEGEE HET”

6. In watter sin het Jehovah Jesus Sy naam gegee? (Johannes 17:​11, 12)

6 In sy gebed het Jesus vir sy dissipels gebid en gesê: “Waak oor hulle ter wille van u naam, die naam wat u my gegee het.” (Lees Johannes 17:​11, 12.) Beteken dit dat Jesus nou as Jehovah bekend sou staan? Nee. Let op dat Jesus in sy gebed na die naam Jehovah verwys het as “u naam”. So Jehovah se naam het nie Jesus se persoonlike naam geword nie. Maar wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat God se naam aan hom gegee is? Eerstens, Jesus was Jehovah se verteenwoordiger en Woordvoerder. Hy het in sy Vader se naam gekom en kragtige werke in daardie naam gedoen (Joh. 5:43; 10:25). En die naam Jesus beteken “Jehovah is redding”. Ja, God se naam hou verband met Jesus se naam.

7. Hoekom kon Jesus in Jehovah se naam praat? Gee ’n voorbeeld.

7 Dink hieraan: Omdat ’n ambassadeur ’n heerser verteenwoordig, kan hy in die naam van die heerser praat. So die ambassadeur se woorde het dieselfde gesag as dié van die heerser. Net so het Jesus Jehovah verteenwoordig en in Sy naam met die mense gepraat. – Matt. 21:9; Luk. 13:35.

8. In watter sin het Jesus in Jehovah se naam gekom selfs voordat hy aarde toe gekom het? (Eksodus 23:​20, 21)

8 In sy rol as die Woord het Jesus as Jehovah se Woordvoerder gedien deur inligting en instruksies oor te dra aan ander geesseuns van God, sowel as aan mense (Joh. 1:​1-3). Jesus was heel moontlik die engel wat deur Jehovah gestuur is om vir die Israeliete te sorg gedurende die tyd toe hulle Egipte verlaat het. Toe Jehovah vir die Israeliete gesê het om gehoorsaam te wees aan daardie engel, het hy vir hulle gesê hoekom hulle dit moet doen toe hy gesê het: “Want hy kom in my naam.”a (Lees Eksodus 23:​20, 21.) Met hierdie woorde het Jehovah dit duidelik gemaak dat Jesus hom verteenwoordig en dat hy hoofsaaklik die een is wat sy Vader se naam verdedig en heilig.

“VADER, VERHEERLIK U NAAM”

9. Hoe belangrik was Jehovah se naam vir Jesus? Verduidelik.

9 Soos ons nou net bespreek het, was Jehovah se naam vir Jesus die heel belangrikste, selfs voordat hy aarde toe gekom het. Dit is geen wonder dat Jehovah se naam verband gehou het met alles wat Jesus gedoen het terwyl hy op die aarde was nie! Teen die einde van sy bediening het Jesus uitgeroep: “Vader, verheerlik u naam.” Sy Vader het onmiddellik in ’n harde stem uit die hemel gesê: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.” – Joh. 12:28.

10-11. (a) Hoe het Jesus Jehovah se naam verheerlik? (Sien ook prent.) (b) Hoekom moet Jehovah se naam geheilig en geregverdig word?

10 Jesus het ook sy Vader se naam verheerlik. Hoe so? Een manier was deur sy Vader se wonderlike eienskappe en dade aan ander te openbaar. Maar meer was daarby betrokke om daardie naam te verheerlik. Jehovah se naam moes geheilig word en sy reputasie moes geregverdig word.b Jesus het gewys hoe belangrik dit was toe hy sy volgelinge die modelgebed geleer het. Hy het gesê: “Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word.” – Matt. 6:9.

11 Hoekom moet Jehovah se naam geheilig en geregverdig word? Omdat Satan die Duiwel in die tuin van Eden oneer op Jehovah God se naam gebring het en leuens oor hom vertel het. Satan het geïmpliseer dat Jehovah ’n leuenaar is en dat Hy iets goeds van Adam en Eva terughou (Gen. 3:​1-5). Satan het ook geïmpliseer dat Jehovah se manier van dinge doen nie reg is nie. Satan se valse aantygings het Jehovah se reputasie, of naam, direk aangeval. Later, in die dae van Job, het Satan te kenne gegee dat dié wat Jehovah dien, dit net doen as gevolg van wat hulle by Hom kan kry. Daardie lasteraar het verder gesê dat geen mens Jehovah regtig lief genoeg het om Hom te bly dien wanneer hulle deur moeilike tye gaan nie (Job 1:​9-11; 2:4). Tyd was nodig om te bewys wie die leuenaar is, Jehovah of Satan.

Jesus gee die Bergpredikasie voor ’n skare mense.

Jesus het sy volgelinge geleer hoe belangrik dit is om God se naam te heilig (Sien paragraaf 10)


“EK [GEE] MY LEWE”

12. Wat was Jesus bereid om te doen as gevolg van sy liefde vir Jehovah se naam?

12 As gevolg van sy liefde vir Jehovah wou Jesus alles doen wat hy kon om Jehovah se naam te heilig en te regverdig. Jesus het gesê: “Ek [gee] my lewe” (Joh. 10:​17, 18). Ja, hy was selfs bereid om vir Jehovah se naam te sterf.c Die eerste twee volmaakte mense, Adam en Eva, het hulle rug op Jehovah gedraai en Satan se kant gekies. Maar Jesus was bereid om aarde toe te kom en sy liefde vir Jehovah te bewys. Jesus het dit gedoen deur ’n lewe van volmaakte integriteit te lei (Heb. 4:15; 5:​7-10). Hy het regdeur sy lewe getrou gebly, totdat hy aan ’n folterpaal gesterf het (Heb. 12:2). Op hierdie manier het hy sy liefde vir Jehovah en Sy naam gewys.

13. Hoekom was Jesus in ’n unieke posisie om te bewys dat Satan ’n leuenaar is? (Sien ook prent.)

13 Deur middel van sy lewenswyse het Jesus sonder enige twyfel bewys dat Satan die leuenaar is, nie Jehovah nie! (Joh. 8:44). Jesus het Jehovah beter geken as enige iemand anders wat al ooit gelewe het. As daar enige waarheid was in die aantygings wat Satan teen Jehovah gemaak het, sou Jesus daarvan geweet het. Maar Jesus was vasbeslote om Jehovah se reputasie, of naam, te verdedig. Selfs toe dit gelyk het of Jehovah hom verlaat het, was Jesus bereid om te sterf eerder as om sy rug op sy liefdevolle Vader te draai. – Matt. 27:46.d

Jesus hang aan ’n folterpaal.

Jesus se lewenswyse het sonder enige twyfel bewys dat Satan die leuenaar is, nie Jehovah nie! (Sien paragraaf 13)


“EK [HET] DIE WERK VOLTOOI . . . WAT U MY GEGEE HET OM TE DOEN”

14. Hoe het Jehovah Jesus se getrouheid beloon?

14 In die gebed wat hy gedoen het die aand voordat hy gesterf het, kon Jesus sê: “Ek [het] die werk voltooi . . . wat u my gegee het om te doen.” Hy het die vertroue gehad dat Jehovah hom vir sy getrouheid sou beloon (Joh. 17:​4, 5). Jesus se vertroue in sy Vader was nie misplaas nie. Jehovah het nie toegelaat dat hy in die graf bly nie (Hand. 2:​23, 24). Hy het Jesus opgewek en hom ’n hoër posisie in die hemel gegee (Fil. 2:​8, 9). Later het Jesus as Koning van God se Koninkryk begin regeer. Wat sou daardie Koninkryk bereik? Die tweede deel van die modelgebed sê vir ons: “Laat u Koninkryk kom. Laat u [Jehovah se] wil plaasvind op die aarde, net soos in die hemel.” – Matt. 6:10.

15. Wat sal Jesus nog bereik?

15 In die nabye toekoms sal Jesus oorlog voer teen God se vyande en die goddeloses by Armageddon vernietig (Op. 16:​14, 16; 19:​11-16). Kort daarna sal hy Satan in “die afgrond” gooi, ’n toestand van onbedrywigheid wat soos die dood is (Op. 20:​1-3). Gedurende sy Duisendjarige Heerskappy sal Jesus vrede herstel en mense help om volmaak te word. Hy sal die dooies opwek. Hy sal die hele aarde ’n paradys maak. Jehovah se doel met die aarde en vir die mens sal bereik wees! – Op. 21:​1-4.

