Vrae van lesers
Wanneer sal die huidige predikingswerk tot ’n einde kom?
Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Die Griekse woord wat met “einde” vertaal word in hierdie vers, sowel as in vers 6 en 13, is teʹlos. Dit verwys na die finale einde van Satan se wêreld by Armageddon (Op. 16:14, 16). So, ons sal aanhou om die goeie nuus te verkondig tot net voor daardie finale einde. Dit pas ons vorige begrip aan.
Ons het voorheen verstaan dat ons sou ophou om die goeie nuus te verkondig wanneer die groot verdrukking met die vernietiging van Babilon die Grote begin (Op. 17:3, 5, 15, 16). Ons het geglo dat hierdie gebeurtenis ’n kenmerk sou wees van die einde van die figuurlike “jaar van Jehovah se genade” (Jes. 61:2). Ons het ook gevoel dat dié wat die groot verdrukking sou oorleef, hulle toegewydheid aan Jehovah voor daardie gebeurtenis sou bewys. Ons het hulle met die Jode vergelyk wat die vernietiging van Jerusalem in 607 VHJ oorleef het. Hierdie individue is vroeër gemerk vir oorlewing omdat hulle Jehovah aanbid het en goddeloosheid gehaat het (Eseg. 5:11; 9:4). Maar daardie vergelyking stem nie ooreen met Jesus se woorde in Matteus 24:14 nie, wat wys dat mense dalk die geleentheid sal hê om op die goeie nuus te reageer tot net voor die finale einde by Armageddon.
Ons duideliker begrip van Matteus 24:14 pas ook ons begrip aan van die boodskap wat soos haelstene is, wat in Openbaring 16:21 voorspel word. Verdere ondersoek het geopenbaar dat die twee tekste mekaar komplementeer. Hoe so? Die antwoord lê in hoe mense op die Koninkryksboodskap reageer. Die apostel Paulus het geskryf dat die boodskap goeie nuus, “’n geur wat uit die lewe kom”, is vir “dié wat gered word”. Maar dit is slegte nuus, “’n geur wat uit die dood kom”, vir God se vyande (2 Kor. 2:15, 16). Hulle haat die Koninkryksboodskap omdat dit wys dat die wêreld wat hulle liefhet, goddeloos is, deur Satan regeer word en binnekort vernietig sal word. – Joh. 7:7; 1 Joh. 2:17; 5:19.
Let ook op dat die simboliese haelstorm “buitengewoon groot” sal wees. Dit beteken dalk dat die predikingswerk gedurende die groot verdrukking dalk meer direk sal word; dit wil sê, Jehovah se naam sal bekend gemaak word soos nog nooit tevore nie (Eseg. 39:7). Sal party op daardie laat stadium, ná die vernietiging van Babilon die Grote, na die boodskap getrek word soos na ’n soet geur? Heel moontlik. Miskien sal hulle onthou of leer dat Jehovah se Getuies jare lank die einde van valse godsdiens verkondig het.
Dit is soortgelyk aan wat gebeur het in eertydse Egipte ná die Tien Plae. Nadat Jehovah “al die gode van Egipte [geoordeel het]”, het “’n groot gemengde skare” nie-Israeliete by sy volk aangesluit (Eks. 12:12, 37, 38). Hierdie uitlanders het dalk gekies om saam met Jehovah se volk te gaan toe hulle sien hoe Moses se waarskuwings oor die Tien Plae waar word.
Enige iemand wat kies om Jehovah te gehoorsaam ná die vernietiging van Babilon die Grote, sal die geleentheid hê om Christus se broers te ondersteun wat nog op die aarde sal wees (Matt. 25:34-36, 40). Daardie geleentheid om as skape geoordeel te word, sal natuurlik kort voor Armageddon tot ’n einde kom wanneer die oorblywende gesalfdes hulle hemelse beloning ontvang.
Hierdie duideliker begrip is ’n kragtige voorbeeld van Jehovah se groot liefde en genade. Ja, hy “wil [nie] hê dat enigiemand vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal berou moet toon”. – 2 Pet. 3:9.