-
Hoop—Maak dit werklik ’n verskil?Ontwaak! – 2004 | April 22
-
-
Hoop—Maak dit werklik ’n verskil?
DANIEL was net tien jaar oud, maar hy het al ’n jaar lank ’n stryd teen kanker gevoer. Sy dokters, sowel as ander wat na aan hom was, het hoop opgegee. Maar Daniel was nog vol hoop. Hy het geglo dat hy ’n navorser sou word wanneer hy groot is en eendag ’n kuur vir kanker sou help vind. Hy het veral hoop geput uit die naderende besoek van ’n dokter wat in die behandeling van sy spesifieke soort kanker gespesialiseer het. Maar op die dag wat die spesialis moes kom, moes hy sy besoek weens slegte weer kanselleer. Daniel het moed verloor. Vir die eerste keer het hy lusteloos geword. Hy is binne ’n paar dae oorlede.
Daniel se verhaal is deur ’n gesondheidswerker vertel wat ’n studie gemaak het van die rol wat hoop en hopeloosheid in ’n mens se gesondheid speel. Jy het moontlik al soortgelyke verhale gehoor. ’n Bejaarde persoon lê byvoorbeeld op sy sterfbed, maar wil graag ’n langverwagte mylpaal bereik—hetsy dit die besoek van ’n geliefde of eenvoudig ’n herdenking is. Nadat die gebeurtenis gekom en gegaan het, volg die dood gou. Waaraan kan dit toegeskryf word? Kan hoop werklik so ’n sterk krag wees as wat party glo?
Al hoe meer mediese navorsers gee te kenne dat optimisme, hoop en ander positiewe emosies inderdaad ’n kragtige invloed op ’n mens se lewe en gesondheid het. Maar nie almal stem hiermee saam nie. Party navorsers verwerp al sulke bewerings as ’n klomp onwetenskaplike stories. Hulle verkies om te dink dat fisiese kwale net fisiese oorsake het.
Skeptisisme oor die belangrikheid van hoop is natuurlik niks nuuts nie. Duisende jare gelede is die Griekse filosoof Aristoteles gevra om hoop te definieer, en sy antwoord was: “Dit is ’n dagdroom.” En in onlangser tye het die Amerikaanse staatsman Benjamin Franklin sinies gesê: “Wie van hoop lewe, sal van honger sterwe.”
Wat is dan die waarheid oor hoop? Is dit altyd blote wensdenkery, ’n manier vir mense om vertroosting te vind in leë drome? Of is daar geldige redes om hoop as iets meers te beskou—iets wat ons almal nodig het ter wille van ons gesondheid en geluk, iets met ’n ware grondslag en wat ware voordele inhou?
-
-
Waarom het ons hoop nodig?Ontwaak! – 2004 | April 22
-
-
Waarom het ons hoop nodig?
GESTEL Daniel, die jong kankerlyer wat aan die begin van die vorige artikel genoem is, het hoopvol gebly. Sou hy sy stryd teen kanker gewen het? Sou hy vandag nog gelewe het? Selfs die grootste voorstanders van hoop sal waarskynlik nie so ver gaan om sulke bewerings te maak nie. En dit is ’n belangrike punt. Hoop moenie oorskat word nie. Dit is nie ’n wondermiddel, oftewel ’n geneesal, nie.
In ’n onderhoud met CBS News het dr. Nathan Cherney gewaarsku teen die gevaar om die krag van hoop te oordryf wanneer ’n mens met pasiënte te doen het wat ernstig siek is: “Ons het gevalle gehad waar mans met hulle vroue geraas het omdat hulle nie genoeg mediteer nie, omdat hulle nie positief genoeg dink nie.” Dr. Cherney het bygevoeg: “Hierdie hele denkrigting het die illusie geskep dat ’n mens beheer oor jou siekte het, en wanneer mense nie gesond word nie, is dit asof party dink dat hulle nie daarin geslaag het om hulle gewas goed genoeg te beheer nie, en dit is nie regverdig nie.”
Diegene wat met ’n terminale siekte worstel, is in werklikheid in ’n uitputtende, intense stryd gewikkel. Die laaste ding wat hulle geliefdes sekerlik wil doen, is om ook nog skuldgevoelens by hulle swaar las te voeg. Moet ons dan hieruit aflei dat hoop geen waarde het nie?
Hoegenaamd nie. Dieselfde dokter spesialiseer byvoorbeeld in palliatiewe sorg—dit wil sê vorme van behandeling wat nie regstreeks daarop gerig is om ’n siekte te beveg of selfs die lewe te verleng nie, maar eerder op maniere om die pasiënt se lewe geriefliker en aangenamer te maak solank die stryd voortduur. Sulke dokters glo vas in die waarde van behandeling wat tot ’n gelukkiger gemoedstoestand lei, selfs onder diegene wat baie siek is. Daar is baie bewyse wat toon dat hoop dít—en meer—kan doen.
Die waarde van hoop
“Hoop is kragtige terapie”, sê die mediese joernalis dr. W. Gifford-Jones. Hy het verskillende studies hersien wat gedoen is om die waarde van emosionele ondersteuning aan terminale pasiënte te bepaal. Hierdie soort ondersteuning help mense blykbaar om meer hoopvol en positief te bly. In een studie wat in 1989 gedoen is, is bevind dat pasiënte wat sulke ondersteuning ontvang het, langer gelewe het, maar onlangse navorsing het nie sulke definitiewe resultate opgelewer nie. Studies het egter bevestig dat pasiënte wat emosionele ondersteuning ontvang, minder depressie en pyn ondervind as dié wat dit nie ontvang nie.
Beskou ’n ander studie oor die rol wat optimisme en pessimisme in koronêre hartsiekte (KHS) speel. ’n Groep van meer as 1 300 mans is noukeurig geëvalueer om te bepaal of hulle ’n optimistiese of ’n pessimistiese lewensuitkyk het. Volgens ’n verdere studie tien jaar later het meer as 12 persent van hierdie mans aan die een of ander vorm van KHS gely. Onder hulle was daar byna twee keer soveel pessimiste as optimiste. Laura Kubzansky, ’n assistentprofessor van gesondheid en sosiale gedrag by die Harvard-universiteit se Fakulteit van Openbare Gesondheid, sê: “Tot dusver was die meeste van die bewyse vir die opvatting dat ‘positiewe denke’ goed is vir jou gesondheid, op ongestaafde verslae gegrond—hierdie studie voorsien van die eerste konkrete mediese bewyse vir hierdie opvatting op die gebied van hartsiekte.”
In party studies is bevind dat mense wat hulle eie gesondheid as swak beskryf, ná ’n operasie eintlik stadiger herstel as diegene wat hulle gesondheid as uitstekend beskryf. Selfs langlewendheid is al met optimisme verbind. Een studie het probeer vasstel hoe bejaardes deur positiewe en negatiewe beskouings van veroudering geraak word. Wanneer bejaardes blootgestel is aan kort boodskappe wat die verouderingsproses met groter wysheid en ondervinding verbind het, is daar bevind dat hulle daarna met meer krag en energie geloop het. Trouens, die verbetering was gelykstaande aan die resultate van ’n 12 weke lange oefenprogram!
Waarom lyk dit of emosies soos hoop en optimisme tesame met ’n positiewe uitkyk voordelig is vir ’n mens se gesondheid? Miskien verstaan wetenskaplikes en dokters nog nie die mens se verstand en liggaam goed genoeg om definitiewe antwoorde te gee nie. Deskundiges wat die onderwerp bestudeer, kan nietemin ingeligte raaiskote waag. Een neurologieprofessor sê byvoorbeeld: “Dit voel goed om gelukkig en hoopvol te wees. Dit is ’n aangename toestand wat baie min spanning veroorsaak, en die liggaam floreer onder sulke toestande. Dit is nog iets wat mense vir hulleself kan doen om gesond te probeer bly.”
Vir party dokters, sielkundiges en wetenskaplikes is dit dalk ’n heeltemal nuwe gedagte, maar vir studente van die Bybel is dit niks nuuts nie. Byna 3 000 jaar gelede is die wyse koning Salomo geïnspireer om hierdie gedagte op skrif te stel: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel, maar ’n verslae gees droog die gebeente uit” (Spreuke 17:22). Let op hoe gebalanseerd hierdie woorde is. Hierdie vers sê nie dat ’n vreugdevolle hart enige kwaal sal genees nie, maar bloot dat dit “’n goeie geneesmiddel” is.
Trouens, dit is moontlik redelik om te vra: As hoop ’n geneesmiddel was, watter dokter sou dit nie voorskryf nie? Daarbenewens bied hoop voordele wat baie verder as goeie gesondheid strek.
Optimisme, pessimisme en jou lewe
Navorsers het gevind dat optimiste se positiewe uitkyk baie voordele vir hulle inhou. Hulle presteer gewoonlik beter op skool, by die werk en selfs op die sportveld. ’n Studie is byvoorbeeld van ’n vroueatletiekspan gemaak. Die afrigters het die vroue se suiwer atletiese vermoëns deeglik geëvalueer. Terselfdertyd is ’n opname onder die vroue self gedoen, en hulle vlak van hoop is noukeurig bepaal. Die resultate het getoon dat die vroue se vlak van hoop ’n baie juister aanduiding was van hoe hulle sou presteer as al die statistieke wat deur hulle afrigters ontleed is. Waarom het hoop so ’n kragtige invloed?
Mense het al baie geleer deur die teenoorgestelde van optimisme—pessimisme—te bestudeer. Gedurende die 1960’s het eksperimente ’n onverwagse bevinding omtrent dieregedrag opgelewer, wat daartoe gelei het dat navorsers die uitdrukking “aangeleerde hulpeloosheid” geskep het. Hulle het gevind dat mense ook aan ’n vorm van hierdie sindroom kan ly. Menslike proefkonyne is byvoorbeeld aan ’n onaangename geraas blootgestel en is toe vertel dat hulle kon leer om dit te laat ophou deur ’n reeks knoppies in die regte volgorde te druk. Hulle het daarin geslaag om die geraas te laat ophou.
’n Tweede groep het dieselfde instruksies ontvang—maar niks het gebeur wanneer hulle die knoppies gedruk het nie. Soos jy jou kan voorstel, het baie in daardie tweede groep gevoelens van hulpeloosheid ontwikkel. In latere toetse het hulle gehuiwer om enigiets te probeer doen. Hulle was oortuig dat niks wat hulle doen enige verskil sou maak nie. Maar selfs in daardie tweede groep het die optimiste geweier om voor sulke gevoelens van hulpeloosheid te swig.
Dr. Martin Seligman, wat met die voorbereiding van daardie vroeë eksperimente gehelp het, is beweeg om sy loopbaan aan die studie van optimisme en pessimisme te wy. Hy het ondersoek ingestel na die soort denke wat deur mense geopenbaar word wat geneig is om hulleself as hulpeloos te beskou. Sulke pessimistiese denke, was sy gevolgtrekking, kortwiek mense op baie lewensterreine of het selfs ’n verlammende uitwerking op hulle. Seligman som pessimistiese denke en die uitwerking daarvan so op: “Ná vyf-en-twintig jaar se navorsing is ek oortuig dat as ons, soos die pessimis, uit gewoonte dink dat teëspoed ons eie skuld is, dat dit blywend is en alles sal ondermyn wat ons doen, ons ons meer teëspoed op die hals sal haal as wanneer ons nie so dink nie.”
Sulke gevolgtrekkings is miskien vandag ook iets nuuts vir party mense, maar vir studente van die Bybel klink dit bekend. Let op hierdie spreuk: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 24:10). Ja, die Bybel toon duidelik dat ontmoediging, met die negatiewe gedagtes wat daarmee gepaardgaan, jou van die krag sal beroof om positief op te tree. Maar wat kan jy doen om teen pessimisme te stry en ’n meer optimistiese en hoopvolle uitkyk op die lewe te kry?
[Prent op bladsy 4, 5]
Hoop kan jou baie goed doen
-
-
Jy kan teen pessimisme stryOntwaak! – 2004 | April 22
-
-
Jy kan teen pessimisme stry
HOE beskou jy die terugslae wat jy ondervind? Baie deskundiges meen nou dat die antwoord op daardie vraag baie verraai omtrent of jy ’n optimis of ’n pessimis is. Ons kom almal voor swaar beproewinge in die lewe te staan, party van ons meer as ander. Maar waarom lyk dit of party mense maklik van teëspoed herstel, reg om weer te probeer, terwyl dit lyk of ander ná selfs betreklike klein probleme moed opgee?
Stel jou byvoorbeeld voor dat jy werk soek. Jy gaan vir ’n onderhoud, maar jy word nie in diens geneem nie. Hoe voel jy ná die tyd daaroor? Jy kan dit as ’n persoonlike belediging sien en as ’n permanente probleem beskou terwyl jy vir jouself sê: ‘Niemand sal iemand soos ek in diens neem nie. Ek sal nooit werk kry nie.’ Of, nog erger, jy kan toelaat dat hierdie enkele terugslag ’n negatiewe uitwerking het op jou beskouing van elke aspek van jou lewe deur te dink: ‘Ek is ’n volslae mislukking. Ek is vir niemand iets werd nie.’ In elke situasie is sulke denke die toppunt van pessimisme.
Hoe om teen pessimisme te stry
Hoe kan jy teen pessimisme stry? ’n Noodsaaklike eerste stap is om te leer om sulke negatiewe gedagtes te identifiseer. Die volgende stap is om daarteen te stry. Soek na redelike alternatiewe verduidelikings. Byvoorbeeld, is dit werklik so dat jou aansoek van die hand gewys is omdat niemand jou in diens wil neem nie? Of is dit moontlik dat die werkgewer eenvoudig na iemand met ander kwalifikasies gesoek het?
Konsentreer op spesifieke feite om duidelik te toon watter van daardie pessimistiese gedagtes oorreaksies is. Beteken die feit dat jy in een situasie onsuksesvol was werklik dat jy ’n volslae mislukking is, of kan jy aan ander aspekte van jou lewe—soos geestelike strewes, gesinsverhoudings of vriendskappe—dink waarin jy ’n mate van sukses behaal? Leer om jou negatiewer voorspellings as blote “oordrywings” te verwerp. Trouens, hoe kan jy werklik weet dat jy nooit ’n werk sal vind nie? Daar is ook ander dinge wat jy kan doen om negatiewe denke te verdryf.
Positiewe, doelgerigte denke
In onlangse jare het navorsers ’n interessante, hoewel ietwat beperkte, definisie van hoop ontwikkel. Volgens hulle verwys hoop na die oortuiging dat jy jou doelwitte sal kan bereik. Soos die volgende artikel sal toon, behels hoop eintlik baie meer, maar hierdie definisie is in verskeie opsigte nuttig. As ons ons aandag op hierdie aspek van persoonlike hoop toespits, kan dit ons help om positiewer, meer doelgerigte denke te ontwikkel.
Om onsself te oortuig dat ons ons doelwitte vir die toekoms kan bereik, moet ons begin om boek te hou van die doelwitte wat ons gestel en bereik het. As jy nie aan enige doelwitte kan dink wat jy bereik het nie, sal dit dalk die moeite werd wees om ernstig na te dink oor die doelwitte wat jy vir jouself stel. Eerstens, het jy enige doelwitte? Dit is maar alte maklik om vasgevang te raak in die roetine en gejaagdheid van die lewe en nooit stil te staan en na te dink oor wat ons werklik uit die lewe wil hê, wat vir ons die belangrikste is nie. Aangaande hierdie praktiese beginsel dat ’n mens duidelike prioriteite moet stel, vind ons weer eens dat die Bybel dit al lank gelede goed uitgedruk het: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’—Filippense 1:10.
Wanneer ons eers ons prioriteite gestel het, word dit makliker om op ’n paar sleuteldoelwitte op verskillende gebiede te besluit, soos in ons geestelike lewe, ons gesinslewe of ons sekulêre lewe. Dit is egter belangrik dat ons aan die begin nie te veel doelwitte stel nie en dat elke doelwit iets is wat ons weet ons maklik kan bereik. As ’n doelwit te moeilik is om te bereik, kan dit ons ontmoedig en sal ons dalk tou opgooi. Dit is dus dikwels die beste om groter, langtermyndoelwitte in kleiner, kortermyndoelwitte op te breek.
“Waar ’n wil is, is ’n weg.” So lui ’n ou spreekwoord, en dit lyk asof daar ’n mate van waarheid daarin steek. Wanneer ons eers sleuteldoelwitte in gedagte het, het ons die wilskrag—die begeerte en die vasbeslotenheid—nodig om daarna te streef sodat ons dit kan bereik. Ons kan daardie vasbeslotenheid versterk deur na te dink oor die waarde van ons doelwitte en die belonings wat ons sal ontvang as ons dit bereik. Daar sal natuurlik struikelblokke wees, maar ons moet dit as uitdagings beskou en nie as onoorkombare hindernisse nie.
Ons moet egter ook aan praktiese maniere dink om ons doelwitte te bereik. Die skrywer C. R. Snyder, wat ’n omvattende studie van die waarde van hoop gemaak het, stel voor dat ’n mens aan verskillende maniere dink om ’n gegewe doelwit te bereik. Wanneer een nie uitwerk nie, kan ons dus ’n tweede of ’n derde manier probeer, ensovoorts.
Snyder beveel ook aan dat ’n mens leer wanneer om ’n doelwit met ’n ander een te vervang. As ons werklik nie ’n doelwit kan bereik nie, sal dit ons net ontmoedig as ons onsself daaroor verknies. Maar as ons dit met ’n realistieser doelwit vervang, sal dit ons iets anders gee om ons hoop op te vestig.
Die Bybel bevat ’n insiggewende voorbeeld in hierdie verband. Koning Dawid het die doelwit gekoester om ’n tempel vir sy God, Jehovah, te bou. God het egter vir Dawid gesê dat sy seun Salomo hierdie voorreg sou kry. Dawid het hom nie hieroor ontstel of hardnekkig aangehou om dit ondanks hierdie teleurstellende verwikkeling te probeer nastreef nie, maar hy het eerder sy doelwitte verander. Hy het al sy kragte ingespan om die fondse en materiaal bymekaar te kry wat sy seun nodig sou hê om die projek te voltooi.—1 Konings 8:17-19; 1 Kronieke 29:3-7.
Al slaag ons daarin om ons persoonlike vlak van hoop te verhoog deur teen pessimisme te stry en positiewe, doelgerigte denke te ontwikkel, sal ons moontlik nog steeds ’n diepgaande gebrek aan hoop hê. Hoe so? Wel, baie van die wanhoop waarvoor ons in hierdie wêreld te staan kom, word veroorsaak deur faktore wat heeltemal buite ons beheer is. Hoe kan ons dan ’n hoopvolle uitkyk behou wanneer ons dink aan die oorweldigende probleme wat die mensdom teister—die armoede, die oorloë, die onregte, die immerdreigende gevaar van siekte en die dood?
[Prent op bladsy 7]
Wanneer jy nie die werk kry wat jy wou hê nie, neem jy aan dat jy nooit werk sal kry nie?
[Prent op bladsy 8]
Koning Dawid was aanpasbaar wat doelwitte betref
-
-
Waar kan jy ware hoop vind?Ontwaak! – 2004 | April 22
-
-
Waar kan jy ware hoop vind?
JOU horlosie het gaan staan, en dit lyk of dit stukkend is. Maar wanneer jy dit wil laat regmaak, kom jy voor ’n magdom keuses te staan. Daar is volop advertensies vir horlosieherstelwerk, en hulle almal maak indrukwekkende beloftes, waarvan party teenstrydig is. Maar gestel jy vind uit dat een van jou bure jare gelede die vindingryke ontwerper van daardie spesifieke horlosie was? Wat meer is, jy vind uit dat hy bereid is om jou kosteloos te help. Jou keuse sal voor die hand liggend wees, nie waar nie?
Vergelyk daardie horlosie nou met jou eie vermoë om hoopvol te bly. As jy vind dat jy—soos baie in hierdie moeilike tye—hoop verloor, tot wie sal jy jou om hulp wend? Baie mense beweer dat hulle die probleem kan oplos, maar die tallose voorstelle kan verwarrend en teenstrydig wees. Jy kan jou gerus tot die Een wend wat die mensdom in die eerste plek met die vermoë geskep het om hoop te hê. Die Bybel sê dat “hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie” en dat hy graag wil help.—Handelinge 17:27; 1 Petrus 5:7.
’n Omvattender definisie van hoop
Die Bybel se konsep van hoop is breër en omvattender as die een wat algemeen is onder hedendaagse dokters, wetenskaplikes en sielkundiges. Die woorde wat in die oorspronklike tale van die Bybel gebruik word en met “hoop” vertaal word, beteken om gretig te wag en die goeie te verwag. Hoop bestaan basies uit twee elemente. Dit behels die begeerte na iets goeds sowel as die grondslag vir die oortuiging dat iets goeds sal kom. Die hoop wat die Bybel bied, is nie blote wensdenkery nie. Dit is stewig gegrond op feite en bewyse.
In hierdie verband is daar ’n ooreenkoms tussen hoop en geloof, wat gegrond moet wees op bewyse—nie op liggelowigheid nie (Hebreërs 11:1). Die Bybel onderskei nietemin tussen geloof en hoop.—1 Korintiërs 13:13.
Ter toeligting: As jy ’n goeie vriend ’n guns vra, hoop jy dalk dat hy jou sal help. Jou hoop is nie ongegrond nie, want jy het geloof in jou vriend—jy ken hom goed en jy het in die verlede gesien hoe goedhartig en vrygewig hy is. Jou geloof en jou hoop hou nou met mekaar verband, en is selfs onderling afhanklik, maar hulle is afsonderlike eienskappe. Hoe kan jy sulke hoop op God stel?
Die grondslag vir hoop
God is die bron van ware hoop. In Bybeltye is Jehovah “die hoop van Israel” genoem (Jeremia 14:8). Enige betroubare hoop wat sy volk gehad het, het van hom gekom; gevolglik was hy hulle hoop. Sulke hoop het nie net uit wense bestaan nie. God het hulle ’n vaste grondslag vir hoop gegee. Hy het deur die eeue heen in sy handelinge met hulle ’n reputasie opgebou as iemand wat sy beloftes nakom. Hulle leier Josua het vir Israel gesê: “Julle weet goed . . . dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie.”—Josua 23:14.
Duisende jare later geld dit nog. Die Bybel is vol van God se merkwaardige beloftes asook die akkurate geskiedkundige verslae van hulle vervulling. Sy profetiese beloftes is so betroubaar dat dit soms opgeteken is asof dit reeds vervul is toe dit gemaak is.
Dit is waarom ons van die Bybel as die boek van hoop kan praat. Namate jy meer omtrent God se handelinge met mense leer, sal jy al hoe meer redes vind om jou hoop op hom te stel. Die apostel Paulus het geskryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.”—Romeine 15:4.
Watter hoop gee God ons?
Wanneer het ons die grootste behoefte aan hoop? Is dit nie wanneer ons voor die dood te staan kom nie? Maar baie voel dat dit juis op so ’n tyd—wanneer die dood byvoorbeeld ’n geliefde wegneem—die moeilikste is om hoopvol te bly. Wat kan immers hopeloser wees as die dood? Ons lewe voortdurend in die skadu daarvan. Ons kan dit net so lank vermy, en ons kan dit nie ongedaan maak nie. Die Bybel noem die dood dus heel gepas “die laaste vyand”.—1 Korintiërs 15:26.
Hoe kan ons dan hoop vind wanneer ons voor die dood te staan kom? Wel, die Bybelvers wat die dood die laaste vyand noem, sê ook dat dit ‘tot niet gemaak sal word’. Jehovah God is sterker as die dood. Hy het dit al by verskeie geleenthede bewys. Hoe? Deur die dooies op te wek. Die Bybel beskryf nege verskillende gevalle waar God sy krag gebruik het om dooies op te wek.
In ’n uitsonderlike geval het Jehovah sy Seun, Jesus, die krag gegee om sy geliefde vriend genaamd Lasarus op te wek, wat al vier dae lank dood was. Jesus het dit nie in die geheim gedoen nie, maar openlik, voor ’n skare toeskouers.—Johannes 11:38-48, 53; 12:9, 10.
Jy wonder dalk: ‘Waarom is mense opgewek? Het hulle nie in elk geval uiteindelik oud geword en weer gesterf nie?’ Hulle het. Maar omdat ons betroubare verslae van opstandings soos hierdie een het, kan ons meer as net die begeerte hê dat ons afgestorwe dierbares weer moet lewe; ons het rede om te glo dat hulle weer sal lewe. Met ander woorde, ons het ware hoop.
Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe” (Johannes 11:25). Hy is die Een vir wie Jehovah die krag sal gee om mense op ’n wêreldskaal op te wek. Jesus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Christus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Ja, almal wat in die graf slaap, het die vooruitsig om tot lewe op ’n paradysaarde opgewek te word.
Die profeet Jesaja het hierdie roerende beskrywing van die opstanding gegee: “U dooies lewe, hulle liggame sal weer opstaan. Dié wat in die aarde slaap, sal wakker word en jubel; want u dou is ’n dou van skitterende lig, en die aarde sal weer geboorte skenk aan diegene wat lankal dood is.”—Jesaja 26:19, The New English Bible.
Is dit nie vertroostend nie? Die dooies is in die veiligste situasie denkbaar, soos ’n baba wat veilig in die moederskoot is. Ja, diegene wat in die graf rus, word volmaak bewaar in die eindelose geheue van die almagtige God (Lukas 20:37, 38). En binnekort sal hulle opgewek word in ’n gelukkige, vreedsame wêreld net soos ’n pasgebore baba deur ’n liefdevolle, wagtende gesin verwelkom word! Daar is dus hoop selfs wanneer ’n mens voor die dood te staan kom.
Wat hoop vir jou kan doen
Paulus leer ons baie omtrent die waarde van hoop. Hy het gesê dat hoop ’n noodsaaklike deel van die geestelike wapenrusting is—die helm (1 Tessalonisense 5:8). Wat het hy daarby bedoel? Wel, in Bybeltye het ’n soldaat ’n metaalhelm op die slagveld gedra, dikwels bo-oor ’n vilt- of leermus. Danksy die helm sou die meeste houe teen die kop gedeflekteer word sonder om die soldaat noodlottig te wond. Wat was Paulus se punt? Net soos ’n helm die kop beskerm, beskerm hoop die verstand, die denkvermoë. As jy ’n vaste hoop in ooreenstemming met God se voorneme het, hoef jou gemoedsrus nie versteur te word deur paniek of wanhoop wanneer jy met probleme te kampe het nie. Wie van ons het nie so ’n helm nodig nie?
Paulus het nog ’n goeie illustrasie gebruik vir hoop wat met God se wil verband hou. Hy het geskryf: “Hierdie hoop het ons as ’n anker vir die siel, seker sowel as vas” (Hebreërs 6:19). Paulus was meer as een keer ’n skipbreukeling en was derhalwe goed vertroud met die waarde van ’n anker. In ’n storm het die matrose die skip se anker laat sak. As dit ’n plek op die seebodem gekry het om aan vas te haak, het die skip ’n kans gehad om veilig deur die storm te kom pleks van na die kus gewaai te word en op die rotse te loop.
As God se beloftes eweneens vir ons ’n ‘sekere sowel as vaste’ hoop is, kan daardie hoop ons help om veilig deur hierdie stormagtige tye te kom. Jehovah belowe dat daar binnekort ’n tyd sal wees wanneer die mensdom nie meer deur oorloë, misdaad, droefheid en selfs die dood geteister sal word nie. (Sien die venster op bladsy 10.) As ons aan daardie hoop vashou, kan dit ons help om rampspoed te vermy en ons die aansporing gee wat ons nodig het om volgens God se standaarde te lewe en nie te swig voor die chaotiese, onsedelike gees wat in vandag se wêreld heers nie.
Die hoop wat Jehovah bied, raak jou ook persoonlik. Hy wil hê dat jy die lewe moet ondervind soos hy wou hê jy dit moes geniet. Hy wil hê dat “alle soorte mense gered moet word”. Hoe? Eerstens moet elkeen “tot juiste kennis van die waarheid . . . kom” (1 Timoteus 2:4). Die uitgewers van hierdie tydskrif spoor jou aan om daardie lewegewende kennis aangaande die waarheid van God se Woord op te doen. Die hoop waarmee God jou sal vervul as jy dit doen, is ver verhewe bo enige hoop wat jy in hierdie wêreld kan vind.
Met hierdie hoop hoef jy nooit hulpeloos te voel nie, want God kan jou die nodige krag gee om enige van jou doelwitte te bereik wat in ooreenstemming met sy wil is (2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:13). Het jy nie hierdie soort hoop nodig nie? As jy dus hoop nodig het, as jy daarna soek, skep moed. Hoop is byderhand. Jy kan dit vind!
[Venster/Prent op bladsy 10]
Redes vir hoop
Hierdie skriftuurlike gedagtes kan jou help om jou hoop te versterk:
◼ God belowe ’n gelukkige toekoms.
Sy Woord sê dat die hele aarde ’n paradys sal word waarin ’n gelukkige, verenigde mensegesin sal woon.—Psalm 37:11, 29; Jesaja 25:8; Openbaring 21:3, 4.
◼ God kan nie lieg nie.
Hy haat alle soorte leuens. Jehovah is oneindig heilig of rein; dit is dus onmoontlik vir hom om te lieg.—Spreuke 6:16-19; Jesaja 6:2, 3; Titus 1:2; Hebreërs 6:18.
◼ God het onbeperkte krag.
Jehovah alleen is almagtig. Niks in die heelal kan hom keer om sy beloftes te vervul nie.—Eksodus 15:11; Jesaja 40:25, 26.
◼ God wil hê dat jy vir ewig moet lewe.
—Johannes 3:16; 1 Timoteus 2:3, 4.
◼ God kyk na ons met hoop.
Hy kies om nie sy aandag op ons foute en swakhede te vestig nie, maar eerder op ons goeie eienskappe en pogings (Psalm 103:12-14; 130:3; Hebreërs 6:10). Hy hoop dat ons sal doen wat reg is en is gelukkig wanneer ons dit doen.—Spreuke 27:11.
◼ God belowe om jou te help om jou godvrugtige doelwitte te bereik.
Sy knegte hoef nooit hulpeloos te voel nie. God maak sy heilige gees, die sterkste krag wat daar is, ruimhartig beskikbaar om ons te help.—Filippense 4:13.
◼ Hoop op God is nooit misplaas nie.
Omdat hy heeltemal betroubaar is, sal hy jou nooit in die steek laat nie.—Psalm 25:3.
[Prent op bladsy 12]
Net soos ’n helm die kop beskerm, beskerm hoop die verstand
[Prent op bladsy 12]
’n Hoop met ’n vaste grondslag kan soos ’n anker stabiliteit voorsien
[Erkenning]
Courtesy René Seindal/Su concessione del Museo Archeologico Regionale A. Salinas di Palermo
-