16. Hoe sal die lewe wees ná die Duisendjarige Heerskappy?

16 Hoe sal die lewe wees ná die Duisendjarige Heerskappy? Sonde en onvolmaaktheid sal weg wees. Mense sal nie meer vergifnis vir hulle sondes hoef te vra op grond van die losprys nie, en hulle sal ook nie ’n middelaar of priesterskap nodig hê nie. En “die laaste vyand, die [Adamitiese] dood, sal vernietig [wees]”. Die grafte sal leeg wees. Die dooies sal opgewek wees. Almal op die aarde sal volmaak wees. – 1 Kor. 15:​25, 26.

17-18. (a) Wat gebeur aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy? (b) Wat sal Jesus doen wanneer sy tyd om te regeer tot ’n einde kom? (1 Korintiërs 15:​24, 28) (Sien ook prent.)

17 Wat gebeur nog aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy? Op daardie tyd sal iets baie spesiaals gebeur. Die geskil waarby die heiliging van Jehovah se naam betrokke is, sal tot ’n einde kom. Hoe? Satan het in die tuin van Eden geïmpliseer dat Jehovah ’n leuenaar is en dat Hy nie uit liefde oor die mensdom regeer nie. Van toe af is sy naam al oor en oor geheilig deur dié wat hom eer en respekteer. So teen die einde van die Duisendjarige Heerskappy sal Jehovah se reputasie ten volle geregverdig wees. Hy sal sonder enige twyfel bewys het dat hy ’n liefdevolle hemelse Vader is.

18 Ná die einde van die Duisendjarige Heerskappy sal almal weet dat alles wat Satan oor Jehovah gesê het, leuens is. Wat sal Jesus doen wanneer sy tyd om te regeer tot ’n einde kom? Sal hy die voorbeeld van Satan volg en teen Jehovah in opstand kom? Nee! (Lees 1 Korintiërs 15:​24, 28.) Jesus sal die Koninkryk teruggee aan sy Vader. Hy sal hom aan Jehovah se heerskappy onderwerp. Ja, anders as Satan is Jesus bereid om alles op te gee as gevolg van sy liefde vir Jehovah.

Jesus is in die hemel, en hy gee sy kroon aan Jehovah.

Jesus gee die Koninkryk terug aan Jehovah aan die einde van sy Duisendjarige Heerskappy (Sien paragraaf 18)


19. Wat beteken Jehovah se naam vir Jesus?

19 Dit is geen wonder dat Jehovah bereid was om Jesus Sy naam te gee nie! Jesus het bewys dat hy ’n volmaakte verteenwoordiger van sy Vader is. So, wat beteken Jehovah se naam vir Jesus? Dit beteken alles vir hom. Hy was bereid om vir daardie naam te sterf, en hy sal bereid wees om alles aan Jehovah terug te gee aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy. Hoe kan ons Jesus se voorbeeld navolg? Ons sal die antwoord op daardie vraag in die volgende artikel bespreek.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe het Jesus Jehovah se naam aan sy dissipels bekend gemaak?

  • In watter sin is Jesus Jehovah se naam gegee?

  • Wat was Jesus bereid om vir Jehovah se naam te doen, en hoekom?

LIED 16 Loof Jah vir sy Seun, die Gesalfde

a Soms het engele ook Jehovah verteenwoordig wanneer hulle boodskappe in sy naam oorgedra het. Dit is hoekom die Bybel soms sê dat Jehovah praat, al is dit eintlik ’n engel wat namens hom praat (Gen. 18:​1-33). Al sê die Bybel dat Moses die Wet van Jehovah ontvang het, wys ander verse dat Jehovah engele gebruik het om daardie Wet in Sy naam oor te dra. – Lev. 27:34; Hand. 7:​38, 53; Gal. 3:19; Heb. 2:​2-4.

b WAT DIT BETEKEN: Om te “heilig”, beteken om te eer of om ’n diep respek te hê vir. Om te “regverdig”, beteken om te bewys dat iemand reg is wanneer ander leuens of valse dinge oor hom sê.

c Jesus se dood het dit ook vir mense moontlik gemaak om die ewige lewe te kry.

d Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring, April 2021, bl. 30-31.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel