-
’n Valse vriendOntwaak! – 2010 | Mei
-
-
’n Valse vriend
Jy het ’n “vriend” wat jy in jou jeug ontmoet het. Hy het jou volwassener laat voel en jou skynbaar gehelp om by jou portuurs in te pas. Wanneer jy gespanne was, kon jy jou altyd tot hom wend vir ’n bietjie “verligting”. Ja, jy het in baie situasies op hom begin staatmaak.
Maar mettertyd het jy sy donker kant ontdek. Hy dring daarop aan om altyd by jou te wees, selfs al maak dit jou onwelkom op party plekke. En hoewel hy jou dalk volwassener laat voel het, was dit ten koste van jou gesondheid. Boonop steel hy deel van jou salaris.
In onlangse tye het jy die verhouding probeer beëindig, maar hy het dit nie toegelaat nie. In sekere sin het hy jou baas geword. Jy wens jy het hom nooit ontmoet nie.
DIT is die verhouding wat baie rokers met die sigaret het. ’n Vrou met die naam Earline, wat 50 jaar lank gerook het, sê: “Die sigaret het my meer gehelp as om ’n ander persoon by my te hê. Dit was nie net ’n ou vriend nie—soms was dit my enigste vriend.” Maar Earline het tot die besef gekom dat die sigaret in werklikheid ’n valse sowel as ’n wrede vriend is. Ja, die openingswoorde hierbo kon op haar van toepassing gewees het—met een uitsondering. Toe sy geleer het dat dit in God se oë verkeerd is om te rook omdat dit ons godgegewe liggaam besoedel, het sy met haar gewoonte gebreek.—2 Korintiërs 7:1.
’n Man genaamd Frank het ook besluit om op te hou rook sodat hy God kan behaag. Maar ’n dag of wat nadat hy sy laaste sigaret gerook het, het hy onder sy huis rondgekruip om na ou sigaretstompies te soek wat deur die vloerplanke geval het. “Dít was die laaste strooi”, het Frank gesê. “Toe ek besef dat ek op my hande en knieë in die grond na ou stompies soek, het dit my gewalg. Ek het nooit weer gerook nie.”
Waarom het tabak so ’n houvas op mense? Navorsers het ’n aantal redes ontdek: (1) Tabakprodukte kan net so verslawend wees as dwelms. (2) Nikotien wat ingeasem word, kan die brein binne net sewe sekondes bereik. (3) Rook word dikwels deel van ’n persoon se lewe omdat dit oor die algemeen geassosieer word met etery, drinkery, geselskap, die verligting van stres, ensovoorts.
Maar soos die geval van Earline en Frank toon, is dit moontlik om van hierdie skadelike verslawing los te breek. As jy rook, maar graag wil ophou, sal die volgende artikels jou moontlik help om ’n nuwe lewenswyse te begin volg.
-
-
Raak meer gemotiveerdOntwaak! – 2010 | Mei
-
-
Raak meer gemotiveerd
“’n Vaste voorneme om te volhard in die poging om op te hou rook, is die belangrikste eienskap van rokers wat daarin slaag om op te hou.”—“Stop Smoking Now!”
EENVOUDIG gestel, as jy wil ophou rook, moet jy ten minste ’n sterk motivering hê om dit te doen. Hoe kan jy meer gemotiveerd raak? Om maar een ding te noem, dink aan hoeveel beter jy daaraan toe sal wees as jy ophou rook.
Jy sal geld spaar. ’n Pakkie sigarette per dag kan jou elke jaar tienduisende rande uit die sak jaag. “Ek het nooit besef hoeveel geld ek op tabak gemors het nie.”—Gjanoe, Nepal.
Jy behoort die lewe meer te geniet. “My lewe het begin toe ek rook opgegee het, en dit raak net al hoe beter” (Regina, Suid-Afrika). Wanneer mense ophou rook, is daar ’n aansienlike verbetering in hulle smaak- en reuksin, en gewoonlik het hulle meer energie en verbeter hulle fisiese voorkoms.
Jou gesondheid kan verbeter. “Mans en vroue van alle ouderdomme geniet groot en onmiddellike gesondheidsvoordele wanneer hulle ophou rook.”—Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming.
Jy sal meer selfvertroue hê. “Ek het opgehou rook omdat ek nie wou hê dat tabak my baas moet wees nie. Ek wou die baas van my eie liggaam wees.”—Henning, Denemarke.
Jou familie en vriende sal daarby baat vind. “Rook . . . benadeel die gesondheid van diegene om jou. . . . Studies het getoon dat tweedehandse rook elke jaar die oorsaak is van duisende sterftes as gevolg van longkanker en hartsiekte.”—Amerikaanse Kankervereniging.
Jy sal jou Skepper behaag. “Geliefdes, laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees . . . reinig” (2 Korintiërs 7:1). ‘Bied julle liggaam aan as ’n offerande wat heilig en vir God aanneemlik is.’—Romeine 12:1.
“Nadat ek geleer het dat God dinge afkeur wat die liggaam besoedel, het ek besluit om op te hou rook.”—Sylvia, Spanje.
Maar dikwels is net motivering nie genoeg nie. Ons het dalk ook die hulp van ander, insluitende ons familie en vriende, nodig. Wat kan hulle doen?
-
-
Kry hulpOntwaak! – 2010 | Mei
-
-
Kry hulp
“As iemand een alleen sou kon oorweldig, sou twee saam teen hom kon staande bly.”—Prediker 4:12.
WANNEER ons die ondersteuning van ander het, het ons ’n groter kans om ’n vyand te oorwin—ongeag wie of wat daardie vyand is. As jy dus die rookgewoonte wil oorkom, sal dit moontlik verstandig wees om die hulp in te roep van jou familie en vriende—of enigiemand wat jou opreg sal ondersteun en wat geduldig sal wees.
Dink daaraan om diegene te vra wat self die gewoonte oorkom het, aangesien hulle dalk nie net empatie sal hê nie, maar ook hulp kan voorsien. “Die ondersteuning van ander was vir my van onskatbare waarde”, sê Torben, ’n Christen in Denemarke. Abraham, wat in Indië woon, skryf: “Die opregte liefde wat my familie en mede-Christene teenoor my betoon het, het my gehelp om rook op te gee.” Maar soms is selfs die ondersteuning van familie en vriende nie genoeg nie.
“Ek het 27 jaar lank gerook”, sê ’n man met die naam Bhagwandas, “maar omdat ek geleer het wat die Bybel oor onrein gewoontes sê, het ek besluit om op te hou. Ek het minder probeer rook. Ek het ander vriende gekry. En ek het vir berading gegaan. Niks het gewerk nie. Op die ou end het ek een aand my hart voor Jehovah God in gebed uitgestort en hom gesmeek om my te help om op te hou rook. Toe het ek uiteindelik daarin geslaag!”
Nog iets wat belangrik is, is om jou voor te berei op die struikelblokke waarvoor jy moontlik te staan sal kom. Wat is hierdie struikelblokke? Die volgende artikel sal verduidelik.
[Venster op bladsy 5]
MOET JY MEDIKASIE GEBRUIK?
Medikasie wat mense help om op te hou rook, soos nikotienplakkers, het ’n multimiljardrandbedryf geword. Voordat jy so iets probeer, moet jy oor die volgende vrae nadink:
Wat is die voordele? Baie terapieë vergroot blykbaar jou kanse om op te hou rook deur die onttrekkingsimptome te verminder. Daar is egter nie eenstemmigheid oor die doeltreffendheid daarvan op die lang termyn nie.
Wat is die gevare? Sekere middels het potensiële newe-effekte soos naarheid, depressie en selfmoordgedagtes. Hou ook in gedagte dat nikotienvervangingsterapieë die dwelm eenvoudig in ’n ander vorm voorsien, tesame met sy gesondheidsgevare. Die persoon wat hiervan gebruik maak, is dus in werklikheid nog steeds in ’n toestand van verslaafdheid.
Watter alternatiewe is daar? In een opname het 88 persent van mense wat daarin geslaag het om rook op te gee, gesê dat hulle meteens heeltemal opgehou rook het, sonder om medikasie te gebruik.
-
-
Wees voorbereid op die struikelblokkeOntwaak! – 2010 | Mei
-
-
Wees voorbereid op die struikelblokke
“Ek het besluit om op te hou rook ter wille van ons pasgebore baba se gesondheid. Daarom het ek ’n ‘rook verbode’-teken in ons huis opgesit. Net een uur later het die lus vir nikotien my soos ’n tsoenami oorweldig, en ek het ’n sigaret opgesteek.”—Josjimitsoe, Japan.
