Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w23 Mei bl. 14-19
  • Hou aan reis op “die Weg van Heiligheid”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan reis op “die Weg van Heiligheid”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “DIE WEG VAN HEILIGHEID” – DESTYDS EN NOU
  • DIE PAD WORD VOORBEREI
  • “DIE WEG VAN HEILIGHEID” IS NOG STEEDS OOP
  • “Heilig, heilig, heilig is Jehovah”
    Kom nader aan Jehovah
  • Streef na “heiligheid in die vrees van God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Vervolmaak heiligheid in die vrees vir God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die “groot menigte” loop nou met die “grootpad” na God se organisasie
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
w23 Mei bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 22

Hou aan reis op “die Weg van Heiligheid”

“Daar sal ’n grootpad wees, . . . die Weg van Heiligheid.” – JES. 35:8.

LIED 31 O, wandel met Jehovah God!

IN HIERDIE ARTIKELa

1-2. Watter belangrike besluit moes Jode maak wat in Babilon gebly het? (Esra 1:2-4)

DIE koning het ’n aankondiging gemaak! Die Jode, wat al omtrent 70 jaar gevangenes in Babilon is, was vry om na hulle tuisland, Israel, terug te gaan. (Lees Esra 1:2-4.) Net Jehovah kon dit laat gebeur. Hoekom kan ons dit sê? Babilon het nie gewoonlik sy gevangenes vrygelaat nie (Jes. 14:4, 17). Maar Babilon is verslaan en die nuwe heerser het vir die Jode gesê dat hulle die land kon verlaat. As gevolg daarvan moes elke Jood, veral gesinshoofde, ’n besluit neem: om Babilon te verlaat of om daar te bly. Dit kon nie ’n maklike besluit wees nie. Hoekom nie?

2 Baie was dalk te oud om daardie lang reis aan te pak. En omdat die meeste van die Jode in Babilon gebore is, was dit die enigste tuiste wat hulle ooit geken het. Vir hulle was Israel die land van hulle voorouers. Party Jode het heel moontlik baie suksesvol in Babilon geword, so dit was dalk vir hulle moeilik om hulle gemaklike huise of hulle besighede agter te laat en in ’n onbekende land te gaan bly.

3. Watter seëning het gewag op die getroue Jode wat na Israel sou teruggaan?

3 Vir getroue Jode was die seëninge om na Israel terug te gaan, baie groter as enige opofferings wat hulle sou maak. Die grootste seëning het te doen gehad met hulle aanbidding. Al was daar meer as 50 heidense tempels in Babilon, was daar nie ’n tempel van Jehovah in daardie stad nie. Daar was nie ’n altaar waar die Israeliete die offerandes kon offer wat deur die Wet van Moses vereis was nie, en daar was nie ’n georganiseerde priesterdom om daardie offerandes te maak nie. Daar was ook baie meer mense in daardie stad wat valse gode aanbid het as dié wat gehoorsaam was aan Jehovah en sy standaarde. So getroue Jode – duisende van hulle – het daarna uitgesien om terug te gaan na hulle tuisland waar hulle rein aanbidding kon herstel.

4. Hoe het Jehovah belowe om die Jode te help wat na Israel teruggegaan het?

4 Die moeilike letterlike reis van Babilon na Israel kon omtrent vier maande neem, maar Jehovah het belowe dat enige struikelblokke wat kon keer dat hulle teruggaan, verwyder sou word. Jesaja het geskryf: “Maak die weg van Jehovah gereed! Maak vir ons God ’n reguit grootpad deur die woestyn. . . . Die ongelyke grond moet gelyk word, en die rotsagtige plekke moet in ’n vlakte verander” (Jes. 40:3, 4). Dink net aan hierdie toneel: ’n Grootpad deur die woestyn, ’n gelyke vlakte. Mense sou dit baie geniet om daarop te reis! Dit sou baie makliker vir hulle wees om op ’n reguit grootpad te reis as om teen berge en heuwels te op en af of deur valleie te gaan. Dit sou ook vinniger wees.

5. Watter naam is aan die figuurlike grootpad tussen Babilon en Israel gegee?

5 Vandag word baie letterlike grootpaaie, of hoofpaaie, deur ’n naam of ’n nommer geïdentifiseer. Die figuurlike grootpad waaroor Jesaja geskryf het, het ook ’n naam gehad. Ons lees: “Daar sal ’n grootpad wees, ja, ’n weg wat die Weg van Heiligheid genoem word. Die onreine sal nie daarop reis nie” (Jes. 35:8). Wat het hierdie belofte destyds vir die Israeliete beteken? En wat beteken dit vir ons vandag?

“DIE WEG VAN HEILIGHEID” – DESTYDS EN NOU

6. Hoekom was hierdie pad heilig genoem?

6 “Die Weg van Heiligheid” – wat ’n pragtige naam vir ’n pad! Hoekom was hierdie pad heilig genoem? Daar sou nie in die herstelde nasie van Israel plek wees vir “die onreine” nie – enige Jood wat vasbeslote was om onsedelik te wees, afgode te aanbid of ander ernstige sondes te pleeg. Die Jode wat teruggegaan het, sou “’n heilige volk” vir hulle God word (Deut. 7:6). Maar dit het nie beteken dat dié wat Babilon verlaat het, nie enige veranderinge moes maak om Jehovah gelukkig te maak nie.

7. Watter veranderinge moes party van die Jode maak? Gee ’n voorbeeld.

7 Soos ons vroeër gesê het, is die meeste van die Jode in Babilon gebore, en baie van hulle het heel moontlik gewoond geraak aan party van die denke en standaarde van die Babiloniërs. Baie jare nadat die eerste Jode teruggegaan het na Israel, het Esra uitgevind dat party Jode getrou het met vrouens wat afgode aanbid het (Eks. 34:15, 16; Esra 9:1, 2). En nog later was goewerneur Nehemia verbaas om uit te vind dat kinders wat in Israel gebore was, nie eens die taal van die Jode geleer het nie (Deut. 6:6, 7; Neh. 13:23, 24). Hoe kon daardie kinders leer om Jehovah lief te kry en te aanbid as hulle nie eens Hebreeus – die hooftaal waarin God se Woord geskryf was – verstaan het nie? (Esra 10:3, 44). So daardie Jode moes groot veranderinge maak, maar dit sou vir hulle baie makliker wees om daardie veranderinge in Israel te maak, waar rein aanbidding geleidelik besig was om herstel te word. – Neh. 8:8, 9.

Broers en susters gebruik verskillende metodes om die goeie nuus vanaf 1919 tot vandag te verkondig.

Vanaf 1919 HJ het miljoene mans, vrouens en kinders Babilon die Grote verlaat en op “die Weg van Heiligheid” begin reis (Sien paragraaf 8)

8. Hoekom moet ons vandag belangstel in dinge wat so lank gelede gebeur het? (Sien prent op voorblad.)

8 Party dink dalk: ‘Dit is alles baie interessant, maar het die dinge wat so lank gelede met die Jode gebeur het enige betekenis vir ons vandag?’ Dit het beslis omdat ons in ’n sin op “die Weg van Heiligheid” reis. Of ons nou van die gesalfdes of van die “ander skape” is, ons moet op “die Weg van Heiligheid” bly omdat dit ons deur die geestelike paradys neem en ons na toekomstige Koninkrykseëninge lei (Joh. 10:16).b Vanaf 1919 HJ het miljoene mans, vrouens en kinders Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, verlaat en op daardie figuurlike pad begin reis. Jy is sekerlik een van hulle. Al is daardie pad omtrent 100 jaar gelede geopen, het voorbereidingswerk op daardie pad honderde jare vroeër begin.

DIE PAD WORD VOORBEREI

9. Hoe is voorbereidingswerk op “die Weg van Heiligheid” gedoen volgens Jesaja 57:14?

9 Jehovah het seker gemaak dat struikelblokke verwyder is vir die Jode wat Babilon verlaat het. (Lees Jesaja 57:14.) Wat van “die Weg van Heiligheid” in ons dag? Honderde jare voor 1919 het Jehovah mans wat baie respek vir hom gehad het, begin gebruik om dit moontlik te maak vir ander om uit Babilon die Grote te kom. (Vergelyk Jesaja 40:3.) Hulle het nodige voorbereidingswerk – geestelike padwerke – gedoen om dit later vir opregte mense moontlik te maak om Babilon die Grote te verlaat en die geestelike paradys binne te gaan, waar rein aanbidding van Jehovah herstel is. Wat het hierdie “padwerke” behels? Kom ons kyk na van die voorbereidingswerk wat gedoen was.

’n Ou drukpers en ’n Bybelvertaler.

Mans wat groot respek vir God gehad het, het honderde jare lank gehelp om die weg uit Babilon die Grote voor te berei (Sien paragraaf 10-11)

10-11. Hoe het die druk en vertaling van die Bybel bygedra tot die verspreiding van Bybelkennis? (Sien ook prent.)

10 Drukwerk. Tot omtrent die middel van die 15de eeu is die Bybel met die hand oorgeskryf. Die werk het lank geneem, en kopieë van die Bybel was skaars en baie duur. Maar toe ’n drukpers met los letters uitgevind is, kon die Bybel makliker vervaardig en versprei word.

11 Vertaling. Die Bybel was honderde jare lank hoofsaaklik in Latyn beskikbaar, wat net hooggeleerde mense kon verstaan. Maar toe drukwerk algemener geword het, het mans wat groot respek vir God gehad het, harder gewerk om die Bybel te vertaal in meer tale wat gewone mense gepraat het. Nou kon mense wat die Bybel gelees het die dinge wat die godsdiensleiers hulle geleer het, vergelyk met wat die Bybel regtig leer.

Broer Russel en ander studente van die Bybel gebruik Bybelstudiehulpe en hulle bespreek wat hulle ontdek.

Mans wat groot respek vir God gehad het, het gehelp om die weg uit Babilon die Grote voor te berei (Sien paragraaf 12-14)c

12-13. Gee ’n voorbeeld van hoe opregte studente van die Bybel in die 19de eeu begin bewys het dat sekere godsdiensleringe nie waar is nie.

12 Bybelstudiehulpe. Goeie studente van die Bybel het baie geleer uit wat hulle in God se Woord gelees het. Maar dit het die godsdiensleiers kwaad gemaak toe hierdie Bybelstudente ander begin vertel het van die dinge wat hulle geleer het. Byvoorbeeld, in die 19de eeu het ’n paar opregte mans pamflette begin publiseer wat bewys het dat sekere godsdiensleringe van die kerke nie waar is nie.

13 Omtrent 1835 het Henry Grew, ’n man wat baie respek vir God gehad, ’n pamflet gepubliseer wat die toestand van die dooies bespreek het. In daardie pamflet het hy uit die Bybel bewys dat onsterflikheid ’n geskenk van God af is en nie ’n toestand waarmee ons almal gebore is, soos wat die meeste kerke geleer het nie. In 1837 het ’n predikant met die naam George Storrs ’n kopie van daardie pamflet gevind terwyl hy op ’n trein was. Hy het dit gelees en was oortuig dat hy ’n baie belangrike waarheid ontdek het. Hy het besluit om wat hy geleer het met ander te deel. In 1842 het hy ’n reeks toesprake gegee met die interessante tema “’n Ondersoek—Is die goddeloses onsterflik?” Die dinge wat George Storrs geskryf het, het ’n goeie invloed op ’n jong man met die naam Charles Taze Russell gehad.

14. Hoe het die geestelike padwerke van die verlede broer Russell en sy metgeselle gehelp? (Sien ook prent.)

14 Hoe het die geestelike padwerke wat in die verlede gedoen is broer Russell en sy metgeselle gehelp? In hulle studies kon hulle leksikons, konkordansies en verskillende vertalings van die Bybel gebruik, wat alles voor hulle tyd voorberei was. Die Bybelnavorsing van mans soos Henry Grew, George Storrs en ander het hulle ook gehelp. Broer Russell en sy metgeselle het self met die geestelike padwerke gehelp deur ’n oorvloed boeke en pamflette te vervaardig wat Bybelonderwerpe bespreek het.

15. Watter belangrike dinge het in 1919 gebeur?

15 In 1919 het Babilon die Grote sy houvas op God se volk verloor. Daardie jaar het ’n “getroue en verstandige slaaf” op die toneel verskyn, net betyds om opregtes op “die Weg van Heiligheid”, wat toe net geopen was, te verwelkom (Matt. 24:45-47). Die “padwerke” wat in die verlede gedoen is, het die mense wat op daardie pad begin reis het, gehelp om meer oor Jehovah en sy doel vir die mens te leer (Spr. 4:18). Hulle kon ook begin om volgens Jehovah se vereistes te lewe. Jehovah het nie verwag dat sy volk die nodige veranderinge alles op een slag moet maak nie. Hy het sy volk eerder geleidelik verfyn. (Sien die venster “Jehovah verfyn sy volk geleidelik”.) Ons sal almal so bly wees wanneer ons God gelukkig kan maak in alles wat ons doen! – Kol. 1:10.

Jehovah verfyn sy volk geleidelik

’n Pad word geleidelik meer gelyk en reguit. Die plante en bome in die omgewing word ook gesonder en al hoe meer.

1927-1928: Daar word besef dat Kersfees ’n heidense viering is

1928-1936: Die kruis word geleidelik nie meer gebruik nie

1931: Die naam Jehovah se Getuies word aangeneem

1938: Ouermanne word nie meer verkies nie

1944-1945: Die heiligheid van bloed word beter verstaan

1952: Die belangrikheid van uitsetting word beklemtoon

1956: Die heiligheid van die huwelik word beter verstaan

1972: ’n Liggaam van ouermanne wat deur die heilige gees aangestel is, begin toesig hou oor die gemeente

1973: Daar word besef dat die gebruik van tabak ’n ernstige sonde is

1976: Daar word instruksies gegee oor watter soort werk aanvaarbaar is vir Christene

2000: Die gebruik van bloedfraksies word in detail bespreek

2006, 2012: Daar word duidelik beklemtoon hoe ernstig dit is as iemand na walglike vorme van pornografie kyk

“DIE WEG VAN HEILIGHEID” IS NOG STEEDS OOP

16. Watter instandhoudingswerk is aan “die Weg van Heiligheid” gedoen vanaf 1919? (Jesaja 48:17; 60:17)

16 Elke pad het gereelde instandhoudingswerk nodig. Vanaf 1919 het padwerke aan “die Weg van Heiligheid” aangehou om dit vir meer mense moontlik te maak om Babilon die Grote te verlaat. Die pas aangestelde getroue en verstandige slaaf het aan die werk gespring, en in 1921 het hulle ’n Bybelstudiehulp gepubliseer wat ontwerp was om nuwelinge te help om Bybelwaarheid te leer. Daar is uiteindelik amper ses miljoen kopieë van daardie publikasie, Die harp van God, versprei in 36 tale, en baie mense het die waarheid daaruit geleer. Meer onlangs het ons ’n goeie nuwe publikasie gekry om Bybelstudies te hou, Geniet die lewe vir ewig! Regdeur die laaste dae gebruik Jehovah nog steeds sy organisasie om geestelike kos te bly voorsien om ons almal te help om op “die Weg van Heiligheid” te bly reis. – Lees Jesaja 48:17; 60:17.

17-18. Waarheen lei “die Weg van Heiligheid”?

17 Wanneer iemand ’n Bybelstudie aanvaar, kan ons sê dat hy ’n geleentheid het om op “die Weg van Heiligheid” te begin reis. Party reis net ’n kort rukkie en verlaat dan daardie pad. Ander is vasbeslote om daarop te bly reis totdat hulle hulle bestemming bereik. Wat is daardie bestemming?

18 Vir dié met ’n hemelse hoop lei “die Weg van Heiligheid” na “die paradys van God” in die hemel (Op. 2:7). Vir dié met ’n aardse hoop lei daardie pad na volmaaktheid aan die einde van die 1 000 jaar. As jy vandag op daardie pad reis, moet jy nie terugkyk nie. En moenie daardie pad verlaat totdat jy jou reis na die nuwe wêreld voltooi het nie. Ons wil graag vir jou sê: “Reis veilig.”

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat het “die Weg van Heiligheid” vir die Jode in die ou tyd beteken?

  • Wanneer is “die Weg van Heiligheid” vir mense in ons dag geopen, en watter werk is gedoen om daardie figuurlike pad voor te berei?

  • Wie reis vandag op “die Weg van Heiligheid”, en wat is hulle finale bestemming?

LIED 24 Kom na die berg van Jehovah

a Jehovah het die figuurlike grootpad van Babilon na Israel “die Weg van Heiligheid” genoem. Het Jehovah in moderne tye op ’n soortgelyke manier ’n pad vir sy volk voorberei? Ja! Vanaf 1919 HJ het miljoene Babilon die Grote verlaat en op “die Weg van Heiligheid” begin reis. Ons almal moet daarop bly totdat ons ons finale bestemming bereik.

b Sien Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II, bl. 56-57.

c BESKRYWING VAN PRENT: Broer Russell en sy metgeselle het Bybelstudiehulpe gebruik wat voor hulle tyd voorberei was.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel