HOU AAN WAAK!
Wat beteken dit om ’n Christen te wees? – Wat sê die Bybel?
Vandag is baie mense regoor die wêreld trots om te sê dat hulle Christene is, maar tog behandel hulle ander op ’n wrede manier. Party is selfsugtig, oneerlik of nie liefdevol nie. Ander is dalk ontrou aan hulle huweliksmaat. Hulle gedrag laat party mense wonder: ‘Wat beteken dit regtig om ’n Christen te wees?’
Wat dit regtig beteken om ’n Christen te wees
Dit is maklik vir iemand om te sê dat hy ’n Christen is. Maar meer is daarby betrokke. Volgens die Bybel is ’n Christen iemand wat ’n dissipel van Jesus Christus is (Handelinge 11:26). Jesus het self gesê: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle werklik my dissipels” (Johannes 8:31). Niemand kan natuurlik Jesus se woorde volmaak gehoorsaam nie. Maar ’n Christen moet Jesus se leringe toepas en dit wys deur die besluite wat hy elke dag maak. Kyk na ’n paar voorbeelde.
Christene betoon onselfsugtige liefde
Wat Jesus gesê het: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het.” – Johannes 13:34, 35.
Wat Jesus gedoen het: Jesus het onselfsugtige liefde aan almal betoon, maak nie saak hoeveel geld hulle gehad het, hoe prominent hulle was of waar hulle vandaan gekom het nie. Hy het die siekes genees, mense wat honger was, kos gegee en selfs sy lewe vir ander gegee. – Matteus 14:14-21; 20:28.
Hoe Christene optree: Christene betoon onselfsugtige liefde deur vrygewig, onpartydig en vergewensgesind te wees. Hulle help mense wat hulp nodig het en is bereid om opofferings vir ander te maak. – 1 Johannes 3:16.
Christene is eerlik
Wat Jesus gesê het: “Ek is die . . . waarheid.” – Johannes 14:6.
Wat Jesus gedoen het: Jesus was eerlik in alles wat hy gesê en gedoen het. Hy het nooit ander bedrieg of mislei deur wat hy gesê het nie. Hy was bekend vir sy eerlikheid, en hy was eerlik selfs wanneer dit probleme vir homself veroorsaak het. – Matteus 22:16; 26:63-67.
Hoe Christene optree: Christene lieg nie. Hulle betaal belasting, hulle steel nie en hulle gee hulle werkgewer ’n eerlike dag se werk (Romeine 13:5-7; Efesiërs 4:28). Hulle bedrieg nie ander vir hulle eie voordeel nie, is nie oneerlik in eksamens nie en gee nie valse inligting op werksaansoeke of soortgelyke dokumente nie. – Hebreërs 13:18.
Christene is liefdevol
Wat Jesus gesê het: “Kom na my toe, almal wat uitgeput is en ’n swaar las dra, en ek sal julle nuwe krag gee. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry. Want my juk is maklik om te dra, en my vrag is lig.” – Matteus 11:28-30.
Wat Jesus gedoen het: Jesus was liefdevol en hy het ander gemaklik laat voel om na hom toe te kom. Hy het kinders na hom toe laat kom, dié wat bedroef was, vertroos en ander met respek behandel. – Markus 10:13-15; Lukas 9:11.
Hoe Christene optree: Christene praat op ’n liefdevolle manier met ander; hulle is nie onbeskof of beledigend nie (Efesiërs 4:29, 31, 32). Hulle stel belang in ander en soek vir geleenthede om hulle te help. – Galasiërs 6:10.
Christene bly getrou aan hulle huweliksmaat
Wat Jesus gesê het: “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” – Markus 10:9.
Wat Jesus gedoen het: Al het Jesus nooit getrou nie, het hy huweliksmaats aangemoedig om getrou aan mekaar te wees (Matteus 19:9). Hy het mense gewaarsku oor dinge wat tot egbreuk kan lei en ’n verhouding tussen huweliksmaats kan vernietig. – Matteus 5:28.
Hoe Christene optree: Christene vermy dit om enige iets te doen wat nie eer aan hulle huweliksmaat betoon nie (Hebreërs 13:4). Huweliksmaats behandel mekaar met liefde en respek. – Efesiërs 5:28, 33.