Die Bybel se beskouing
Behoort vroue bedienaars te wees?
“EK IS verstom en kwaad oor die feit dat niks vir vroue verander het wat ordening betref nie”, het ’n Katolieke vrou aan die koerant USA Today geskryf. Baie mense voel soos sy. In ander godsdienste dien vroue immers as predikante, priesters, biskoppe en rabbi’s.
Godsdienste aan beide kante van die geskil—dié wat vroue verbied om bedienaars te wees en dié wat hulle toelaat om van die kansel af te preek—beweer dat hulle bly by wat die Skrif sê. Maar die Bybel ondersteun nie een van hierdie beskouings nie. Hoe kan dit wees? Om die antwoord te kry, moet ons eers ondersoek hoe die Bybel die woord “bedienaar” gebruik.
Eerste-eeuse bedienaars
Wat beteken die woord “bedienaar” vir jou? Baie sal dadelik dink aan ’n godsdiensleier, manlik of vroulik, wat ’n gemeente in aanbidding lei. Maar die Bybel gebruik die woord “bedienaar” (Grieks, di·aʹko·nos) in ’n breër sin. Neem byvoorbeeld die Christenvrou Febe, wat die apostel Paulus aan ander voorgestel het as “ons suster Febe, wat ’n dienares [di·aʹko·nos] van die gemeente in Kenchreë is”.—Romeine 16:1.
Kan jy jou voorstel dat Febe voor die gemeente in Kenchreë staan en ’n diens waarneem? Watter bediening het Febe in werklikheid uitgevoer? In sy brief aan die Filippense skryf Paulus dat sekere vroue “saam met my gewerk het . . . om die goeie nuus te verkondig”.—Ons kursiveer; Filippense 4:2, 3, Contemporary English Version.
Die vernaamste manier waarop eerste-eeuse Christene die goeie nuus verkondig het, was “in die openbaar en van huis tot huis” (Handelinge 20:20). Diegene wat aan hierdie werk deelgeneem het, was bedienaars. Dit het vroue soos Priscilla ingesluit. Sy het, tesame met haar man, “die weg van God met groter juistheid . . . uitgelê” vir ’n godvresende man wat nog nie as ’n Christen gedoop was nie (Handelinge 18:25, 26). Soos Febe was Priscilla klaarblyklik ’n doeltreffende bedienaar—soos ook baie ander vroue was.
’n Waardige rol
Was die openbare bediening ’n onbelangrike toewysing, ’n sekondêre taak wat op vroue afgeskuif is, terwyl die mans die belangrike werk gedoen het om die gemeente te lei? Glad nie, en om twee redes. Eerstens, die Bybel sê duidelik dat alle Christene—insluitende mans met gewigtige gemeentelike verantwoordelikhede—aan die openbare bediening moes deelneem (Lukas 9:1, 2). Tweedens, die openbare bediening was en is nog steeds die vernaamste manier waarop Christene van albei geslagte Jesus se bevel gehoorsaam om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak, en hulle te leer’.—Matteus 28:19, 20.
Daar is nog ’n noodsaaklike rol wat sekere vroue in die gemeente speel. Paulus het geskryf: “Die bejaarde vroue [moet] . . . onderrigters [wees] van wat goed is; dat hulle die jong vroue tot besinning kan bring, om hulle mans lief te hê, om hulle kinders lief te hê” (Titus 2:3, 4). Geestelik volwasse vroue met ondervinding in die Christelike lewenswyse het dus die voorreg om jonger en minder ervare vroue te help om tot volwassenheid te groei. Ook dit is ’n waardige, gewigtige rol.
Onderrigting in die gemeente
Nêrens in die Bybel word daar egter vir vroue gesê om voor die gemeente te staan en te onderrig nie. Die apostel Paulus het hulle eerder beveel om “tydens die vergaderinge stil te bly”. Waarom? Een rede, het hy geskryf, is sodat dinge “op ’n welvoeglike en ordelike manier” sal geskied (1 Korintiërs 14:34, 40, Today’s English Version). God het die rol om onderrigters te wees aan een groep toegewys sodat sake in die gemeente goed kan verloop. Maar let daarop dat ’n persoon nie die voorreg om ’n opsiener in die gemeente te wees, ontvang bloot omdat hy ’n man is nie; dit word slegs gegee aan dié mans wat werklik daarvoor kwalifiseer.a—1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9.
Is die rol wat God aan vroue toegewys het, vernederend? Nee. Onthou, Jehovah God orden hulle tot ’n hoë roeping—om in die openbaar van hom te getuig (Psalm 68:11). Mans en vroue onder Jehovah se Getuies van vandag wat openbare bedienaars is, het miljoene al gehelp om tot berou te kom en redding te verkry (Handelinge 2:21; 2 Petrus 3:9). Dít is ’n groot prestasie!
Die reëling vir mans en vroue bevorder vrede en bewys terselfdertyd eer aan albei geslagte. Ter toeligting: Die oë en ore van ’n voetganger vervul aanvullende rolle om hom te help om ’n besige straat oor te steek. Wanneer mans en vroue eweneens God se wil uitvoer ooreenkomstig die onderskeie rolle wat aan hulle toegewys is, seën God die gemeente met vrede.—1 Korintiërs 14:33; Filippense 4:9.b
[Voetnote]
a Let ook daarop dat ’n man se gesag in die gemeente beperk is. Hy is onderworpe aan die Christus en moet ooreenkomstig Bybelbeginsels optree (1 Korintiërs 11:3). Diegene met gemeentelike verantwoordelikhede moet ook “onderdanig aan mekaar” wees en moet nederigheid en ’n gees van samewerking aan die dag lê.—Efesiërs 5:21.
b Wanneer Christenvroue die rol respekteer wat God aan mans in die gemeente gegee het, stel hulle ook ’n voorbeeld vir die engele in die hemel.—1 Korintiërs 11:10.
HET JY AL GEWONDER?
● Hoe het vroue in die vroeë Christengemeente onderrig?—Handelinge 18:26.
● Wie is aangestel om opsieners in die gemeente te wees?—1 Timoteus 3:1, 2.
● Hoe beskou God die bediening van Christenvroue van vandag?—Psalm 68:11.
[Lokteks op bladsy 29]
“Jehovah laat die woord hoor; die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër.”—PSALM 68:11