’n Brief van die Bestuursliggaam
Liewe broers en susters
Die profeet Jesaja het nederig erken dat enige sukses en vooruitgang wat die Koninkryk van Juda gehad het, slegs aan Jehovah se seën te danke was. In Jesaja 26:12 het hy gesê: “O Jehovah, . . . al ons werke het u vir ons verrig.” Wanneer ons nadink aan alles wat tydens die afgelope diensjaar bereik is, kom ons tot ’n soortgelyke gevolgtrekking. Jehovah doen werklik “wonderlike dinge . . . wat nog nooit” voorheen gedoen is nie! (Eks. 34:10). Dink net aan party van die seëninge wat ons uit sy hand ontvang het.
Ons amptelike webwerf, jw.org, word op ’n wonderlike manier gebruik. Die webwerf is nou beskikbaar in meer as 600 tale, en publikasies kan in meer as 750 tale gelees en afgelaai word. Hoe doeltreffend is die webwerf daarin om die waarheid aan opregtes van hart oor te dra? Kyk na hierdie voorbeeld: ’n Egpaar is deur godsdiens teleurgestel weens die huigelary wat hulle in godsdiens gesien het. In hulle soeke na geestelike leiding, het hulle op ons webwerf afgekom. Hulle het die webwerf gereeld begin besoek om artikels in ons publikasies te lees en om na video’s te kyk. Hulle het selfs die boekie Ondersoek die Skrif elke dag afgelaai, en die dagteks saam met hulle twee tieners begin lees. Trouens, dit is waarmee hulle besig was die oggend dat Jehovah se Getuies aan hulle deur geklop het. Die Getuies het verneem dat die gesin baie veranderinge aangebring het sedert hulle die webwerf begin besoek het. Hulle het hulle tatoeëermerke laat verwyder en hulle deursteekjuwele uitgehaal, hulle godsdiensbeelde weggegooi, opgehou om wêreldse vakansiedae te vier en om na slegte rolprente te kyk—en dit alles voordat hulle enige persoonlike kontak met die Getuies gehad het! Albei ouers sowel as een van die kinders is nou verkondigers, en die ouers wil binnekort gedoop word.
Ons het baie briewe van waardering vir nog ’n wonderlike voorsiening ontvang: JW Broadcasting. Die maandelikse program is nou in meer as 70 tale beskikbaar, en dit sal binnekort in meer tale beskikbaar wees. Baie gesinne kyk gedurende hulle aand vir Gesinsaanbidding na die program. Een broer sê: “Jehovah se organisasie is nou groter as ooit; en tog voel ons nader aan die hoofkwartier as ooit tevore!”
Byeenkomste is altyd ’n hoogtepunt vir Jehovah se volk, en die reeks wat gedurende die 2015-diensjaar gehou is, is beslis geen uitsondering nie. Die byeenkomsprogram het 42 video’s en kunswerke ingesluit, asook ses pragtige musiekopnames, waarvan een aan die begin van elke sessie gespeel is. ’n Ervare broer het van die byeenkoms gesê: “Dit het gelyk asof niemand in die gehoor hulle sitplek gedurende die program wou verlaat nie; hulle wou niks misloop nie.” ’n Sendeling het aangaande verlede jaar se byeenkoms gesê: “Die video’s het die waarheid en die Koninkryk vir my werkliker gemaak.”
Jehovah het ons gedurende die afgelope jaar ook met ’n paar nuwe Koninkryksliedere geseën. ’n Egpaar het geskryf: “Die nuwe liedere is soos ’n drukkie van Jehovah af. Dit het talle donker oomblikke vir ons verlig.” Ons byeenkomste het ons herinner aan die liefdevolle werk wat die Wagtoring-orkes en -koor ten behoewe van ons doen, alles tot die lof van Jehovah se naam!
Ons spoor julle almal aan om Jehovah na te volg deur diegene wat terugkeer, hartlik te verwelkom
Maak julle gemeente goed gebruik van lektuurtrollies tydens openbare getuieniswerk? Wat ’n seën was hierdie aspek van die getuieniswerk tog! Party mense wat in woongebiede met beperkte toegang of hoë woonstelgeboue woon, kom op hierdie manier vir die eerste keer met die waarheid in aanraking, en baie ander mense, insluitende onbedrywige Getuies, ontvang ook geestelike hulp. In Januarie 2015 het ’n man in Suid-Korea vir ’n Getuie by ’n lektuurtrollie verduidelik dat hy onlangs ernstig oor geestelike sake begin dink het. ’n Bybelstudie is begin. In Februarie het hy sy eerste gemeentelike vergadering bygewoon; in Maart het hy ophou rook. In April het hy die takkantoor in Suid-Korea besoek, en hy maak steeds merkwaardige geestelike vordering. Dit is net een van die tallose ondervindinge wat ons hier by die wêreldhoofkwartier ontvang het.
Dit is ons bede dat die inligting wat ons by die byeenkoms ontvang het, talle wat voorheen in Jehovah se diens bedrywig was, sal beweeg om na sy liefdevolle arms terug te keer voordat dit te laat is! Ons spoor julle almal aan om Jehovah na te volg deur diegene wat terugkeer, hartlik te verwelkom.—Eseg. 34:16.
Jehovah het werklik sy volk gedurende die afgelope diensjaar geseën. Wat kan ons nog verwag? Ons sal moet wag en sien. Tot dan moet julle onthou dat ons op die Bestuursliggaam julle almal baie liefhet en dat ons dikwels vir julle bid.
Ons wens julle alles van die beste toe.
Julle broers
Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies