-
Waarom dit saak maakDie Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2016 | Nr. 4
-
-
VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET
Waarom dit saak maak
Die Bybel is uniek onder godsdiensgeskrifte. Geen ander boek het die oortuigings van soveel mense oor so ’n lang tydperk beïnvloed nie. Maar daar is ook geen ander boek wat soveel noukeurige ondersoek en kritiek uitgelok het nie.
Party geleerdes twyfel byvoorbeeld of hedendaagse Bybels betroubare weergawes van die oorspronklike geskrifte is. “Ons kan eenvoudig nie seker wees of ons die oorspronklike teks akkuraat weergegee het nie”, sê ’n professor in die godsdienswetenskap. “Ons het net afskrifte wat vol foute is, en die oorgrote meerderheid daarvan is eeue ná die oorspronklikes gemaak en verskil blykbaar op duisende maniere [van die oorspronklikes].”
Ander bevraagteken die egtheid van die Bybel weens hulle godsdiensagtergrond. Byvoorbeeld, Faizal het in ’n nie-Christelike huis grootgeword en is geleer dat die Bybel ’n heilige boek is, maar dat dit verander is. “Ek was dus ietwat agterdogtig wanneer mense met my oor die Bybel wou praat”, sê hy. “Hulle het immers nie die oorspronklike Bybel nie. Dit is verander!”
Maak dit saak of die Bybel verander is of nie? Wel, dink ’n bietjie na oor hierdie vrae: Kan jy die Bybel se vertroostende beloftes vir die toekoms vertrou as jy nie weet of daardie beloftes in die oorspronklike teks was nie? (Romeine 15:4). Sal jy Bybelbeginsels gebruik om belangrike besluite te neem oor jou sekulêre werk, gesin of aanbidding as hedendaagse Bybels net foutiewe afskrifte is wat deur mense gemaak is?
Hoewel die oorspronklike Bybelboeke verdwyn het, kan ons ou afskrifte raadpleeg—insluitende duisende Bybelmanuskripte. Hoe het hierdie manuskripte behoue gebly ten spyte van verwering, teenstand en pogings om die teks te verander? Hoe kan die feit dat dit behoue gebly het, jou die vertroue gee dat die Bybels wat vandag beskikbaar is, eg is? Kyk na die antwoorde op hierdie vrae in die volgende artikels.
-
-
Die Bybel het behoue gebly ondanks verweringDie Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2016 | Nr. 4
-
-
VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET
Die Bybel het behoue gebly ondanks verwering
DIE BEDREIGING: Bybelskrywers en kopiiste het hoofsaaklik papirus en perkament gebruik om op te skryf (2 Timoteus 4:13).a Hoe het hierdie skryfmateriaal die voortbestaan van die Bybel in gevaar gestel?
Papirus skeur, verkleur en vergaan maklik. “’n Vel kan later ontbind tot vesels en ’n hand vol stof”, sê die Egiptoloë Richard Parkinson en Stephen Quirke. “’n Boekrol wat gestoor is, kan muf en verrot weens vogtigheid en kan deur knaagdiere of insekte geëet word, veral deur termiete, as dit begrawe is.” Nadat party papirusse ontdek is, is dit aan te veel lig en vogtigheid blootgestel, wat dit vinniger laat verweer het.
Perkament is duursamer as papirus, maar dit kan ook verweer as dit nie reg hanteer word nie of aan uiterste temperature, vog of lig blootgestel word.b Insekte is ook ’n bedreiging vir perkament. Wanneer ou rekords dus behoue bly, is dit “die uitsondering en nie die reël nie”, sê die boek Everyday Writing in the Graeco-Roman East. As die Bybel vergaan het, sou sy boodskap saam met hom vergaan het.
HOE DIE BYBEL BEHOUE GEBLY HET: Die Joodse wet het elke koning verplig om vir hom ’n afskrif van die wet, die eerste vyf boeke van die Bybel, in ’n boek te skryf (Deuteronomium 17:18). En professionele kopiiste het soveel manuskripte gemaak dat die Skrif in die eerste eeu in sinagoges regoor Israel en selfs in verafgeleë Masedonië gevind kon word! (Lukas 4:16, 17; Handelinge 17:11). Hoe het party baie ou manuskripte tot vandag toe behoue gebly?
Manuskripte wat as die Dooie See-rolle bekend is, het eeue lank behoue gebly in erdekruike wat in grotte in ’n droë klimaat geberg is
“Jode was daarvoor bekend dat hulle boekrolle wat die Skrif bevat het, in kruike of flesse gesit het om dit te bewaar”, sê die Nuwe Testamentiese geleerde Philip W. Comfort. Christene het blykbaar hierdie gebruik voortgesit. Gevolglik is party vroeë Bybelmanuskripte in erdekruike ontdek, asook in donker kamertjies en grotte en in besonder droë gebiede.
DIE GEVOLG: Duisende gedeeltes van Bybelmanuskripte—sommige meer as 2 000 jaar oud—het tot vandag toe behoue gebly. Geen ander antieke geskrif het soveel manuskripte wat so oud is nie.
a Papirus is ’n skryfmateriaal wat gemaak is van ’n waterplant met dieselfde naam. Perkament is van dierevelle gemaak.
b Die Verenigde State se amptelik ondertekende Onafhanklikheidsverklaring is byvoorbeeld op perkament geskryf. Nou, minder as 250 jaar later, het dit so verbleik dat dit skaars leesbaar is.
-
-
Die Bybel het behoue gebly ondanks teenstandDie Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2016 | Nr. 4
-
-
VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET
Die Bybel het behoue gebly ondanks teenstand
DIE BEDREIGING: Baie politieke en godsdiensleiers het probeer verhinder dat mense die Bybel se boodskap hoor. Hulle het dikwels hulle gesag gebruik om te keer dat mense die Bybel besit, vervaardig of vertaal. Kyk na twee voorbeelde:
Omstreeks 167 VHJ: Die Seleukiede-koning Antiogos Epifanes, wat die Griekse godsdiens op die Jode probeer afdwing het, het beveel dat alle afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte vernietig word. Sy amptenare het “die boekrolle van die Wet geskeur en verbrand wanneer hulle dit ook al gekry het”, het die geskiedskrywer Heinrich Graetz geskryf, “en het diegene doodgemaak wat krag en vertroosting probeer vind het deur dit te lees”.
Middeleeue: Party Katolieke leiers was kwaad omdat die leke eerder Bybelleringe as Katolieke leerstellings verkondig het en hulle het diegene wat Bybelboeke buiten die Psalms in Latyn besit het, as ketters bestempel. Een kerkraad het in reaksie hierop opdrag gegee dat ’n paar mans “ywerig, getrou en gereeld na die ketters moet soek . . . deur alle huise en ondergrondse kamers wat onder verdenking is, te deursoek. . . . Die huis waarin enige ketter gevind word, sal vernietig word.”
As die Bybel se vyande daarin geslaag het om dit te vernietig, sou die boodskap daarin verlore gegaan het.
William Tyndale se Engelse vertaling van die Bybel het behoue gebly ten spyte van ’n verbod, die verbranding van Bybels en die teregstelling van Tyndale in 1536
HOE DIE BYBEL BEHOUE GEBLY HET: Koning Antiogos se kampanje was op Israel toegespits, maar daar was reeds Joodse gemeenskappe in verskeie ander lande. Trouens, geleerdes skat dat meer as 60 persent van Jode teen die eerste eeu HJ buite Israel gewoon het. Die Jode het afskrifte van die Skrif in hulle sinagoges gehou—dieselfde Skrif wat deur toekomstige geslagte, insluitende Christene, gebruik is.—Handelinge 15:21.
Gedurende die Middeleeue het mense wat lief was vir die Bybel, vervolging verduur, maar hulle het aangehou om die Skrif te vertaal en afskrifte daarvan te maak. Selfs voordat drukperse met los letters teen die middel van die 15de eeu uitgevind is, was gedeeltes van die Bybel moontlik in tot 33 tale beskikbaar. Daarna is die Bybel op ’n ongeëwenaarde skaal vertaal en vervaardig.
DIE GEVOLG: Ondanks dreigemente van magtige konings en kerkleiers met misplaaste ywer, is die Bybel die wyds verspreide en mees vertaalde boek in die geskiedenis. Dit het ’n invloed gehad op die wette en tale van party lande, asook op die lewens van miljoene mense.
-
-
Die Bybel het behoue gebly ondanks pogings om sy boodskap te veranderDie Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2016 | Nr. 4
-
-
Die Masorete het met groot sorg afskrifte van die Skrif gemaak
VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET
Die Bybel het behoue gebly ondanks pogings om sy boodskap te verander
DIE BEDREIGING: Eksterne bedreigings soos verwering en teenstand het die Bybel nie vernietig nie. Maar sommige kopiiste en vertalers het die Bybel se boodskap probeer verander. Soms het hulle die Bybel by hulle leringe probeer aanpas eerder as om hulle leringe by die Bybel aan te pas. Kyk na ’n paar voorbeelde:
Plek van aanbidding: Tussen die vierde en tweede eeu VHJ het die skrywers van die Samaritaanse Pentateug ná Eksodus 20:17 die woorde ingevoeg: “in Aargaareezem. En daar sal jy ’n altaar bou.” Die Samaritane wou hê dat die Skrif die bou van hulle tempel op “Aargaareezem”, of die berg Gerisim, moet ondersteun.
Drie-eenheidsleer: Minder as 300 jaar nadat die Bybel voltooi is, het ’n Trinitariese skrywer die woorde “in die hemel, die Vader, die Woord en die heilige gees: en hierdie drie is een” in 1 Johannes 5:7 ingevoeg. Hierdie woorde het nie in die oorspronklike teks voorgekom nie. “Vanaf die sesde eeu”, sê die Bybelgeleerde Bruce Metzger, het hierdie woorde “al hoe meer in manuskripte in Ou Latyn en van die [Latynse] Vulgaat voorgekom”.
Goddelike naam: Baie Bybelvertalers het besluit om die goddelike naam uit die Skrif te verwyder weens ’n Joodse bygeloof. Hulle het hierdie naam vervang met titels soos “God” of “Here”, uitdrukkings wat in die Bybel nie net vir die Skepper gebruik word nie, maar ook vir mense, voorwerpe van valse aanbidding en selfs vir die Duiwel.—Johannes 10:34, 35; 1 Korintiërs 8:5, 6; 2 Korintiërs 4:4.a
HOE DIE BYBEL BEHOUE GEBLY HET: Eerstens, al was sommige Bybelkopiiste nalatig of selfs bedrieglik, was baie ander uiters vaardig en noukeurig. Die Masorete het tussen die sesde en tiende eeu HJ afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte gemaak, en dit staan bekend as die Masoretiese teks. Hulle het na bewering die woorde en die letters getel om seker te maak dat hulle nie foute maak nie. Wanneer hulle vermoed het dat daar foute was in die meesterteks wat hulle gebruik het, het hulle dit in die kantlyn aangeteken. Die Masorete het geweier om aan die Bybelteks te verander. “Om doelbewus daaraan te verander”, het professor Moshe Goshen-Gottstein geskryf, “sou vir hulle die heel ergste misdaad gewees het.”
Tweedens, daar is vandag baie manuskripte beskikbaar, en dit help Bybelgeleerdes om foute raak te sien. Godsdiensleiers het byvoorbeeld eeue lank beweer dat hulle Latynse manuskripte die oorspronklike Bybelteks bevat. Tog het hulle in hulle Latynse Bybels die woorde in 1 Johannes 5:7 ingevoeg waarna daar vroeër in hierdie artikel verwys is. Die fout het selfs in die invloedryke Engelse King James-vertaling van die Bybel ingesluip! Maar wat het aan die lig gekom toe ander manuskripte ontdek is? Bruce Metzger het geskryf: “Die woorde [in 1 Johannes 5:7] kom nie voor in die manuskripte van enige antieke vertalings (Siriese, Koptiese, Armeense, Etiopiese, Arabiese, Slawiese) nie, buiten die Latynse.” Gevolglik het hersiene uitgawes van die King James-vertaling en ander Bybels die onegte frase verwyder.
Chester Beatty P46, ’n papirusmanuskrip van die Bybel uit omstreeks 200 HJ
Bewys ouer manuskripte dat die Bybel se boodskap behoue gebly het? Toe die Dooie See-rolle in 1947 ontdek is, kon geleerdes uiteindelik die Hebreeuse Masoretiese teks vergelyk met boekrolle van die Bybel wat meer as duisend jaar vroeër geskryf is. ’n Lid van die redaksiespan van die Dooie See-rolle het tot die slotsom gekom dat selfs net een rol “onweerlegbare bewys [lewer] dat Joodse kopiiste die Bybelteks oor ’n tydperk van meer as eenduisend jaar uiters getrou en noukeurig met die hand oorgedra het”.
In die Chester Beatty-biblioteek in Dublin, Ierland, is daar ’n versameling papirusse met gedeeltes uit byna elke boek van die Christelike Griekse Geskrifte, en dit sluit manuskripte in wat dateer uit die tweede eeu HJ—net sowat 100 jaar nadat die Bybel voltooi is. The Anchor Bible Dictionary sê dat hierdie papirusse wel ’n oorvloed nuwe inligting oor tekstuele besonderhede verskaf, maar dat dit ook toon dat die Bybelteks deur die geskiedenis heen besonder akkuraat oorgedra is.
“Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie”
DIE GEVOLG: Die feit dat daar so baie en sulke ou Bybelmanuskripte is, het nie die Bybelteks verderf nie, maar het dit eintlik verbeter. “Geen ander antieke boek het naastenby so baie en sulke ou bewyse dat die teks daarvan eg is nie”, het sir Frederic Kenyon oor die Christelike Griekse Geskrifte geskryf, “en geen onbevooroordeelde geleerde kan ontken dat die teks wat ons vandag het, baie betroubaar is nie.” En die geleerde William Henry Green het aangaande die Hebreeuse Geskrifte gesê: “Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie.”
-
-
Waarom die Bybel behoue gebly hetDie Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2016 | Nr. 4
-
-
VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET
Waarom die Bybel behoue gebly het
Die Bybel het behoue gebly. Daarom kan jy vandag ’n Bybel verkry en dit lees. En as jy ’n goeie vertaling van die Skrif kies, kan jy seker wees dat jy ’n betroubare afskrif van die oorspronklike geskrifte lees.a Maar waarom het die Bybel, dikwels op merkwaardige wyse, behoue gebly ondanks verwering, hewige teenstand en doelbewuste pogings om die boodskap daarin te verander? Wat is so besonders omtrent hierdie boek?
“Ek is nou oortuig daarvan dat die Bybel wat ek het, ’n gawe van God is”
Baie Bybelstudente het tot dieselfde gevolgtrekking gekom as die apostel Paulus, wat geskryf het: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Timoteus 3:16). Hulle glo dat die Bybel behoue gebly het omdat dit die unieke Woord van God is en omdat God dit tot in ons dag bewaar het. Faizal, wat in die eerste artikel van hierdie reeks aangehaal is, het uiteindelik besluit om hierdie bewerings te ondersoek deur die Bybel te studeer. Hy was verbaas oor wat hy geleer het. Hy het gou agtergekom dat baie van die Christendom se leringe nie in die Bybel is nie. En sy hart is geraak deur wat die Bybel sê oor God se voorneme vir die aarde.
“Ek is nou oortuig daarvan dat die Bybel wat ek het, ’n gawe van God is”, sê hy. “As God die heelal kon skep, maak dit mos sin dat hy die krag het om vir ons ’n boek te gee en dit vir ons te bewaar. As ons dit nie glo nie, beteken dit dat ons God se krag beperk. En wie is ek om die krag van die Almagtige te beperk?”—Jesaja 40:8.
a Sien die artikel “Hoe jy ’n goeie Bybelvertaling kan kies” in Die Wagtoring van 1 Mei 2008.
-