Hoe ek daarin geslaag het om ’n Christengesin groot te maak
Soos vertel deur Leon Glass
TEN tye van my geboorte in 1924 was so te sê al die inwoners van die Dominikaanse Republiek Rooms-Katolieke. Die inboorlinge en hulle godsdiens is lank gelede uitgeroei. Onder koloniale bewind het die stad wat nou as Santo Domingo bekend is 17 Katolieke kerke gehad in ’n gebied met ’n omtrek van sowat 5,6 kilometer.
Omdat my ouers Katolieke was, het ek getrou dienste bygewoon by ’n kerk wat omtrent 10 tree van ons huis af was. Voor my bed was daar godsdiensbeelde en kruise waarvoor ek soos volg gebid het voordat ek gaan slaap het: “Ek gaan lê met God en staan met God op. Ook met die Maagd Maria en met die Heilige Gees.” Ek het niks van die Bybel af geweet nie. In die openbare skole het ons slegs Katolieke leerstellings geleer. Daar was baie min Protestante in daardie dae. Hulle het maar net ’n paar kapelle gehad, en dié is soms met klippe bestook. Die Katolieke is meegedeel dat Protestante van die Duiwel is, en ek was bang om naby hulle te kom.
VERANDERINGE WAT DAARTOE GELEI HET DAT EK DIE WAARHEID VIND
Op ’n vroeë ouderdom het ek en een van my broers begin besef dat dit afgodediens is om te bid voor ’n prentjie van die hart van Jesus in die vorm van ’n hangslot wat die handelsmerk van ’n sekere soort seep was. Dit was dus later nie vir ons moeilik om te besluit om ’n Evangeliese kerk saam met ons ouma by te woon nie. Ons het daar ’n bietjie beter gevoel omdat die Bybel gebruik is.
Terwyl die Tweede Wêreldoorlog gewoed het, het ek vir die Sondagskoolonderwyser gevra of dit reg was vir ’n Christen om aan die oorlog deel te neem. Sy antwoord het nie met die Bybel gestrook nie, en dit het my so verontwaardig gemaak dat ek die kerk verlaat het. Die vrees om sonder enige godsdiens in die wêreld te wees, het my egter later beweeg om na die kerk terug te gaan en slegs die leerstellings te aanvaar wat met die Bybel gestrook het en die res te verwerp. Ek was destyds 22.
Eendag het ek afgekom op vyf boeke wat deur die Wagtoringgenootskap gepubliseer is. My ouer broer het hierdie publikasies in my huis gelaat. Hulle mooi omslae en interessante titels het my beïndruk. Een boek het veral my aandag getrek met die woorde “waarheid” en “vry” in die titel. Toe ek hierdie boek lees, kon ek sien dat elke hoofstuk presies ooreengekom het met wat ek uit die Bybel geleer het. Daar was ook talle nuwe dinge, en hulle het goed geklink. Ek was daarvan oortuig dat ek die waarheid gevind het.
BELANGRIKE BESLUITE
Die tyd het aangebreek om baie belangrike besluite te neem wat ’n groot uitwerking op my lewe sou hê: Moes ek in diens van Jehovah tree? Moes ek met my verloofde, Eve, trou, wat ek reeds van die Katolieke Kerk af weggeneem en by die Evangeliese geloof laat aansluit het? Ons het nou begin om die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies te bestudeer. Na ’n maand het ek begin om van huis tot huis te gaan en vir die mense te vertel van die dinge wat ek geleer het. My verloofde het te kenne gegee dat sy dieselfde sou doen. Maar toe ek sê dat ons die vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies moes bywoon, het sy gesê dat dit gevaarlik is om van geloof te verander. Dit het my baie bekommer, want toe ek in die Evangeliese geloof was, het ek gebid: “God, help my om ’n Christelike vrou te kry en ’n Christengesin groot te maak.” Ek het my aanstaande vrou gevind. Wat sou nou gebeur?
Ek het God weer in die gebed genader: “Jehovah, indien Eve nie een van u knegte gaan word nie, bewerk dit dan asseblief so dat sy my verlaat, want ek het geen rede gevind om haar te verlaat nie.” Ek het nie lank op ’n antwoord gewag nie. Sy het my volgende uitnodiging om my na die Koninkryksaal te vergesel, aanvaar. Daar het een van Jehovah se Getuies oorgeneem en haar aan so te sê almal by die saal voorgestel. ’n Paar dae later het sy een van die Getuies in die huis-tot-huiswerk vergesel. Die volgende jaar is ons getroud en het ons begin om al ons tyd aan die predikingswerk te wy. Ons wittebrood was baie kort. Die volgende dag het ons begin om ons bure te besoek en met hulle te gesels oor die hoop wat ons op ’n beter stelsel van dinge het.
Gedurende hierdie tydperk is die werk van Jehovah se Getuies deur die Trujillo-diktatorskap aangeval. Vanaf die eerste dag dat ek die predikingswerk gedoen het, het die vrees bestaan dat die werk van Jehovah se Getuies in die ban gedoen sou word. Dit is presies wat gebeur het. Dit was geen verrassing toe intense vervolging ’n jaar later uitgebreek het nie.
MOEILIKE TYE
Ons, Jehovah se Getuies, het ons geestelik vir die tronk voorberei, en dit is waarheen ons gegaan het. Ek het werk gekry in ’n maatskappy wat deur die regering beheer is en waar daar ook ander Getuies gewerk het. Eendag is ons versoek om ’n telegram aan die diktator, Trujillo, te onderteken waarin hy verseker word van ons politieke steun en ons steun vir enige optrede teen Kuba. Ons het geweier om te teken. Dit is as baie ernstig, as ’n uittarting van die diktator, beskou. Ons medewerkers het verplig gevoel om ons te beledig. Die opsiener het gesê: “Trujillo is die baas hier en selfs al sou julle Jehovah uit die hemel neerdaal, sou hy homself aan Trujillo moes onderwerp.” My antwoord was dat indien ons geteken het, ons die godslastering wat hy so pas geuiter het, sou vergoelik. Ons is in hegtenis geneem en deur die militêre geheime polisie ondervra. Nadat ons gedreig is, is ons vrygelaat, slegs om ’n paar dae later vir militêre diens opgeroep te word sonder die gewone prosedure. Omdat ons geweier het om aan die eise te voldoen, is ons tronk toe gestuur. Daar het ons vier ander Getuies aangetref, waarvan twee my vleeslike broers was. Na ons vrylating is ons weer eens gevonnis. Dit het drie keer gebeur, met slegs een of meer dae tussen die vonnisse. Ons het amper sewe jaar in die tronk deurgebring, daar die laaste vonnis vyf jaar was.
Nadat ek dus agt jaar getroud was, het ek slegs een jaar—ons eerste jaar—tuis saam met my vrou deurgebring. Die res van die tyd was ek in en uit die tronk. Wat ’n vader se invloed betref, was dit nie ’n baie goeie begin om ’n Christengesin groot te maak nie. Eve het haar nietemin goed van haar taak as moeder van ons drie kinders gekwyt. Hulle het Bybelbeginsels geleer, die vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon en deelgeneem aan die predikingswerk wat nog steeds verbode was. My vrou het die kinders saam met haar gebring om my in die tronk te besoek, en hulle getrouheid ondanks die feit dat hulle baie jonk was, het my veel vreugde verskaf. Eve moes beledigings, dreigemente en baie laster teen Jehovah verduur. Maar haar geloof het my baie bly gemaak en my bemoedig. Tydens een geleentheid, terwyl sy ons eerste kind verwag het, het ’n bewaarder my in haar teenwoordigheid mishandel. Ek was bekommerd oor die uitwerking wat dit op haar kon hê, maar sy het niks oorgekom nie en voortgegaan om my te versterk. Wanneer ek vandag aan hierdie dinge terugdink, dank ek Jehovah vir sy hulp. Hy het ons voorwaar ’n groot voorreg gegee deur toe te laat dat ons vir sy naam ly. Die dinge wat ons deurgemaak het, het ons versterk en ons gehelp om ’n verenigde Christengesin groot te maak.
Benewens die beproewings het ons talle aangename ondervindings gehad toe ons van ons hoop en geloof voor regters, hoë militêre offisiere, soldate, medegevangenes. familielede wat nie Getuies was nie en vir mense op straat getuig het terwyl ons bewaak is. Ons het selfs die geleentheid gehad om in die diktator se paleis oor ons hoop te getuig. Terwyl ons eenkeer gras uitgehaal het wat oorgeplant moes word, is ons toegelaat om met die mense in die huise langs die pad te gesels. Omdat die bewaarders ons vergesel het, het ons by elke huis ’n goeie gehoor gehad. Die mense was baie gasvry en het met belangstelling geluister, al was dit ook soms met ’n bietjie vrees.
In die tronk kon ons soms van sel tot sel en van slaapbank tot slaapbank gaan om ons Koninkrykshoop te verduidelik. Dit was egter gevaarlik, want indien ons betrap is, kon ons met eensame opsluiting gestraf word. Eenkeer het die man wat in bevel van ’n blok selle was my versoek om nie in sy sel te preek nie, aangesien hy my nie aan die owerheid wou oorlewer nie. Een gevangene was ons goedgesind, dus het ons die Skrif op die tronkplein bespreek. Later het ek die voorreg gehad om hom te doop terwyl ons albei nog in die tronk was. Nog later is hy vermoor omdat een van sy familielede deelgeneem het aan ’n komplot teen Trujillo.
Hoe vreemd dit ook al mag lyk, het ons weiering om ’n kompromis aan te gaan die respek van party soldate, bewaarders, prisoniers en burgerlikes afgedwing. Trouens, die tronkbeampte vir wie die gevangenes die bangste was omdat hy hulle so wreedaardig behandel het, was die een wat ons die meeste vertrou het. Hy het ons soms sonder enige bewaarder gestuur om werk buitekant die tronk te doen.
Tydens aanhouding het ons geleer hoe om ons werktoewysings te koördineer sodat ons tyd vir geestelike sake kon hê. Ons kon gewoonlik elke week al die vergaderinge hou. ’n Paar keer was dit selfs moontlik om Christus se dood in die teenwoordigheid van ander gevangenes te herdenk. Soms het die bewaarders ons Bybel en Bybelpublikasies gevind en dit gekonfiskeer. Dit het gewoonlik gebeur omdat party gevangenes ons verraai het. Maar ons het altyd genoeg lektuur gehad om ons geestelik sterk te hou.
Daar was selfs tye dat ons ons kos met ander kon deel. Ons is toegelaat om kos van buite af te ontvang. Ons broers, vleeslik sowel as geestelik, het voortdurend hulp verleen.
DANKBAAR VIR JEHOVAH SE HULP
Ek is Jehovah dankbaar dat hy my toegelaat het om tronk toe te gaan net soos die apostels opgesluit is. Dit klink dalk vir party eienaardig. Maar al hierdie ervarings het ons opgelei en ons gehelp om meer geduld en volharding te verkry. Soms was dit natuurlik nie aangenaam nie. Maar nou, baie jare later, kan ek sien hoe daardie ervarings ’n goeie uitwerking gehad het.
Toe ek uiteindelik uit die tronk kom, was dit nie maklik om werk te kry nie, veral nie met ‘n vonnislys nie. Ek moes ’n werk aanvaar waar ek met ‘n pik en graaf gewerk en R2,10 per dag verdien het. Maar die gesin het ’n ruk lank daarop geleef totdat ek beter werk as ’n staatsrekenmeester gekry het. Ons het nooit honger gely nie.
My grootste bron van vreugde is om te sien dat al vyf my kinders sterk in die geloof en bedrywig in Jehovah se diens is. God het my werklik grootliks geseën en my gehelp om ’n Christengesin groot te maak. Ek sal my 32 jaar in Jehovah se diens vir niks verruil nie. My bede tot ons hemelse Vader is dat hy ons mag help om hom vir ewig te dien.