Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • “Hou vas wat jy het”
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 12

      “Hou vas wat jy het”

      FILADELFIA

      1. Jesus se sesde boodskap word gerig aan die gemeente in watter stad, en wat beteken daardie stad se naam?

      BROEDERLIKE GENEENTHEID—wat ’n gewenste eienskap! Jesus het dit ongetwyfeld in gedagte wanneer hy sy sesde boodskap gee, wat hy aan die gemeente in Filadelfia rig, want daardie naam beteken “Broederlike geneentheid”. Die bejaarde Johannes onthou nog die geleentheid, meer as 60 jaar tevore, toe Petrus Jesus drie keer daarvan verseker het dat hy, Petrus, innige geneentheid vir sy Here het (Johannes 21:15-17). Betoon die Christene in Filadelfia, op hulle beurt, broederlike geneentheid? Blykbaar doen hulle dit!

      2. Watter soort stad was Filadelfia, watter soort gemeente was daar geleë, en wat sê Jesus vir die engel van hierdie gemeente?

      2 Die Filadelfia van Johannes se dag, wat sowat 48 kilometer suidoos van Sardis (op die terrein van die hedendaagse Turkse stad Alasehir) geleë is, is ’n betreklik welvarende stad. Maar die welvaart van die Christengemeente daar is opmerkenswaardiger. Met watter vreugde moes hulle tog die bedienaar ontvang het wat na hulle gereis het, waarskynlik oor Sardis! Die boodskap wat hy bring, bevat besielende raad vir hulle. Maar eers verwys dit na die gesag van die roemryke Afsender daarvan. Hy sê: “En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfia: Hierdie dinge sê hy wat heilig is, wat waaragtig is, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak sodat niemand sal sluit nie, en sluit sodat niemand oopmaak nie.”—Openbaring 3:7.

      3. Waarom is dit gepas dat Jesus “heilig” genoem word, en hoe kan daar gesê word dat hy “waaragtig is”?

      3 Johannes het gehoor hoe Petrus vir die mens Jesus Christus sê: “U het woorde van die ewige lewe; en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is” (Johannes 6:68, 69). Aangesien Jehovah God die verpersoonliking van heiligheid is, moet sy enigverwekte Seun ook “heilig” wees (Openbaring 4:8). Jesus is ook “waaragtig”. Die Griekse woord wat hier gebruik word (a·le·thi·nosʹ), bevat die gedagte van egtheid. In hierdie sin is Jesus die ware lig en die ware brood wat uit die hemel neergedaal het (Johannes 1:9; 6:32). Hy is die ware wingerdstok (Johannes 15:1). Jesus is ook waaragtig in die sin dat hy betroubaar is. Hy praat altyd die waarheid. (Sien Johannes 8:14, 17, 26.) Hierdie Seun van God is inderdaad waardig om as Koning en Regter te dien.—Openbaring 19:11, 16.

      “Die sleutel van Dawid”

      4, 5. Met watter verbond het “die sleutel van Dawid” verband gehou?

      4 Jesus het “die sleutel van Dawid”. Hy gebruik dit om ‘oop te maak sodat niemand sal sluit nie en te sluit sodat niemand oopmaak nie’. Wat is hierdie “sleutel van Dawid”?

      5 Dit was met koning Dawid van Israel dat Jehovah ’n verbond vir ’n ewige koninkryk gesluit het (Psalm 89:1-4, 34-37). Dawid se huis het van 1070 tot 607 v.G.J. vanaf Jehovah se troon in Jerusalem regeer, maar toe is God se oordeel aan daardie koninkryk voltrek omdat dit goddeloos geword het. So het Jehovah sy profesie in Esegiël 21:27 begin vervul: “’n Puinhoop, ’n puinhoop, ’n puinhoop sal ek dit [aardse Jerusalem] maak. Ook wat dit betref, dit [die septer van koningskap in Dawid se geslag] sal beslis niemand s’n word nie totdat hy kom wat die wetlike reg het, en ek sal dit aan hom gee.”

      6, 7. Wanneer en hoe sou die een met “die wetlike reg” verskyn?

      6 Wanneer en hoe sou hierdie een met “die wetlike reg” verskyn? Hoe sou die septer van Dawid se koninkryk aan hom gegee word?

      7 Ongeveer 600 jaar later het ’n nakomeling van koning Dawid, die Joodse maagd Maria, deur heilige gees swanger geraak. God het die engel Gabriël gestuur om Maria mee te deel dat sy ’n seun sou hê, wat Jesus genoem moes word. Gabriël het bygevoeg: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”—Lukas 1:31-33.

      8. Hoe het Jesus bewys dat hy bevoeg is om die Dawidiese koningskap te erf?

      8 Toe Jesus in 29 G.J. in die Jordaanrivier gedoop en met heilige gees gesalf is, het hy die aangewese Koning in die geslag van Dawid geword. Hy het die goeie nuus van die Koninkryk met voorbeeldige ywer verkondig en sy dissipels opdrag gegee om ook te preek (Matteus 4:23; 10:7, 11). Jesus het homself verneder, selfs tot die dood aan ’n folterpaal, en het sodoende bewys dat hy ten volle bevoeg is om die Dawidiese koningskap te erf. Jehovah het Jesus as ’n onsterflike gees opgewek en hom tot Sy eie regterhand in die hemele verhef. Daar het hy al die regte van die Dawidiese koninkryk geërf. Jesus sou ná verloop van tyd sy reg uitoefen om te “gaan oorwin te midde van [sy] vyande”.—Psalm 110:1, 2; Filippense 2:8, 9; Hebreërs 10:13, 14.

      9. Hoe gebruik Jesus die sleutel van Dawid om oop te maak en te sluit?

      9 Intussen sou Jesus die sleutel van Dawid kon gebruik om geleenthede en voorregte in verband met die Koninkryk van God te open. Deur middel van Jesus sou Jehovah nou gesalfde Christene op die aarde “van die gesag van die duisternis” verlos en hulle “in die koninkryk van die Seun van sy liefde” oorbring (Kolossense 1:13, 14). Die sleutel sou ook gebruik word om enige ontroues uit te sluit van sulke voorregte (2 Timoteus 2:12, 13). Aangesien hierdie permanente erfgenaam van Dawid se koninkryk Jehovah se steun geniet, kan geen skepsel hom verhinder om sulke pligte na te kom nie.—Vergelyk Matteus 28:18-20.

      10. Watter aanmoediging gee Jesus die gemeente in Filadelfia?

      10 Jesus se woorde aan die Christene in Filadelfia moet besonder vertroostend wees, aangesien dit van so ’n gesaghebbende bron kom! Hy prys hulle deur te sê: “Ek ken jou dade—kyk! ek het ’n geopende deur voor jou gestel, wat niemand kan sluit nie—dat jy ’n bietjie krag het, en jy het my woord bewaar en my naam nie verloën nie” (Openbaring 3:8). Die gemeente was bedrywig, en ’n deur het daarvoor oopgegaan—ongetwyfeld ’n deur wat die geleentheid skep vir bedieningswerk. (Vergelyk 1 Korintiërs 16:9; 2 Korintiërs 2:12.) Jesus spoor die gemeente derhalwe aan om ten volle gebruik te maak van die geleentheid om te preek. Hulle het volhard en getoon dat hulle, met behulp van God se gees, genoeg krag het om verdere “dade” in Jehovah se diens te verrig (2 Korintiërs 12:10; Sagaria 4:6). Hulle het Jesus se bevele gehoorsaam en het Christus nie deur woord of daad verloën nie.

      ‘Hulle sal hulle voor jou neerbuig’

      11. Watter seën beloof Jesus aan die Christene, en hoe is dit verwesenlik?

      11 Jesus beloof dus aan hulle goeie resultate: “Kyk! Ek sal dié gee wat uit die sinagoge van Satan is, wat sê dat hulle Jode is, en dit tog nie is nie maar lieg—kyk! ek sal hulle laat kom en voor jou voete hulde laat bewys en hulle laat weet dat ek jou liefgehad het” (Openbaring 3:9). Soos in Smirna het die gemeente dalk probleme met die plaaslike Jode ondervind. Jesus noem hulle “die sinagoge van Satan”. Maar ten minste party van daardie Jode sal binnekort besef dat wat die Christene oor Jesus verkondig, die waarheid is. Hulle sal waarskynlik ‘hulde bewys’ op die manier wat Paulus in 1 Korintiërs 14:24, 25 beskryf het, sodat hulle in werklikheid berou toon en Christene word, met volle waardering vir die groot liefde wat Jesus getoon het deur selfs van sy siel afstand te doen ten behoewe van sy dissipels.—Johannes 15:12, 13.

      12. Waarom sou dit lede van die Joodse sinagoge in Filadelfia waarskynlik verbaas om te hoor dat party van hulle hulle voor die plaaslike Christengemeenskap sou “neerbuig”?

      12 Dit sou lede van die Joodse sinagoge in Filadelfia waarskynlik verbaas om te hoor dat party van hulle voor die plaaslike Christengemeenskap ‘hulde sou bewys’. Met die oog op die feit dat daar ongetwyfeld baie nie-Jode in daardie gemeente is, sou hulle verwag dat presies die teenoorgestelde sou gebeur. Waarom? Omdat Jesaja voorspel het: “[Nie-Joodse] konings sal vir jou [die volk Israel] oppassers word, en hulle vorstinne versorgsters vir jou. Met die gesig na die aarde sal hulle hulle voor jou neerbuig” (Jesaja 49:23; 45:14; 60:14). Sagaria is geïnspireer om in ’n soortgelyke trant te skryf: “In dié dae sal tien man [nie-Jode] uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sagaria 8:23). Ja, nie-Jode moes hulle voor Jode neerbuig, nie andersom nie!

      13. Wie was die Jode oor wie profesieë vervul sou word wat tot eertydse Israel gerig is?

      13 Daardie profesieë is tot God se uitverkore nasie gerig. Toe hulle geuiter is, het vleeslike Israel daardie ereposisie beklee. Maar toe die Joodse nasie die Messias verwerp het, het Jehovah hulle verstoot (Matteus 15:3-9; 21:42, 43; Lukas 12:32; Johannes 1:10, 11). Op Pinkster 33 G.J. het hy die ware Israel van God, die Christengemeente, in hulle plek gekies. Die lede daarvan is die geestelike Jode met die ware besnydenis van die hart (Handelinge 2:1-4, 41, 42; Romeine 2:28, 29; Galasiërs 6:16). Al manier waarop individuele vleeslike Jode daarna weer ’n begunstigde verhouding met Jehovah kon verkry, was deur geloof te stel in Jesus as die Messias (Matteus 23:37-39). Blykbaar sou dit spoedig met sommige persone in Filadelfia gebeur.a

      14. Hoe is Jesaja 49:23 en Sagaria 8:23 in hedendaagse tye op ’n betekenisvolle wyse vervul?

      14 Profesieë soos Jesaja 49:23 en Sagaria 8:23 is in hedendaagse tye op ’n uiters betekenisvolle wyse vervul. As gevolg van die predikingswerk van die Johannes-klas het groot getalle mense Koninkryksdiens deur die geopende deur betree.b Die meeste van hulle het uit die Christendom gekom, wie se godsdienste valslik beweer dat hulle geestelike Israel is. (Vergelyk Romeine 9:6.) Hierdie mense, as ’n groot menigte, was hulle klere en maak dit wit deur geloof te beoefen in Jesus se offerbloed (Openbaring 7:9, 10, 14). Hulle is gehoorsaam aan Christus se Koninkryksheerskappy en hoop dus om die seëninge daarvan hier op die aarde te beërf. Hulle kom na Jesus se gesalfde broers en ‘buig hulle’, geestelik gesproke, voor hulle ‘neer’, omdat ‘hulle gehoor het dat God met hulle is’. Hulle verrig diens aan hierdie gesalfdes, met wie hulle in ’n wêreldwye broederskap verenig word.—Matteus 25:34-40; 1 Petrus 5:9.

      “Die uur van beproewing”

      15. (a) Wat het Jesus aan die Christene in Filadelfia beloof, en wat is hulle aangespoor om te doen? (b) Watter “kroon” het die Christene uitgesien om eendag te ontvang?

      15 Jesus sê verder: “Omdat jy die woord oor my volharding bewaar het, sal ek jou ook bewaar van die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom om dié wat op die aarde woon, op die proef te stel. Ek kom gou. Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon wegneem nie” (Openbaring 3:10, 11). Hoewel die Christene van Johannes se dag nie tot die dag van die Here (wat in 1914 begin het) behoue sou bly nie, sou hulle vertroue in Jesus se koms hulle krag gee om aan te hou preek (Openbaring 1:10; 2 Timoteus 4:2). Die “kroon”, of beloning van die ewige lewe, het in die hemel op hulle gewag (Jakobus 1:12; Openbaring 11:18). As hulle tot in die dood getrou was, sou niemand hulle daardie beloning kon ontneem nie.—Openbaring 2:10.

      16, 17. (a) Wat is “die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom”? (b) Wat was die toestand van die gesalfdes aan die begin van “die uur van beproewing”?

      16 Maar wat is “die uur van beproewing”? Daardie Christene in Asië moes ongetwyfeld ’n verdere vlaag van verskriklike vervolging deur die keiserlike Romeinse Ryk verduur het.c Nietemin is die grotere vervulling die uur van sifting en oordeel wat uiteindelik gedurende die dag van die Here aangebreek en van 1918 af ’n klimaks bereik het. Die toets was om te bepaal of ’n persoon ten gunste van God se opgerigte Koninkryk of ten gunste van Satan se wêreld is. Dit duur ’n betreklike kort tydjie, ’n “uur”, maar dit is nog nie verby nie. Intussen moet ons nooit vergeet dat ons in “die uur van beproewing” lewe nie.—Lukas 21:34-36.

      17 In 1918 moes die Johannes-klas van gesalfde Christene—soos daardie getroue gemeente in Filadelfia—teenstand van die hedendaagse “sinagoge van Satan” die hoof bied. Godsdiensleiers van die Christendom, wat beweer het dat hulle geestelike Jode is, het die heersers op listige wyse gemanipuleer om ware Christene te onderdruk. Tog het hierdie Christene hard probeer om ‘die woord oor Jesus se volharding te bewaar’; gevolglik het hulle met geestelike hulp, ’n betekenisvolle “bietjie krag”, voortbestaan en is hulle gewek om in te gaan deur die deur wat nou voor hulle oopgegaan het. Hoe?

      “’n Geopende deur”

      18. Watter aanstelling het Jesus in 1919 gedoen, en hoe het die aangestelde gevolglik soos Hiskia se getroue bestuurder geword?

      18 In 1919 het Jesus sy belofte nagekom en die groepie ware gesalfde Christene as sy “getroue en verstandige slaaf” erken (Matteus 24:45-47). ’n Voorreg soortgelyk aan dié wat die getroue bestuurder Eljakim in die tyd van koning Hiskia geniet het, het hulle te beurt geval.d Jehovah het van Eljakim gesê: “Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê, en hy sal oopmaak sonder dat iemand sluit, en hy sal sluit sonder dat iemand oopmaak.” Eljakim het groot verantwoordelikhede vir Hiskia, die koninklike seun van Dawid, op hom geneem. Net so is “die sleutel van die huis van Dawid” vandag op die skouer van die gesalfde Johannes-klas gelê in die sin dat die aardse belange van die Messiaanse Koninkryk aan hulle toevertrou is. Jehovah het sy knegte vir hierdie voorreg versterk deur hulle bietjie krag te vermeerder tot dinamiese energie wat voldoende is vir ’n ontsaglike wêreldwye getuienis.—Jesaja 22:20, 22; 40:29.

      19. Hoe het die Johannes-klas die verantwoordelikhede behartig wat Jesus hulle in 1919 gegee het, en wat het dit tot gevolg gehad?

      19 Sedert 1919 het die gesalfde oorblyfsel Jesus se voorbeeld gevolg en ’n kragtige veldtog aangepak om die goeie nuus van die Koninkryk wyd en syd te verkondig (Matteus 4:17; Romeine 10:18). Gevolglik het party van die hedendaagse sinagoge van Satan, die Christendom, na hierdie gesalfde oorblyfsel gekom, berou getoon en hulle ‘neergebuig’ ter erkenning van die slaaf se gesag. Hulle het Jehovah ook eensgesind saam met die oueres van die Johannes-klas kom dien. Dit het voortgeduur totdat die volle getal van Jesus se gesalfde broers versamel is. Daarna het “’n groot menigte . . . uit alle nasies” hulle voor die gesalfde slaaf kom “neerbuig” (Openbaring 7:3, 4, 9). Die slaaf en hierdie groot menigte dien saam as die een kudde van Jehovah se Getuies.

      20. Waarom moet Jehovah se Getuies vandag besonder sterk in die geloof en bedrywig in God se diens wees?

      20 Jehovah se Getuies, wat soos die Christene in Filadelfia in ’n band van opregte broederlike geneentheid verenig is, besef vandag dat hulle predikingswerk dringend gedoen moet word. Die groot verdrukking sal binnekort die gordyn oor Satan se goddelose wêreld laat sak. Mag elkeen van ons op daardie tydstip sterk in die geloof en bedrywig in God se diens bevind word, sodat ons name nie uit Jehovah se boek van die lewe uitgewis sal word nie (Openbaring 7:14). Laat ons Jesus se vermaning aan die gemeente in Filadelfia baie ernstig opneem, sodat ons aan ons diensvoorregte kan vashou en die ewige lewe as beloning kan verkry.

      Seëninge vir die oorwinnaars

      21. Hoe het gesalfde Christene vandag ‘die woord oor Jesus se volharding bewaar’, en watter vooruitsig het hulle?

      21 Die Johannes-klas het vandag ‘die woord oor Jesus se volharding bewaar’, dit wil sê, hulle het sy voorbeeld gevolg en volhard (Hebreërs 12:2, 3; 1 Petrus 2:21). Jesus se verdere woorde aan die gemeente in Filadelfia het hulle dus grootliks aangemoedig: “Die een wat oorwin—ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar hoegenaamd nie meer uitgaan nie.”—Openbaring 3:12a.

      22. (a) Wat is die tempel van Jesus se God? (b) Hoe sal die gesalfde Christene wat oorwin, pilare in hierdie tempel word?

      22 Wat ’n voorreg is dit tog vir iemand om ’n pilaar in die tempel van Jehovah te wees! In eertydse Jerusalem was die letterlike tempel die sentrum van Jehovah se aanbidding. In die tempel het die hoëpriester, een dag elke jaar, die bloed van offerdiere geoffer voor die wonderdadige lig wat Jehovah se teenwoordigheid in “die Allerheiligste” afgebeeld het (Hebreërs 9:1-7). Toe Jesus gedoop is, het ’n ander tempel tot stand gekom, ’n groot geestelike, tempelagtige reëling vir die aanbidding van Jehovah. Die allerheiligste van hierdie tempel is in die hemel, waar Jesus gepas “voor die aangesig van God” verskyn het (Hebreërs 9:24). Jesus is die Hoëpriester, en net een offer word vir die algehele versoening van sondes gebring: die vergote bloed van die volmaakte mens Jesus (Hebreërs 7:26, 27; 9:25-28; 10:1-5, 12-14). Solank hulle getrou bly, dien gesalfde Christene op aarde as onderpriesters in die aardse voorhowe van hierdie tempel (1 Petrus 2:9). Maar wanneer hulle oorwin het, gaan hulle ook in daardie hemelse allerheiligste in en word hulle onbeweegbare stutte, soos pilare, van die tempelagtige reëling vir aanbidding (Hebreërs 10:19; Openbaring 20:6). Daar is geen gevaar dat hulle ‘meer daar sal uitgaan nie’.

      23. (a) Watter belofte maak Jesus vervolgens aan die gesalfde Christene wat oorwin? (b) Wat het die feit dat Jehovah se naam en die naam van die nuwe Jerusalem op Christenoorwinnaars geskryf word, tot gevolg?

      23 Jesus sê verder: “En ek sal op hom die naam van my God skryf en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel neerdaal, en my nuwe naam” (Openbaring 3:12b). Ja, die naam van Jehovah—hulle God en Jesus se God—word op hierdie oorwinnaars geskryf. Dit toon duidelik dat Jehovah en Jesus twee afsonderlike persone is en nie twee dele van ’n drie-enige God, of Drie-eenheid, nie (Johannes 14:28; 20:17). Die hele skepping moet besef dat hierdie gesalfdes aan Jehovah behoort. Hulle is sy getuies. Op hulle word ook geskryf die naam van die nuwe Jerusalem, die hemelse stad wat uit die hemel neerdaal in die sin dat die welwillende heerskappy daarvan oor die hele getroue mensdom uitgebrei word (Openbaring 21:9-14). Al die aardse Christenskape sal op dié manier ook weet dat hierdie gesalfde oorwinnaars burgers van die Koninkryk, die hemelse Jerusalem, is.—Psalm 87:5, 6; Matteus 25:33, 34; Filippense 3:20; Hebreërs 12:22.

