Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • od hfst. 11 bl. 118-124
  • Reëlings vir plekke van aanbidding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Reëlings vir plekke van aanbidding
  • Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE KONINKRYKSAAL
  • KONINKRYKSAALKONSTRUKSIE
  • BYEENKOMSSALE
  • Dit is ons plek van aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • ’n Nuwe program vir die bou van Koninkryksale
    Ons Koninkryksbediening—1990
  • Toon jy respek vir julle Koninkryksaal?
    Ons Koninkryksbediening—1989
  • Laat ons ons plek van aanbidding in ’n goeie toestand hou
    Ons Koninkryksbediening—2003
Sien nog
Georganiseer om Jehovah se wil te doen
od hfst. 11 bl. 118-124

HOOFSTUK 11

Reëlings vir plekke van aanbidding

WARE aanbidders van Jehovah word beveel om bymekaar te kom om onderrigting te ontvang en mekaar aan te moedig (Heb. 10:23-25). Die eerste plek wat God se volk, die Israeliete, vir aanbidding gebruik het, was “die tabernakel, die tent van samekoms” (Eks. 39:32, 40). Later het Dawid se seun Salomo ’n huis, of tempel, tot heerlikheid van God gebou (1 Kon. 9:3). Nadat daardie tempel in 607 VHJ vernietig is, het die Jode gereël om in geboue wat sinagoges genoem is, te vergader om God te aanbid. Later is die tempel herbou, en dit was weer eens ’n sentrum van ware aanbidding. Jesus het in sinagoges sowel as in die tempel onderrig (Luk. 4:16; Joh. 18:20). Jesus het selfs ’n vergadering op ’n berg gehou. – Matt. 5:1–7:29.

2 Ná Jesus se dood het Christene in openbare plekke en in huise bymekaargekom om die Skrif aan ander te leer en assosiasie met medegelowiges te geniet (Hand. 19:8, 9; Rom. 16:3, 5; Kol. 4:15; Filem. 2). Dit was soms vir die vroeë Christene nodig om op afgesonderde plekke te vergader om nie deur vervolgers ontdek te word nie. Ja, getroue knegte van God in die verlede het ’n opregte begeerte gehad om in plekke van aanbidding bymekaar te kom om “deur Jehovah geleer [te] word”. – Jes. 54:13.

3 Vandag word openbare plekke en huise ook vir Christelike vergaderinge gebruik. Velddiensvergaderinge word dikwels in huise gehou. Diegene wat hulle huis vir sulke vergaderinge aanbied, beskou dit as ’n voorreg. Baie voel dat dit hulle geestelik gehelp het om hulle huis hiervoor beskikbaar te stel.

DIE KONINKRYKSAAL

4 Die vernaamste vergaderplek van Jehovah se Getuies is die Koninkryksaal. Gewoonlik word eiendom gekoop en ’n nuwe Koninkryksaal gebou of ’n bestaande gebou word opgeknap. Wanneer dit prakties is, kan ’n paar gemeentes ’n Koninkryksaal deel om die koste te verminder en ons fasiliteite beter te gebruik. Op party plekke moet ’n saal gehuur word. Dit is gepas om ’n toewydingsprogram te hê vir Koninkryksale wat nuut gebou is of waaraan groot opknappingswerk gedoen is. Maar as daar net ’n bietjie opknappingswerk aan ’n bestaande Koninkryksaal gedoen is, is dit nie nodig om ’n toewydingsprogram te hê nie.

5 Die Koninkryksaal moenie ’n spoggerige gebou wees wat bedoel is om ander te beïndruk nie. Hoewel die ontwerp van plek tot plek verskil, moet dit altyd funksioneel wees (Hand. 17:24). Afhangende van plaaslike omstandighede moet dit ’n gemaklike en gerieflike plek wees om Christelike vergaderinge te hou.

6 Alle gemeentes van Jehovah se Getuies help om die bedryfs- en instandhoudingskoste van die Koninkryksaal wat hulle gebruik, te dek. Geen kollektes word ingesamel nie, en daar word nie vir geld gevra nie. ’n Bydraebussie word voorsien sodat diegene wat vergaderinge bywoon, bydraes kan maak om die nodige uitgawes in verband met die gebruik van die saal te help dek. Hulle doen dit gewillig en uit die hart. – 2 Kor. 9:7.

7 Almal in die gemeente beskou dit as ’n voorreg om die koste in verband met die Koninkryksaal te help dek en om hulle dienste aan te bied om dit skoon te maak en in stand te hou. ’n Ouerman of ’n bedieningskneg word gewoonlik aangewys om ’n rooster vir hierdie werk op te stel. Die skoonmaakwerk word oor die algemeen deur velddiensgroepe gedoen, en die groepopsiener of sy assistent neem die leiding. Die binne- sowel as buitekant van die Koninkryksaal moet Jehovah se organisasie op ’n gepaste manier verteenwoordig.

Almal in die gemeente beskou dit as ’n voorreg om die koste in verband met die Koninkryksaal te help dek en om hulle dienste aan te bied om dit skoon te maak en in stand te hou

8 Waar meer as een gemeente in ’n saal vergader, stel die ouermanne van die betrokke gemeentes ’n Koninkryksaalbedryfskomitee saam, wat sake in verband met die gebou en eiendom sal reël. Die liggame van ouermanne sal ’n broer kies om die koördineerder van die bedryfskomitee te wees. Die bedryfskomitee, wat onder leiding van die liggame van ouermanne werk, maak seker dat die saal skoongemaak en in stand gehou word en dat daar genoeg skoonmaakmiddels en ander benodigdhede is. Dit beteken dat die betrokke gemeentes goed moet saamwerk.

9 Wanneer ’n paar gemeentes een Koninkryksaal gebruik, sal hulle dalk vergaderingtye moet ruil. Die ouermanne sal die rooster uitwerk met besorgdheid en broederlike liefde in gedagte (Fil. 2:2-4; 1 Pet. 3:8). Geen enkele gemeente moet dit op homself neem om sulke besluite vir die ander gemeentes te maak nie. Wanneer die kringopsiener een van die gemeentes besoek wat die Koninkryksaal gebruik, sal die ander gemeentes hulle vergaderingtye vir daardie week aanpas.

10 Die Koninkryksaal kan vir ’n troutoespraak of ’n begrafnistoespraak gebruik word met die toestemming van die Gemeentelike Dienskomitee. Hierdie ouermanne oorweeg elke versoek deeglik en baseer hulle besluit op riglyne wat deur die takkantoor gegee word.

11 Diegene wat toegelaat word om die Koninkryksaal vir so ’n geleentheid te gebruik, moet hulle gedra op ’n manier wat vir ware Christene gepas is. Niks moet by die Koninkryksaal gedoen word wat die gemeente aanstoot sal gee of oneer op Jehovah en die goeie naam van die gemeente sal bring nie (Fil. 2:14, 15). Onder toesig van die takkantoor kan die Koninkryksaal vir ander geestelike geleenthede gebruik word, soos vir die Koninkryksbedieningskool en die Pionierdiensskool.

12 Die gemeente moet altyd respek hê vir hulle vergaderplek. Ons kleredrag, persoonsversorging en gedrag moet die waardigheid weerspieël wat pas by die aanbidding van Jehovah (Pred. 5:1; 1 Tim. 2:9, 10). Ons wys dat ons ons Christelike vergaderinge waardeer deur die raad hieroor toe te pas.

13 Dit is belangrik om gedurende die vergaderinge ordelik te wees. Kinders moet verkieslik by hulle ouers sit. Ouers met jong kinders kan aangemoedig word om te sit waar hulle ander die minste sal steur as hulle die kinders moet uitneem om hulle te dissiplineer of na ander behoeftes om te sien.

14 Bekwame broers word aangewys om tydens vergaderinge in die Koninkryksaal as saalwagters te dien. Hulle moet op en wakker en vriendelik wees en goeie oordeel hê. Hulle verantwoordelikhede sluit in om nuwelinge te groet en hulle welkom te laat voel, laatkommers te help om ’n sitplek te kry, bywoningsyfers op te teken en na die temperatuur en ventilasie van die saal om te sien. Wanneer dit nodig is, sal saalwagters ouers herinner om ’n ogie oor hulle kinders te hou sodat hulle nie voor of ná die vergaderinge rondhardloop of op die verhoog speel nie. ’n Saalwagter kan ’n ouer vriendelik en taktvol vra om ’n kind uit te neem wat die gehoor se aandag begin aftrek. Die werk van die saalwagters help almal om die vergaderinge te geniet. Dit is verkieslik dat ouermanne en bedieningsknegte as saalwagters gebruik word.

