DAYRELL SHARP | LEWENSVERHAAL
Met God se krag sal ons nie van hom af wegbeweeg nie
“Hy sal nie ’n maand kan uithou nie!” Dit is wat party broers in my gemeente gesê het toe ek in 1956 aansoek gedoen het om as ’n vakansiepionier te dien. Ek was 16 jaar oud. Ek is vier jaar tevore gedoop omdat ’n broer na wie ek opgekyk het, dit voorgestel het. In daardie dae was daar nog nie ’n reëling waar ouermanne seker gemaak het of ’n persoon kwalifiseer om gedoop te word nie.
Die broers het goeie rede gehad om te twyfel dat ek sou aanhou pionier. Ek was nie ’n geestelike persoon nie. Ek het nie van velddiens gehou nie en het op Sondae gebid vir reën sodat ek nie aan die bediening hoef deel te neem nie. Wanneer ek wel uitgegaan het, het ek net die tydskrifte aangebied. Ek het nooit die Bybel gebruik om ’n aanbieding te doen nie. My dierbare ma het my omgekoop om Bybelleesgedeeltes in die gemeente te doen. Ek het nie daarvan gehou om te studeer nie, en ek het nie enige doelwitte in Jehovah se diens gehad nie.
Daardie somer was daar ’n streekbyeenkoms in Cardiff, Wallis. Dit is waar my lewe heeltemal verander het. Een van die sprekers het vrae gevra wat my laat dink het. Hy het die gehoor gevra: “Het jy jouself toegewy en laat doop?” Ek het gedink: ‘Ja’. “Het jy belowe om Jehovah met jou hele hart, siel, verstand en krag te dien?” ‘Ja.’ “Het jy enige gesondheidsprobleme of gesinsverantwoordelikhede wat jou daarvan weerhou om te pionier?” ‘Nee.’ “Is daar enige rede hoekom jy nie kan pionier nie?” ‘Nee.’ “As jou antwoord op die laaste vraag nee was, hoekom pionier jy dan nie?”
Ek het skielik my situasie baie duideliker gesien. Ek het gedink: ‘Ek is nie besig om my lewe op die beste manier te gebruik nie. Ek hou nie die belofte wat ek aan Jehovah gemaak het toe ek myself aan hom toegewy het nie. Ek dien Jehovah nie heelhartig nie.’ Ek het besef dat ek my belofte aan Jehovah moet hou as ek verwag dat hy sy beloftes aan my moet hou. Daarom het ek in Oktober 1956 as ’n vakansiepionier begin dien. Vandag noem ons dit hulppionierdiens.
In 1959 is ek na Aberdeen gestuur as ’n spesiale pionier
Die volgende jaar het ek ’n gewone pionier geword en na ’n gemeente met 19 verkondigers getrek. Toe ek daar aangekom het, is ek elke week aangewys om toesprake te gee. Geduldige broers het my gehelp om die inhoud van my toesprake te verbeter en ook om ’n beter spreker te word. Twee jaar later, in 1959, was ek aangestel as ’n spesiale pionier en na Aberdeen, in die verre noorde van Skotland, gestuur. ’n Paar maande later was ek genooi om by Bethel in Londen te dien. Ek was bevoorreg om in die drukkery te werk vir die sewe jaar wat ek daar was.
Ek was lief vir die lewe in Bethel, maar ek het nou die begeerte gehad om spesiale diens in die veld te doen. Ek was jonk, gesond en bereid om op enige plek deur Jehovah gebruik te word. So in April 1965 het ek aansoek gedoen om na Gileadskool toe te gaan om as ’n sendeling opgelei te word.
Daardie jaar het ek en my kamermaat besluit om na Berlyn, Duitsland, te gaan om die streekbyeenkoms by te woon en om die Berlynse Muur te sien wat ’n paar jaar vroeër gebou is.
Eendag gedurende die streekbyeenkoms het ons die geleentheid gehad om aan die bediening deel te neem, en ek was aangewys om saam met Susanne Bandrock te werk. Ons het in 1966 getrou, en twee jaar later was ons uitgenooi om die 47ste klas van Gilead by te woon. Dit was ’n groot seën! Ons het gevoel dat die vyf maande wat ons by die skool was, te vinnig verbygegaan het. Ons was na Zaïre gestuur, wat nou die Demokratiese Republiek van die Kongo genoem word. Ons was baie geskok! Ons het baie min oor hierdie land geweet. Ons was huiwerig, maar ons het die toewysing aanvaar en op Jehovah vertrou.
In 1969 het ek en Susanne aan die Gileadskool gegradueer
Ná baie ure in lughawens en op vliegtuie het ons by Kolwezi, ’n klein myndorpie, aangekom. Ons het gewonder hoekom daar geen broers was om ons te ontmoet nie. Ons het later uitgevind dat die telegram wat die broers moes laat weet het dat ons op pad is, eers twee dae ná ons daar aangekom het. ’n Beampte by die lughawe het na ons toe gekom en iets vir ons in Frans gesê, ’n taal wat ons nog nie verstaan het nie. Die vrou voor ons het omgedraai en sy woorde vertaal: “Julle word in hegtenis geneem.”
Die beampte wat ons in hegtenis geneem het, het ’n man beveel om ons in sy kar te vat. Sy ou, klein sportmotor het twee sitplekke gehad met die enjin agter. Ek, Susanne, die beampte en die eienaar van die kar het op die een of ander manier in die kar gepas. Dit het seker gelyk soos ’n toneel uit ’n komedie terwyl ons op ’n pad vol gate geskud het met die oop bonnet wat soos ’n vis se mond aan ons tasse gekou het.
Ons het na die sendinghuis gery. Ons het nie geweet waar dit was nie, maar die beampte het wel geweet. Niemand was by die huis nie, en die hekke was gesluit. Die sendelinge was almal by internasionale byeenkomste en op vakansie. Terwyl ons in die warm son gestaan het, het ons gewonder wat volgende gaan gebeur. ’n Plaaslike broer het uiteindelik daar aangekom. Toe hy ons sien, het sy gesig verhelder en het hy stralend vir ons geglimlag. Dit het ons beter laat voel. Hy het die beampte geken, wat blykbaar gehoop het om geld by ons te kry. Nadat die broer ’n ruk lank met hom geredeneer het, het die beampte weggegaan, en kort voor lank het ons uitgepak en onsself tuis gemaak.
Buite ’n sendinghuis in Zaïre saam met Nathan H. Knorr gedurende sy besoek in 1971
Nie die tyd om van God af weg te beweeg nie
Ons het gou besef dat ons omring is deur gelukkige en liefdevolle mense wat al baie dinge verduur het. Maar ongelukkig het onrus en opstand veroorsaak dat daar in die vorige tien jaar baie geweld in die land was. Toe, in 1971, het Jehovah se Getuies die wetlike erkenning verloor wat hulle voorheen gehad het. Ons het gewonder wat ons gaan doen.
Dit was nie die tyd om van God af weg te beweeg as gevolg van vrees nie, en baie min broers en susters het dit gedoen. Daar was verskriklike groot druk op hulle gesit om hulle Christelike neutraliteit prys te gee deur ’n politieke partykaart by hulle te hê en ’n politieke kenteken te dra. As hulle nie die kenteken gedra het nie, het hulle nie toegang gehad tot die dienste van die plaaslike regering nie. Hulle was ook deur die weermag en die polisie geteister. Broers het hulle werke verloor, en kinders was uit die skool geskors. Honderde broers was tronk toe gestuur. Dit was ’n moeilike tyd. Maar die Getuies het aangehou om die goeie nuus moedig te verkondig.
Ons het volharding nodig gehad
Gedurende daardie jare het ek en Susanne baie van ons tyd gebruik om na plattelandse gebiede te reis in die kring- en streekwerk. Terwyl ons in die dorpies gebly het, het ons unieke en partykeer moeilike uitdagings gehad. Die klein strooidakhuise het skaars genoeg plek gehad om te lê. Ek kan nie onthou hoeveel keer ek my kop gestamp het wanneer ek deur die klein deuropeninge geloop het nie. Ons het gebad in water wat van stroompies en riviere gehaal is. In die aande het ons kerslig gebruik om te lees. Ons het kole gebruik om ons kos te kook. Maar vir ons was dit werklik die lewe van ’n sendeling. Dit is wat ons gekom het om te doen – ons het gevoel asof ons op die voorgrond van teokratiese aktiwiteite was.
Om by plaaslike Getuie-gesinne te bly, het ons gehelp om dinge te waardeer wat ons dalk maklik as vanselfsprekend aanvaar het: kos, water, klere en blyplek (1 Timoteus 6:8). Enige iets anders was ’n bonus. Ons onthou nog steeds daardie eenvoudige waarheid.
Alhoewel ons nie dieselfde moeilike tye as die apostel Paulus deurgemaak het nie, het dit wel soms vir ons gevoel asof ons geloof en motiewe getoets word. Ons het op paaie gery wat in ’n baie slegte toestand was of wat amper nie eers bestaan het nie. Terwyl ons op klipperige paaie gery het, het ons kar baie geskud. Partykeer het ons kar in diep sand vasgesit. Gedurende die reënseisoen het ons diep in die modder ingesink, wat soos gom vasgeklou het. Gedurende een volle dag op die pad kon ons net 70 kilometer ver ry, en ons moes ons kar 12 keer uitgrawe.
Terwyl ons in ons toewysing gedien het, het ons dikwels vasgesit op die pad
Maar ons het nog nooit so na aan Jehovah gevoel as toe ons onder moeilike omstandighede in die bos gedien het nie. Ons het geleer dat ons met Jehovah se hulp met vreugde kan volhard, al kan ons nie ’n moeilike situasie verander nie. Susanne is nie van nature iemand wat van die buitelug hou of avontuurlustig is nie, maar gedurende al ons uitdagings en moeilike tye het sy nooit gekla nie. Ons onthou daardie tye as gelukkig en vol seëninge, en ons het beslis baie uit ons ondervindinge geleer.
Gedurende ons jare in Zaïre was ek ’n paar keer gearresteer. Ek was eenkeer valslik daarvan beskuldig dat ek met diamante gesmokkel het. Dit het ons natuurlik angstig gemaak, maar ons het vir onsself gesê dat Jehovah ons sou help as hy wou hê dat ons ons bediening moes uitvoer. En hy het!
Ons hou aan met ons diens aan Jehovah
In 1981 is ons genooi om by die takkantoor in Kinshasa te dien. ’n Jaar tevore is ons werk weer wetlik erken. Die broers het ’n stuk grond gekoop om ’n groter takkantoor te bou. Toe, in Maart 1986, het die president van die land onverwags ’n wet gemaak wat die werk van Jehovah se Getuies verbied het. Daar is opgehou met die bouwerk, en kort voor lank moes die meeste van die sendelinge die land verlaat.
Ons het ’n paar jaar lank by die takkantoor in Zaïre gedien
Ons kon nog vir ’n ruk lank bly. Ons het gedoen wat ons kon om aan te hou preek, al het ons geweet dat ons die heeltyd dopgehou word. Hoewel ons versigtig was, is ek gearresteer terwyl ek ’n Bybelstudie gehou het. Ek was in ’n groot kamer gesit wat gevoel het asof dit onder die grond is. Dit was vol ander gevangenes. Dit was warm, donker en bedompig, en dit het gestink. Die enigste lig en ventilasie het van ’n klein opening in die muur gekom wat hoog gesit het. Party van die gevangenes het my gegryp en my gevat na ’n ander gevangene wat homself as hulle leier aangestel het. Hy het my beveel: “Sing ons volkslied!” Ek het geantwoord: “Ek ken dit nie.” Hulle het gesê: “Sing jou eie land se volkslied!” Ek het gesê: “Ek ken dit ook nie.” Hy het my toe omtrent 45 minute lank teen ’n muur laat staan. Uiteindelik het die plaaslike broers onderhandel dat ek vrygelaat kan word.
In 1987, kort nadat ons by die takkantoor in Zambië aangekom het
Ons kon sien dat dinge in die land nie beter sou word nie, en nie lank daarna nie is ons na Zambië gestuur. Toe ons die grens oorgesteek het, was ons hartseer maar ook verlig. Ons het gedink aan die 18 jaar wat ons saam met getroue sendelinge en die plaaslike broers en susters in ons toewysing gedien het. Hoewel die lewe partykeer stresvol was, het ons gevoel dat Jehovah ons daar geseën het. Ons het geweet dat Jehovah die heeltyd met ons was. Ons het geleer om Swahili en Frans te praat, en Susanne het ’n bietjie Lingala geleer. Ons was suksesvol in die bediening en het meer as 130 mense gehelp om tot doop te vorder. Dit het ons baie gelukkig laat voel omdat ons gehelp het om ’n fondasie te lê vir toekomstige groei. En watter groei was daar tog! In 1993 het die Hooggeregshof die verbod van 1986 ongeldig verklaar. Daar is nou meer as 240 000 Koninkryksverkondigers in Kongo.
Terwyl ons in Zambië was, het ons gesien hoe ’n nuwe takkantoor gebou is en hoe dit later uitgebrei is. Daar is nou meer as drie keer soveel bedrywige verkondigers as toe ons in 1987 hier aangekom het.
’n Lugfoto van die takkantoor in Zambië
So wat het gebeur met die jong broer wat party gesê het nie eers ’n maand in voltydse diens sou uithou nie? Met Jehovah se seën en die ondersteuning van my dierbare vrou, Susanne, is ek nou al 65 jaar lank in voltydse diens. Dit was wonderlike jare, en ek het ondervind en self gesien dat Jehovah goed is! – Psalm 34:8.
Ons weet dat ons nie spesiaal is nie. Ons het net ons bes probeer om getrou te wees aan ons toewydingsgelofte. Ons vertrou dat Jehovah sal aanhou om ons te help om nie ‘van hom af weg te beweeg’ nie, maar om ons geloof sterker te maak sodat ons “daardeur sal bly lewe”. – Hebreërs 10:39.
Ek en Susanne dien nog steeds by die takkantoor in Zambië
Kyk na die video Dayrell en Susanne Sharp: Ons het belowe om Jehovah met ons hele siel te dien.