Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jy hfst. 60 bl. 144-bl. 145 par. 7
  • Die gedaanteverandering – Christus as glorieryke Koning

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die gedaanteverandering – Christus as glorieryke Koning
  • Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Voorafskaduwing van Christus se Koninkryksheerlikheid
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • ’n Voorafskaduwing van Christus se Koninkryksheerlikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Hoe Christus se gedaanteverandering jou raak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Wanneer Jesus in Koninkryksheerlikheid kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
jy hfst. 60 bl. 144-bl. 145 par. 7
Jesus se voorkoms verander reg voor Petrus, Jakobus en Johannes; Moses en Elia verskyn

HOOFSTUK 60

Die gedaanteverandering – Christus as glorieryke Koning

MATTEUS 16:28–17:13 MARKUS 9:1-13 LUKAS 9:27-36

  • DIE GEDAANTEVERANDERING

  • APOSTELS HOOR GOD SE STEM

Jesus is besig om die mense in die gebied van Sesarea-Filippi te leer, sowat 25 kilometer van die berg Hermon. Dan sê hy iets wat sy apostels verbaas: “Ek verseker julle dat party van dié wat hier staan, beslis nie sal sterf voordat hulle die Seun van die mens in sy Koninkryk sien kom nie.” – Matteus 16:28.

Die dissipels wonder seker wat Jesus bedoel. Omtrent ’n week later neem hy drie van die apostels – Petrus, Jakobus en Johannes – saam met hom op teen ’n hoë berg. Dit is heel moontlik in die nag, want die drie mans is vaak. Terwyl Jesus bid, verander sy voorkoms reg voor hulle. Die apostels sien dat sy gesig soos die son skyn en dat sy klere so helder en skitterend wit soos die lig word.

Dan verskyn twee persone wat as “Moses en Elia” geïdentifiseer word. Hulle begin met Jesus praat oor ‘die feit dat hy moet weggaan, wat binnekort in Jerusalem vervul sal word’ (Lukas 9:30, 31). Dit verwys blykbaar na Jesus se dood en opstanding, waarvan hy onlangs gepraat het (Matteus 16:21). Hierdie gesprek bewys dat Jesus se vernederende dood nie iets is wat vermy moet word, soos Petrus Jesus aangespoor het om te doen nie.

Die drie apostels, wat nou wawyd wakker is, kyk en luister in verwondering. Dit is ’n visioen, maar dit lyk so werklik dat Petrus by die toneel begin betrokke raak. Hy sê: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie skuilings oprig: een vir u, een vir Moses en een vir Elia” (Markus 9:5). Wil Petrus die skuilings oprig sodat die visioen nog langer sal duur?

Terwyl Petrus nog praat, bedek ’n helder wolk hulle en sê ’n stem uit die wolk: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het. Luister na hom.” Wanneer die apostels God se stem hoor, word hulle bang en val hulle neer met hulle gesigte na die grond toe, maar Jesus sê vir hulle: “Staan op. Moenie bang wees nie” (Matteus 17:5-7). Wanneer hulle opstaan, sien die drie apostels niemand behalwe Jesus nie. Die visioen is verby. Wanneer dit dag is en hulle van die berg afkom, beveel Jesus hulle: “Moet vir niemand van die visioen vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgewek is nie.” – Matteus 17:9.

Elia het in die visioen verskyn, en dit laat ’n vraag ontstaan. Die apostels vra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dan dat Elia eers moet kom?” Jesus antwoord: “Ek sê vir julle dat Elia reeds gekom het, en hulle het hom nie herken nie” (Matteus 17:10-12). Jesus praat van Johannes die Doper, wat dieselfde rol as Elia gespeel het. Elia het die weg voorberei vir Elisa, en Johannes het dieselfde vir Christus gedoen.

Hoe geloofversterkend is hierdie visioen vir Jesus en die apostels! Dit is ’n voorskou van die tyd wanneer Christus as ’n glorieryke Koning sal regeer. Die dissipels het “die Seun van die mens in sy Koninkryk sien kom”, soos Jesus belowe het (Matteus 16:28). Terwyl hulle op die berg was, was hulle “ooggetuies van sy grootheid”. Al wou die Fariseërs ’n teken hê om te bewys dat Jesus deur God uitgekies is om Koning te wees, het hy nie vir hulle een gegee nie. Maar Jesus se hegte dissipels is toegelaat om Jesus se gedaanteverandering te sien, wat Koninkryksprofesieë bevestig. Daarom kon Petrus later skryf: “Die profetiese woord is . . . vir ons nog sekerder gemaak.” – 2 Petrus 1:16-19.

  • Hoe sien party hoe Jesus in sy Koninkryk kom voordat hulle sterf?

  • Waaroor praat Moses en Elia met Jesus in die visioen?

  • Hoekom is die visioen oor die gedaanteverandering geloofversterkend vir Christus se volgelinge?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel