Toon jy dat jy Jehovah ernstig soek?
’N CHRISTENMAN wou baie graag vir ander pendelaars op die trein die goeie nuus van die Bybel vertel (Markus 13:10). Maar hy is deur vrees oorweldig. Het hy moed opgegee? Nee, hy het ernstig daaroor gebid en hom daarop toegelê om te leer hoe om ’n gesprek aan te knoop. Jehovah God het hierdie man se gebed verhoor en hom die krag gegee om te getuig.
Sulke erns is noodsaaklik wanneer ons Jehovah en sy seën soek. Die apostel Paulus het gesê: “Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Dit is nie genoeg om Jehovah net te soek nie. Die Griekse werkwoord wat met “ernstig soek” vertaal word, is in ’n vorm wat dui op intensiteit en kragtige inspanning. Dit behels ’n mens se hele hart, verstand, siel en lewenskrag. As ons Jehovah ernstig soek, sal ons nie onverskillig, laks of traag optree nie. Ons sal eerder opregte ywer toon in ons soeke na hom.—Handelinge 15:17.
Mense wat Jehovah ernstig gesoek het
Die Skrif is vol voorbeelde van mense wat hulle daadwerklik ingespan het om Jehovah te soek. Een hiervan is Jakob, wat tot dagbreek toe onvermoeid geworstel het met God se gematerialiseerde engel. Jakob is gevolglik die naam Israel (Stryder met God) gegee, want hy het “gestry”, of “volgehou”, “[hom] ingespan”, “volhard”, met God. Die engel het hom geseën vir sy ywerige inspanning.—Genesis 32:24-30, voetnoot in NW.
Dan was daar die Galilese vrou, wie se naam nie genoem word nie, wat 12 jaar lank gely het aan bloedvloeiing, iets wat haar “baie pyn” veroorsaak het. Sy was nie veronderstel om in hierdie toestand aan ander mense te raak nie. Tog het sy die moed bymekaargeskraap om na Jesus toe te gaan. Sy het bly sê: “As ek net aan sy boklere raak, sal ek gesond word.” Dink aan hoe sy voortgebeur het deur die ‘menigte wat Jesus gevolg en teen hom aangedring het’. Toe sy aan Jesus se bokleed raak, het sy agtergekom dat “die fontein van haar bloed opgedroog” het—haar chroniese siekte is genees! Toe Jesus vra: “Wie het aan my boklere geraak?” het sy bang geword. Maar Jesus het liefdevol vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.” Haar pogings is beloon.—Markus 5:24-34; Levitikus 15:25-27.
By nog ’n geleentheid het ’n Fenisiese vrou Jesus ernstig gesmeek om haar dogter te genees. Jesus het geantwoord dat dit onvanpas was om die kinders se kos vir hondjies te gee. Hy het bedoel dat hy nie dinge vir nie-Israeliete kon doen ten koste van verdienstelike Jode nie. Die vrou het die punt van sy illustrasie gesnap, maar sy het nietemin gepleit: “Ja, Here; maar die hondjies eet tog van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.” Haar sterk geloof en opregtheid het Jesus beweeg om te sê: “O vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou volgens jou wens geskied.”—Matteus 15:22-28.
Wat sou dit vir hierdie individue beteken het as hulle nie in hulle pogings volhard het nie? Sou hulle die seëninge ontvang het as hulle met die eerste struikelblok of teenkanting moed opgegee het? Nee! Hierdie voorbeelde lig die punt goed toe wat Jesus gemaak het, naamlik dat “onbeskroomde volharding” gepas, selfs noodsaaklik, is om Jehovah te soek.—Lukas 11:5-13.
Volgens sy wil
Was ’n ernstige soeke die enigste vereiste vir die wonderdadige genesings van diegene in die voorafgaande verslae? Nee, hulle versoeke moes in ooreenstemming met God se wil wees. Jesus het wonderdadige kragte ontvang om onweerlegbare bewys te lewer dat hy God se Seun, die beloofde Messias, is (Johannes 6:14; 9:33; Handelinge 2:22). Verder was die wonderwerke wat Jesus verrig het, ’n voorskou van die wonderlike aardse seëninge wat Jehovah op die mensdom gaan uitstort gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy.—Openbaring 21:4; 22:2.
Dit is nie meer God se wil dat diegene wat die ware godsdiens beoefen, wonderdadige kragte besit, soos die vermoë om te genees of in tale te praat nie (1 Korintiërs 13:8, 13). Sy wil vir ons dag sluit die verkondiging in van die goeie nuus van die Koninkryk in die hele aarde sodat ‘alle soorte mense tot juiste kennis van die waarheid kan kom’ (1 Timoteus 2:4; Matteus 24:14; 28:19, 20). God se knegte kan tereg verwag dat hy hulle innige gebede sal verhoor as hulle opregte pogings in ooreenstemming met sy wil is.
Party wonder dalk: ‘Waarom sou ons ons inspan as God se voorneme in elk geval uiteindelik verwesenlik sal word?’ Hoewel dit waar is dat Jehovah sy voorneme ongeag mensepogings sal verwesenlik, behaag dit hom as individue betrokke is by die uitvoering van sy wil. Jehovah kan vergelyk word met ’n man wat ’n huis bou. Die bouer het ’n volledige bouplan vir die projek, maar hy kies boumateriale wat plaaslik beskikbaar is. Net so het Jehovah vandag ’n projek om te voltooi en is hy bly om sy knegte wat hulle gewillig aanbied, te gebruik.—Psalm 110:3; 1 Korintiërs 9:16, 17.
Beskou die ondervinding van jong Tosjio. Toe hy hoërskool toe is, wou hy in sy unieke gebied so ’n groot getuienis moontlik gee. Hy het altyd sy Bybel byderhand gehad en sy bes gedoen om ’n voorbeeldige Christen te wees. Teen die einde van sy eerste hoërskooljaar het hy die geleentheid gekry om ’n toespraak voor sy klas te hou. Tosjio het tot Jehovah gebid vir hulp en was verheug om te sien hoe aandagtig die hele klas luister na sy toespraak met die tema “My doelwit om pionierdiens my loopbaan te maak”. Hy het verduidelik dat hy graag eendag ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies wil wees. Een van die leerlinge het ingestem om die Bybel saam met hom te studeer en het so goed vooruitgang gemaak dat hy gedoop is. Tosjio se ywerige pogings, in ooreenstemming met sy gebede, is ryklik beloon.
Hoe ernstig is jy in jou soeke?
Jy kan op verskillende maniere toon dat jy Jehovah en sy seëninge ernstig soek. Eerstens is daar basiese dinge wat jy kan doen, soos om goed voor te berei vir Christelike vergaderinge. Deur middel van weldeurdagte kommentare, motiverende toesprake en doeltreffende demonstrasies openbaar jy hoe opreg jy Jehovah soek. Jy kan ook jou erns toon deur die gehalte van jou bediening te verbeter. Probeer gerus ’n vriendeliker benadering by die deur en gebruik doeltreffende inleidings wat by julle gebied pas (Kolossense 3:23). As ’n Christenman hom heelhartig daarop toelê, kan hy toewysings in die gemeente ontvang, soos om as ’n bedieningskneg of ’n ouer man te dien (1 Timoteus 3:1, 2, 12, 13). Deur jou beskikbaar te stel, kan jy ook die vreugde geniet om te gee. Jy kan dalk aansoek doen om met ’n bouprojek by ’n takkantoor te help of om by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies te gaan dien. As jy ’n ongetroude man is wat aan die vereistes voldoen, kan jy die Bedieningsopleidingskool bywoon, wat geestelike manne toerus om goeie herders te wees. As jy getroud is, kan sendingdiens ’n manier wees om jou opregte begeerte te toon om Jehovah in groter mate te dien. Dalk is dit vir jou moontlik om te verhuis na ’n gebied waar meer Koninkryksverkondigers nodig is.—1 Korintiërs 16:9.
Wat werklik saak maak, is die gesindheid waarmee jy ’n toewysing uitvoer. Watter verantwoordelikheid jy ook al ontvang, pak dit ernstig, ywerig en met “opregtheid van hart” aan (Handelinge 2:46; Romeine 12:8). Dit sal goed wees as jy elke toewysing beskou as ’n geleentheid om te toon hoe gretig jy is om Jehovah te loof. Bid voortdurend vir Jehovah se hulp en doen jou bes. Dan sal jy ryklik geseën word.
Ernstige pogings word beloon
Onthou jy die Christenman wat gebid het om sy vrese te oorkom sodat hy vir ander pendelaars kon getuig? Jehovah het sy opregte begeerte geseën. Die broer het vriendelike benaderings en onderwerpe voorberei waarmee hy gesprekke kon begin. Hy kon die Bybel op bekwame wyse gebruik om vir ’n man te getuig wat besorg was oor gespanne menseverhoudings. ’n Paar herbesoeke op die trein het tot ’n tuisbybelstudie gelei. Jehovah het hom inderdaad geseën vir sy ernstige pogings!
Jy kan soortgelyke resultate hê as jy voortgaan om Jehovah ernstig te soek. As jy nederig volhard en enige teokratiese bedrywigheid heelhartig aanpak, sal Jehovah jou in ooreenstemming met sy voornemens gebruik en ’n ryk seën oor jou uitstort.
[Prent op bladsy 26]
Wat sou dit vir hierdie vrou beteken het as sy nie volhard het nie?
[Prent op bladsy 27]
Hou jy aan om Jehovah te smeek om jou te seën?
[Prente op bladsy 28]
Hoe kan jy toon dat jy Jehovah ernstig soek?