HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD
Omgewingsvriendelike inisiatiewe wat ons broers en die planeet bevoordeel
1 APRIL 2025
As Jehovah se Getuies weet ons dat Jehovah God binnekort sal optree om ons planeet te red van die vernietiging wat die mensdom veroorsaak het (Openbaring 11:18). Maar ons doen ook wat ons kan om na die planeet om te sien. Byvoorbeeld, ons het die geboue wat ons gebruik vir die aanbidding van Jehovah ontwerp om op ’n omgewingsvriendelike manier te funksioneer.
Omgewingsvriendelike inisiatiewe, of omgewingsvriendelike oplossings, is projekte wat op ’n manier gedoen word wat so min as moontlik skade aan die omgewing aanrig. Watter omgewingsvriendelike oplossings het ons geïmplementeer? En hoe het dit ons gehelp om bydraes wyslik te gebruik?
’n Koel oplossing vir ’n Byeenkomssaal
Die Matola-Byeenkomssaal in Mosambiek was oorspronklik gebou met oop kante en ’n eenvoudige sinkplaatdak. Hierdie dak het baie van die son se hitte in die ouditorium ingetrek, wat dit baie warm gemaak het. ’n Plaaslike broer sê: “Die hitte het ons laat sweet! Aan die einde van die program het die broers buitentoe gestorm vir vars lug en om af te koel.” Wat kon ons doen om die Byeenkomssaal ’n gemakliker plek te maak waar ons broers en susters kan leer?
Ons het besluit op ’n omgewingsvriendelike oplossing: om waaiers wat deur die wind aangedryf word, asook isolering, te installeer. Die isolering verminder die hoeveelheid hitte van die son wat in die gebou inkom, en die waaiers voorsien ’n egalige vloei van vars lug. Die waaiers het nie krag nodig nie, maar gebruik wind en die natuurlike vloei van lug om die warm lug wat in die ouditorium opbou, te verwyder. Hierdie waaiers kos omtrent R920 elk.
Waaiers wat deur die wind aangedryf word by die Matola-Byeenkomssaal
Hierdie oplossing het die gehalte van die lug by die Byeenkomssaal grootliks verbeter. Omdat die lug aanhoudend vloei, is daar minder vog en muf wat in die gebou opbou. Daar is ook minder koolstofdioksied wat opbou en ’n groter vloei van suurstof. As gevolg hiervan kan dié wat die byeenkoms bywoon, beter konsentreer en gemakliker wees. Die broer wat vroeër aangehaal is, sê: “Nou storm ons nie buitentoe sodra die program klaarmaak nie. Ons bly liewer in die ouditorium gedurende middagete en gesels met vriende. Om onder die nuwe dak te sit, voel asof ons onder ’n lekker groot boom sit!”
Ons broers geniet nou hulle byeenkomste selfs meer
Ons kry krag van die son
Ons het fotovoltaïse (PV) stelsels by baie van ons fasiliteite regoor die wêreld geïnstalleer. Hierdie stelsels gebruik sonpanele om sonlig – ’n hernieubare bron van energie – in elektrisiteit om te sit. As gevolg hiervan is ons minder afhanklik van elektrisiteit wat van dinge verkry word wat baie meer besoedeling veroorsaak, soos steenkool, olie en gas. PV-stelsels veroorsaak minder besoedeling en help ons om bydraes te spaar.
In 2023 is ’n PV-stelsel by die takkantoor in Slowenië geïnstalleer. Dit voorsien 30 persent van die elektrisiteit wat in die gebou gebruik word. As die stelsel op enige oomblik meer elektrisiteit opwek as wat die takkantoor nodig het, word die ekstra elektrisiteit deur die plaaslike gemeenskap gebruik. Hierdie PV-stelsel kos meer as R6,5 miljoen. Maar aangesien die takkantoor se elektrisiteitsrekeninge nou laer is, sal die stelsel vir homself oor vier jaar betaal.
Takkantoor in Slowenië
In 2024 het ons PV-panele en ’n groot battery by die takkantoor in Sri Lanka geïnstalleer. Daardie projek het amper R55,5 miljoen gekos, en die stelsel voorsien 70 persent van die takkantoor se elektrisiteit. Deur hierdie panele te gebruik, sal ons in drie jaar meer geld gespaar het as wat ons op die panele spandeer het. Daardie selfde jaar het ons ook ’n PV-stelsel by die takkantoor in Nederland geïnstalleer. Hierdie stelsel kos meer as R20 miljoen en voorsien 35 persent van die takkantoor se elektrisiteit. Die PV-stelsel sal oor nege jaar vir homself betaal.
Takkantoor in Nederland
Ons het ook PV-stelsels by verskillende vertaalkantore (RTO) in Mexiko geïnstalleer. Kyk na ’n voorbeeld: die Tarahumara (Sentraal) RTO in Chihuahua. In die winter kan die temperatuur tot onder 0 grade Celsius daal, en in die somer kan dit partykeer warmer as 40 grade Celsius word! Maar omdat elektrisiteit so duur is, het die broers dit vermy om die verhitting- en verkoelingstelsels te gebruik. Jonathan, ’n broer wat by die RTO werk, sê: “Ons het in die winter komberse gebruik en dik klere gedra en in die somer die vensters oopgemaak.”
In 2024 is daar ’n PV-stelsel by die RTO geïnstalleer. Hierdie stelsel kos amper R400 000, maar die geld wat dit spaar, sal die koste van die stelsel binne vyf jaar dek. Ons broers kan nou die verhitting- en verkoelingstelsels meer gereeld gebruik. Jonathan sê: “Ons geniet ons toewysing meer en ons is meer produktief. Op dieselfde tyd voel ons goed om te weet dat ons organisasie se hulpbronne op ’n effektiewe en omgewingsvriendelike manier gebruik word.”
Die Tarahumara (Sentraal)-vertaalspan werk nou in ’n gemakliker werksomgewing
Reënwater word gebruik
In Afrika het party Koninkryksale nie toegang tot ’n betroubare waterbron nie. As gevolg hiervan moet broers dalk water vir ’n hele paar kilometer tot by hulle Koninkryksaal dra. By ander sale koop broers water wat deur ’n trok afgelewer word, maar dit is duur en nie omgewingsvriendelik nie.
Om ons broers toegang tot water te gee, het ons geute en groot watertenks by baie Koninkryksale regoor Afrika geïnstalleer. Voordat hulle die toerusting installeer, vind broers uit oor dinge soos die weer en klimaat in daardie spesifieke gebied sodat hulle die beste stelsel kan ontwerp om water by daardie Koninkryksaal op te vang. Dit kos ongeveer tussen R11 000 en R55 500 om hierdie toerusting by ’n Koninkryksaal te installeer. Maar hierdie toerusting verminder dikwels die bedryfsuitgawes van die Koninkryksale aangesien die broers nie meer vir water hoef te betaal nie.
’n Watertenk by ’n Koninkryksaal in Phuthaditjhaba, Suid-Afrika
Hierdie reënwaterstelsels het ons broers bevoordeel. Noemia, ’n suster van Mosambiek, sê: “Voorheen het ons baie ver gestap om water te kry. Ons sou by die saal aankom en baie uitgeput voel. En omdat water skaars was, was dit moeilik om goeie higiëne te handhaaf. Nou kan almal hulle hande was. Ons kan Koninkryksaal toe gaan sonder om te moeg te wees om die vergadering te geniet. Baie dankie!”
’n Suster en haar seun in Suid-Afrika gebruik reënwater
Hoe betaal ons organisasie vir hierdie projekte? Deur middel van donasies vir die wêreldwye werk, waarvan baie deur verskillende metodes op donate.jw.org gemaak word. Dankie vir julle vrygewige bydraes!