      24. Wat stel Jesus se nuwe naam voor, en hoe word dit op getroue gesalfde Christene geskryf?

      24 Ten slotte word Jesus se nuwe naam op gesalfde oorwinnaars geskryf. Dit verwys na Jesus se nuwe amp en die unieke voorregte wat Jehovah aan hom gegee het (Filippense 2:9-11; Openbaring 19:12). Niemand anders leer daardie naam ken nie, in die sin dat niemand anders daardie ondervindinge het of daardie voorregte ontvang nie. Maar wanneer Jesus sy naam op sy getroue broers skryf, verkry hulle ’n intieme verhouding met hom in daardie hemelse ryk en deel hulle selfs in sy voorregte (Lukas 22:29, 30). Dit is geen wonder nie dat Jesus sy boodskap aan sulke gesalfdes afsluit deur die vermaning te herhaal: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê.”—Openbaring 3:13.

      25. Hoe kan elke individuele Christen vandag die beginsel agter Jesus se raad aan die gemeente in Filadelfia toepas?

      25 Wat ’n groot aansporing moes hierdie boodskap tog vir die getroue Christene in Filadelfia gewees het! En dit bevat beslis nou, gedurende die dag van die Here, ’n kragtige les vir die Johannes-klas. Maar die beginsels daarvan is vir elke individuele Christen belangrik, hetsy hy van die gesalfdes of van die ander skape is (Johannes 10:16). Dit sal van ons almal verstandig wees om aan te hou om Koninkryksvrugte voort te bring, soos daardie Christene in Filadelfia gedoen het. Ons almal het ten minste ’n bietjie krag. Ons almal kan iets in Jehovah se diens doen. Laat ons hierdie krag gebruik! Laat ons, wat groter Koninkryksvoorregte betref, wakker wees om in te gaan deur enige deur wat vir ons oopgaan. Ons kan selfs tot Jehovah bid om so ’n deur oop te maak (Kolossense 4:2, 3). Terwyl ons Jesus se voorbeeld van volharding volg en aan sy naam getrou bly, sal ons toon dat ons ook ’n oor het om te hoor wat God se heilige gees vir die gemeentes sê.

      [Voetnote]

      a In Paulus se tyd het Sostenes, die presiderende beampte van die Joodse sinagoge in Korinte, ’n Christenbroer geword.—Handelinge 18:17; 1 Korintiërs 1:1.

      b Die tydskrif Die Wagtoring, wat deur die Johannes-klas uitgegee word, het deurgaans beklemtoon hoe dringend dit is om hierdie geleentheid aan te gryp en soveel moontlik in die predikingswerk te doen; sien byvoorbeeld die artikels “Laat almal die heerlikheid van Jehovah verkondig” en “‘Hulle geluid het oor die hele aarde uitgegaan’” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2004. In die artikel “Geseënd is dié wat aan God heerlikheid gee”, in die nommer van 1 Junie 2004, is klem gelê op die geleentheid om die voltydse diens deur ’n “geopende deur” te betree. Daar was gedurende een maand in 2005 ’n hoogtepunt van 1 093 552 pioniers wat sulke diens gerapporteer het.

      c McClintock en Strong se Cyclopedia (Deel X, bladsy 519) sê: “Die Christelike godsdiens is onder die aandag van die keisers gebring deur die opskuddings wat onder die bevolking verwek is deur heidense priesters, wat die merkwaardige vooruitgang van daardie geloof met ontsteltenis gadegeslaan het, en Trajanus [98-117 G.J.] het gevolglik bevele uitgevaardig vir die geleidelike onderdrukking van die nuwe leer wat mense in haters van die gode verander het. Die bewind van Plinius die Jongere as goewerneur van Bitinië [wat in die noorde aan die Romeinse provinsie Asië gegrens het] is bemoeilik deur aangeleenthede wat voortgespruit het uit die vinnige uitbreiding van die Christelike godsdiens en die gevolglike woede van die heidense bevolking in sy provinsie.”

      d Die naam Hiskia beteken “Jehovah versterk”. Sien 2 Konings 16:20, voetnoot in NW.

      [Venster op bladsy 63]

      Hulp aan baie om hulle neer te buig

      Van die 144 000 gesalfdes wat die hemelse Koninkryk sal beërf, is daar klaarblyklik ’n oorblyfsel, die Johannes-klas, van minder as 9 000 wat nog hulle aardse loopbaan moet voltooi. Terselfdertyd het die groot menigte gegroei tot ’n skare van meer as 6 600 000 (Openbaring 7:4, 9). Wat het tot hierdie ontsaglike vermeerdering bygedra? Die verskillende skole wat Jehovah se Getuies gereël het, het ’n groot rol hierin gespeel. In skerp teenstelling met die kweekskole van die Christendom wat wêreldse filosofieë leer en die Bybel afkraak, bou hierdie Getuieskole sterk geloof in God se Woord op. Hulle toon hoe prakties die Bybel is wat ’n rein, sedelike lewe en toegewyde diens aan God betref. Sedert 1943 hou elke gemeente van Jehovah se Getuies regoor die aarde ’n Teokratiese Bedieningskool in sy Koninkryksaal. Miljoene woon elke week hierdie skool by, waar hulle ’n verenigde Bybelonderrigprogram volg.

      Sedert 1959 hou Jehovah se Getuies ook Koninkryksbedieningskole vir die opleiding van gemeentelike ouer manne en bedieningsknegte. En sedert 1977 het die Pionierdiensskole honderdduisende broers en susters opgelei wat Jehovah met ’n ware Filadelfiese gees voltyds in die predikingswerk dien. In 1987 is die Bedieningsopleidingskool begin om manlike Getuies vir spesiale toewysings in die wêreldveld op te lei.

      ’n Besondere skool van Jehovah se Getuies is die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Sedert 1943 het daar feitlik elke jaar twee groepe studente uit hierdie sendingskool in die staat New York gegradueer. Dit het altesaam meer as 7 000 bedienaars van Jehovah vir buitelandse sendingdiens opgelei. Die gegradueerdes van hierdie skool het al in meer as honderd lande gedien, en in baie van hierdie lande het hulle gehelp om die Koninkrykswerk aan te voor. Ná sowat 60 jaar is party van die vroeë sendelinge nog steeds bedrywig en werk hulle saam met nuwer sendelinge om die wêreldwye uitbreiding van Jehovah se organisasie te bevorder. Wat ’n wonderlike uitbreiding was dit tog!

      [Tabel op bladsy 64]

      In 1919 het die heersende Koning Jesus ’n deur oopgemaak wat die geleentheid skep vir Christelike diens. Al hoe meer toegewyde Christene benut hierdie geleentheid.

      Lande deur prediking Christene wat Voltydse Jaar bereik gepreek hete predikersf

      1918 14 3 868 591

      1928 32 23 988 1 883

      1938 52 47 143 4 112

      1948 96 230 532 8 994

      1958 175 717 088 23 772

      1968 200 1 155 826 63 871

      1978 205 2 086 698 115 389

      1988 212 3 430 926 455 561

      1998 233 5 544 059 698 781

      2005 235 6 390 022 843 234

      [Voetnote]

      e Die bogenoemde syfers is maandelikse gemiddeldes.

      f Die bogenoemde syfers is maandelikse gemiddeldes.

      [Tabel op bladsy 65]

      Die bedrywigheid van Jehovah se Getuies is heelhartig. Beskou byvoorbeeld die ure wat hulle aan die predikings- en onderrigtingswerk bestee het en die groot getal gratis Bybelstudies wat hulle in mense se huise gehou het.

      Ure van Bybelstudies gehou predikingswerk (Maandelikse

      Jaar (Jaarlikse totaal) gemiddelde)

      1918 19 116 Nie opgeteken nie

      1928 2 866 164 Nie opgeteken nie

      1938 10 572 086 Nie opgeteken nie

      1948 49 832 205 130 281

      1958 110 390 944 508 320

      1968 208 666 762 977 503

      1978 307 272 262 1 257 084

      1988 785 521 697 3 237 160

      1998 1 186 666 708 4 302 852

      2005 1 278 235 504 6 061 534

      [Prent op bladsy 59]

      ’n Romeinse sleutel van die eerste eeu

  • Koop goud wat deur vuur gelouter is
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 13

      Koop goud wat deur vuur gelouter is

      LAODISEA

      1, 2. Wat is die ligging van die laaste van die sewe gemeentes wat ’n boodskap van die verheerlikte Jesus ontvang, en wat is ’n paar kenmerke van die stad?

      LAODISEA is die laaste van die sewe gemeentes wat ’n boodskap van die verrese Jesus ontvang. En watter insiggewende, aansporende inligting dra dit tog oor!

      2 Jy sal die ruïnes van Laodisea vandag naby Denizli, ongeveer 88 kilometer suidoos van Alasehir, aantref. Laodisea was in die eerste eeu ’n welvarende stad. Aangesien dit by ’n belangrike padkruising geleë was, was dit ’n sleutelsentrum vir die bankwese en die handel. Die verkoop van ’n welbekende oogsalf het sy rykdom vergroot, en die stad was ook beroemd vir sy kledingstukke van hoë gehalte wat plaaslik uit goeie swart wol vervaardig is. ’n Gebrek aan water, ’n groot probleem vir die stad, is te bowe gekom deur water uit warmbronne ’n hele ent daarvandaan in kanale af te voer. Teen die tyd dat die water die stad bereik het, was dit dus net lou.

      3. Hoe begin Jesus sy boodskap aan die gemeente in Laodisea?

      3 Laodisea was naby Kolosse. In sy brief aan die Kolossense meld die apostel Paulus ’n brief wat hy aan die Laodiseërs gestuur het (Kolossense 4:15, 16). Ons weet nie wat Paulus in daardie brief geskryf het nie, maar die boodskap wat Jesus nou aan die Laodiseërs stuur, toon dat hulle in ’n jammerlike geestelike toestand verval het. Soos gewoonlik noem Jesus egter eers sy eie kwalifikasies deur te sê: “En skryf aan die engel van die gemeente in Laodisea: Hierdie dinge sê die Amen, die getroue en waaragtige getuie, die begin van die skepping deur God.”—Openbaring 3:14.

      4. Hoe is Jesus “die Amen”?

      4 Waarom noem Jesus homself “die Amen”? Hierdie titel verleen regterlike krag aan sy boodskap. “Amen” is ’n transliterasie van ’n Hebreeuse woord wat “beslis”, “laat dit so wees”, beteken en word aan die einde van gebede gebruik om die gedagtes wat daarin uitgedruk is, te bevestig (1 Korintiërs 14:16). Jesus is “die Amen” omdat sy vlekkelose onkreukbaarheid en sy offerdood die vervulling van al Jehovah se kosbare beloftes bevestig en gewaarborg het (2 Korintiërs 1:20). Sedertdien word alle gebede gepas deur Jesus tot Jehovah gerig.—Johannes 15:16; 16:23, 24.

      5. In watter sin is Jesus “die getroue en waaragtige getuie”?

      5 Jesus is ook “die getroue en waaragtige getuie”. Hy word in profesieë dikwels met getrouheid, waarheid en regverdigheid verbind, want hy is volkome betroubaar as ’n kneg van Jehovah God (Psalm 45:4; Jesaja 11:4, 5; Openbaring 1:5; 19:11). Hy is die grootste Getuie vir Jehovah. Trouens, as “die begin van die skepping deur God” het Jesus van die begin af God se heerlikheid bekend gemaak (Spreuke 8:22-30). As ’n mens op die aarde het hy van die waarheid getuig (Johannes 18:36, 37; 1 Timoteus 6:13). Ná sy opstanding het hy heilige gees aan sy dissipels beloof en vir hulle gesê: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” Van Pinkster 33 G.J. af het Jesus hierdie gesalfde Christene gerig om die goeie nuus “in die hele skepping wat onder die hemel is”, te verkondig (Handelinge 1:6-8; Kolossense 1:23). Jesus verdien werklik om die getroue en waaragtige getuie genoem te word. Dit sal vir die gesalfde Christene in Laodisea voordelig wees om na sy woorde te luister.

      6. (a) Hoe beskryf Jesus die geestelike toestand van die gemeente in Laodisea? (b) Watter goeie voorbeeld van Jesus het die Christene in Laodisea versuim om te volg?

      6 Watter boodskap het Jesus vir die Laodiseërs? Hy het geen lof vir hulle nie. Hy sê onomwonde: “Ek ken jou dade, dat jy nie koud of warm is nie. Ek wens jy was koud of anders warm. Omdat jy dan nou lou is en nie warm of koud nie, gaan ek jou uit my mond uitbraak” (Openbaring 3:15, 16). Hoe sou jy op so ’n boodskap van die Here Jesus Christus reageer? Sou jy nie wakker word en jouself ondersoek nie? Daardie Laodiseërs moes hulle beslis regruk, want hulle het geestelik traag geword en blykbaar te veel as vanselfsprekend aanvaar. (Vergelyk 2 Korintiërs 6:1.) Jesus, wie se voorbeeld hulle as Christene moes gevolg het, toon altyd ’n vurige ywer vir Jehovah en sy diens (Johannes 2:17). Bowendien het sagmoediges gevind dat hy altyd vriendelik en saggeaard is, so verkwikkend soos ’n koppie koue water op ’n snikhete dag (Matteus 11:28, 29). Maar die Christene in Laodisea is nie warm of koud nie. Soos die waters wat na hulle stad vloei, het hulle lou geword. Hulle loop gevaar om geheel en al deur Jesus verwerp, ‘uit sy mond uitgebraak’, te word! Mag ons, soos Jesus, altyd ywerig daarna streef om ander geestelik te verkwik.—Matteus 9:35-38.

      “Jy sê: ‘Ek is ryk’”

      7. (a) Hoe identifiseer Jesus die grondoorsaak van die probleem van die Christene in Laodisea? (b) Waarom sê Jesus dat die Christene in Laodisea “blind en naak” is?

      7 Wat is in werklikheid die grondoorsaak van die Laodiseërs se probleem? Jesus se volgende woorde gee ons ’n goeie aanduiding: “Omdat jy sê: ‘Ek is ryk en het rykdom verwerf en het hoegenaamd niks nodig nie’, maar jy nie weet dat jy ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak is nie.” (Openbaring 3:17; vergelyk Lukas 12:16-21.) Hulle woon in ’n ryk stad en is vol selfvertroue weens hulle rykdom. Hulle lewenswyse is waarskynlik beïnvloed deur die stadion, teaters en gimnasiums, sodat hulle “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” geword het (2 Timoteus 3:4).a Maar die Laodiseërs, wat materieel ryk is, is geestelik arm. Hulle het min of geen ‘skatte in die hemel opgegaar’ nie (Matteus 6:19-21). Hulle het nie hulle oog eenvoudig gehou deur God se Koninkryk eerste te stel in hulle lewe nie. Hulle is in werklikheid in duisternis, blind, sonder geestelike gesigsvermoë (Matteus 6:22, 23, 33). Wat meer is, ondanks die pragtige kledingstukke wat hulle moontlik met hulle materiële rykdom gekoop het, is hulle in Jesus se oë naak. Hulle het geen geestelike kledingstukke om hulle as Christene te identifiseer nie.—Vergelyk Openbaring 16:15.

      8. (a) In watter sin bestaan daar ook vandag ’n situasie soos dié in Laodisea? (b) Hoe het sommige Christene hulleself in hierdie hebsugtige wêreld bedrieg?

      8 Wat ’n skokkende toestand! Maar sien ons deesdae nie dikwels ’n soortgelyke situasie nie? Wat is die grondoorsaak daarvan? Dit is ’n selfversekerde gesindheid wat spruit uit vertroue op materiële besittings en menslike hulpbronne. Party onder Jehovah se volk bedrieg hulleself, net soos die kerkgangers van die Christendom, deur te dink dat hulle God kan behaag deur net af en toe vergaderinge by te woon. Hulle is daarmee tevrede om bloot vormlike “daders van die woord” te wees (Jakobus 1:22). Ondanks herhaalde waarskuwings van die Johannes-klas sit hulle hulle hart op modieuse klere, motors en huise, asook op ’n lewe wat om vermaak en genot draai (1 Timoteus 6:9, 10; 1 Johannes 2:15-17). Dit alles laat geestelike insig vervaag (Hebreërs 5:11, 12). Pleks van lusteloos lou te wees, moet hulle weer “die vuur van die gees” aanblaas en verkwikkende gretigheid om ‘die woord te verkondig’, aan die dag lê.—1 Tessalonisense 5:19; 2 Timoteus 4:2, 5.

      9. (a) Watter woorde van Jesus behoort lou Christene wakker te skud, en waarom? (b) Hoe kan die gemeente afgedwaalde “skape” help?

      9 Hoe beskou Jesus lou Christene? Sy reguit woorde behoort hulle wakker te skud: “Jy [weet nie] dat jy ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak is nie.” Hulle gewete is so gevoelloos dat hulle nie eens besef in watter verskriklike toestand hulle verkeer nie. (Vergelyk Spreuke 16:2; 21:2.) Hierdie ernstige toestand in die gemeente kan nie ligtelik opgeneem word nie. Deur ’n goeie voorbeeld van ywer te stel en liefdevolle herderswerk te doen, sal ouer manne en ander wat deur hulle aangewys word, hierdie afgedwaalde “skape” dalk kan help om hulle vroeëre vreugde in heelhartige diens te herwin.—Lukas 15:3-7.

      Raad oor hoe om ‘ryk te word’

      10. Wat is die “goud” wat Jesus die Christene in Laodisea aansê om by hom te koop?

      10 Kan daar iets omtrent die droewige situasie in Laodisea gedoen word? Ja, indien daardie Christene Jesus se raad volg: “Ek [raai] jou aan om by my goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat jy ryk kan word” (Openbaring 3:18a). Ware Christelike “goud”, wat deur vuur gelouter en waaruit al die onsuiwerhede verwyder is, sal hulle “ryk . . . teenoor God” maak (Lukas 12:21). Waar kan hulle sulke goud koop? Nie by die plaaslike bankiers nie, maar by Jesus! Die apostel Paulus het verduidelik wat hierdie goud is toe hy vir Timoteus gesê het om ryk Christene te beveel “om goed te doen, om ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam, en vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar”. Alleenlik deur hulle op hierdie manier in te span, kon hulle “’n stewige houvas op die werklike lewe . . . kry” (1 Timoteus 6:17-19). Die materieel welgestelde Laodiseërs moes op Paulus se raad ag geslaan en sodoende geestelik ryk geword het.—Sien ook Spreuke 3:13-18.

      11. Watter hedendaagse voorbeelde het ons van mense wat “goud . . . koop wat deur vuur gelouter is”?

      11 Is daar hedendaagse voorbeelde van mense wat “goud . . . koop wat deur vuur gelouter is”? Ja, daar is! Selfs terwyl die dag van die Here nader gekom het, het ’n groepie Bybelstudente bewus geword van die valsheid van die Christendom se baie Babiloniese leringe, soos die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel, foltering in die helse vuur, kinderdoop en aanbidding van beelde (insluitende die kruis en Mariabeelde). Hierdie Christene, wat voorstanders van Bybelwaarheid was, het verkondig dat Jehovah se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is en dat Jesus se losprysoffer die grondslag vir redding is. Byna 40 jaar voor die tyd het hulle gesê dat 1914 die jaar is wanneer die tye van die nasies volgens Bybelprofesie sou eindig, wat met skrikwekkende gebeurtenisse op die aarde sou gepaardgaan.—Openbaring 1:10.

      12. Wie was een van dié wat die leiding geneem het onder ontwakende Christene, en hoe het hy ’n uitmuntende voorbeeld gestel as iemand wat skatte in die hemel opgegaar het?

      12 Charles Taze Russell, wat in die vroeë 1870’s ’n Bybelstudieklas in Allegheny (nou deel van Pittsburgh), Pennsilvanië, VSA, gestig het, het die leiding geneem onder hierdie ontwakende Christene. Toe Russell na die waarheid begin soek het, was hy in vennootskap met sy vader en op pad om ’n miljoenêr te word. Maar hy het sy sakebelange in ’n kettingwinkel verkoop en sy fortuin daaraan bestee om die verkondiging van God se Koninkryk oor die hele aarde te help finansier. In 1884 het Russell die eerste president geword van die korporasie wat nou bekend staan as die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania. Hy is in 1916 naby Pampa, Texas, op ’n trein op pad na New York oorlede, uitgeput deur sy laaste predikingsreis deur die westelike Verenigde State. Hy het ’n uitmuntende voorbeeld gestel as iemand wat geestelike skatte in die hemel opgegaar het, ’n voorbeeld wat vandag deur honderdduisende selfopofferende pionierbedienaars gevolg word.—Hebreërs 13:7; Lukas 12:33, 34; vergelyk 1 Korintiërs 9:16; 11:1.

      Smeer geestelike oogsalf aan

      13. (a) Hoe sal geestelike oogsalf die toestand van die Laodiseërs verbeter? (b) Watter soort kledingstukke beveel Jesus aan, en waarom?

      13 Jesus vermaan daardie Laodiseërs ook streng: “Koop . . . wit boklere, sodat jy geklee kan word en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie, en oogsalf om in jou oë te smeer, sodat jy kan sien” (Openbaring 3:18b). Hulle moet genesing vir hulle geestelike blindheid soek deur genesende oogsalf te koop, nie dié van die plaaslike genesers nie, maar die soort wat net Jesus kan verskaf. Dít sal hulle help om geestelike onderskeidingsvermoë te verkry sodat hulle “die pad van die regverdiges” kan bewandel terwyl hulle hulle stralende oë daarop gevestig hou om God se wil te doen (Spreuke 4:18, 25-27). Sodoende kan hulle hulle klee, nie met die duur kledingstukke van swart wol wat plaaslik in Laodisea gemaak word nie, maar met pragtige “wit boklere” wat hulle bevoorregte identiteit as navolgers van Jesus Christus openbaar.—Vergelyk 1 Timoteus 2:9, 10; 1 Petrus 3:3-5.

      14. (a) Watter geestelike oogsalf is sedert 1879 beskikbaar? (b) Wat is die eintlike bron van Jehovah se Getuies se geldelike steun? (c) Hoe verskil Jehovah se Getuies van ander wat die gebruik van bydraes betref?

      14 Is geestelike oogsalf in hedendaagse tye beskikbaar? Dit is beslis! In 1879 het pastor Russell, soos hy met toegeneentheid genoem is, die tydskrif wat vandag wêreldwyd bekend staan as Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan, ter verdediging van die waarheid begin publiseer. In die tweede nommer daarvan het hy gesê: “Ons glo dat JEHOVAH die ondersteuner van [hierdie tydskrif] is, en terwyl dit die geval is, sal dit nooit bedel of mense om ondersteuning smeek nie. Wanneer Hy wat sê: ‘Al die silwer en die goud van die berge is myne’, nie die nodige geld voorsien nie, sal ons verstaan dat dit tyd is om die publikasie te staak.” Sommige televisie-evangeliste het ontsaglike fortuine vergaar en in skaamtelose (en soms onsedelike) weelde gelewe (Openbaring 18:3). Daarenteen het die Bybelstudente, wat vandag as Jehovah se Getuies bekend staan, al die vrywillige bydraes wat hulle ontvang het, gebruik om die wêreldwye verkondiging van Jehovah se inkomende Koninkryk te organiseer en te bevorder. Die Johannes-klas rig vandag nog die publikasie van Die Wagtoring en Ontwaak!, tydskrifte wat in 2006 ’n gesamentlike oplaag van meer as 59 miljoen gehad het. Die Wagtoring is in ongeveer 150 tale beskikbaar. Dit is die amptelike tydskrif van ’n gemeente van meer as sesmiljoen Christene wat sulke geestelike oogsalf gebruik het om hulle oë oop te maak vir valse godsdiens en vir die dringendheid daarvan om die goeie nuus in al die nasies te verkondig.—Markus 13:10.

      Vind baat by

      teregwysing en dissipline

      15. Waarom gee Jesus die Christene in Laodisea reguit raad, en hoe moet die gemeente daarop reageer?

      15 Laat ons nou na die Laodiseërs terugkeer. Hoe sal hulle op Jesus se streng raad reageer? Moet hulle mismoedig raak en dink dat Jesus hulle nie meer as sy volgelinge wil hê nie? Nee, dit is glad nie die geval nie. Die boodskap sê verder: “Almal vir wie ek geneentheid het, wys ek tereg en dissiplineer ek. Wees dus ywerig en toon berou” (Openbaring 3:19). Soos in die geval van Jehovah se dissipline, is Jesus se dissipline ’n blyk van sy liefde (Hebreërs 12:4-7). Die gemeente in Laodisea moet by sy liefderyke besorgdheid baat vind en sy raad toepas. Hulle moet berou toon en erken dat hulle louheid op sonde neerkom (Hebreërs 3:12, 13; Jakobus 4:17). Laat die ouer manne hulle materialistiese weë agterlaat en die gawe wat hulle van God ontvang het, ‘soos ’n vuur aanwakker’. Laat almal in die gemeente, danksy die werking van die geestelike oogsalf, verkwikking vind, soos dié wat ’n verkoelende drankie koue fonteinwater bied.—2 Timoteus 1:6; Spreuke 3:5-8; Lukas 21:34.

      16. (a) Hoe word Jesus se liefde en geneentheid vandag getoon? (b) Hoe moet ons reageer as ons reguit raad ontvang?

      16 Wat van ons vandag? Jesus het nog steeds ‘dié lief wat syne is en in die wêreld is’. Dit sal die geval wees “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Johannes 13:1; Matteus 28:20). Sy liefde en geneentheid word deur middel van die hedendaagse Johannes-klas en die sterre, of ouer manne, in die Christengemeente getoon (Openbaring 1:20). In hierdie uiters beproewende tye wil die ouer manne ons almal, oud en jonk, baie graag help om binne die grense van die teokratiese kraal te bly en die onafhanklikheid, die materialistiese hebsug en die onsedelike smerigheid van die wêreld te weerstaan. As ons soms reguit raad of streng dissipline ontvang, moet ons onthou dat “die teregwysings van dissipline . . . die weg van die lewe” is (Spreuke 6:23). Ons is almal onvolmaak en moet ywerig wees om berou te toon wanneer dit nodig is sodat ons reggehelp kan word en in God se liefde kan bly.—2 Korintiërs 13:11.

      17. Hoe kan rykdom vir ons geestelik gevaarlik wees?

      17 Ons moenie toelaat dat materialisme, rykdom of die gebrek aan rykdom ons lou maak nie. Rykdom kan help om nuwe diensmoontlikhede te skep, maar dit kan ook gevaarlik wees (Matteus 19:24). ’n Welgestelde persoon dink dalk dat hy nie so ywerig soos ander in die predikingswerk hoef te wees nie, mits hy van tyd tot tyd groot skenkings doen. Of hy dink dalk dat sy rykdom hom geregtig maak op gunste. Daarbenewens kan ’n ryk persoon baie vorme van genot en vermaak geniet wat ander nie kan bekostig nie. Maar hierdie dinge neem tyd in beslag, en dit kan die onbehoedsames se aandag van die Christelike bediening aflei, wat die onverstandige persoon laat lou word. Mag ons al sulke strikke vermy en heelhartig aanhou om ‘hard te werk en ons in te span’, met die ewige lewe in die vooruitsig.—1 Timoteus 4:8-10; 6:9-12.

      ‘Die aandmaal eet’

      18. Watter geleentheid bied Jesus die Christene in Laodisea?

      18 Jesus sê verder: “Kyk! Ek staan by die deur en klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal ek in sy huis inkom en die aandmaal saam met hom eet, en hy saam met my” (Openbaring 3:20). As die Christene in Laodisea Jesus maar net in hulle gemeente wil verwelkom, sal hy hulle help om hulle louheid te bowe te kom!—Matteus 18:20.

      19. Wat bedoel Jesus wanneer hy beloof om die aandmaal saam met die gemeente in Laodisea te eet?

      19 Jesus se melding van die aandmaal herinner die Laodiseërs ongetwyfeld aan die kere toe hy maaltye saam met sy dissipels geëet het (Johannes 12:1-8). Sulke geleenthede het altyd vir die aanwesiges geestelike seëninge meegebring. Daar was ook ná Jesus se opstanding opmerkenswaardige geleenthede toe hy saam met sy dissipels by ’n maaltyd was, en hierdie geleenthede het hulle baie versterk (Lukas 24:28-32; Johannes 21:9-19). Sy belofte om in die gemeente in Laodisea in te kom en die aandmaal saam met hulle te eet, is dus ’n belofte om vir hulle ryk geestelike voordele te bring as hulle hom maar net wil ontvang.

      20. (a) Wat het die Christendom se louheid aan die begin van die dag van die Here tot gevolg gehad? (b) Watter uitwerking het Jesus se oordeel op die Christendom gehad?

      20 Jesus se liefdevolle vermaning aan die Laodiseërs het vandag vir die oorblywende gesalfde Christene groot betekenis. Party van hulle onthou dat die lidmate van die Christendom se godsdienste aan die begin van die dag van die Here in ’n skokkende mate lou was. Pleks van ons Here se terugkeer in 1914 te verwelkom, het die geestelikes verwikkel geraak in die slagting van die Eerste Wêreldoorlog, waarin 24 van die 28 strydende nasies beweer het dat hulle Christelik is. Hoe groot is hulle bloedskuld tog! Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, wat ook hoofsaaklik in die Christendom gevoer is, het valse godsdiens se sondes weer eens “tot aan die hemel opgehoop” (Openbaring 18:5). Bowendien het die geestelikes Jehovah se inkomende Koninkryk die rug toegekeer deur die Volkebond, die Verenigde Nasies en nasionalistiese, revolusionêre bewegings te steun, waarvan nie een die mensdom se probleme kan oplos nie. Jesus het die geestelikes lankal verwerp, hulle veroordeel en weggegooi, net soos ’n visser ontslae raak van visse wat hy in sy sleepnet gevang het, maar wat nie geskik is nie. Die jammerlike toestand waarin die Christendom se kerke vandag verkeer, getuig van haar veroordeling. Mag haar uiteindelike lot vir ons ’n waarskuwing wees!—Matteus 13:47-50.

      21. Hoe het Christene in die ware gemeente vanaf 1919 op Jesus se woorde aan die Christene in Laodisea gereageer?

      21 Selfs in die ware gemeente is daar lou persone wat soos ’n drankie is wat nie prikkelend warm of verkwikkend koud is nie. Maar Jesus het sy gemeente nog steeds innig lief. Hy stel hom beskikbaar vir Christene wat met gasvryheid reageer, en baie het hom verwelkom, asof vir ’n aandmaal. Gevolglik is hulle oë vanaf 1919 oopgemaak vir die betekenis van Bybelprofesieë. Hulle het ’n tydperk van groot verligting geniet.—Psalm 97:11; 2 Petrus 1:19.

      22. Watter toekomstige aandmaal het Jesus moontlik in gedagte gehad, en wie sal dit eet?

      22 Toe Jesus aan die Laodiseërs geskryf het, het hy moontlik ook ’n ander aandmaal in gedagte gehad. Later in Openbaring lees ons: “Gelukkig is dié wat na die aandmaal van die Lam se huwelik genooi is.” Dit is die majestueuse oorwinningsmaal tot lof van Jehovah nadat hy oordeel aan valse godsdiens voltrek het—’n feesmaal wat Christus en sy voltallige bruid van 144 000 in die hemel saam geniet (Openbaring 19:1-9). Ontvanklike lede van daardie eertydse gemeente in Laodisea—ja, en getroue hedendaagse broers van Christus Jesus, wat skoon kledingstukke van identifikasie as ware gesalfde Christene dra—sal almal daardie aandmaal saam met hulle Bruidegom eet (Matteus 22:2-13). Wat ’n kragtige aansporing is dit tog om ywerig te wees en berou te toon!

      ’n Troon vir die oorwinnaars

      23, 24. (a) Van watter verdere beloning praat Jesus? (b) Wanneer het Jesus op sy Messiaanse troon gaan sit, en wanneer het hy verklaarde Christene begin oordeel? (c) Watter wonderlike belofte het Jesus aan sy dissipels gemaak toe hy die Herdenking van sy dood ingestel het?

      23 Jesus praat van ’n verdere beloning en sê: “Aan die een wat oorwin, sal ek gee om saam met my op my troon te sit, net soos ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openbaring 3:21). Ter vervulling van Dawid se woorde in Psalm 110:1, 2 is Jesus, wat sy onkreukbaarheid gehandhaaf en die wêreld oorwin het, in 33 G.J. opgewek en verhef om saam met sy Vader op Sy hemelse troon te sit (Handelinge 2:32, 33). In ’n ander kritieke jaar, 1914, het Jesus gekom om as Koning en Regter op sy eie Messiaanse troon te gaan sit. Die oordeel het blykbaar in 1918 by verklaarde Christene begin. Gesalfde oorwinnaars wat voor daardie tyd gesterf het, sou toe opgewek word en by Jesus in sy Koninkryk aansluit (1 Petrus 4:17). Hy het dit aan hulle beloof toe hy die Herdenking van sy dood ingestel en vir sy dissipels gesê het: “Ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.”—Lukas 22:28-30.

      24 Wat ’n wonderlike toewysing—om tydens “die herskepping” saam met die heersende Koning te sit en saam met hom, op grond van sy volmaakte offer, ’n aandeel daaraan te hê om die wêreld van die gehoorsame mensdom tot volmaaktheid soos dié in die tuin van Eden te verhef! (Matteus 19:28; 20:28). Soos Johannes ons meedeel, maak Jesus dié wat oorwin, “’n koninkryk . . . , priesters vir sy God en Vader”, om op trone rondom Jehovah se luisterryke hemelse troon te sit (Openbaring 1:6; 4:4). Laat ons almal—hetsy van die gesalfdes of van die “nuwe aarde”-gemeenskap wat hoop om ’n aandeel te hê aan die herstel van die Paradys—Jesus se woorde aan die Laodiseërs ter harte neem!—2 Petrus 3:13; Handelinge 3:19-21.

      25. (a) Hoe sluit Jesus, soos met vorige boodskappe, sy boodskap aan Laodisea af? (b) Hoe moet individuele Christene vandag op Jesus se woorde aan die gemeente in Laodisea reageer?

      25 Soos met vorige boodskappe, sluit Jesus hierdie boodskap met ’n vermaning af: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê” (Openbaring 3:22). Ons lewe diep in die tyd van die einde. Daar is oral om ons bewyse dat die Christendom koud is wat liefde betref. Mag ons as ware Christene daarenteen geesdriftig reageer op Jesus se boodskap aan die gemeente in Laodisea, ja, op al sewe van ons Here se boodskappe aan die gemeentes. Ons kan dit doen deur ’n ywerige aandeel te hê aan die vervulling van Jesus se groot profesie vir ons dag: “En hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:12-14.

      26. Wanneer praat Jesus weer regstreeks met Johannes, maar waaraan neem hy deel?

      26 Dit is die einde van Jesus se raad aan die sewe gemeentes. Hy praat eers weer in die laaste hoofstuk van Openbaring met Johannes; maar hy neem deel aan baie van die visioene deur byvoorbeeld Jehovah se oordele te voltrek. Laat ons nou die tweede merkwaardige visioen wat deur die Here Jesus Christus geopenbaar is, saam met die Johannes-klas ondersoek.

      [Voetnoot]

      a Hierdie plekke is tydens argeologiese opgrawings op die terrein van Laodisea gevind.

      [Venster op bladsy 73]

      Materialisme versus wysheid

      In 1956 het ’n nuusrubriekskrywer geskryf: “Daar word geskat dat die deursneemens ’n eeu gelede 72 dinge wou hê, waarvan 16 as noodsaaklikhede beskou is. Vandag word daar geskat dat die deursneemens 474 dinge wil hê, waarvan 94 as noodsaaklikhede beskou word. ’n Eeu gelede is 200 artikels deur verkoopkuns aan die deursneemens opgedring—maar vandag is daar 32 000 artikels wat kopersweerstand verg. Die mens se noodsaaklike behoeftes is min—die dinge wat hy wil hê, ontelbaar.” Vandag word mense gebombardeer met die idee dat materiële rykdom en besittings die belangrikste ding in die lewe is. Baie mense slaan dus die wyse raad van Prediker 7:12 in die wind: “Wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien; maar die voordeel van kennis is dat wysheid die besitters daarvan in die lewe hou.”

      [Prent op bladsy 67]

      Die water wat Laodisea bereik het, was onaangenaam lou. Christene in Laodisea het ’n onbevredigende lou gees geopenbaar

  • Die luisterrykheid van Jehovah se hemelse troon
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 14

      Die luisterrykheid van Jehovah se hemelse troon

      Visioen 2—Openbaring 4:1–5:14

      Onderwerp: Ontsagwekkende gebeure voor God se oordeelstroon

      Tyd van vervulling: Hierdie visioen beeld gebeure uit wat plaasvind vanaf 1914 tot aan die einde van die Millennium en daarna, wanneer elke skepsel wat in die hemel en op die aarde is, Jehovah sal loof.—Openbaring 5:13

      1. Waarom moet ons lewendige belangstelling toon in die visioene waarvan Johannes ons vertel?

      JOHANNES begin ons van verdere besielende visioene vertel. Deur inspirasie is hy nog steeds in die dag van die Here. Wat hy beskryf, is dus van groot betekenis vir ons wat werklik in daardie dag lewe. Deur middel van hierdie visioene lig Jehovah die sluier van onsigbaarheid van hemelse werklikhede af en gee hy ons sy beskouing van sy oordele wat op die aarde voltrek gaan word. Bowendien help hierdie openbarings ons om ons plek in Jehovah se voorneme te sien, hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het. Ons moet dus almal voortgaan om lewendige belangstelling in Johannes se woorde te toon: “Gelukkig is hy wat die woorde van hierdie profesie hardop lees en dié wat dit hoor en wat die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan.”—Openbaring 1:3.

      2. Watter ondervinding het Johannes nou?

      2 Wat Johannes hierna sien, oortref enigiets wat deur video aan die mensdom in ons tyd vertoon word! Hy skryf: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk! ’n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek gehoor het, was soos van ’n trompet en het met my gepraat en gesê: ‘Kom op hierheen, en ek sal jou die dinge toon wat moet plaasvind’” (Openbaring 4:1). Johannes gaan in ’n visioen Jehovah se teenwoordigheid in die onsigbare hemele binne, wat ver verhewe is bo die fisiese buitenste ruimte wat deur menslike ruimtevaarders verken is, selfs ver bo die sterrestelsels van die stoflike heelal. Asof hy deur ’n geopende deur ingaan, word Johannes genooi om ’n asemrowende panorama van die hoogste geestehemele te aanskou waar Jehovah self op sy troon sit (Psalm 11:4; Jesaja 66:1). Wat ’n voorreg!

      3. Waaraan herinner die stem “soos van ’n trompet” ons, en wie is ongetwyfeld die Bron daarvan?

      3 Die Bybel identifiseer nie hierdie “eerste stem” nie. Soos Jesus se sterk stem wat vroeër gehoor is, het dit ’n gebiedende klank soos dié van ’n trompet (Openbaring 1:10, 11). Dit laat ons dink aan die deurdringende geluid van die horing wat ’n teken was van Jehovah se teenwoordigheid op die berg Sinai (Eksodus 19:18-20). Jehovah is ongetwyfeld die majestueuse Bron van die oproep (Openbaring 1:1). Hy het die deur oopgemaak sodat Johannes, in ’n visioen, die allerheiligste plek in die ganse onmeetlike ryk van Jehovah se soewereiniteit kan binnegaan.

      Jehovah se glansende teenwoordigheid

      4. (a) Watter betekenis het Johannes se visioen vir gesalfde Christene? (b) Watter betekenis het die visioen vir dié wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe?

      4 Wat sien Johannes? Luister terwyl hy ons nou van sy wonderlike ondervinding vertel: “Ná hierdie dinge het ek onmiddellik onder die krag van die gees gekom: en kyk! daar het ’n troon in die hemel gestaan, en iemand sit op die troon” (Openbaring 4:2). Johannes word in ’n oogwink in geestelike sin deur God se werkende krag na die troon van Jehovah geneem. Hoe opwindend moes dit tog vir Johannes gewees het! Hier word hy ’n skitterende voorskou gegee van daardie selfde hemele waarin daar vir hom en ander gesalfde Christene “’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis” bewaar word (1 Petrus 1:3-5; Filippense 3:20). Johannes se visioen het ook groot betekenis vir dié wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Dit help hulle om die heerlikheid van Jehovah se teenwoordigheid te begryp, sowel as dié van die hemelse regeringstruktuur wat deur Jehovah gebruik word om die nasies te oordeel en daarna oor mense op die aarde te regeer. Jehovah is inderdaad die God van uitnemende organisasie!

      5. Watter werklikheid sien Johannes wat deur die deksel van die verbondsark gesimboliseer is?

      5 Baie van wat Johannes daar bo in die hemel sien, stem ooreen met kenmerke van die tabernakel in die wildernis. Dit is sowat 1 600 jaar tevore as ’n heiligdom van ware aanbidding vir die Israeliete opgerig. In die Allerheiligste van daardie tabernakel was die verbondsark, en dit was van bokant daardie Ark se deksel van soliede goud dat Jehovah self gepraat het (Eksodus 25:17-22; Hebreërs 9:5). Die deksel van die Ark was dus ’n simbool van Jehovah se troon. Johannes sien nou die werklikheid van daardie simboliese voorstelling: die Soewereine Heer Jehovah self wat in grootse heerlikheid op sy verhewe hemelse troon sit!

      6. Watter indruk van Jehovah gee Johannes ons, en waarom is dit gepas?

      6 In teenstelling met vroeëre profete wat visioene van Jehovah se troon gehad het, gee Johannes nie ’n breedvoerige beskrywing van die Heilige wat daarop sit nie (Esegiël 1:26, 27; Daniël 7:9, 10). Maar Johannes gee ons sy indruk van die Een op die troon met hierdie woorde: “En hy wat daarop sit, is in sy voorkoms soos ’n jaspissteen en ’n kosbare rooikleurige steen, en rondom die troon is daar ’n reënboog wat in sy voorkoms soos ’n smarag is” (Openbaring 4:3). Watter onvergelyklike luister! Johannes sien kalm, skitterende skoonheid soos dié van glansende, glimmende edelstene. Hoe gepas stem dit tog ooreen met die dissipel Jakobus se beskrywing van Jehovah as “die Vader van die hemelse ligte”! (Jakobus 1:17). Kort nadat Johannes Openbaring geskryf het, het hy self gesê dat “God lig is en daar hoegenaamd geen duisternis in eenheid met hom is nie” (1 Johannes 1:5). Wat ’n uiters glorieryke Persoon is Jehovah tog!

      7. Wat kan ons leer uit die feit dat daar ’n reënboog rondom Jehovah se troon is?

      7 Let daarop dat Johannes ’n smaraggroen reënboog rondom die troon sien. Die Griekse woord wat hier met reënboog (irʹis) vertaal word, dui op ’n voltooide sirkel. Die reënboog word vir die eerste keer in die Bybel gemeld in verband met Noag se dag. Nadat die waters van die Vloed afgeneem het, het Jehovah ’n reënboog in die wolk laat verskyn, en hy het soos volg verduidelik wat dit gesimboliseer het: “My reënboog gee ek in die wolk, en dit sal dien as ’n teken van die verbond tussen my en die aarde. En ek sal beslis dink aan my verbond wat tussen my en julle en elke lewende siel van alle vlees is; en nie weer sal die waters ’n sondvloed word om alle vlees te verdelg nie” (Genesis 9:13, 15). Waaraan sou die hemelse visioen Johannes dan laat dink? Die reënboog wat hy gesien het, het hom ongetwyfeld laat dink aan die noodsaaklikheid van ’n vreedsame verhouding met Jehovah, soos die Johannes-klas vandag geniet. Dit sou hom ook terdeë bewus gemaak het van die kalmte en vrede van Jehovah se teenwoordigheid, ’n kalmte wat tot alle gehoorsame mense sal uitbrei wanneer Jehovah sy tent in die “nuwe aarde”-gemeenskap oor die mensdom uitsprei.—Psalm 119:165; Filippense 4:7; Openbaring 21:1-4.

      Die identiteit van die 24 ouderlinge

      8. Wie sien Johannes rondom die troon, en wie beeld hulle af?

      8 Johannes het geweet dat priesters aangestel is om in die eertydse tabernakel te dien. Daarom was hy dalk verbaas om te sien wat hy vervolgens beskryf: “En rondom die troon is daar vier-en-twintig trone, en op hierdie trone het ek vier-en-twintig ouderlinge sien sit, geklee in wit boklere en met goue krone op hulle koppe” (Openbaring 4:4). Ja, pleks van priesters is daar 24 ouderlinge, wat soos konings op trone sit en gekroon is. Wie is hierdie ouderlinge? Hulle is niemand anders nie as gesalfde lede van die Christengemeente, wat opgewek is en die hemelse posisie beklee wat Jehovah aan hulle beloof het. Hoe weet ons dit?

      9, 10. Hoe weet ons dat die 24 ouderlinge die gesalfde Christengemeente in sy glorieryke hemelse posisie afbeeld?

      9 In die eerste plek dra hulle krone. Die Bybel sê dat gesalfde Christene ‘’n onverderflike kroon’ en eindelose lewe—onsterflikheid—verkry (1 Korintiërs 9:25; 15:53, 54). Maar aangesien hierdie 24 ouderlinge op trone sit, beeld die goue krone in hierdie konteks koninklike gesag af. (Vergelyk Openbaring 6:2; 14:14.) Dit staaf die gevolgtrekking dat die 24 ouderlinge Jesus se gesalfde voetstapnavolgers in hulle hemelse posisie afbeeld, want Jesus het ’n verbond met hulle gesluit om in sy Koninkryk op trone te sit (Lukas 22:28-30). Net Jesus en hierdie 24 ouderlinge—nie eens die engele nie—word beskryf as persone wat in die hemel in Jehovah se teenwoordigheid regeer.

      10 Dit is in ooreenstemming met die belofte wat Jesus aan die gemeente in Laodisea gemaak het: “Aan die een wat oorwin, sal ek gee om saam met my op my troon te sit” (Openbaring 3:21). Maar die hemelse toewysing van die 24 ouderlinge is nie beperk tot heerskappy nie. In die inleiding tot die boek Openbaring het Johannes van Jesus gesê: “Hy het ons ’n koninkryk gemaak, priesters vir sy God en Vader” (Openbaring 1:5, 6). Hulle is konings sowel as priesters. “Hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers.”—Openbaring 20:6.

      11. Waarom is dit gepas dat daar 24 ouderlinge is, en wat dui hierdie getal aan?

      11 Wat is betekenisvol omtrent die getal 24, aangesien Johannes 24 ouderlinge rondom die troon sien? Hulle is in baie opsigte deur die getroue priesters van eertydse Israel voorafgeskadu. Die apostel Petrus het aan gesalfde Christene geskryf: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit’” (1 Petrus 2:9). Dit is interessant dat die eertydse Joodse priesterdom in 24 afdelings verdeel is. Elke afdeling is sekere weke in die jaar gegee om voor Jehovah te dien, sodat heilige diens ononderbroke verrig is (1 Kronieke 24:5-19). Dit is dus gepas dat daar 24 ouderlinge in Johannes se visioen van die hemelse priesterdom uitgebeeld word, want hierdie priesterdom dien Jehovah voortdurend, sonder ophou. Wanneer dit voltallig is, sal daar 24 afdelings wees, elk met 6 000 oorwinnaars, want Openbaring 14:1-4 sê vir ons dat 144 000 (24 x 6 000) “uit die mensdom gekoop” word om saam met die Lam, Jesus Christus, op die hemelse berg Sion te staan. Aangesien die getal 12 ’n goddelik gebalanseerde organisasie aandui, verdubbel—of versterk—die getal 24 so ’n reëling.

      Weerligstrale, stemme en donderslae

      12. Wat sien en hoor Johannes hierna, en waaraan laat die “weerligstrale en stemme en donderslae” ons dink?

      12 Wat sien en hoor Johannes hierna? “En uit die troon gaan daar weerligstrale en stemme en donderslae uit” (Openbaring 4:5a). Hoe laat dit ons tog aan ander ontsagwekkende openbarings van Jehovah se hemelse krag dink! Toe Jehovah op die berg Sinai “neergedaal het”, het Moses byvoorbeeld gesê: “Op die derde dag, toe dit oggend word, het daar donderslae en weerligstrale gekom, en ’n swaar wolk op die berg en ’n baie harde geluid van ’n horing. . . . Toe die geluid van die horing al hoe harder en harder word, het Moses begin praat, en die ware God het hom met ’n stem begin antwoord.”—Eksodus 19:16-19.

      13. Wat word voorgestel deur die weerligstrale wat uit Jehovah se troon uitgaan?

      13 Gedurende die dag van die Here openbaar Jehovah sy krag en teenwoordigheid op ’n verhewe manier. Nee, nie deur letterlike weerlig nie, want Johannes sien tekens. Wat stel die weerligstrale dan voor? Wel, weerligstrale kan verlig, maar hulle kan ’n mens ook doodslaan. Hierdie weerligstrale wat uit Jehovah se troon uitgaan, is dus ’n goeie voorstelling van die flitse van verligting wat hy sy volk voortdurend gee en, selfs belangriker, van sy vurige oordeelsboodskappe.—Vergelyk Psalm 18:14; 144:5, 6; Matteus 4:14-17; 24:27.

      14. Hoe weerklink stemme vandag?

      14 Wat van die stemme? Toe Jehovah op die berg Sinai neergedaal het, het ’n stem met Moses gepraat (Eksodus 19:19). Stemme uit die hemel het baie van die bevele en verklarings in die boek Openbaring bekend gemaak (Openbaring 4:1; 10:4, 8; 11:12; 12:10; 14:13; 16:1, 17; 18:4; 19:5; 21:3). Jehovah maak vandag ook bevele en verklarings aan sy volk bekend en verhelder sodoende hulle begrip van Bybelprofesieë en -beginsels. Insiggewende inligting word dikwels by internasionale byeenkomste geopenbaar, en sulke Bybelwaarhede word dan wêreldwyd verkondig. Die apostel Paulus het van getroue verkondigers van die goeie nuus gesê: “Kyk, in werklikheid ‘het hulle geluid oor die hele aarde uitgegaan en hulle woorde tot aan die eindes van die bewoonde aarde’.”—Romeine 10:18.

      15. Watter donderslae het gedurende hierdie deel van die dag van die Here uit die troon uitgegaan?

      15 Donder volg gewoonlik op weerlig. Dawid het na letterlike donder as “die stem van Jehovah” verwys (Psalm 29:3, 4). Toe Jehovah vir Dawid teen sy vyande geveg het, is daar gesê dat donder van Hom af gekom het (2 Samuel 22:14; Psalm 18:13). Elihu het vir Job gesê dat Jehovah se stem soos donderweer klink terwyl Hy “groot dinge doen wat ons nie kan weet nie” (Job 37:4, 5). Gedurende hierdie deel van die dag van die Here het Jehovah ‘gedonder’ deur te waarsku van die groot dade wat hy teen sy vyande gaan verrig. Hierdie simboliese donderslae het herhaaldelik deur die hele aarde weergalm. Gelukkig is jy as jy aandag geskenk het aan hierdie dawerende aankondigings en jou tong verstandig gebruik om hulle selfs harder te laat weerklink!—Jesaja 50:4, 5; 61:1, 2.

      Vuurlampe en ’n glasagtige see

      16. Wat beteken die “sewe vuurlampe”?

      16 Wat sien Johannes verder? Dit: “En daar is sewe vuurlampe wat voor die troon brand, en hulle beteken die sewe geeste van God. En voor die troon is daar as ’t ware ’n glasagtige see soos kristal” (Openbaring 4:5b, 6a). Johannes self sê vir ons wat die sewe lampe beteken: “Hulle beteken die sewe geeste van God.” Die getal sewe simboliseer goddelike volkomenheid; gevolglik moet die sewe lampe die volheid van die verligtende krag van die heilige gees afbeeld. Hoe dankbaar is die Johannes-klas tog vandag dat hierdie verligting aan hulle toevertrou is, tesame met die verantwoordelikheid om dit aan die geestelik honger volke van die aarde te verkondig! Hoe bly is ons tog dat honderdmiljoene eksemplare van Die Wagtoring nog steeds elke jaar hierdie lig in ongeveer 150 tale uitstraal!—Psalm 43:3.

      17. Wat simboliseer die “glasagtige see soos kristal”?

      17 Johannes sien ook ’n “glasagtige see soos kristal”. Wat simboliseer dit met betrekking tot dié wat in Jehovah se hemelse hof ingenooi word? Paulus het gepraat van die manier waarop Jesus die gemeente geheilig het, “deur dit met die waterbad deur middel van die woord te reinig” (Efesiërs 5:26). Voor sy dood het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle is reeds skoon weens die woord wat ek tot julle gespreek het” (Johannes 15:3). Hierdie glasagtige see soos kristal moet dus die reinigende, opgetekende Woord van God afbeeld. Die lede van die koninklike priesterdom wat in Jehovah se teenwoordigheid inkom, moet reeds deeglik deur sy Woord gereinig wees.

      Kyk—“Vier lewende wesens”!

      18. Wat sien Johannes in die middel van en rondom die troon?

      18 Johannes sien nou iets anders. Hy skryf: “En in die middel van die troon en rondom die troon is daar vier lewende wesens wat van voor en van agter vol oë is.”—Openbaring 4:6b.

      19. Wat word deur die vier lewende wesens afgebeeld, en hoe weet ons dit?

      19 Wat beeld hierdie wesens af? ’n Visioen wat deur ’n ander profeet, Esegiël, opgeteken is, help ons om die antwoord te vind. Esegiël het Jehovah op ’n hemelse strydwa op sy troon sien sit, vergesel van lewende wesens wat eienskappe beliggaam wat soortgelyk is aan dié wat deur Johannes beskryf word (Esegiël 1:5-11, 22-28). Later het Esegiël weer daardie strydwa-troon, vergesel van die lewende wesens, gesien. Maar hierdie keer het hy na die lewende wesens verwys as gerubs (Esegiël 10:9-15). Die vier lewende wesens wat Johannes sien, moet God se baie gerubs afbeeld—hooggeplaaste skepsele in Sy geeste-organisasie. Johannes sou dit nie vreemd vind om gerubs so naby aan Jehovah self te sien nie, want in die eertydse tabernakel was daar twee goue gerubs op die deksel van die verbondsark, wat Jehovah se troon afgebeeld het. Jehovah se stem het tussen hierdie gerubs uit gebooie aan die nasie gegee.—Eksodus 25:22; Psalm 80:1.

      20. Hoe kan daar gesê word dat die vier lewende wesens “in die middel van die troon en rondom die troon” is?

      20 Hierdie vier lewende wesens is “in die middel van die troon en rondom die troon”. Presies wat beteken dit? Dit kan aandui dat hulle op so ’n manier rondom die troon geplaas is dat een in die middel van elke kant staan. Die vertalers van Today’s English Version het die oorspronklike Griekse uitdrukking derhalwe soos volg geparafraseer: “rondom die troon aan elkeen van sy kante”. Andersins kan die uitdrukking beteken dat die vier lewende wesens in die sentrale posisie in die hemel is waar die troon is. Dit is waarskynlik waarom The Jerusalem Bible die sinsnede soos volg weergee: “in die middel, rondom die troon self gegroepeer”. Die belangrike saak is dat die gerubs digby Jehovah se troon is, soos die gerubs wat Esegiël by elke hoek van Jehovah se organisatoriese strydwa gesien het (Esegiël 1:15-22). Dit alles is in ooreenstemming met die woorde van Psalm 99:1: “Jehovah het koning geword. . . . Hy sit op die gerubs.”

      21, 22. (a) Hoe beskryf Johannes die vier lewende wesens? (b) Wat word deur die voorkoms van elkeen van die vier lewende wesens afgebeeld?

      21 Johannes sê verder: “En die eerste lewende wese is soos ’n leeu, en die tweede lewende wese is soos ’n jong bul, en die derde lewende wese het ’n gesig soos dié van ’n mens, en die vierde lewende wese is soos ’n vlieënde arend” (Openbaring 4:7). Waarom verskil die voorkoms van hierdie vier lewende wesens so baie van mekaar? Hierdie eiesoortige lewende wesens beklemtoon blykbaar spesifieke goddelike eienskappe. Eerstens is daar die leeu. ’n Leeu word in die Bybel gebruik as ’n simbool van moed, veral in die strewe na reg en geregtigheid (2 Samuel 17:10; Spreuke 28:1). Die leeu is dus ’n goeie afbeelding van die goddelike eienskap moedige geregtigheid (Deuteronomium 32:4; Psalm 89:14). Die tweede lewende wese lyk soos ’n jong bul. Aan watter eienskap laat ’n bul jou dink? Vir die Israeliete was die bul ’n waardevolle besitting weens sy krag. (Spreuke 14:4; sien ook Job 39:9-11.) Die jong bul beeld dus krag af, dinamiese energie wat deur Jehovah voorsien word.—Psalm 62:11; Jesaja 40:26.

      22 Die derde lewende wese het ’n gesig soos dié van ’n mens. Dit moet goddelike liefde afbeeld, aangesien dit hier op die aarde net die mens is wat na God se beeld geskep is, met die voortreflike eienskap liefde (Genesis 1:26-28; Matteus 22:36-40; 1 Johannes 4:8, 16). Die gerubs lê ongetwyfeld hierdie eienskap aan die dag terwyl hulle rondom Jehovah se troon dien. En wat van die vierde lewende wese? Hierdie een lyk soos ’n vlieënde arend. Jehovah self vestig die aandag op die arend se uitstekende gesigsvermoë: “Sy oë bly in die verte kyk” (Job 39:29). Die arend is dus ’n goeie simbool van versiende wysheid. Jehovah is die Bron van wysheid. Sy gerubs lê goddelike wysheid aan die dag terwyl hulle sy bevele gehoorsaam.—Spreuke 2:6; Jakobus 3:17.

      Jehovah se lof weerklink

      23. Wat word gesimboliseer deur die feit dat die vier lewende wesens “vol oë” is, en wat word beklemtoon deur die feit dat hulle drie paar vlerke het?

      23 Johannes sit sy beskrywing voort: “En wat die vier lewende wesens betref, elkeen van hulle het onderskeidelik ses vlerke; rondom en aan die onderkant is hulle vol oë. En hulle het dag en nag geen rus nie terwyl hulle sê: ‘Heilig, heilig, heilig is Jehovah God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom’” (Openbaring 4:8). Die feit dat hulle vol oë is, dui op volkome en versiende gesigsvermoë. Die vier lewende wesens gebruik dit voortdurend, aangesien hulle nie hoef te slaap nie. Hulle volg die Een na van wie daar geskrywe is: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). Omdat die gerubs so baie oë het, kan hulle oral sien. Niks ontgaan hulle aandag nie. Hulle is dus goed toegerus om God in sy oordeelswerk te dien. Van hom word daar gesê: “Die oë van Jehovah is op elke plek, en hulle let op die slegtes en die goeies” (Spreuke 15:3). En met drie paar vlerke—die getal drie word in die Bybel vir klem gebruik—kan die gerubs blitsvinnig beweeg om Jehovah se oordele aan te kondig en te voltrek.

      24. Hoe loof die gerubs Jehovah, en wat beteken dit?

      24 Luister! Die loflied wat die gerubs aan Jehovah sing, is melodieus en besielend: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom.” Die drieheid dui weer eens intensiteit aan. Die gerubs bevestig die heiligheid van Jehovah God ten sterkste. Hy is die Bron en die hoogste Standaard van heiligheid. Hy is ook “die Koning van die ewigheid”, altyd “die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste, die begin en die einde” (1 Timoteus 1:17; Openbaring 22:13). Die gerubs rus nooit terwyl hulle die weergalose eienskappe van Jehovah voor die hele skepping verkondig nie.

      25. Hoe vereer die lewende wesens en die 24 ouderlinge Jehovah tesame?

      25 Die hemel der hemele weerklink van lofbetuigings aan Jehovah! Johannes gaan voort met sy beskrywing: “En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en dank gee aan die Een wat op die troon sit, die Een wat vir ewig en altyd lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor die Een wat op die troon sit en aanbid die Een wat vir ewig en altyd lewe, en hulle gooi hulle krone voor die troon en sê: ‘U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep’” (Openbaring 4:9-11). In die hele Skrif is dít een van die mooiste huldebetuigings aan Jehovah, ons God en Soewereine Heer!

      26. Waarom gooi die 24 ouderlinge hulle krone voor Jehovah?

      26 Die 24 ouderlinge het dieselfde geestesgesindheid as wat Jesus openbaar en gooi selfs hulle krone voor Jehovah neer. Dit kom nie eens by hulle op om hulleself in God se teenwoordigheid te verhef nie. Hulle erken nederig dat die enigste doel van hulle koningskap is om hom te eer en te verheerlik, net soos Jesus dit altyd doen (Filippense 2:5, 6, 9-11). Hulle erken onderdanig hulle eie ondergeskiktheid en bely dat hulle heerskappy van Jehovah se soewereiniteit afhanklik is. Hulle is dit dus van harte eens met die gerubs en die res van die getroue skepping wanneer hulle die God wat alles geskep het, loof en verheerlik.—Psalm 150:1-6.

      27, 28. (a) Watter uitwerking moet Johannes se beskrywing van hierdie visioen op ons hê? (b) Watter vrae ontstaan oor wat Johannes hierna sien en hoor?

      27 Wie kan Johannes se beskrywing van hierdie visioen lees sonder om beïndruk te wees? Dit is pragtig, groots! Maar hoe moet die werklikheid dan wees? Jehovah se majesteit moet enigiemand met ’n waarderende hart opwek om Hom saam met die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge te loof, in gebed sowel as deur Sy naam in die openbaar te verkondig. Dit is die God vir wie Christene vandag bevoorreg is om getuies te wees (Jesaja 43:10). Onthou dat Johannes se visioen vir die dag van die Here geld, waarin ons nou is. “Die sewe geeste” is altyd byderhand om ons te lei en te versterk (Galasiërs 5:16-18). God se Woord is vandag beskikbaar om ons te help om heilig te wees terwyl ons ’n heilige God dien (1 Petrus 1:14-16). Ons is beslis gelukkig dat ons die woorde van hierdie profesie hardop kan lees (Openbaring 1:3). Wat ’n aansporing is dit tog vir ons om aan Jehovah getrou te wees en nie toe te laat dat die wêreld ons aandag van die daadwerklike verkondiging van sy lof aftrek nie!—1 Johannes 2:15-17.

      28 Johannes het tot dusver beskryf wat hy sien wanneer hy genooi word om deur daardie geopende deur in die hemel in te gaan. In die besonder berig hy dat Jehovah, in al die luister van Sy majesteit en waardigheid, op Sy hemelse troon sit. Hy word omring deur die allermagtigste organisasie—glansryk in prag en lojaliteit. Die goddelike Hof is in sitting (Daniël 7:9, 10, 18). Alles is gereed vir iets buitengewoons om te gebeur. Wat is dit, en hoe raak dit ons vandag? Laat ons toekyk terwyl die toneel hom ontvou!

      [Volbladillustrasie op bladsy 75]

      [Volbladillustrasie op bladsy 78]

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel