WARREN REYNOLDS | LEWENSVERHAAL
Dankbaar dat ek die regte loopbaan gekies het
Diep in die bos in ’n baie afgeleë deel van noordwestelike Australië sit ek langs ’n flikkerende kampvuur saam met ’n paar broers en susters, en ons almal vertel stories oor hoe Jehovah ons geseën het. Ek het al baie keer langs sulke kampvure gesit, maar dikwels in verskillende lande saam met mense wat ander tale praat. Net anderkant hierdie vlamme sien ek ’n tevrede glimlag op die gesig van die vrou vir wie ek lief is. Saam het ons baie wonderlike avonture geniet terwyl ons Jehovah in plekke gedien het wat ek nooit gedink het ek sou besoek nie. Om die waarheid te sê, as ’n jongmens kon ek ’n hele ander lewe gekies het. Kom ek verduidelik.
Ek het in die afgeleë dele van Australië grootgeword. My ouers en oumas en oupas het die waarheid in die 1950’s geleer. Ek het begin preek toe ek 6 jaar oud was en is gedoop toe ek 13 jaar oud was. Ek het dikwels gedurende skoolvakansies hulppionierdiens gedoen. Ek was lief vir Jehovah en wou hom vir ewig dien.
Saam met my ouers en vier broers
Toe ek 15 jaar oud was, het my afrigters by die skool opgelet dat ek baie goed in sport was. As gevolg hiervan het verteenwoordigers van ’n professionele rugbyligaspan vir my ’n sportbeurs aangebied. Ek het gehou van die idee om ’n rugbyster te word, maar ek het myself al klaar aan Jehovah toegewy. My pa het voorgestel dat ek oor my toewyding moet nadink voordat ek besluit of ek ’n loopbaan in sport wil najaag. Ek het gedoen wat my pa voorgestel het en besef dat ek nie Jehovah ten volle kon dien en op dieselfde tyd ’n sportster kon wees nie. So, ek het die aanbod afgewys. Maande later het die Australiese Instituut van Sport in Canberra vir my nog ’n beurs aangebied – om as ’n maratonatleet te oefen met die geleentheid om Australië in die Statebondspele of die Olimpiese spele te verteenwoordig. Weereens wou ek baie graag my toewyding aan die God vir wie ek lief was, nakom – so my antwoord was nee.
Kort daarna het ek skool klaargemaak en begin pionier, ’n doelwit waaroor ek baie lank gedink het. Maar my gesin het finansieel gesukkel, so ek het ophou pionier en begin om voltyds plaasmasjinerie te bestuur. Ek was toe in my laat tienerjare en het op my eie gebly. My aanbidding het baie vinnig meganies begin word en was maar net ’n roetine. Ek was mismoedig en my verhouding met Jehovah was nie sterk nie. Ek het nie wyslik vriende gekies nie. Hulle het te veel gedrink en was onsedelik, en ek het in die versoeking gekom om dieselfde te doen. Ek het my verhouding met Jehovah afgeskeep om tydelike plesier na te jaag.
Ek moes my fokus verander, so ek het na ’n ander dorp getrek, ver weg van die invloed van my ou vriende. Ek het nader aan Jehovah gekom en planne gemaak om weer te begin pionier. Toe het ek Leann McSharry ontmoet, ’n skaam plattelandse meisie wat alreeds pionier het, en ons het vriende geword. Ons het openlik oor ons doelwitte gepraat, wat sendingdiens ingesluit het. Ons het in 1993 getrou. Ons albei wou gehad het dat Jehovah ons lewe moes rig.
Ons streef ons doelwitte na
Daardie jaar het ek by Leann aangesluit as ’n gewone pionier. Vasbeslote om ons lewe eenvoudig te hou en sonder skuld te lewe, het ons ’n ou karavaan gekoop om in te bly. Ons het ses jaar lank getrek waar Jehovah se organisasie ook al voorgestel het en los werkies gedoen om onsself te onderhou. Ons het saam met klein gemeentes gepreek in die groot, plat, droë gebiede in die afgeleë dele van Queensland. Ons het dikwels in afgesonderde plekke gekamp en vergaderinge in die bos of by ’n plaaslike gemeenskapsaal gehou. Ons was gelukkig. Maar ons het nog steeds gewonder: ‘Kan ons meer vir Jehovah doen?’ Ons het gou ’n antwoord gekry.