SOOS Josjimitsoe se ondervinding toon, sal iemand wat rook wil opgee, voor struikelblokke te staan kom. Wat meer is, studies toon dat byna 90 persent van diegene wat struikel, bly lê deurdat hulle hulle rookgewoonte hervat. As jy dus rook probeer opgee, is die kanse groter dat jy suksesvol sal wees as jy op die struikelblokke voorbereid is. Watter struikelblokke is redelik algemeen?
Die drang na nikotien: Dit is gewoonlik drie dae ná jou laaste sigaret die ergste, en dit bedaar ná omtrent twee weke. Gedurende hierdie tyd “kom die lus in vlae; dit is nie konstant nie”, sê ’n eksroker. Maar selfs jare later kan jy skielik lus word om te rook. As dit gebeur, moet jy nie sommer ingee nie. Wag sowat vyf minute, en die begeerte behoort te verdwyn.
Ander onttrekkingsimptome: Aanvanklik vind mense dit moeiliker om wakker te bly of te konsentreer en sit hulle dalk makliker gewig aan. Hulle kan ook pyn, ’n gejeuk, gesweet en hoesbuie ervaar, asook gemoedsveranderinge soos ongeduldigheid, ’n geneigdheid tot woede of selfs depressie. Die meeste simptome bedaar egter binne vier tot ses weke.
Gedurende hierdie kritieke tyd kan jy ’n paar praktiese dinge doen wat jou sal help. Byvoorbeeld:
● Ruim meer tyd in om te slaap.
● Drink baie water of sap. Eet gesonde kos.
● Doen matige oefening.
● Haal diep asem, en stel jou voor hoe skoon lug jou longe vul.
Snellers: Dit is bedrywighede of gevoelens wat die drang om te rook, kan laat ontstaan. Byvoorbeeld, dalk het jy gewoonlik ’n sigaret gerook wanneer jy iets gedrink het. As dit die geval was, moet jy nie iets tydsaam sit en drink wanneer jy rook opgee nie. Ná verloop van tyd sal jy natuurlik weer iets rustig kan sit en drink.
Nietemin kan sielkundige assosiasies voortduur lank nadat jou liggaam nikotienvry is. “Negentien jaar nadat ek opgehou rook het”, erken Torben, wat vroeër aangehaal is, “kom ek nog steeds gedurende koffiepouses in die versoeking om te rook.” Maar oor die algemeen sal die idee dat rook en sekere bedrywighede saamgaan, mettertyd vervaag en nie meer so kragtig wees nie.
Met alkohol is die situasie anders. Trouens, terwyl jy rook probeer opgee, sal jy jou moontlik van alkohol moet onthou en plekke moet vermy waar dit bedien word, want ’n hoë persentasie van mense ondervind terugslae wanneer hulle drink. Waarom?
● Selfs klein hoeveelhede alkohol vergroot die genot wat nikotien verskaf.
● Gesellige drankgebruik en rook gaan dikwels hand aan hand.
● Alkohol belemmer oordeel en verlaag inhibisies. Die Bybel sê tereg: “Wyn . . . neem die goeie beweegrede weg.”—Hosea 4:11.
Metgeselle: Wees selektief. Byvoorbeeld, vermy onnodige omgang met mense wat rook of wat jou moontlik sal nooi om dit te doen. Bly ook weg van mense wat jou pogings om op te hou rook, probeer ondermyn, deur jou dalk daaroor te terg.
Emosies: Volgens ’n studie het byna twee derdes van mense wat ’n terugslag ondervind het, net voor hulle terugslag gespanne of kwaad gevoel. As ’n sekere gevoel die drang by jou laat ontstaan om te rook, moet jy jou aandag daarvan aflei—dalk deur water te drink, kougom te kou of ’n entjie te gaan stap. Probeer jou verstand met positiewe gedagtes vul deur miskien tot God te bid of ’n paar bladsye in die Bybel te lees.—Psalm 19:14.
Rasionalisasies om te vermy
● Ek sal net een trek neem.
Werklikheid: Net een trek kan tot 50 persent van sekere nikotienreseptors in jou brein drie uur lank bevredig. Die gevolg is dikwels ’n algehele terugslag.
● Rook help my om stres te verwerk.
Werklikheid: Studies toon dat nikotien eintlik streshormoonvlakke verhoog. Enige skynbare verligting van stres kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die tydelike afname in onttrekkingsimptome.
● Ek rook al te lank om op te hou.
Werklikheid: Pessimisme ondermyn wilskrag. Die Bybel sê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 24:10). Vermy dus pessimistiese denke. Enigiemand wat werklik wil ophou rook en wat praktiese beginsels toepas, soos dié wat in hierdie tydskrif gemeld word, kan suksesvol wees.
● Die onttrekkingsimptome is te erg vir my.
Werklikheid: Onttrekkingsimptome is weliswaar sterk, maar dit sal binne net ’n paar weke bedaar. Bly dus doelgerig! As ’n begeerte om te rook, maande of jare later weer by jou opkom, sal ook dit verbygaan, waarskynlik binne net ’n paar minute—as jy nie ’n sigaret aansteek nie.
● Ek ly aan ’n geestesiekte.
Werklikheid: As jy behandel word vir ’n geestestoestand, soos depressie of skisofrenie, kan jy jou dokter vra om jou te help om rook op te gee. Hy of sy sal jou moontlik graag wil bystaan, dalk deur jou behandeling aan te pas om te vergoed vir die uitwerking wat jou besluit op jou siekte of op jou medikasie kan hê.
● As ek ’n terugslag het, sal dit voel of ek ’n mislukking is.
Werklikheid: As jy struikel en ’n sigaret aansteek—soos die geval is met baie mense wanneer hulle rook probeer opgee—is jou situasie nie hopeloos nie. Staan eenvoudig op en probeer weer. As ’n mens val, beteken dit nie dat jy misluk het nie. As jy bly lê, het jy misluk. Hou dus aan probeer. Uiteindelik sal jy suksesvol wees!
Kyk na die ondervinding van Romualdo, wat 26 jaar lank gerook het en meer as 30 jaar gelede opgehou het. “Ek kan nie onthou hoeveel terugslae ek gehad het nie”, skryf hy. “Elke keer het ek aaklig gevoel, asof daar nie meer hoop vir my is nie. Maar nadat ek my vas voorgeneem het om ’n goeie verhouding met Jehovah God te hê en hom herhaaldelik om hulp gesmeek het, kon ek uiteindelik vir goed ophou rook.”
In die laaste artikel van hierdie reeks, sal ons nog ’n paar praktiese wenke bespreek wat jou kan help om ’n gelukkige eksroker te word.
[Venster/Prent op bladsy 7]
DODELIK IN AL SY VORME
Tabak word op baie maniere gebruik. Party tabakprodukte word selfs in gesondheids- en kruiewinkels verkoop. Nietemin is “alle vorme van tabak dodelik”, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie. Daar is ’n hele aantal tabakverwante siektes, soos kanker en hartvatsiekte, wat die dood tot gevolg kan hê. Moeders wat rook, kan ook hulle ongebore babas benadeel. In watter vorme kom tabakprodukte gewoonlik voor?
Bidi’s: Hierdie klein, handgemaakte sigarette word algemeen in Asiatiese lande gebruik. Bidi’s stel heelwat meer teer, nikotien en koolstofmonoksied vry as gewone sigarette.
Sigare: Dit word gemaak van kerftabak wat styf toegedraai word in tabakblare of in papier wat van tabak gemaak is. Omdat die tabak van sigare effens alkalies is in vergelyking met die suur tabak van sigarette, kan nikotien deur die mond geabsorbeer word, al is die sigaar nie aangesteek nie.
Kreteks, of naeltjiesigarette: Dit bevat gewoonlik omtrent 60 persent tabak en 40 persent naeltjies. Dit stel meer teer, nikotien en koolstofmonoksied vry as gewone sigarette.
Pype: Om pyp te rook, is nie ’n veilige alternatief vir sigarette nie omdat albei gewoontes tot baie van dieselfde soort kankers en ander siektes kan lei.
Rooklose tabak: Dit sluit pruimtabak en snuif in, asook gegeurde gutkha, wat in Suidoos-Asië gebruik word. Nikotien word deur die mond in die bloedstroom geabsorbeer. Om rooklose tabak te gebruik, is net so gevaarlik as om ander tabak te gebruik.
Waterpype (bonge, hookahs, nargiles, sjisjas): Met hierdie toestelle word tabakrook deur water getrek voordat dit ingeasem word. Maar die proses verminder nie noodwendig die hoeveelheid gifstowwe, insluitende kankerwekkende stowwe, wat in die longe beland nie.
[Venster/Prent op bladsy 8]
HOE OM IEMAND TE HELP OM OP TE HOU ROOK
● Wees positief. Om te prys en te beloon, werk beter as om te neul en te preek. “Ek dink jy sal dit kan doen as jy weer probeer”, vermag meer as: “Jy het al weer misluk!”
● Wees vergewensgesind. As iemand wat rook probeer opgee, sy woede of frustrasie op jou uithaal, moet jy jou bes doen om dit oor te sien. Gebruik vriendelike uitdrukkings soos: “Ek weet dit is moeilik, maar ek is so trots op jou omdat jy dit doen.” Moet nooit sê: “Ek het meer van jou gehou toe jy gerook het!” nie.
● Wees ’n ware vriend. Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). Ja, probeer “te alle tye” geduldig en liefdevol wees teenoor iemand wat rook probeer opgee—ongeag watter tyd van die dag dit is of in watter bui die persoon is.
-
-
Jy kán oorwin!Ontwaak! – 2010 | Mei
-
-
Jy kán oorwin!
DIE tyd het aangebreek vir jou om ‘moedig te wees en op te tree’ (1 Kronieke 28:10). Watter finale stappe kan jy doen om jou kans op sukses te verbeter?
Stel ’n datum vas. Die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste beveel aan dat jy, sodra jy besluit het om rook op te gee, binne twee weke jou eerste dag sonder sigarette moet hê. Sodoende sal jou motivering sterk bly. Merk die dag op jou kalender, vertel jou vriende daarvan en bly by die datum selfs al verander jou omstandighede.
Maak ’n “opgeekaart”. Dit kan die volgende inligting bevat, asook enigiets anders wat jou meer gemotiveerd kan maak:
● Die redes waarom jy ophou rook
● Telefoonnommers van mense wat jy kan bel wanneer jy voel dat die versoeking te groot raak
● Gedagtes—wat dalk Bybeltekste insluit soos Galasiërs 5:22, 23—wat jou sal help om jou doelwit te bereik
Dra jou opgeekaart te alle tye saam met jou, en lees dit verskeie kere per dag. Selfs nadat jy opgehou rook het, moet jy nog steeds na die kaart kyk wanneer jy ook al lus voel om te rook.
Tree proaktief op om assosiasies te verswak. Voor jou opgeedatum aanbreek, moet jy enige gewoontes begin verbreek wat met jou rokery verband hou. Byvoorbeeld, as jy rook sodra jy in die oggend opstaan, kan jy ’n uur of wat wag voordat jy rook. As jy gedurende ’n maaltyd of onmiddellik daarna rook, moet jy hierdie roetine breek. Vermy plekke waar ander rook. En oefen by jouself om hardop te sê: “Nee dankie. Ek het opgehou rook.” Sulke stappe sal jou nie net voorberei vir die dag waarop jy gaan ophou rook nie. Dit sal jou ook daaraan herinner dat jy binnekort ’n eksroker sal wees.
Maak gereed. Namate jou opgeedatum nader kom, moet jy ’n goeie voorraad plaasvervangers opbou, soos wortelstokkies, kougom en neute. Herinner jou vriende en familie aan jou opgeedatum en hoe hulle jou kan ondersteun. Net voor hierdie dag aanbreek, moet jy ontslae raak van asbakkies, sigaretaanstekers en enige valstrikke—soos sigarette wat in jou huis rondlê of wat in jou motor, in jou sakke of by jou werksplek is. Wees verseker dat dit moeiliker is om ’n vriend vir ’n sigaret te vra of ’n pakkie te gaan koop as om jou hand in ’n laai te steek en een uit te haal! Hou ook aan om vir God se steun te bid, en doen dit in groter erns ná jou laaste sigaret.—Lukas 11:13.
Tallose mense het al hulle “verhouding beëindig” met hulle voormalige valse, wrede vriend, die sigaret. Jy kán dit ook doen. Beter gesondheid en ’n wonderlike gevoel van vryheid wag op jou.
[Prent op bladsy 9]
Dra jou opgeekaart te alle tye saam met jou, en lees dit dikwels gedurende die dag
-