LEWENSVERHAAL
“Die geveg behoort aan Jehovah”
OP 28 Januarie 2010, ’n koue wintersdag, was ek in die pragtige Straatsburg, Frankryk. Maar die laaste ding waaraan ek gedink het, was om die plek te verken. Ek was daar as deel van ’n regspan wat soontoe gestuur is om die regte van Jehovah se Getuies voor die Europese Hof van Menseregte (EHMR) te verdedig. Die saak het gehandel oor of die regering van Frankryk die reg gehad het om te vereis dat ons broers daar ’n astronomiese belastingbedrag van amper 64 miljoen euro moet betaal. Nog belangriker, Jehovah se naam, die reputasie van sy volk en hulle vermoë om hom vryelik te aanbid, was op die spel. Wat by daardie verhoor gebeur het, het bevestig dat “die geveg . . . aan Jehovah [behoort]” (1 Sam. 17:47). Kom ek verduidelik.
Die geskil het in die laat 1990’s begin toe die regering van Frankryk ’n ongeregverdigde belasting op die donasies opgelê het wat ons takkantoor in Frankryk tussen 1993 en 1996 ontvang het. Ons het geregtigheid gesoek in die howe in Frankryk, maar was nie suksesvol nie. Nadat ons die saak in ’n appèlhof verloor het, het die regering geld uit die takkantoor se bankrekening gekonfiskeer ter waarde van meer as vier en ’n half miljoen euro. Ons laaste hoop was die EHMR. Maar voordat hulle ’n uitspraak gelewer het, het die EHMR vereis dat ons en die regering se regspan ’n voorlopige skikkingsverhoor bywoon voor een van die Hof se registrateurs, amptenare wat verantwoordelik is vir die administratiewe en regsbedrywighede van die Hof.
Ons het verwag dat die registrateur druk op ons sou plaas om die saak op te los deur in te stem om ’n gedeelte van die bedrag wat vereis is, te betaal. Maar ons het duidelik verstaan dat dit Bybelbeginsels sou skend as ons selfs net een euro betaal het. Die broers en susters het bydraes gemaak om Koninkryksbelange te ondersteun, so hulle bydraes het nie aan die regering behoort nie (Matt. 22:21). Maar ons het die verhoor nog steeds bygewoon uit respek vir die Hof se reëls.
Ons regspan voor die EHMR, 2010
Ons het vir die verhoor bymekaargekom in een van die Hof se elegante konferensiekamers. Die verhoor het nie goed begin nie. In haar openingskommentare het die registrateur bevestig dat sy verwag dat Jehovah se Getuies in Frankryk van die belasting wat opgelê is, moet betaal. Ons het skielik gevoel dat ons haar moet vra: “Is jy bewus daarvan dat die regering alreeds meer as vier en ’n half miljoen euro uit ons bankrekening gekonfiskeer het?”
Dit was duidelik dat sy geskok is. Toe die regering se regspan bevestig dat hulle dit gedoen het, het haar gesindheid teenoor die saak heeltemal verander. Sy het hulle uitgeskel en die verhoor skielik beëindig. Ek het toe besef dat Jehovah, op ’n manier wat ons nooit kon verwag nie, alles heeltemal verander het sodat ons die saak kon wen. Toe ons die verhoor verlaat, was ons in die wolke en kon ons skaars glo wat gebeur het.
Op 30 Junie 2011 het die EHMR ’n eenparige beslissing in ons guns gelewer. Dit het beslis dat die belasting onwettig is en die regering beveel om die geld wat hulle gekonfiskeer het, terug te betaal, plus rente! Hierdie geskiedkundige beslissing het rein aanbidding in Frankryk tot vandag toe beskerm. Daardie een, onvoorbereide vraag wat ons gevra het, soos die klip wat Goliat se kop getref het, was die keerpunt van die geveg. Hoekom het ons gewen? Want “die geveg behoort aan Jehovah,” soos Dawid vir Goliat gesê het. – 1 Sam. 17:45-47.
Hierdie oorwinning is nie die uitsondering nie. Tot vandag toe, ten spyte van kragtige politieke en godsdienstige teenstand, het die hoogste howe van 70 lande en verskeie internasionale howe 1 225 beslissings ten gunste van Jehovah se Getuies gelewer. Hierdie regsoorwinnings beskerm ons basiese regte, soos ons reg om wetlike status as ’n godsdiens te hê, om aan die openbare bediening deel te neem, om te weier om aan patriotiese seremonies deel te neem en om te weier om bloed te aanvaar.
Hoe het ek betrokke geraak by ’n regsaak in Europa terwyl ek by die wêreldhoofkwartier van die Jehovah se Getuies in New York, VSA, gedien het?
GROOTGEMAAK DEUR YWERIGE OUERS
My ouers, George en Lucille, was in die 12de klas van Gilead en het in Etiopië gedien toe ek in 1956 gebore is. Hulle het my Philip genoem, vernoem na die eerste-eeuse evangelieprediker (Hand. 21:8). Die volgende jaar het die regering ons aanbidding verbied. Al was ek baie klein, onthou ek duidelik hoe my gesin in die geheim aanbid het. As ’n kind het ek gedink dat dit opwindend is! Ongelukkig het amptenare ons gedwing om die land in 1960 te verlaat.
Nathan H. Knorr (heel links) besoek my gesin in Addis Abeba, Etiopië, 1959
Toe ons gesin na Wichita, Kansas, VSA, trek, het my ouers iets baie spesiaals saam met hulle gebring – hulle inspirerende sendingywer. Hulle het die waarheid uitgeleef en het geestelike waardes nie net by my ingeskerp nie, maar ook by my ouer suster, Judy, en my jonger broer, Leslie, wat albei ook in Etiopië gebore is. Ek is op die ouderdom van 13 gedoop. Drie jaar later het ons gesin getrek na waar daar meer verkondigers nodig was, in Arequipa, Peru.
In 1974 toe ek net 18 was, het die takkantoor in Peru my en vier ander broers gestuur om as spesiale pioniers te dien. Ons moes in onaangeraakte gebiede preek, hoog in die Andesgebergte. Dit het ingesluit dat ons moes preek vir die inheemse Quechua- en Aymara-gemeenskappe. Ons het in ’n motorwoonwa gereis wat ons Die ark genoem het omdat dit soos ’n boks gelyk het. Ek het goeie herinneringe van hoe ons die Bybel gebruik het om vir die inheemse mense te wys dat Jehovah binnekort ’n einde sal maak aan armoede, siekte en die dood (Op. 21:3, 4). Baie het die Koninkryksboodskap aanvaar.
“Die ark”, 1974
EK BEGIN WERK BY DIE WÊRELDHOOFKWARTIER
Gedurende ’n besoek aan Peru in 1977 het Albert Schroeder, wat ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies was, my aangemoedig om aansoek te doen vir Betheldiens by die wêreldhoofkwartier. En ek het. Kort daarna, op 17 Junie 1977, het ek my diens by die Bethel in Brooklyn begin. Oor die volgende vier jaar het ek in die Skoonmaakafdeling en Instandhoudingsafdeling gewerk.
Op ons troudag, 1979
In Junie 1978 het ek Elizabeth Avallone ontmoet by ’n internasionale byeenkoms in New Orleans, Louisiana. Sy is grootgemaak deur ouers wat, soos myne, die waarheid uitgeleef het. Elizabeth was al vier jaar lank ’n gewone pionier en wou aanhou om Jehovah vir die res van haar lewe voltyds te dien. Ons het in kontak gebly. Kort voor lank was ons baie verlief. Ons het op 20 Oktober 1979 getrou, en ons het Betheldiens as ’n paartjie begin.
Die broers en susters in ons eerste gemeente, Brooklyn Spaans, het hulle harte vir ons oopgemaak. Oor die jare het drie ander liefdevolle gemeentes ons verwelkom en ons in ons Betheldiens ondersteun. Ons waardeer hulle ondersteuning sowel as die ondersteuning van vriende en familie wat ons gehelp het om vir ons ouers te sorg toe hulle bejaard was.
Betheliete in die Brooklyn- Spaanse gemeente, 1986
EK HELP MET ONS REGSGEVEGTE
Tot my verbasing het ek in Januarie 1982 ’n toewysing in die Regsafdeling by Bethel gekry. Drie jaar later is ek gevra om regte te studeer en om ’n gelisensieerde prokureur te word. Ek was aangenaam verras toe ek gedurende my studies leer dat die basiese vryhede wat die meeste mense in die Verenigde State en ander lande as vanselfsprekend aanvaar, versterk is deur regsoorwinnings wat Jehovah se Getuies gehad het. Hierdie belangrike sake is breedvoerig in ons klasse bespreek.
In 1986 toe ek 30 was, is ek as die opsiener van die Regsafdeling aangestel. Aangesien ek so jonk was en skaars verstaan het watter groot dinge voorlê, het ek bevoorreg en oorweldig gevoel.
In 1988 het ek ’n prokureur geword, maar ek het nie besef watter groot uitwerking hierdie prestasie op my geestelikheid gehad het nie. Hoër onderwys kan ’n persoon ambisieus maak en laat voel dat hulle gespesialiseerde kennis hulle beter maak as ander wat nie ’n soortgelyke opvoeding het nie. Elizabeth het my gered. Sy het my gehelp om die geestelike roetine wat ek voor my studies gehad het, te herstel. Dit het tyd geneem, maar ek het geleidelik geestelik herstel. Ek kan daarvan getuig dat ’n kop vol gespesialiseerde kennis nie die belangrikste ding in die lewe is nie. Wat die lewe werklik betekenisvol maak, is ’n sterk verhouding met Jehovah en ’n diep liefde vir hom en sy volk.
DIE GOEIE NUUS WORD VERDEDIG EN WETLIK BEVESTIG
Ná my studies het ek daarop gefokus om te help om die regsdienste wat by Bethel nodig was, te organiseer en om Koninkryksbelange in die hof te verdedig. Dit was opwindend en uitdagend om ons organisasie wat so vinnig beweeg, groei en verander, te ondersteun. Byvoorbeeld, in die vroeë 1990’s is die Regsafdeling gevra om die leiding daarin te neem om ons jare lange gewoonte te verander om ’n voorgestelde bydrae vir publikasies te vra. Jehovah se Getuies het daarna nie meer geld gevra vir hierdie publikasies nie. Dit het die werk by Bethel en in die veld vereenvoudig, en dit help om probleme met die betaling van belasting te vermy. Party het gedink dat hierdie verandering ons hulpbronne sou uitput en ons openbare bediening sou verhinder. Die teenoorgestelde het gebeur. Vanaf 1990 het die hoeveelheid mense wat Jehovah dien, meer as verdubbel, en vandag kan mense toegang tot lewensreddende geestelike voedsel hê sonder om daarvoor te betaal. Ek het persoonlik gesien dat dit net deur Jehovah se krag is en die leiding wat hy deur middel van die getroue slaaf gee, dat hierdie en so baie ander organisatoriese veranderinge suksesvol geïmplementeer kan word. – Eks. 15:2; Matt. 24:45.
Regsoorwinnings is selde net die gevolg van goeie prokureurs in die hof. Dit is dikwels die goeie gedrag van Jehovah se volk wat dié in gesagsposisies raak. In 1998 het ek ’n voorbeeld hiervan gesien toe drie lede van die Bestuursliggaam en hulle vrouens spesiale byeenkomste in Kuba bywoon. Hulle liefdevolle, respekvolle gedrag het meer gedoen om die owerhede te oortuig van ons politieke neutraliteit as enige iets wat ons vir hulle gesê het in formele vergaderinge.
Maar wanneer regsake nie vreedsaam opgelos kan word nie, ‘verdedig ons die goeie nuus en bevestig ons dit wetlik’ in die hof (Fil. 1:7). Byvoorbeeld, die owerhede in Europa en Suid-Korea het dekades lank nie erkenning gegee aan ons reg om te weier om militêre diens te doen nie. As gevolg daarvan het omtrent 18 000 broers in Europa en meer as 19 000 broers in Suid-Korea tyd in die tronk deurgebring as gevolg van hulle gewetensbeswaar teen militêre diens.
Op 7 Julie 2011 het die EHMR uiteindelik die geskiedkundige uitspraak Bayatyan v. Armenia gelewer wat vereis dat voorsiening gemaak moet word vir alternatiewe burgerlike diens regoor Europa. Dit is gevolg deur ’n soortgelyke uitspraak deur die Suid-Koreaanse Konstitusionele Hof op 28 Junie 2018. Nie een van hierdie oorwinnings sou moontlik gewees het as selfs net ’n klein persentasie van ons jong broers nie neutraal gebly het nie.
Ons opsieners en regsafdelings by takkantore regoor die wêreld werk hard om Koninkryksbelange te verdedig. Ons voel geëerd om ons broers en susters te verteenwoordig wat deur die regering teëgestaan word. Of ons nou in die hof wen of nie, ons gee ’n getuienis aan goewerneurs en konings en aan die nasies (Matt. 10:18). Regters, regeringsverteenwoordigers, die media en die publiek oor die algemeen moet kyk na die tekste wat ons by al ons regsdokumente insluit en wat ons in die hof aanhaal om ons sake te ondersteun. Opregtes leer wie Jehovah se Getuies is en wat die bron van hulle oortuigings is. Party van hierdie individue het ons medegelowiges geword.
DANKIE, JEHOVAH!
Oor die afgelope 40 jaar het ek die voorreg gehad om saam met takkantore regoor die wêreld te werk aan regsake en om voor baie hooggeregshowe en baie hoë amptenare te verskyn. Ek is lief vir en bewonder my medewerkers in die Regsafdeling by die wêreldhoofkwartier en in die regsafdelings regoor die wêreld. My lewe is ryklik geseën en baie betekenisvol.
Elizabeth het my die afgelope 45 jaar lojaal en liefdevol ondersteun, in goeie tye en in slegte tye. Ek bewonder haar daarvoor omdat sy dit gedoen het ten spyte van die feit dat sy ’n siekte het wat haar immuunstelsel verswak en haar energie beperk.
Ons het persoonlik gesien dat krag en oorwinning nie die gevolg van ons eie vermoë is nie. Soos Dawid gesê het: “Jehovah is ’n sterkte vir sy volk” (Ps. 28:8). Ja, “die geveg behoort aan Jehovah”.