’n Vergadering in die bos terwyl ons in ’n afgeleë deel van Australië preek
Jehovah se organisasie het ons genooi om as sendelinge in ’n ander land te dien! Maar ons het oorweldig en onbekwaam gevoel en het getwyfel of ons goeie sendelinge kon wees sonder om by die Gileadskool opleiding te kry. Ons was lief vir die bediening, maar omdat ons nie baie Bybelstudies in ons afgeleë toewysings gehad het nie, het ons nie onsself as baie goeie onderrigters gesien nie.
Ons het vir Max Lloyd,a ’n broer van die Takkomitee, van ons bekommernisse vertel. Hy het ons verseker dat as ons onsself beskikbaar maak, al voel ons onbekwaam, Jehovah ons die vermoë sal gee om wat hy ook al van ons vra, te bereik. Hy het ons soos ’n liefdevolle pa aangemoedig, en dit het ons gehelp om ons toewysing in Sri Lanka met graagte te aanvaar.
’n Uitdagende toewysing
In 1999 het ons in Colombo, die hoofstad van Sri Lanka, aangekom. Dit was baie anders as ons rustige lewe in die afgeleë dele van Australië! Ons het te doen gekry met burgeroorlog, armoede, oorbevolking, bedelaars en moeilike tale. Tog was daar skatte in Sri Lanka – ons pragtige broers en susters sowel as tallose nederige mense wat Jehovah nog nie geken het nie.
Ons is na Kandy toe gestuur, ’n stad wat bo-op ’n pragtige plato gebou is en omring is deur teeplantasies en reënwoude. Die stad is bekend vir sy baie Boeddhistiese tempels. Net ’n paar van die plaaslike inwoners het iets oor hulle liefdevolle Skepper geweet. Ons gemeente was ’n kombinasie van broers en susters wat Singalees en Tamil gepraat het, en die vergaderinge was in albei tale gehou. Dit was moeilik om Singalees te leer, maar ons gemeente en Bybelstudente het ons pogings waardeer, selfs wanneer ons baie foute hulle laat lag het!
Ek gee ’n toespraak in Sri Lanka met behulp van tolke wat Singalees en Tamil praat
Maar die taal was nie ons grootste uitdaging nie. Vir die eerste keer in ons lewe het ons wrede teenstand teen die waarheid ervaar. By een geleentheid het ’n woedende groep ons omring. Party het ons publikasies verbrand, terwyl ander my en nog ’n broer geskop en geslaan het. Gedurende die aaklige ondervinding het ons tot Jehovah gebid om ons te help om kalm te bly en ons te onthou as ons sou sterf. Ons was baie verlig toe die groep weggegaan het. Ons het Jehovah gedank vir sy beskerming terwyl ons bewend die dorpie verlaat het.
Met verloop van tyd het ons Sri Lanka as ons tuiste beskou. Ten spyte van die oorlog wat die land verdeel het, het ons dit geniet om te sien hoe Jehovah opregte mense na sy verenigde familie getrek het. Ons het baie goeie herinneringe van hierdie pragtige eiland. Maar ná net twee jaar het die owerhede onder die druk van die godsdiensleiers ingegee, en die meeste sendelinge moes die land verlaat.
Die weke daarna was verwarrend en ontstellend. Ons het gewonder waarheen ons sou gaan. Die Bestuursliggaam het ons na Papoea-Nieu-Guinee gestuur. Ons het in September 2001 in die hoofstad, Port Moresby, aangekom.
Papoea-Nieu-Guinee – die land van die onverwagte
Al is Papoea-Nieu-Guinee baie naby aan Australië, is sy daaglikse lewe en kultuur baie anders. Ons moes weereens aanpas. Ons het Tok Pisin geleer, die taal wat die meeste gepraat word in ’n land met meer as 800 tale!
Ná drie jaar in die dorp Popondetta is ons gevra om op die kring te dien. Ons het nooit gedink dat Jehovah ons op hierdie manier kon gebruik nie! Ek het nog altyd die leiding, volwassenheid en onderrigtingsvermoë van reisende opsieners waardeer, maar ek het onbevoeg gevoel om die gemeentes in hierdie rol te dien. Sendingdiens was nog altyd my doelwit gewees. Maar ek het nooit gedink dat ek ’n kringopsiener kon word nie! Ek kan nog steeds nie glo dat Jehovah my so ’n spesiale toewysing gegee het nie.
Ons besoek ’n afgesonderde groep in die Wes-Sepik-provinsie, Papoea-Nieu-Guinee
Ek berei verslae voor om na die takkantoor te stuur nadat ons ’n afgesonderde groep in Papoea-Nieu-Guinee besoek het
In die dorpe wat ons besoek het, het ons gewoonlik elektrisiteit en water asook ’n kamer met ’n bed gehad. In afgesonderde gebiede het ons dikwels nie daardie geriewe gehad nie. Ons het in klein hutte geslaap, buite op die vuur gekook en in stroompies en riviere gebad, maar as daar krokodille naby was, het ons water in ’n emmer gaan haal en by die hut gewas.
Vir hierdie toewysing het ons meer fisiese uithouvermoë as ooit tevore nodig gehad. Maar ons was oortuig dat as ons gaan ‘met die krag wat ons het’, Jehovah ons suksesvol sal maak (Rigters 6:14). Baie van die gemeentes en groepe wat ons besoek het, was moeilik om by uit te kom omdat hulle versprei was oor digte reënwoude, kusmoerasse of ruwe berge. Ons het gereis met vierwielaangedrewe voertuie, bote, vliegtuie en dikwels net te voet om by ons broers en susters uit te kom.b
Leann is altyd reg vir enige uitdagings in velddiens
Om ’n gemeente naby die Indonesiese grens te besoek, het ons meer as 350 kilometer meestal op grondpaaie gery. Ons het meer as 200 keer op daardie roete spruite en riviere met baie min brûe oorgesteek. Oor die jare heen het ons baie ure spandeer om ons voertuig uit dik, taai modder te grawe en te stoot om uiteindelik by ons dierbare broers uit te kom wat vir ons met groot glimlagte en kos in die pot gewag het.
Die paaie in Papoea-Nieu-Guinee was ’n uitdaging!
Wanneer ons met baie klein vliegtuie hoog in die berge gegaan het, moes die vlieënier dikwels vir ’n opening in die wolke soek, net sodat hy die aanloopbaan kon sien. Dan sou hy laag oor die aanloopbaan vlieg om te kyk of daar kinders of diere is. Ons het onsself dan voorberei om op ’n modderige, ongelyke aanloopbaan te land. Die aanloopbaan was op ’n gevaarlike plek bo-op ’n berg wat meer as 2 100 meter hoog is. Partykeer kon ons net sulke afgeleë dorpies verlaat deur van ’n aanloopbaan op te styg wat net eenvoudig oor die randjie van ’n afgrond verdwyn het.c
Partykeer het ons oor steil bergpaadjies of deur moerasagtige kusgebiede gestap in warm, bedompige toestande met ons rugsakke vol publikasies en basiese benodighede. Omdat ons saam met ons getroue broers en susters was, was sulke reise kosbare geleenthede om opbouende gesprekke te hê en lekker te lag.
Op pad velddiens toe op die Keram-rivier, Papoea-Nieu-Guinee
Ons het saamgestem met hoe die apostel Paulus gevoel het in 1 Tessalonisense 2:8: “Ons was so geheg aan julle dat ons . . . ons lewe [aan julle wou gee] want ons het so lief geword vir julle.” En ons het geleer dat ons broers en susters gewillig was om dieselfde vir ons te doen. Hulle was selfs bereid om te sterf om ons teen gewapende misdaadbendes te beskerm. Eenkeer het ’n man wat ’n panga gehad het Leann gedreig. Ek kon haar nie help nie, want ek was in ’n ander deel van die dorpie. ’n Broer het vinnig tussen Leann en die man gaan staan. Ons broer was net ligtelik beseer toe ander vinnig opgetree het om die woedende man te keer. Jehovah het ons elke dag gehelp in ’n land wat meer en meer gewelddadig geword het, sodat ons kon aanhou om ons broers en susters daar te versterk.
Omdat Papoea-Nieu-Guinee beperkte mediese fasiliteite het, was dit moeilik om na ons gesondheid om te sien. In 2010 het Leann ’n lewensgevaarlike bakteriële infeksie gehad, so ons het Australië toe gevlieg vir noodbehandeling. Met Jehovah se krag het ons kalm gebly. Uiteindelik het die mediese span ’n antibiotika gevind wat gewerk het. Een van die dokters het gesê: “Julle het vir God gewerk. Nou werk hy vir julle.” ’n Hele paar maande later het ons na ons toewysing teruggekeer.
Baie om te doen in Australië
Oor die volgende jaar of wat moes Leann opvolgbehandeling in Australië kry. Toe, in 2012, het die takkantoor vir ons gesê dat ons daar moet bly om vir ons gesondheid te sorg. Omdat ons vir so baie jare weg was, was ons grootste uitdaging nie om fisies gesond te word nie, maar om verstandelik en emosioneel aan te pas. Ons was hartseer om ’n toewysing en ’n geestelike familie te verlaat waarvoor ons so lief was. Ons het gevoel dat ons op ’n manier misluk het en dat Jehovah ons nie meer so baie kon gebruik nie. En nadat ons vir so lank weg was, het ons gesukkel om Australië as ons tuiste te beskou. Op daardie stadium was die ondersteuning van ons geestelike familie uiters belangrik.
Nadat Leann se gesondheid verbeter het, het ons as spesiale pioniers in Wollongong, suid van Sydney, Nieu-Suid-Wallis, gedien. ’n Jaar of wat later was ons baie opgewonde om ’n uitnodiging na die Bybelskool vir Christenegpare (nou die Skool vir Koninkrykspredikers) te ontvang. Toe het die takkantoor van Australasië ons gevra om op die kring te dien. Ons het ’n hele paar jaar lank gemeentes en groepe in besige stede, afgesonderde woestyndorpe en vissersdorpies besoek. Ons huidige toewysing sluit die woestynagtige noordwes van Australië en die hele gebied van Timor-Leste in.
Ons preek in Timor-Leste
Aan my sy het ek ’n vrou wat baie ondersteunend en geestelik gefokus is. Sy is ’n baie kosbare geskenk van Jehovah. Leann het nog nooit enige toewysing geweier nie, maak nie saak hoe moeilik of ongemaklik die omstandighede was nie. Wanneer sy gevra word hoe sy uitdagings hanteer, sê sy: “Ek vertel vir Jehovah alles.” Dan, terwyl sy God se Woord lees, laat sy Jehovah toe om haar te leer hoe om op die beste manier te dink, te voel of op te tree.
Ek was nog nooit spyt dat ek Jehovah toegelaat het om my lewe te rig eerder as om ’n sportloopbaan in die wêreld na te jaag nie. Ek het gesien dat Jehovah ons beslis kan oplei om te bereik wat hy ook al wil hê as ons gewillig is om die werk te aanvaar wat hy ons gee. Ek het geleer dat ek elke dag moet bid om vir wysheid en heilige gees te vra wanneer ek uitdagings het of besluite moet maak. Ons liefdevolle Vader, Jehovah, het ons ’n wonderlike, vol lewe gegee, en ons is gretig om te sien wat hy nog met “kleihouers” soos ons kan bereik. – 2 Korintiërs 4:7.
a Max Lloyd se lewensverhaal is in Die Wagtoring van 15 Julie 2012, bladsye 17-21.
b Sien die Jaarboek van Jehovah se Getuies vir 2011, bladsye 130-134, vir ’n verslag oor een van ons kringbesoeke per boot.
c Sien die artikel “’n Koraalrif in die wolke” in Die Wagtoring van 1 Maart 2010, bladsye 16-17.