Jehovah beskerm sy volk in Hongarye
HONGARYE, wat in die middel van Europa lê, het al dikwels die storms van die geskiedenis ervaar. Sy mense het al baie swaargekry ten spyte van die feit dat hulle aan die Maagd Maria opgedra is en in 1001 deur Stefanus, hulle eerste koning, gedwing is om naamchristene te word.
Deur die eeue heen is Hongarye deur talle interne botsings verswak, wat ander nasies die geleentheid gebied het om hom herhaaldelik te verower. Die inwoners van hele dorpies is gedurende hierdie botsings uitgewis en is later deur vreemdelinge vervang. Die bevolking het dus ’n mengelmoes van nasionaliteite geword. Godsdienstig gesproke het ongeveer twee derdes van die land se bevolking Katoliek gebly, hoewel die Hervorming later in sommige gebiede versprei het.
’n Beskeie begin
Dit was in 1908 dat die saadjies van Bybelwaarheid die eerste keer in Hongarye gesaai is. Dit is gedoen deur ’n vrou wat die waarheid by die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe bekend gestaan het, geleer het. As gevolg van haar prediking het baie in die goeie nuus begin belangstel. Kort daarna het twee mans wat van die Verenigde State na Hongarye teruggekeer het die goeie nuus voltyds as kolporteurs begin verkondig. Die goeie nuus het stadig maar seker versprei, en ’n drukpers is in Kolozsvár opgestel.
Die eerste betroubare verslag is in 1922 ontvang toe 67 Bybelstudente uit tien dorpe die herdenking van Christus se dood bygewoon het. Hulle getuieniswerk het onmiddellik ’n uitwerking gehad, en dit het teenkanting tot gevolg gehad omdat die geestelikes die regering en die pers beïnvloed het om die predikingswerk teë te staan.
Die aanvalle verskerp
In 1928 het die Katolieke priester Zoltán Nyisztor ’n pamflet met die titel Millennialist Bible Students uitgegee. Daarin het hy van die Bybelstudente gesê: “Hulle is erger as die rooi bolsjewiste wat met wapens aanval, want hulle mislei die onskuldiges deur agter die Bybel weg te kruip. Die Hongaarse Koninklike Staatspolisie hou hulle bedrywighede fyn dop.”
Gedurende daardie tyd het ’n ywerige broer genaamd Josef Kiss die gemeentes besoek. Die polisiesoldate het hom in die geheim agtervolg. In 1931 was hy by ’n broer se huis toe die polisie hom verras het en beveel het om onmiddellik te vertrek. Toe broer Kiss sy besittings begin inpak het, het een van die polisiesoldate hom met sy geweerkolf geslaan en gedreig: “Maak gou, of jy word deurboor!” Broer Kiss het geglimlag en gesê: “Dan sal ek gouer huis toe gaan”, met verwysing na sy hemelse hoop as ’n gesalfde Christen.
Die soldate het broer Kiss na die trein gevolg. Die gemeente in Debrecen het hom die 20ste Junie 1931 verwag, maar hy het nooit daar opgedaag nie. Die broers het tot die slotsom gekom dat sy vyande hom doodgemaak het, dat hy inderdaad ‘huis toe gegaan het’ na sy hemelse beloning toe. Hoewel die owerheid ’n einde aan sy werk gemaak het, kon hulle nooit die lig van die waarheid uitdoof nie.
Vindingrykheid was dikwels nodig om ’n getuienis te gee. In die middel-dertigerjare het ’n broer in Tiszakarád byvoorbeeld gesterf. Begrafnisse kon toe net met die toestemming van die owerheid gehou word. Die broers is net een minuut vir gebed en een minuut vir sang toegelaat. Polisiesoldate wat met gewere en bajonette na die begrafnis gekom het, moes hierdie reëling afdwing. Baie dorpsmense het gekom omdat hulle nuuskierig was oor hoe die begrafnis gehou sou word.
’n Broer het by die kis gestaan en ’n halfuur lank gebid, maar op só ’n manier dat die mense gesê het hulle het nog nooit so iets gehoor nie. “Al het ses priesters die begrafnis gehou”, het hulle gesê, “sou dit nie so roerend gewees het nie.” ’n Broer met ’n mooi stem het toe die sang ingesit, maar ’n polisiesoldaat het hom beveel om stil te bly. Die polisie het later erken dat, hoewel hulle ongemaklik gevoel het, hulle nie die gebed kon onderbreek nie.
Namate die aanvalle voortgegaan het, het Lajos Szabó, ’n priester van die Gereformeerde Kerk, die volgende in sy 1935-brosjure Antichrist by the River Tisza geskryf: “Dit was ’n geniale idee om bolsjewisme in die naam van godsdiens vir die mense op te dis . . . Marx het die voorkoms van Christus aangeneem . . . Die Antichris was hier in sy rooi gewaad saam met Jehovah se Getuies.”
Jare onder verbod
In 1939 is die werk van Jehovah se Getuies geheel en al verbied. Dit was as ’n daad “teen godsdiens en teen die gemeenskap” bestempel. Adventiste, Baptiste, Evangeliste en Presbiteriane het pamflette teen die Getuies uitgegee. Maar Jehovah het nie sy knegte in die steek gelaat nie, en Getuies in ander lande het na hulle omgesien. Daarbenewens het God se volk in Hongarye talle geloofversterkende ondervindinge gehad.
Toe ’n broer byvoorbeeld ’n rugsak vol van ons tydskrifte van Tsjeggo-Slowakye af gebring het, het die doeanebeampte gevra: “Wat is in jou rugsak?” Die broer het eerlik geantwoord: “Wagtorings.” Daarop het die beampte ’n teken met sy hand gemaak om te wys dat die broer mal is, en hom laat deurgaan. Die geestelike voedsel het dus veilig in Hongarye aangekom.
Tog het die teistering nie opgehou nie. Al hoe meer broers is gearresteer en vir verskillende tydperke gevange gehou. Toe is ’n spesiale ondersoekspan aangesê om op Jehovah se Getuies toe te slaan. In 1942 is mans, vroue en kinders byeengebring en in stalle en leë Joodse skole aangehou. Ná twee maande van marteling is hulle verhoor en skuldig bevind. Sommige is lewenslange tronkstraf opgelê; ander het tussen 2 en 15 jaar tronkstraf gekry. Drie broers—Dénes Faluvégi, András Bartha en János Konrád—is gevonnis om gehang te word, maar die vonnis is later na lewenslange tronkstraf verander. Toe is 160 broers na die dodekamp by Bor geneem. Nadat hulle die grens oorgesteek het, is daar vir hulle gesê dat hulle nooit lewend sou terugkeer nie. Van die 6 000 Jode wat na hierdie kamp weggeneem is, het slegs 83 bly lewe. Buiten vier het al die Getuies egter teruggekeer.
Daar was wel martelare onder Jehovah se Getuies. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s ’n aantal broers tereggestel. Bertalan Szabó, János Zsondor en Antal Hónis is doodgeskiet, en Lajos Deli is gehang.—Mattheüs 24:9.
’n Gunstige verandering is net tydelik
Ná die Tweede Wêreldoorlog het dinge wéér verander. ’n Koalisieregering het menseregte belowe. Die broers wat van die kampe af teruggekeer het, het onmiddellik begin preek en gemeentes georganiseer. Hulle het gemeen dat Jehovah hulle vryheid verleen het sodat hulle sy groot naam kon prys, nie sodat hulle materiële besittings kon probeer bymekaarmaak nie. Teen die einde van 1945 was daar 590 bedrywige Koninkryksverkondigers. In 1947 is ’n villa gekoop om as ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap gebruik te word, en die eerste nasionale byeenkoms is in ’n sportsaal gehou. Die opkoms was 1 200 en die Hongaarse staatspoorweg het selfs 50 persent afslag gegee vir dié wat na die byeenkoms gereis het.
Vryheid het egter nie lank geduur nie. Kort daarna het die Kommunisteparty aan bewind gekom, en die regering het verander. Die vermeerdering onder Jehovah se volk het die nuwe regering se aandag getrek, want hulle het van 1 253 verkondigers in 1947 tot 2 307 in 1950 gegroei. In daardie jaar het amptenare struikelblokke in die pad van die predikingswerk begin sit. Permitte was nodig om te preek, maar die regering het geweier om dit uit te reik, en dié wat aansoek gedoen het, is deur die lede van die Burgermag geslaan. Koerantartikels het die Getuies voortdurend as ‘agente van die imperialiste’ veroordeel. Interessant genoeg is die Getuies, voor die Kommuniste aan bewind gekom het, as ‘kommunistiese Joodse handlangers’ na detensiekampe gestuur.
Die verskrikking begin
Op 13 November 1950 is die takopsiener en vertaler (twee van dié wat vantevore die doodsvonnis opgelê is), asook die opsiener van die eerste kring, gearresteer. Hulle is na die berugte ondergrondse gevangenis by Andrássystraat 60 in Boedapest geneem om “saggemaak” te word. Hulle verhoor het op 2 Februarie die volgende jaar plaasgevind. Die takopsiener is tot tien jaar tronkstraf gevonnis, die vertaler tot nege jaar en die kringopsiener tot agt jaar. Al drie se besittings is gekonfiskeer. Gedurende die verhoor is nog vier gemeente-opsieners ’n vonnis van tussen vyf en ses jaar opgelê op aanklag dat hulle die regering probeer omverwerp het.
Die broers is in ’n hoë-sekuriteitsgevangenis geplaas waar hulle nie briewe, pakkies of besoekers kon ontvang nie. Hulle gesinne het geen nuus oor hulle gekry nie. Die wagte mag nie eens hulle name genoem het nie. Elkeen het ’n houtbordjie met ’n nommer om sy nek gehad wat hom geïdentifiseer het. Daar was selfs ’n bordjie teen die muur wat gelui het: “Moenie net die gevangenes bewaak nie; haat hulle.”
Die Getuies het hulle werk ondergronds begin doen, maar die predikingswerk het voortgegaan. Ander Getuies het in die plek van dié in die gevangenis voortgegaan. Mettertyd is die plaasvervangers ook gevang. Teen 1953 is meer as 500 van die broers skuldig bevind en tot tronkstraf gevonnis, maar die goeie nuus kon nie met kettings gebind word nie. Net ’n paar van die broers het die verloklike beloftes van die wagte geglo en hulle geloof prysgegee.
Gunstige vooruitsigte
In die herfs van 1956 het die volk teen die regering in opstand begin kom. Die Sowjetweermag het die revolusie onderdruk en die Kommunisteparty het weer die bewind oorgeneem.
Al die Getuies wat gevange geneem is, is vrygelaat, maar toe is ’n paar bekende broers na die gevangenis teruggestuur om hulle vonnis uit te dien, hoewel nuwes nie skuldig bevind is nie. Uiteindelik, in 1964, het dinge beter begin lyk. Die owerheid het nie meer begrafnisse en bruilofte onderbreek nie. Kringbyeenkomste is in die woude gehou. Hoewel party van hulle onderbreek is, is geen ander Getuies tronk toe gestuur nie.
In 1979 is broers in opsienersposisies toegelaat om die byeenkoms in Wenen by te woon. Die owerheid het ook belowe om in daardie jaar wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies te verleen, maar nog tien jaar het verloop voordat dit in werklikheid gebeur het. In 1986 is die eerste streekbyeenkoms, met die owerheid se medewete, by die Jeugpark in die Kamarawoud gehou. Daar is selfs ’n kennisgewing opgesit wat aangedui het dat dit die “Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies was. Die volgende jaar is die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms gehou en in 1988 het die broers die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms geniet.
Uiteindelik vry!
Die 27ste Junie 1989 was ’n wonderlike dag, want dit was toe dat die broers ’n dokument ontvang het wat amptelike erkenning aan die Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Hongarye verleen het. In Julie het die imposante Boedapest-sportsaal die 9 477 gehuisves wat die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms bygewoon het. Dieselfde saal is in 1990 vir die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms gebruik, en byeenkomste is ook in drie ander groot stede in Hongarye gehou.
Noudat die verbod geheel en al opgehef was, was dit moontlik om die eerste internasionale byeenkoms te organiseer. Ten spyte van die slegte weer is dit by die Népstadion in Boedapest gehou waar 40 601 byeengekom het om die hartlike broederliefde te geniet. Lede van die Bestuursliggaam het dit bygewoon en het deur hulle toesprake die broers se geloof versterk, en nuwe boeke en brosjures met prente in volkleur is by hierdie byeenkoms vrygestel.
Wat vandag gebeur
Die Hongaarse uitgawes van Die Wagtoring en die Ontwaak! word nou gelyktydig met die Engelse uitgawes uitgegee, en dít in dieselfde pragtige formaat. In 1992 het hulle die Yearbook in Hongaars begin uitgee. Die aantal verkondigers van die goeie nuus het van 6 352 in 1971 tot 13 136 in Januarie 1993 vermeerder.
Jehovah se Getuies in Hongarye geniet vandag godsdiensvryheid en preek openlik van huis tot huis. Daar is 205 gemeentes, en 27 844 het die Gedenkmaal op 17 April 1992 bygewoon. Totdat genoeg Koninkryksale beskikbaar is, gaan gemeentes voort om in skole, kultuursentrums, leë barakke en selfs in die ontruimde kantore van die Kommunisteparty te vergader. Sedert 1992 het tien gemeentes hulle eie Koninkryksaal toegewy, en ander sale is in aanbou.
Deur al die veranderinge en opstande heen het die broers getrou aan die kant van Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, gebly en aangehou preek. Die storms van die tye het hulle nie vernietig nie, want Jehovah beskerm sy volk in Hongarye.—Spreuke 18:10.
[Kaarte op bladsy 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Wenen
OOSTENRYK
Boedapest
Debrecen
HONGARYE
ROEMENIË
[Prent op bladsy 10]
Jehovah se volk kom in Boedapest byeen