KONINKRYKSAALKONSTRUKSIE

15 In die eerste eeu was party Christene ryker as ander, en daarom het die apostel Paulus geskryf: “Die oorvloed wat julle op die oomblik het, moet hulle tekort aanvul, en hulle oorvloed moet ook julle tekort aanvul. So sal daar ’n gelykmaking wees” (2 Kor. 8:14). Vandag gebeur ’n soortgelyke “gelykmaking”. Geld wat deur gemeentes regoor die wêreld bygedra word, word bymekaargesit om finansiële hulp te gee om Koninkryksale te bou en op te knap. Die vrygewige ondersteuning van die wêreldwye broederskap word baie waardeer deur die organisasie en deur die gemeentes wat deur hierdie bydraes gehelp word.

16 Die takkantoor wys gemeentes na spesifieke Koninkryksale toe op grond van ’n streekplan. Die takkantoor besluit ook waar en wanneer om nuwe Koninkryksale te bou en bestaande sale in die takkantoor se gebied op te knap. Wanneer daar ’n ramp is, word reëlings gemaak om die nodige herstelwerk aan beskadigde Koninkryksale te doen, en soms ook aan die huise van broers.

17 Die takkantoor koördineer die gebruik van vrywilligers wat help om eiendom te verkry, planne vir Koninkryksale op te trek, permitte te kry en bouwerk en instandhouding te doen. Omdat daar in die meeste lande ’n groot behoefte aan Koninkryksale is, is baie vrywilligers nodig. Alle gedoopte verkondigers wat kwalifiseer en graag wil help, word aangemoedig om ’n aansoekvorm in te vul en dit aan hulle plaaslike Gemeentelike Dienskomitee te gee. Selfs ongedoopte verkondigers kan help met die bou of opknapping van hulle plaaslike Koninkryksaal.

BYEENKOMSSALE

18 Die vroeë Christene het gewoonlik in klein groepies vergader. Maar soms het “’n groot groep” bymekaargekom (Hand. 11:26). Net so vergader Jehovah se volk vandag in groot groepe vir kring- en streekbyeenkomste. Plaaslike fasiliteite word dikwels vir hierdie doel gehuur, maar waar sulke plekke nie gepas of beskikbaar is nie, kan ’n plek van aanbidding wat ’n Byeenkomssaal genoem word, verkry word.

19 Soms word ’n gebou gekoop, opgeknap en as ’n Byeenkomssaal gebruik. Maar meer dikwels word ’n stuk grond gekoop en ’n nuwe saal gebou. Die grootte van Byeenkomssale hang af van plaaslike behoeftes. Die takkantoor bepaal eers hoeveel so ’n gebou sal kos en hoe dikwels dit gebruik sal word voordat hulle besluit om dit te koop of te bou.

20 Die takkantoor stel broers aan om sake te hanteer in verband met die gebruik en instandhouding van die Byeenkomssaal. Reëlings word getref vir die kringe om gereelde en halfjaarlikse skoonmaakwerk asook voorkomende instandhouding te doen. Dit is goed vir die broers om hulle vrywillig aan te bied om hierdie werk te doen. Daarom word gemeentes aangemoedig om hierdie reëlings heelhartig te ondersteun. – Ps. 110:3; Mal. 1:10.

21 Soms kan die Byeenkomssaal ook vir ander teokratiese geleenthede gebruik word, soos Bybelskole en spesiale vergaderinge vir kringopsieners. Soos die Koninkryksaal, is ’n Byeenkomssaal ook ’n toegewyde plek van aanbidding. Wanneer ons by ’n Byeenkomssaal vergader, moet ons gedrag, kleredrag en persoonsversorging waardig wees, net soos wanneer ons by die Koninkryksaal vir aanbidding bymekaarkom.

22 Baie nuwelinge stroom gedurende die einde van hierdie laaste dae in God se organisasie in. Dit is ’n bewys van Jehovah se seën (Jes. 60:8, 10, 11, 22). Ons wil dus die reëlings ondersteun om skoon en gerieflike plekke van aanbidding te kry en in stand te hou. So wys ons ons waardering vir die rol wat sulke fasiliteite speel om ons te help om mekaar al hoe meer aan te moedig terwyl ons Jehovah se dag sien nader kom.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel